Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w81 10/1 bl. 4-7
  • Wat sal die uitslag van die magstryd wees?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Wat sal die uitslag van die magstryd wees?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1981
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • TWEE MEDEDINGENDE “KONINGS”
  • “DIE GOD VAN DIE VESTINGS”
  • “BOTSING” MET DIE “KONING VAN DIE NOORDE”
  • HOE DIE “KONING VAN DIE NOORDE” REAGEER
  • ALBEI “KONINGS” KOM AAN HUL EINDE
  • Die strydende konings nader hulle einde
    Gee ag op Daniël se profesie!
  • “Die koning van die noorde” in die tyd van die einde
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2020
  • Migael, die Groot Vors, se finale oorwinning
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1993
  • Gee ag op God se profetiese woord vir ons dag
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1984
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1981
w81 10/1 bl. 4-7

Wat sal die uitslag van die magstryd wees?

“OOS IS OOS, en Wes is Wes, en nooit sal die twee ontmoet. Tot Aard en Hemel aanstons voor Gods groot Regterstoel staan.” Onlangse verwikkelinge in die magstryd tussen die Oosterse en Westerse blokke laat hierdie digterlike woorde van Rudyard Kipling besonder akkuraat klink.

Maar wanneer ons daaroor nadink, beteken die uitdrukking “Oos”, met verwysing na die Oos-Wes-stryd, nie letterlike oos nie, net so min as wat “Wes” alle lande aandui wat wes van ’n sekere punt op die aarde geleë is. Die Kommunistiese blok sluit vandag nie alleen die Sowjet-Unie en die nasies van oostelike Europa in nie, maar ook party Afrikalande sowel as Kuba. Daar kan nie gesê word dat enige van die laasgenoemde lande in die ooste geleë is nie. Die “Westerse” blok sluit eweneens lande soos Kanada, Denemarke (Groenland inkluis), Ysland, Noorweë, Australië, Nieu-Seeland en Japan in. Daar kan nouliks gesê word dat party van hierdie nasies in die weste geleë is. Waarom praat mense dus van “die Oos-Wes-stryd”? Omdat die “Koue Oorlog” oorspronklik hoofsaaklik tussen die twee supermoondhede—die Sowjet-Unie en die Verenigde State—gevoer is, waarvan die een hoofsaaklik oos van Europa geleë is, en die ander aan die weste kant. Met verloop van tyd het “Oos” en “Wes” dus simboliese betekenisse gekry.

TWEE MEDEDINGENDE “KONINGS”

In die 11de hoofstuk van Daniël gebruik die Bybel eweneens gerieflikheidshalwe die uitdrukkings “koning van die Noorde” en “koning van die Suide” om ’n opeenvolging van mededingende politieke magte aan te dui. Hierdie twee “konings” was oorspronklik noord en suid van die land van Daniël se volk—in werklikheid ook Jehovah God se eertydse volk—in die Midde-Ooste geleë.

Die profesie het in vervulling begin gaan na die dood van Alexander die Grote en die verdeling van die Macedoniese Ryk onder sy vier opvolgers. Twee van hulle, Seleucus I en Ptolemaios I, het onderskeidelik die eerste “koning van die Noorde” en “koning van die Suide” geword. Een van hulle het die noordelike Seleucide Ryk gestig, en die ander een het die eerste van die Ptolemeïese Farao’s van Egipte in die suide geword. Eeue lank was die land van Jehovah se destydse volk ’n twisappel tussen hierdie twee moondhede terwyl hulle geveg het om beheer daaroor te verkry.

Met verloop van tyd het die magte wat deur die “koning van die Noorde” en die “koning van die Suide” afgebeeld is natuurlik voortdurend verander. Maar die stryd om oorheersing het deur die eeue heen voortgeduur. Hierdie profesie het ook voorspel dat die stryd tussen die “twee konings” reg tot “die tyd van die einde” sou duur (Dan. 11:27, 35, 40).a Vandag sien ons hoedat die stryd om wereldmag tussen die Kommunistiese en die nie-Kommunistiese wêreld voortwoed soos nog nooit tevore nie. Is dit moontlik om hierdie twee mededingende blokke as die “twee konings” te identifiseer? Kom ons kyk.

“DIE GOD VAN DIE VESTINGS”

Dadelik nadat dit van die “tyd van die einde” gepraat het, sê die profesie van Daniël verder:

“En die koning [van die Noorde] sal doen net wat hy wil en homself verhef en hom groot hou bo enige god, en teen die God van die gode sal hy wonderbaarlike dinge spreek; . . . En op die gode van sy vaders sal hy nie ag slaan nie . . . Maar in plaas daarvan sal hy die god van die vestings vereer, en die god wat sy vaders nie geken het nie, sal hy met goud en silwer en edelgesteente en kosbaarhede vereer.”—Dan. 11:36-38.

