God se Woord is lewend
Was Jona werklik in die hel?
JY KYK nou na ’n kunstenaar se voorstelling van wat die Bybelskrywer Jona die “hel” noem. Jona, wat jy hier sien, het geskryf: “Uit my benoudheid het ek die HERE aangeroep, en Hy het my verhoor; uit die binneste van die doderyk [“hel” Authorized Version] het ek geroep om hulp—U het my stem gehoor.”—Jona 2:2.
Waar was Jona? Hoe het hy hier beland? Het hy daarin geslaag om weer uit te kom?
God het sy profeet Jona beveel om na Nineve te gaan en te verkondig dat die stad vernietig sou word omdat dit so sleg was. Maar in plaas daarvan om gehoorsaam te wees, het Jona na Jafo gegaan. Soos jy kan sien, betaal hy sy reisgeld en gaan hy aan boord van ’n skip wat in die teenoorgestelde rigting gaan seil.—Jona 1:2, 3.
God is nie ingenome met Jona omdat hy weghardloop nie. Hy veroorsaak dus ’n groot storm en dit lyk of die skip gaan sink. Eindelik sê Jona vir die matrose dat dit sy skuld is dat die storm woed. Op Jona se bevel gooi hulle hom oorboord. Die storm bedaar dadelik en die see word weer kalm (Jona 1:4-16). Wanneer Jona in die water afsink, sluk ’n groot vis hom in. Dit is oor sy ervaring binnekant die vis dat Jona gesê het: “Ek [het] die HERE aangeroep . . . uit die binneste van die doderyk [hel, AV].”
Wat het Jona bedoel met “uit die binneste van die hel”? Wel, daardie vis se maag was beslis nie ’n plek van vurige foltering nie. Maar dit kon Jona se graf geword het. Trouens, Jesus Christus het van homself gesê: “Soos Jona drie dae en drie nagte in die buik van die groot vis was, só sal die Seun van die mens drie dae en drie nagte in die hart van die aarde wees.”—Matt. 12:40.
Jesus was drie dae lank dood en in sy graf. Maar die Bybel sê “dat sy siel nie in die doderyk [hel, AV] verlaat is . . . nie. Hierdie Jesus het God opgewek” (Hand. 2:31, 32). Jona is eweneens op God se bevel uit die hel, dit wil sê, uit dit wat sy graf kon gewees het, opgewek. Dit het gebeur toe die vis hom op droë grond uitgespuug het.—Jona 2:10.
Wat is dus die doderyk of hel waarvan die Bybel praat? Dit is bloot die mensdom se gemeenskaplike graf. En die hartverblydende belofte is dat die hel van sy dode ontledig gaan word, soos die Bybel verduidelik: “Die dood en die doderyk [hel, AV] het die dode gegee wat daarin was” (Openb. 20:13, 14). Ons het beslis goeie rede om meer te wil leer omtrent God en sy voornemens om die mensdom te seën.