Sestig jaar as ’n verkondiger van die “goeie nuus”
Soos vertel deur Martin Wenderqvist
DIT was ’n onvergeetlike oomblik. ’n Hewige sneeustorm het gewoed. Omtrent twaalf mense het rondom die oop graf gestaan en ’n lied gesing. Toe het ek ’n paar woorde gesê oor ’n herontmoeting nadat die tyd van benoudheid op die aarde verby was.
Die jong vader het op sy knieë geval, die wit doodskissie opgetel en dit versigtig in die graf gesit. Daar was trane in feitlik almal se oë terwyl ons deur die woud teruggeloop het huis toe. Tydens die omgang en bespreking daardie aand is almal vertroos deur die gedagtes wat ek uit God se Woord gemeld het.—Johannes 5:28, 29; Romeine 15:4.
Gedurende my 60 jaar as ’n verkondiger van die goeie nuus van God se koninkryk het ek al meer as 600 keer bedroefdes vertroos en begrafnisdienste op verskillende plekke in Swede en Finland waargeneem. Maar voordat ek meer van my ondervindinge vertel, wil ek eers verduidelik hoe ek ’n evangeliedienaar geword het.
Vroeë invloed
Toe my vader op ’n dag in 1908 in Stockholm van die werk af op pad huis toe was, het hy ’n traktaat met vier bladsye op die trein gevind. Die traktaat met die titel “Waar is die dode?” is deur die Internasionale Bybelstudentevereniging uitgegee. My ouers het albei aan die Bybel geglo, en nadat hulle hierdie traktaat gelees het, is hulle beweeg om God se Woord deegliker te bestudeer.
My ouers het kort daarna in verbinding getree met die Bybelstudente, soos Jehovah se Getuies destyds bekend was. Hulle het begin om die vergaderinge wat elke Sondag in ’n saaltjie in Stockholm gehou is saam met sowat 50 ander persone by te woon. In Augustus 1912 was Charles Taze Russell, die president van die Wagtoringgenootskap, die hoofspreker tydens ’n byeenkoms in Stockholm wat deur meer as 100 Bybelstudente van oor die hele Swede bygewoon is. Alhoewel ek as ’n tienjarige baie van die dinge wat gesê is nie verstaan het nie, het dit ’n groot indruk op my gemaak net om die verrigtinge te sien.
Nadat ek my sekondêre skoolopleiding voltooi het en by ’n kleremakery in Västerås gewerk het, het ek begin om ernstig aan die probleme van die lewe te dink, en saans het ek dikwels die Bybel gelees. Die volgende jaar, 1920, het ek vir die eerste keer die “goeie nuus van die koninkryk” saam met die groepie Bybelstudente in die dorp aan ander verkondig.—Mattheüs 24:14, NW.
Later daardie jaar het A. H. Macmillan van die Genootskap se hoofkwartierpersoneel in Brooklyn, New York, Swede besoek en die toespraak “Daar leef vandag miljoene wat nooit sal sterf nie” gehou. Tien van ons het hard gewerk om die toespraak te adverteer, en die saaltjie met sitplek vir 350 persone was stampvol. Baie mense kon nie inkom nie; ek het dus ’n stapel boekies oor dieselfde onderwerp buitentoe geneem en vir etlike honderde mense ’n eksemplaar van die toespraak gegee om tuis te lees!
Ek kies my loopbaan
Ek het met A. H. Macmillan gepraat oor die moontlikheid om in die voltydse diens te tree, maar dit het gelyk asof hy nie seker was oor ’n agttienjarige se bedoelings nie. Trouens, hy het gesê: “Jy moet nog baie leer.” Ek is nietemin die volgende jaar as ’n voltydse prediker aangestel. Saam met ’n ander broer het ek na my toewysing op Gotland vertrek. Daar was destyds geen Koninkryksverkondigers op daardie eiland nie.
My eerste dag in Visby het begin met ’n besoek aan ’n roulokaal. Durf ek dit waag om in te gaan en die boekie Daar leef vandag miljoene wat nooit sal sterf nie aan te bied? Die eienaar kon dalk vrees dat hy sy werk sal verloor! Maar hy het die publikasie dadelik geneem. Trouens, daar was so ’n aanvraag na die boek dat ons soms ’n voorraad per telegram moes bestel. Ons het die titel afgekort tot “Miljoene” en telegrafiste was verbaas wanneer hulle die volgende boodskap moes stuur: “Stuur dadelik 500 Miljoene”!
Toe een van die Genootskap se sprekers in Januarie 1922 siek geword het, is ek versoek om sy toespraak op verskeie plekke te hou. Ek het geprotesteer dat ek baie min aanleg vir die spreekkuns het, maar ek het nietemin die toewysings ontvang en het in Flen begin. ’n Suster aldaar het daarin geslaag om ’n paar honderd luisteraars bymekaar te bring vir die aand se toespraak. Die gehoor—hoofsaaklik ouer mans en vroue met baie lewenservaring—het gedurende die toespraak gespanne en onseker gelyk. Hulle het beslis nie ’n twintigjarige as spreker verwag nie! Maar na my toespraak in ’n ander dorp het ’n aantal bejaarde manne my hand kom skud en my bedank vir wat hulle gehoor het. Dit het my baie aangemoedig.
