Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w82 7/1 bl. 3-5
  • Die Modelgebed

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die Modelgebed
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1982
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • WAARDE
  • FASETTE
  • DUURSAAM
  • Die Onse Vader—Wat dit vir jou beteken
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2004
  • Hoe moet ons tot God bid?
    Ontwaak!—2012
  • Jehovah voorsien in ons daaglikse behoeftes
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2004
  • Hoe om te bid – Is die Onse Vader-gebed die beste manier?
    Antwoorde op Bybelvrae
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1982
w82 7/1 bl. 3-5

Die Modelgebed

“Só moet julle dan bid: Onse Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word; laat u koninkryk kom; laat u wil geskied, soos in die hemel net so ook op die aarde; gee ons vandag ons daaglikse brood; en vergeef ons ons skulde, soos ons ook ons skuldenaars vergewe; en lei ons nie in versoeking nie, maar verlos ons van die Bose.”

JY KAN dit die Gebed der gebede noem. Dit staan alom bekend as die “Onse Vader”. Die Here Jesus Christus het dit as ’n model vir sy dissipels gegee (Mattheüs 6:9-13). Dit kan gepas met ’n kosbare juweel vergelyk word.

WAARDE

Kosbare gedagtes met groot betekenis word in die paar woorde van hierdie gebed vervat. Net soos ’n edelsteen is dit baie waardevol. Diamante is byvoorbeeld 120 keer skaarser as goud. Die waarde van ’n diamant word vergroot deur sy verskillende fasette.

FASETTE

Dit word verkry deur die steen sorgvuldig te slyp. Die hoeke moet presies reg wees om die grootste glans te gee. Net so skyn elke faset van die Modelgebed met sy eie glans.

DUURSAAM

Diamante is duursaam. Het jy besef dat nagenoeg 2 000 jaar verstryk het sedert die Modelgebed gegee is? Die waarde daarvan het nie afgeneem nie. Kom ons beskou hierdie kosbare juweel van naderby. Wat beteken dit?

Dinge wat God raak, kry voorkeur

Onse Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word;

God se naam is Jehovah. Jesus ‘het sy Vader se naam aan sy dissipels geopenbaar’ deur God se naam te gebruik en deur vir hulle van God se eienskappe te leer. Hulle sou op hulle beurt daardie naam heilig deur dit as iets heiligs te bejeën, vir ander daarvan te vertel en God se voorneme om sy naam voor die ganse skepping te heilig bekend te maak. As ‘’n volk vir God se naam’ moet Christene altyd daarna streef om hulle te gedra op ’n wyse wat die Naam waardig is.—Psalm 83:18, NW; Johannes 17:6; Handelinge 15:14.

laat u koninkryk kom;

Die Koninkryk is God se hemelse regering, die instrument waardeur ware sekuriteit en volkome lewensvreugde vir die hele mensdom moontlik gemaak sal word. Dit is reeds in die hemel opgerig, en die Koning daarvan, Christus Jesus, wat deur Jehovah God self gesalf is, sal binnekort oor die hele aarde regeer. Omdat dit ’n sterk regering is, sal die Koninkryk optree teen die onvolmaakte en verdrukkende stelsels wat nou bestaan. “Dit sal al daardie koninkryke [die teenswoordige politieke magte] verbrysel en daar ’n einde aan maak, maar self sal dit vir ewig bestaan.”—Daniël 2:44; 7:13, 14.

laat u wil geskied, soos in die hemel net so ook op die aarde;

Dit is God se wil dat die heelal van alle goddeloosheid gereinig word. “Nog ’n klein rukkie en die goddelose sal daar nie wees nie” sê die Bybel. God het ’n spesiale doel met hierdie planeet. “Jy [sal] saam met My in die Paradys wees” het Jesus vir ’n persoon wat langs hom aan ’n paal vasgemaak was, gesê en aldus vir die man die hoop op lewe op ’n paradysaarde gegee. God se voorneme sluit ’n opstanding van die dode in, van “regverdiges sowel as onregverdiges”. Dit is sy wil dat “alle soorte mense gered moet word”.—Psalm 37:10; Lukas 23:43; Handelinge 24:15; 1 Timotheüs 2:3, 4, NW.

Ons behoeftes is ondergeskik

gee ons vandag ons daaglikse brood;

Ons versoek om die lewensbenodigdhede moet beskeie wees. Vra net vir “daaglikse” voedsel. Jesus het tereg gesê: “Iemand se lewe bestaan nie uit die oorvloed van sy besittings nie.” As ons hom glo, sal ons lewens nie hoofsaaklik gewy wees aan die najaging van materiële besittings nie. “As ons voedsel en klere het, moet ons daarmee vergenoeg wees.” Deur te sê “gee ons” het Jesus ons ook geleer om ander se behoeftes in gedagte te hou.—Lukas 12:15; 1 Timotheüs 6:8.

en vergeef ons ons skulde, soos ons ook ons skuldenaars vergewe;

Ons het God se vergifnis nodig. “As ons sê dat ons geen sonde het nie, mislei ons onsself en die waarheid is nie in ons nie. As ons ons sondes bely, [God] is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig.” “Ons het ’n Voorspraak by die Vader, Jesus Christus, die Regverdige”—mits ons natuurlik waarlik glo in God se voorsiening vir vergifnis deur Jesus Christus. Ons moet self ook vergewensgesind wees.—1 Johannes 1:8, 9; 2:1, 2.

en lei ons nie in versoeking nie, maar verlos ons van die Bose.

“Die hele wêreld [lê] in die mag van die Bose” Satan die Duiwel. God versoek niemand om kwaad te doen nie, maar ons begeertes kan ons verlok. God voorsien betroubare Bybelbeginsels en opbouende Christelike omgang om ons te help om versoeking die rug toe te keer en om ons teen boosheid te beskerm. Ons moet dus in ooreenstemming met ons gebed optree. “o Liefhebbers van die HERE, haat die kwaad! . . . Hy red [sy lojale dienaars] uit die hand van die goddelose.”—1 Johannes 5:19; Psalm 97:10.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel