Ander aspekte van die New World Translation
Daar is ook baie ander aspekte wat die New World Translation by Bybelliefhebbers aanbeveel. Een is dat dit, in ooreenstemming met die Hebreeuse en Griekse werkwoorde, deurgaans onderskei tussen ’n enkele daad en ’n herhaalde of volgehoue daad. Vertalings soos die King James Version en die Afrikaanse Bybel wat nie sulke verskille erken nie, laat die apostel Johannes homself weerspreek. Hoe so? Omdat hy in 1 Johannes 2:1 sê: “As iemand gesondig het, ons het ’n Voorspraak by die Vader.” Maar in 1 Johannes 3:6 lees ons: “Elkeen wat in Hom bly, sondig nie.” Maar die New World Translation klaar die saak op, want daarin lui 1 Johannes 2:1: “As iemand nietemin ’n sonde begaan, het ons ’n helper by die Vader.” En 1 Johannes 3:6 lui daarin: “Elkeen wat in eendrag met hom bly, beoefen nie sonde nie.”
In Lukas 11:5-10 gebruik Jesus eweneens ’n gelykenis om die gedagte tuis te bring dat ons in gebed moet volhard. Hy sê dus nie bloot dat God ons sal verhoor as ons “bid” “soek” en “klop” nie, maar: “Almal wat aanhou vra, ontvang; en almal wat aanhou soek. vind; en vir almal wat aanhou klop, sal oopgemaak word.” Voortdurende handeling word dus aangedui.
Daarbenewens onderskei die New World Translation tussen die byvoeglike naamwoord kalos, wat voortreflik, puik, uitstekend, keurig beteken, en agathos wat hoofsaaklik slaan op dit wat moreel goed is. In Johannes 10:2-16 het Jesus dus nie van homself gepraat as bloot ’n goeie herder nie, maar as ’n voortreflike, puik, uitstekende herder.
Nog iets wat die New World Translation aanbeveel, is die wyse waarop dit onderskei tussen die vyf Hebreeuse woorde wat gewoonlik voor die voet as “mens” vertaal word. Daar is ’n verskil in betekenis tussen hierdie woorde, en skrywers van die Hebreeuse Skrifte het die verskil besef. In ooreenstemming met die oorspronklike betekenis gee die New World Translation adam weer as “earthling man” met verwysing na die mens as ’n aardwese. Dit vertaal enosh as “mortal man”: dit beklemtoon die mens se nietige, swak staat. Dit gee geber weer as “able-bodied man” want die Hebreeuse woord slaan op ’n sterk man. Ish word bloot as “man” vertaal, in teenstelling met ishah, vrou, of bloot ’n persoon; en dit vertaal zakar met “male” want dit word gewoonlik in verband met geslagsomgang gebruik.