Ek was nog etlike jare lank ’n reisende spreker en my reisprogram het saam met dié van die ander reisende verteenwoordigers van die Genootskap in Die Wagtoring verskyn. As reisigers is ons veral deur die setlaars in Lapland verwelkom. Baie hedendaagse Getuies kom uit daardie bergagtige gebied, en by byeenkomste groet party van hulle my en sê dat hulle hulle eerste openbare toespraak gehoor het toe ek jare gelede hulle ouers se huis besoek het.
Ondervindinge op die openbare verhoog
Gedurende die twintigerjare het baie mense gewoonlik ons Bybeltoesprake bygewoon en aandagtig geluister. Maar eenkeer het ’n bekende individu opgestaan en uitgeroep: “Leuens. Bedrog. Kom. Laat ons loop!” Maar hy was teleurgesteld toe slegs drie of vier persone hom gevolg het.
By ’n ander geleentheid het ’n groep jongmense in die saal ingemarsjeer terwyl hulle “Die Internasionale” (’n lied van die Kommuniste) gesing het. Hulle het in die voorste ry gaan sit met die klaarblyklike bedoeling om my in die harnas te jaag en die vergadering te ontwrig. Nadat ek probleme bespreek het wat veral in daardie omgewing ernstige afmetings aangeneem het, het ek voortgegaan met die toespraak “Wie sal vir die wêreld vrede bring?” Na ’n rukkie het die jongmense een vir een hulle pette afgehaal en aandagtig begin luister. Daarna het hulle vreedsaam vertrek en party het selfs by die boeketafel oor ons lektuur navraag gedoen.
Toe ek eenkeer terugkeer ná ’n besoek aan die eiland Seskarö in die Botniese Golf het ’n polisieman my op die kaai ingewag. Hy het my na die polisiekantoor geneem waar die kommissaris gesê het dat die klag teen my ingedien is dat ek ’n politieke toespraak met moontlike Kommunistiese konneksies gehou het. Hy het bygevoeg: “Jy het gesê dat die hele stelsel omvergewerp sal word en dat ’n nuwe leier met die naam Jehovah sal oorneem.” Sake is natuurlik opgeklaar toe ek verduidelik het dat Jehovah God se naam is en dat dit sy koninkryk is wat tydens die toespraak bespreek is.
Ander toewysings
Ek het as ’n reisende spreker “waargeneem” tot 1925, toe ek in die Genootskap se takkantoor begin werk het. In 1934 is ek getroud. Hoe waardeer ek tog die lojale ondersteuning van my vrou, Elna! Sy het ook etlike jare by die Genootskap se kantoor gewerk.
In die dertigerjare het ek eenkeer baie kilometers ver geloop om die mense in die eensame huise langs Swede se noordelikste spoorlyn bokant die Noordpoolsirkel te besoek. Hierdie spoorwegwerkers het nie baie besoekers gekry nie en wou dus hê dat ons lank moes bly om probleme van die lewe met hulle te bespreek.
Die Tweede Wêreldoorlog
Swede wou nie by die Tweede Wêreldoorlog betrokke raak nie, maar die waansin van daardie botsing het die kerkleiers ’n geleentheid gebied om ons werk in die wiele te probeer ry. Een Sweedse biskop het valslik beweer dat die Getuies bereid was “om in die komende stryd teen Satan uit te trek op bevel van Jehovah” en al God se vyande met geweld tot ’n val te bring. Na die oorlog het ons teenstanders verkies om nie herinner te word aan die opruiery waaraan hulle hulle gedurende daardie jare skuldig gemaak het nie.
Ek was een van die wat etlike kere vir militêre diens opgeroep is. Nadat ons gevonnis is, is ons vrygelaat totdat die polisie bevele ontvang het om ons in die tronk op te sluit. Ek het eenkeer op die punt gestaan om ’n begrafnisdiens vir ’n familielid waar te neem toe twee polisiemanne die saal, waar sowat ’n honderd mense byeen was, binnegekom het.
Die polisiemanne het na my toe gekom en gesê dat ek onder arres was en hulle dadelik moes vergesel. Maar die seun van die oorledene het hulle taktvol opsy geneem en gefluister: “Julle moet begryp dat julle nie die vergadering so kan onderbreek nie. Die voorganger moet sy taak hier voltooi voordat hy kan vertrek. Wat sal die familielede en vriende andersins dink?”
Daarna het die polisiemanne die saal verlaat, die vangwa agter die koeistal geparkeer en vir my gewag. Hulle het effens verleë verduidelik dat hulle beveel is om my nog daardie aand by die Linköping-tronk te besorg.
Vryheid om die “goeie nuus” te verkondig
’n Persoon wat sy vryheid ’n ruk lank ontneem is, waardeer dit om met mense in aanraking te kom en met hulle oor die “goeie nuus” te praat, hetsy van die verhoog af of van deur tot deur.
Na meer as 60 jaar as ’n verkondiger van die “goeie nuus” is ek dankbaar oor die talle voordele wat ek ontvang het omdat ek in die geledere van Jehovah se toegewyde aanbidders is, selfs al is dit nie met dieselfde liggaamskrag as wat ek gehad het toe ek jonger was nie. Saam met my vrou en met dank aan die Almagtige herinner ek my ook dikwels aan die waardevolle omgang wat ons het met nederige en goedgesinde mense wat met afwagting uitsien na die langverwagte wêreldregering waar die Vredevors die septer swaai.—Jesaja 9:5, 6.