Watter een van die twee supermoondhede het onbeskaamd teen “die God van die gode”, Jehovah, gespreek en godsdiens “die opium van die volk” genoem? Watter een van hulle het jare lank sy hele ekonomie toegespits op die vervaardiging van wapens in plaas van botter; van tenks en oorlogsvliegtuie in plaas van voedsel, klere en verbruikersware, en aldus “die god van die vestings” vereer? Watter “koning” het ’n “god wat sy vaders nie geken het nie”—wetenskaplike militarisme—aanbid en dit “met goud en silwer” vereer deur nie te aarsel om ’n groot persentasie van die bruto volksproduk aan militêre tegnologie en die weermag te bestee nie? Daar kan geen twyfel bestaan dat die hedendaagse “koning van die Noorde” die Kommunistiese blok met die Sowjet-Unie aan die voorpunt is nie.

Reeds in 1977 het die Amerikaanse Agentskap vir Verdedigingsinligting erken dat die Russiese leër “die sterkste in die wêreld is, met groot slaankrag en beweeglikheid”. Hierdie weerbaarheid word gerugsteun deur militêre indoktrinasie in die skole. Alle 18-jarige seuns word opgeroep vir militêre diens en moet twee jaar in die leër of die lugmag of drie jaar in die vloot dien. Hulle is dan reserviste totdat hulle 50 jaar oud is, wat beteken dat daar op die oomblik tienmiljoene Russiese burgers is wat militêre opleiding ontvang het en gou gemobiliseer kan word.

“BOTSING” MET DIE “KONING VAN DIE NOORDE”

Aangesien die hedendaagse “koning van die Noorde” die Kommunistiese blok met die Sowjet-Unie aan die voorpunt is, kan die “koning van die Suide” niemand anders as die mededingende nie-Kommunistiese blok met die Verenigde State as leier wees nie. In verband met hierdie “konings” sê Daniël se profesie voorts: “Maar in die tyd van die einde sal die koning van die Suide met hom [die koning van die Noorde] in botsing kom.”—Dan. 11:40.

Die na-oorlogse “botsing” met die “koning van die Suide” het in 1947 betreklik lig begin met die “Truman-leer” van “insluiting”. Dit is in 1949 gevolg deur die totstandkoming van NAVO en later ook ander streekorganisasies vir wedersydse verdediging. Die “botsing” het hewiger geword ten tye van die tweede Viëtnamese oorlog. Maar hierdie botsing en die negatiewe uitslag daarvan vir die Weste het oënskynlik die saak van die “duiwe” gesteun—diegene in die V.S.A. en onder sy bondgenote wat ten gunste is van ’n versoeningsbeleid teenoor die Sowjet-blok.

Maar onlangse politieke gebeure wil daarop dui dat die “duiwe” op die oomblik deur die “valke” verbygesteek word—diegene wat ten gunste is van ’n onbuigsamer gesindheid teenoor die Kommunistiese blok. Dit lyk of die “botsing” tussen die “koning van die Suide” en die “koning van die Noorde” verskerp. Dit is interessant dat Anglo-Amerikaanse solidariteit in hierdie “botsing” deur die volgende nuusberig bevestig is: “Brittanje se Eerste Minister Margaret Thatcher, wat mnr. Reagan se wantroue van die Kremlin deel, was die enigste leier van ’n NAVO-land wat sy posisie in die openbaar onderskryf het. Sy het Donderdagaand [29 Januarie 1981] gesê dat daar geen teken van Russiese belangstelling in ware détente is nie” (International Herald Tribune, 31 Januarie 1981). Hoe ver die “koning van die Suide” presies in hierdie “botsing” sal gaan, is iets wat met belangstelling dopgehou kan word in die dae wat voorlê.

Dit is heel natuurlik dat die “koning van die Noorde”, nou die Kommunistiese blok, op hierdie “botsing” sal reageer. Dit is ook in hoofstuk 11 van Daniël se profesie voorspel. Kom ons lees verder:

“En die koning van die Noorde sal op hom [die koning van die Suide] afstorm met strydwaens en perderuiters en baie skepe, en hy sal daarmee in die lande inkom en instroom en dit oorvloei . . . En hy sal sy hand uitsteek teen die lande; . . . En hy sal mag hê oor die skatte van goud en silwer.”—Dan. 11:40-43.

HOE DIE “KONING VAN DIE NOORDE” REAGEER

Russiese reaksies op die onbuigsame houding wat die “koning van die Suide” onlangs aangeneem het, toon dat die “koning van die Noorde” nie van plan is om toe te laat dat ander oor hom baasspeel nie. Sedert die Tweede Wêreldoorlog ‘steek’ die Sowjet-Unie “sy hand” uit om beheer oor verskeie lande en versteekte “skatte”, onder meer olie, te verkry.

Die uitdaging aan die Weste was ook ideologies van aard, aangesien die regerings van talle Derde Wêreld-lande wat voorheen kolonies was Marxistiese beleide aanvaar het. Sulke verwikkelinge het dit makliker gemaak vir Russiese invloed om Asië, die Midde-Ooste, Afrika en selfs die Amerikas binne te dring. Die “koning van die Noorde” het daarbenewens groot sukses behaal met sy steun aan Kommunisties-geïnspireerde opstande wat hom in staat gestel het om in die lande wat daar deur geraak is ‘in te kom’ met sy ideologie en militêre en tegniese hulp.

Met meer as viermiljoen gewapende manskappe in die U.S.S.R en Oos-Europa, sowel as 50 000 tenks, 5 775 oorlogsvliegtuie, 289 groot oorlogskepe en ten minste 257 duikbote, beskik die “koning van die Noorde” beslis oor die middele om ‘met strydwaens en perderuiters en baie skepe op hom af te storm en in lande in te stroom en dit te oorvloei’.

Volgens berig is Russiese troepe reeds in Afganistan, Kuba, Ethiopië, Irak, Libië, Mali, Mauritanië, Viëtnam, Sirië en Suid-Jemen, om nie eens van militêre raadgewers in baie ander lande te praat nie. Russiese oorlogskepe bevaar al die strategiese oseane en seë, met inbegrip van die Middellandse See. Slegs die toekoms sal leer tot watter mate die Kommunistiese “koning van die Noorde” hierdie magte sal aanwend en in ander “lande” sal “inkom”.

ALBEI “KONINGS” KOM AAN HUL EINDE

Wat ook al die omvang van die “botsing” met die “koning van die Suide” sal wees, en of die “koning van die Noorde” letterlik ander lande gaan “oorvloei” deur hulle in te neem of nie, een ding is seker: Volgens Daniël se profesie sal nie een van die “konings” ’n beslissende oorwinning oor die ander behaal nie. Die profesie sê van die “koning van die Noorde”: “Maar hy sal aan sy einde kom, en daar sal vir hom geen helper wees nie” (Dan. 11:45). ’n Analoë profesie sê daarbenewens dat die Anglo-Amerikaanse Wêreldmoondheid, wat ook deur die “koning van die Suide” afgebeeld word, “sonder toedoen van mensehand verbreek [sal] word”.—Dan. 8:25.

Hoe sal hierdie “konings” “sonder toedoen van mensehand” en sonder “helper” aan hul einde kom? Hulle einde sal nie deur menslike middele teweeggebring word nie. Daniël se profesie sê voorts: “En in dié tyd sal Migael, die groot vors wat oor die kinders van jou [Daniël se en gevolglik Jehovah se] volk staan, optree; en dit sal ’n tyd van benoudheid wees soos daar nie gewees het vandat ’n volk bestaan het tot op die tyd nie” (Dan. 12:1). Migael is niemand anders nie as Jehovah se aangestelde Koning, Jesus Christus. (Vergelyk Openbaring 12:7-10.) Die “tyd van benoudheid” is die “groot verdukking” wat in Jesus se profesie oor die “voleinding van die wêreld” en sy “teenwoordigheid” in sy koninkryk gemeld is.—Matt. 24:3, 21, vgl. NW; Luk. hfst. 21.

Die hedendaagse vervulling van die profesieë toon dat ons nou in die “tyd van die einde” lewe. Christus gaan binnekort ’n einde maak aan die Kommunistiese “koning van die Noorde” en die nie-Kommunistiese “koning van die Suide”. Die gekroonde Koning Jesus Christus sal hulle en alle ander politieke nasies inderdaad met ’n “skerp swaard” “slaan” en “Hy sal hulle met ’n ysterstaf regeer” (Openb. 19:11-21). So sal nog ’n dramatiese profesie in die boek Daniël vervul word, want ons lees: “In die dae van die konings [politieke magte] sal die God van die hemel ’n koninkryk verwek wat in ewigheid nie vernietig sal word nie, en die heerskappy daarvan sal aan geen ander volk oorgelaat word nie; dit sal al daardie koninkryke verbrysel en daar ’n einde aan maak, maar self sal dit vir ewig bestaan.”—Dan. 2:34, 35, 44.

Daardie koninkryk sal blywende vrede op aarde in ’n regverdige nuwe orde bring (2 Pet. 3:13; Openb. 21:1-5). Daarin sal daar nie meer verdrukkende politieke “konings” wees nie. Dit is dieselfde “koninkryk” waarvoor jy bid as jy die “Onse Vader” opsê (Matt. 6:9, 10). Dit is die mensdom se enigste hoop. Jehovah se Getuies sal jou met graagte help om hierdie hoop jou eie te maak.

[Voetnoot]

a Kyk die boek “Laat u wil geskied op aarde”, uitgegee deur die Wagtoring- Bybel- en Traktaatgenootskap, vir ’n volledige verduideliking van Daniël hoofstuk 11.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel