Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w82 7/1 bl. 27-30
  • “Bemoedig die kleinmoediges”

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • “Bemoedig die kleinmoediges”
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1982
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • “Ek is uitermate terneergedruk”
  • “Bemoedig” hulle
  • “Ek het geleer om empatie te betoon”
  • Ondersteun die swakkes
  • Help terneergedruktes om hul vreugde te herwin
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
  • Vertroosting vir dié wat aan depressie ly
    Vertroosting vir dié wat aan depressie ly
  • Hulle wil help
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1983
  • ’n Opgeleide tong—“Om die vermoeides te bemoedig”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1982
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1982
w82 7/1 bl. 27-30

“Bemoedig die kleinmoediges”

“EK HET aanvanklik terneergedruk gevoel, en hierdie luim het voortgeduur. Ek wou nêrens heen gaan en niks doen nie, en ek kon ook nie konsentreer nie. Ek het moedeloos en verward geword en begin dink dat my hele lewe en my goeie reputasie vir diens aan God niks werd was nie. Ek het paniekbevange en bang geword.” Dit is hoe ’n 48-jarige Getuie wat baie jare lank ’n sendelinge was, haar gevoelens beskryf het. “Ek was nog altyd fisies en geestelik gesond, maar dit het skielik vir my gevoel of ek nooit weer gesond sou voel nie.”

’n Ryp broer berig ook: “Ek het baie terneergedruk geraak weens my werk. Ek het so neerslagtig by die huis aangekom dat ek nie kon eet nie. Ek het die tafel verlaat en na ’n privaat vertrek gegaan en gehuil—ek kon eenvoudig nie die trane keer nie. Ander het my maklik kwaad gemaak. Ek het voortdurend gedink: ‘Waarop stuur ek af? Waarom gebeur dit met my?’ Dit het ses maande geduur.”

Hierdie persone het aan ernstige depressie gely. Ander verslae toon dat daar steeds “kleinmoediges” of “terneergedrukte siele” onder God se volk is (1 Thessalonicense 5:14, vgl. NW). Wêreldstatistiek toon dat al hoe meer mense terneergedruk voel. Alhoewel persone met ’n verhouding met God dikwels minder geraak word deur die situasies wat terneergedruktheid veroorsaak, is hulle glad nie immuun teen hierdie ongesteldheid nie. Maar moet sulke getroue knegte dan hieraan ly?

“Ek is uitermate terneergedruk”

Lojale koning Dawid van Jerusalem was ’n slagoffer van depressie. As gevolg van sekere sondes of dwase dinge wat hy gedoen het, het hy geskryf: “Ek is uitermate terneergedruk; ek rou die hele dag lank” (Psalm 38:6, DeWitt). Die tabel op die volgende bladsy toon hoe ’n aantal getroue knegte by tye gevoel het, en waarom. Maar almal wat in die tabel gemeld word, het hulle benoudheid te bowe gekom. Volgens die Bybel het hulle God almal getrou bly dien.

Daar is baie redes waarom persone terneergedruk raak. Oor party van hulle het die lyer min beheer. Onlangse mediese navorsing het getoon dat party soorte ernstige depressie veroorsaak word deur ’n chemiese wanbalans in die brein wat die gevolg van ’n aantal fisiese oorsake kan wees.a Net ons gedagtes op sigself kan andersyds terneergedruktheid veroorsaak. Een Bybelvoorbeeld is insiggewend.

Epafroditus, ’n ywerige helper van die gevange apostel Paulus, het aan depressie gely. Paulus het hierdie kneg van Rome af na sy voormalige gemeente in Filippi teruggestuur, en moontlik saam met hom ’n brief gestuur wat onder meer gesê het: “[Epafroditus] is terneergedruk omdat julle gehoor het dat hy siek geword het.” Hy was wel siek gewees, maar nou was hy gesond—en tog terneergedruk. Wat was die oorsaak van die terneergedruktheid? Hy het besef dat die gemeente “gehoor het dat hy siek geword het”. Waarom sou dit hom terneergedruk maak?—Filippense 2:25-30, NW.

Hierdie toegewyde kneg het hom klaarblyklik ander se gevoelens baie aangetrek. Hy was baie besorg omdat sy geliefde broers en susters in sy tuisgemeente hulle bekommer het omdat hulle van sy swak gesondheid gehoor het. Dit wil voorkom of die angs weens die begeerte om hulle gerus te stel—iets wat die honderde kilometers tussen hulle hom verhoed het om te doen—die depressie veroorsaak het. Dieselfde kan vandag gebeur, selfs met diegene wat, net soos Epafroditus, al hulle kragte in die Here se werk inspan. Intense kommer en besorgdheid oor ander se gevoelens, of moontlik die gevoel dat ’n mens ander in die steek gelaat het, kan terneergedruktheid veroorsaak.

Maar hoe kan ander die terneergedruktes help?

“Bemoedig” hulle

Een terneergedrukte Christin het in trane by haar man gepleit: “Wat gaan ek doen? Ek kan nie so voortgaan nie!” Die man, wat ’n ongelowige was, het geantwoord: “Jy sal dit eenvoudig net moet verduur!” Hierdie vrou was so verpletter dat sy die volgende dag amper selfmoord gepleeg het! Hoe belangrik is dit tog dat almal ag slaan op die Bybel se bevel: “Bemoedig die kleinmoediges.” Soms kan onherstelbare skade aangerig word as ’n mens dit nie doen nie. Maar soms kan dit gebeur dat ’n persoon ’n terneergedrukte persoon wil opbeur maar nie weet wat om te sê nie.—1 Thessalonicense 5:14.

In sy tweede brief aan die Christene in Korinthe het Paulus te kenne gegee dat hy ‘neerslagtig’ gevoel het, want hy het “van binne sorge” gehad. ’n Goeie berig het hom vertroos. Titus het gekom met nuus oor die gemeente in Korinthe se beter geestelike toestand en hulle “ywer” vir of besorgdheid oor Paulus, hulle “verlange” na hom. Toe Paulus van hulle liefde vir hom gehoor het, het hy beter gevoel (2 Korinthiërs 7:5-7, vgl. NTP). Dieselfde geld vandag. Een Christin wat aan hewige depressie gely het, het gesê: “Jy wil bowenal weet dat ander vir jou omgee as ’n persoon. Jy wil iemand hoor sê: ‘Ek begryp; jy sal sommer gou weer beter voel. Ek besef wat jy deurmaak en ek hou daarvan om met jou te praat.’”

“Ek het geleer om empatie te betoon”

“Ek sal een les nooit vergeet nie” het een Christin en moeder wat aan depressie gely het, erken. “Ek het geleer om empatie te betoon. Ek het voorheen altyd gedink dat ’n mens jou net moes regruk en aan die gang moes kom, en daarom het ek nooit veel empatie gehad vir ander wat siek was nie. Nou weet ek. Toe party van die vriende vir my gesê het dat ek my moes ‘regruk’, was dit ook my hartsbegeerte, maar op daardie stadium het ek geen beheer daaroor gehad nie. Hulle kommentare het my diep seergemaak.” Terneergedrukte persone het ‘medelye’ nodig.—1 Petrus 3:8.

Hoe kan familielede en vriende help? ’n Veertigjarige moeder wat aan depressie gely het, het gesê: “Jy voel nie alleen fisies en emosioneel baie sleg nie, maar jy voel ook skuldig omdat jy nie vir jou gesin doen wat jy normaalweg sou doen nie.” Sy het dus aanbeveel: “Laat die terneergedrukte persoon weet dat jy besef hy doen sy bes. Spoor hom aan om nie tou op te gooi nie.”

Hoewel opbouende woorde nodig is en waardeer word, kan diegene wat graag wil help moontlik meer bystand verleen.

Ondersteun die swakkes

Paulus het die gemeente in Thessalonika nie alleen aangespoor om ‘die kleinmoediges te bemoedig’ nie, maar ook om ‘die swakkes te ondersteun en lankmoedig teenoor almal te wees’. Die uitdrukking “ondersteun” behels dade, want die oorspronklike Griekse woordb se hoofbetekenis is om reg teenoor iemand anders te bly sodat jy hom kan onderskraag.—1 Thessalonicense 5:14.

Die verslag oor ’n studie van meer as 500 persone het tot die gevolgtrekking gekom: “Mense het nie alleen moed, ’n sterk wil en ’n opgewekte geaardheid nodig om depressie af te weer nie, maar ook intieme vriende en hegte gesinne wat hulle onderskraag.” Dr. L. Cammer, ’n bekende psigiater, het saamgestem: “Dit is noodsaaklik dat die terneergedrukte persoon iemand by hom het wat nie sal begin preek nie, maar wat geduldig sal bly.” Ja, ’n daadwerklike poging om te help, soos ’n telefoonoproep of ’n kort besoekie, kan hoog op prys gestel word.

Daar is vir een Christin gevra watter vorm van behandeling haar die meeste gehelp het. Sy het geantwoord: “Die belangrikste was om in die geselskap van my geestelike broers en susters te wees. Daarsonder sou ek nooit herstel het nie. In ons gemeente van Getuies was daar liefde, besorgdheid en begrip. Dit was soos ’n beskermende muur.”

Dit is natuurlik soms nodig om op liefdevolle wyse ferm te wees wanneer ’n mens ’n terneergedrukte persoon help, aangesien sy denke verward is. Hy het miskien vriendelike aansporing nodig om saam met jou te gaan stap, om ’n ander vorm van oefening te kry, om sy medisyne te drink, of om met sy geestelike bedrywighede voort te gaan.

Wanneer ’n persoon in die hospitaal opgeneem word as gevolg van ’n fisiese kwaal, kry hy dikwels ’n aantal klein maaltye in plaas van ’n paar grotes. Dieselfde kan nodig wees wanneer ’n mens ’n neerslagtige persoon met geestelike voedsel help. Dit kan baie geduld van ’n huweliksmaat of ’n besorgde vriend verg om kortliks geestelike ‘goeie dinge’ by verskeie geleenthede te bespreek, in plaas daarvan om ’n lang Bybelgesprek te voer wat die neerslagtige kan uitput. Selfs wanneer die sieke nie op die onderrig reageer nie, kan die liefde wat aan hom betoon word ’n uitwerking hê.

Ander sal geduld en begrip aan die dag moet lê totdat die kwaal genees is of op mediese behandeling reageer. Soms is daar situasies waar geen vorm van mediese behandeling oënskynlik geslaagd is nie. In sulke gevalle is lankmoedigheid en selfopofferende liefde nodig om hierdie ongestelde persone te help totdat Jehovah alle kwale—van ’n verstandelike sowel as ’n fisiese aard—in die komende nuwe orde genees.—Openbaring 21:3, 4.

Ouere manne in ’n gemeente het ’n spesiale verantwoordelikheid. Die artikel “’n Opgeleide tong—‘om die vermoeides te bemoedig’”, wat oor hierdie aspek handel, sal in ’n komende nommer gepubliseer word.

[Voetnote]

a Kyk die artikel “Is dit alles verbeelding?” in Ontwaak! van Januarie 1982

b Antekhesthe—“hou julle teenaan”.

[Lokteks op bladsy 28]

HOE HULLE GEVOEL HET

JOB ‘God het my verlaat’, “Ek walg van my lewe.”—Job 29:2, 4, 5; 10:1.

WAAROM

Siekte en teenspoed. Dit het gelyk asof God hom versaak het.

HOE HULLE GEVOEL HET

JAKOB Hy het geweier om hom te laat troos. Hy het aangehou ween. ‘Ek wil in die graf afdaal.’—Genesis 37:35.

WAAROM

Droefheid oor sy seun se oënskynlike dood

HOE HULLE GEVOEL HET

HANNA ‘Sy het geween en wou nie eet nie.’ ‘Sy was bitter bedroef en het bitterlik geween.’—1 Samuel 7:1, 10.

WAAROM

Bittere teleurstelling omdat sy nie ’n seun gehad het nie

HOE HULLE GEVOEL HET

JONA “Dit is vir my beter om te sterwe as om te lewe.” Hy was ‘ontstemd’.—Jona 4:6, 8.

WAAROM

Opgekropte woede

HOE HULLE GEVOEL HET

DAWID “Die hele dag gaan ek in die rou.” “Ek is kragteloos.” “My krag het my verlaat.”—Psalm 38:7, 9, 11.

WAAROM

Skuldgevoel oor ernstige sonde

HOE HULLE GEVOEL HET

NEHEMIA ‘Hy het dae lank geween en getreur’ en was “hartseer”.—Nehemia 1:4; 2:2.

WAAROM

Ontsteld oor toestand van party lede van God se volk

HOE HULLE GEVOEL HET

PAULUS het “van binne sorge” gehad en het ‘neerslagtig’ gevoel—2 Korinthiërs 7:5, 6, NTP.

WAAROM

Teenstand en ’n gebrek aan rus

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel