Laat God in jou huwelik wees
“’n Driedubbele lyn word nie gou verbreek nie.”—Pred. 4:12.
1. Watter Skriftuurlike beginsel in Psalm 127:1 kan op die huwelik toegepas word?
DIE Skrif beklemtoon herhaaldelik hoe nodig dit is dat Jehovah God in al ons ondernemings moet wees. Ons lees byvoorbeeld in Psalm 127:1: “As die HERE die huis nie bou nie, tevergeefs werk die wat daaraan bou; as die HERE die stad nie bewaar nie, tevergeefs waak die wagter.” Die lang geskiedenis van die nasie Israel staaf die waarheid van daardie beginsel. Toe Israel God ’n rol in hulle sake laat speel het deur uitsluitlike toewyding aan hom te gee, was hulle pogings om hulself teen hulle vyande te beskerm, geslaagd. Maar wanneer hulle sy reine aanbidding verwerp het om ander gode te volg, het hulle wagte tevergeefs oor hulle stede gewaak. Dieselfde beginsel geld vir ons pogings om ’n geslaagde huwelik te hê.
DIE HUWELIK—’N GENADEGAWE
2. Waarom kan die huwelik as ’n genadegawe beskou word?
2 God se Woord deel ons mee dat hy die Gewer van “elke goeie gif en elke volmaakte gawe” is (Jak. 1:17). Sulke goeie gifte en volmaakte gawes sluit ongetwyfeld daardie genadegawe, daardie seën, die huwelik in. Watter potensiaal het dit tog om geluk te verskaf! Dit is waarlik een van die grootste seëninge wat die Skepper aan die mensdom geskenk het. Geen wonder dat toe Eva eindelik na Adam gebring is, hy uitgeroep het nie: “Dit is nou eindelik been van my gebeente en vlees van my vlees. Sy sal mannin genoem word, want sy is uit die man geneem”!—Gen. 2:23.
3. Wat het een regsgeleerde oor die huwelik as ’n gawe van God gesê?
3 Adam kon hom verheug oor die seën van ’n liefdevolle metgesel, iemand van sy eie soort met wie hy kon gesels, saam met wie hy kon werk en beplan—sy was sy volmaakte komplement! Daarbenewens is die vreugde wat verskaf word deur die huweliksintiemhede voorwaar ’n blyk van ons Skepper se wysheid en liefde. Regsgeleerde I. Linton het tereg op die wyse waarop God die man en die vrou geskape het, gewys as bewys dat die mens nie die produk van blinde ewolusie is nie. Linton het geskryf:
“Die goedheid en onbeperkte bekwaamheid van die God wat gesê het dat dit nie goed is vir ’n man om ’n vrygesel te wees nie, wat liefde vir die vrou in die man se hart en liefde vir die man in die vrou se hart gesit het, wat hulle geestelik, fisies en emosioneel so eenders gemaak het dat hulle kamerade kan wees en tog so verskillend dat hulle mekaar aanvul en vir mekaar interessant is, het nog altyd my dank gewek en my bewondering afgedwing as ’n onomstootlike bewys van skeppende ontwerp; en die vrede en geluk wat uit die huweliksverhouding voortspruit wanneer God daarin is, het my ’n idee gegee van God se bekwaamheid en vermoë om geluk te verskaf’ (A Lawyer Examines the Bible). Let op, “wanneer God daarin is”. Dit kan die geval wees as ons toelaat dat God in ons huwelik is.
4. Waarom kan daar gesê word dat daardie seën, die huwelik, ’n blyk van God se onpartydigheid is?
4 Hierdie gawe en seën, die huwelik, is ook ’n blyk van God se onpartydigheid en sy geregtigheid. Hoe so? Omdat hierdie vreugdes van die huwelik, wanneer God daarin is, nie afhang van aardse dinge soos materiële rykdom, groot geleerdheid, groot fisiese krag of ’n mooi liggaam en gelaatstrekke nie. En huwelikseëninge is ook nie tot enige ras of nasionaliteit beperk of van enige klimaat afhanklik nie. Dit maak nie saak of egpare in die poolstreke of in die trope woon nie.
HOE OM GOD IN JOU HUWELIK TE LAAT WEES
5, 6. Wat sluit dit in as God in ’n mens se huwelik is?
5 Salomo het geskryf: “Twee is beter as een, want hulle het ’n goeie beloning vir hulle moeitevolle arbeid. . . . en ’n driedubbele lyn word nie gou verbreek nie” (Pred. 4:9, 12). ’n Huwelik kan vergelyk word met ’n lyn wat ’n paartjie saambind, en wanneer ons toelaat dat God daarin is, is dit waarlik ’n driedubbele lyn wat nie gou verbreek kan word nie’. Wat beteken dit om God in jou huwelik te laat wees? Huweliksmaats is oënskynlik daaroor besorg om tot mekaar se vreugde en genot by te dra en in mekaar se behoeftes te voorsien. Die man wil graag sy vrou behaag en aan haar vreugde, gerief en sekuriteit verskaf, en die vrou wil in die behoeftes van haar man voorsien en hom na haar beste vermoë behaag, net soos die apostel Paulus se (1 Kor. 7:33, 34). Om God in julle huwelik te laat wees, beteken om daaroor besorg te wees of julle aan sy vereistes vir egpare voldoen. Hulle is kortom: “Vroue, wees julle mans onderdanig soos dit betaamlik is in die Here. Manne, julle moet jul vroue liefhê en nie teen hulle verbitter word nie.”—Kol. 3:18, 19.
6 En dit is nie al nie. Om God in ons huwelik te laat wees, moet albei huweliksmaats ’n intieme verhouding met Jehovah God hê en nooit gesamentlike gebed verwaarloos nie. Julle moet julle vreugdes, smart, teleurstellings en beproewings met hom deel. Stel julle dit ten doel om hom as ’n Persoon genot te verskaf en sy hart te verbly. In Psalm 147:11 lees ons: “Die HERE het ’n welgevalle in die wat Hom vrees.” En God sê vir ons in Spreuke 27:11 dat ons sy hart kan verbly deur wys te wees. Ons behoort dus nie alleen besorg te wees oor wat sy vereistes vir ons is nie, maar ook hoe hy voel oor die wyse waarop ons daarop ag slaan. As ons God toelaat om in ons huwelik te wees, sal dit dit oneindig baie versterk en ons van welslae en geluk verseker. Ja, dan is dit, ’n driedubbele lyn wat nie gou verbreek kan word nie’.—Pred. 4:12.
GOEDHEID—’N VEREISTE
7. Waarom is goedheid van ons kant nodig as ons God in ons huwelik wil hê?
7 Een van die dinge wat God van al sy aardse skepsele verwag, en wat vir huweliksmaats spesiale betekenis het, is dat hulle mekaar goed moet behandel. Jehovah God self stel vir ons die voorbeeld, want sy Woord verseker ons dat “Hy self goed is [selfs] vir die ondankbares en slegtes” (Luk. 6:35, NAB). Trouens, ons lees meer as ’n honderd keer in sy Woord van sy “onverdiende goedheid” (NW) of “genade” (AB), en amper dubbel soveel keer van sy “goedertierenheid”. As ons hierdie goeie God in ons huwelik wil hê, moet ons ag slaan op die raad in Kolossense 3:12 (NAB): “Daarom moet julle meelewend, goedgesind, nederig, sagmoedig en verdraagsaam wees.”
8. Wat is een van die eenvoudigste en mees fundamentele maniere waarop huweliksmaats vir mekaar goed kan wees?
8 Hoe kan ons goedheid aan ons huweliksmaat betoon en aldus God in ons huwelik laat wees? Goedheid beteken om in mekaar se behoeftes te voorsien. Dit beteken om bedagsaam te wees, en mekaar se welsyn op die hart te dra. Aangesien ons in die reël nie daarvan hou om alleen te wees nie, is een van die mees fundamentele en eenvoudigste maniere waarop ons as ’n egpaar vir mekaar goed kan wees deur ons teenwoordigheid, ons geselskap, te deel. Deur net saam te wees, kan ons mekaar opbou en die ander een laat voel dat hy of sy nodig is en waardeer word. In een huwelik waar die man en die vrou na baie jare uitmekaar is, was die vrou geneig om lank sonder haar man te gaan vakansie hou.
9, 10. (a) Wat is party van die dinge wat Christenmans en -vrouens graag saam sal wil doen? (b) Op watter ander maniere kan huweliksmaats goedheid aan mekaar betoon?
9 Dit is goed om net saam te wees, maar dit is nog beter om soveel dinge moontlik saam te doen. Lees jy die Bybel op jou eie? Lees dit gerus hardop vir jou huweliksmaat. Berei jy vir Christenvergaderinge voor? Berei gerus die lesse saam voor tot die mate wat dit prakties is. Het jy, die man, ’n deel op die program? Oefen dit gerus hardop terwyl jou vrou die rol van die gehoor speel. Sit tydens vergaderinge, asook op ander tye, bymekaar. Doen saam die formele Christelike predikingswerk. Dit is alles verdere maniere waarop ons goedheid kan betoon, ons huwelik kan versterk en God in ons huwelik kan laat wees.
10 Huweliksmaats betoon ook goedheid wanneer hulle met mekaar praat en vir mekaar sê wat in hulle hart en gedagtes is. Ja, dit beteken dat ’n mens nie net informasie of gedagtes wissel nie, maar ook sê hoe elkeen oor sake voel. Wees gedagtig daaraan om opbouende dinge in jou gesprekke te meld, in ooreenstemming met die spreuk: “Die tong van die wyse is genesing” (Spr. 12:18). ’n Egpaar is nie alleen een vlees nie, maar moet ook een van gees en hart wees, net soos Jesus gebid het dat sy volgelinge een mag wees (Joh. 17:21). Kommunikasie is onontbeerlik vir sulke eenheid.
11. Watter goeie Skriftuurlike raad moet egpare toepas wanneer een te na gekom is?
11 Dit is veral ’n blyk van goedheid om sake te bespreek wanneer daar misverstande was of een gekrenk voel. Jesus het ’n beginsel in verband met menseverhoudinge gemeld wat egpare dikwels tot hulle nadeel oor die hoof sien of veronagsaam. Dink jy dat jy op die een of ander manier onvriendelik behandel is of te na gekom is? Skraap dan die moed bymekaar om die saak in die gees van Mattheüs 18:15 op ’n gepaste tyd te berde te bring, en doen dit op ’n vriendelike en taktvolle manier. Jy kan selfs ’n les by koningin Ester leer. Sy het haar man taktvol voorberei voor dat sy hom met ’n gewigtige saak genader het (Est. 5:1-8; 7:1-10). Of is dit net mooi andersom en lyk dit of jy jou beminde te na gekom het? Moet dit dan nie ignoreer nie, maar bring die saak nederig, vriendelik en taktvol te berde in die gees van Mattheüs 5:23, 24. So kan vrede, harmonie en geluk herstel word.
12. Wat kan gesê word oor die nodigheid vir een huweliksmaat om te luister wanneer die ander een praat?
12 Maar goedheid sluit nie alleen in dat ons praat, met mekaar gesels nie, maar ook dat ons eerbiedig luister. Dit beteken dat ’n mens aandag skenk aan wat die ander een sê. Daar is al tereg gesê dat dit ’n kuns is om te luister. Ons wil nie net luister om die betekenis van die woorde te verstaan nie, maar ook om die gevoel waarmee hulle geuiter word, waar te neem. Om goeie luisteraars te wees, moet ons daarbenewens ag slaan op wat nie gesê word nie. Ja, mans en vrouens moet goeie luisteraars wees. ’n Mens behandel jou maat stief as jy min aandag skenk wanneer hy of sy praat. Soms kan daar weliswaar ’n effense probleem ontstaan omdat die een wat praat min of meer net hardop dink in plaas daarvan om werklik te probeer kommunikeer. As dit skynbaar ’n probleem is, kan jy die gewoonte aan leer om jou woorde in te lui met ’n regstreekse aanspreekvorm, soos “Liefling” “Jan” of “Marie”.
13. Wat is een van die beste maniere waarop huweliksmaats wedersyds goedheid kan betoon?
13 Daarbenewens is een van die beste maniere waarop huweliksmaats wedersydse goedheid kan betoon deur ag te slaan op die apostel se opdrag: “Wees goedgesind en hartlik teenoor mekaar, en vergewe mekaar soos God julle ook in Christus vergewe het” (Ef. 4:32, NAB). En wanneer jy barmhartig is en vergifnis skenk, moet jy dit nie teësinnig doen nie, maar “wie barmhartigheid bewys, [moet dit doen] met blymoedigheid” (Rom. 12:8). As ons dit doen, laat ons God in ons huwelik wees, want ons lees dat hy ‘menigvuldiglik vergeef’ (Jes. 55:7). As ons vergewensgesind is wanneer ons huweliksmaat teenoor ons oor tree, is dit makliker om vergifnis te verwag wanneer ons oortree. Dit is met goeie rede dat daar al gesê is dat ‘’n gelukkige huwelik die verbintenis is van twee mense wat maklik vergewe’.
WEES EERLIK MET MEKAAR
14. Wat is nog ’n eienskap wat Christene aan die dag moet lê as God in hulle huwelik moet wees?
14 God se Woord toon dat die groot Outeur daarvan ook ’n regverdige God is. Dit sê van Jehovah: “Die Rots—volkome is sy werk; want al sy weë is strafgerigte; ’n God van trou en sonder onreg; regverdig en reg is Hy” (Deut. 32:4). Om God in ons huwelik te hê, moet ons ook regverdig en eerlik met mekaar wees. Dit beteken basies dat ons volgens die Gulde Reël lewe: “Soos julle wil hê dat die mense aan julle moet doen, so moet julle ook aan hulle doen.”—Luk. 6:31.
15. In veral watter opsig moet mans en vrouens met mekaar eerlik wees, en watter omstandighede maak dit moeilik?
15 Eerlikheid behels baie dinge. Dit sluit klaarblyklik geldsake in, iets wat vir mans sowel as vrouens ’n uitdaging kan bied. Maar dit sluit veel belangriker dinge in, in die besonder geslagsbelangstelling. Dit is maklik vir ’n man om sy begeerte vrye teuels te gee, veral in die lig van al die versoekings waarmee hy daagliks te kampe het, van onregverdige persone so wel as die onrein media af. Net soos Jehovah God uitsluitlike toewyding van sy knegte verg—sy “Naam is Jaloers”—het mans en vrouens die reg op uitsluitlike toewyding waar dit kom by die geslagsbelangstelling van hulle huweliksmaat, en hulle staan onder verpligting om self ook uitsluitlike toewyding te gee (Ex. 34:14). Spreuke 5:15-20 bevat baie reguit, kragtige en saaklike raad vir mans in hierdie verband. Vrouens moet andersyds ag slaan op Paulus se raad in 1 Korinthiërs 7:3-5 en nie die huweliksplig as ’n middel gebruik om hulle sin te kry, hetsy op die gebied van klere of iets anders nie.
ONSELFSUGTIGE LIEFDE—“A·GA’PE”
16. Wie stel vir egpare die voorbeeld waar dit kom by die betoning van a·ga’pe, en waarom is dit onontbeerlik?
16 Jehovah God is die verpersoonliking van beginselvaste liefde, van onselfsugtigheid, a·ga’pe in Grieks. Dit is waarom ons lees: “God is liefde”. Om God in ons huwelik te hê, het ons dus nie net die liefde nodig wat op natuurlike aantrekkingskrag, geslagsbelangstelling, berus (e’ros) en die liefde wat op verstands- en geesgenootskap berus (phili’a) nie, maar ook die onselfsugtige, beginselvaste soort liefde. Hierdie liefde sal ’n huwelik laat hou, selfs al verminder die ander twee soorte liefde.—1 Joh. 4:8.
17. Watter lig werp Paulus se beskrywing van liefde op huweliksverpligtings?
17 In 1 Korinthiërs 13:4-8 gee die apostel Paulus ’n goeie beskrywing van hoe hierdie liefde homself openbaar: “Die liefde is lankmoedig en vriendelik; die liefde is nie jaloers nie; die liefde praat nie groot nie, is nie opgeblase nie, handel nie onwelvoeglik nie, soek nie sy eie belang nie, word nie verbitterd nie, reken die kwaad nie toe nie, is nie bly oor die ongeregtigheid nie, maar is bly saam met die waarheid. Dit bedek alles, glo alles, hoop alles, verdra alles. Die liefde vergaan [faal, NW] nimmermeer.” In die lig van daardie woorde van Paulus kan ons nie anders as om die gevolgtrekking te maak dat om ’n goeie Christen te wees ’n mens ook ’n goeie huweliksmaat moet wees nie. Omgekeerd, as ’n mens se huwelik misluk, stel dit jou Christelikheid in ’n slegte lig. Huweliksprobleme moet beskou word as uitdagings om die vrugte van die gees aan te kweek, waarvan lief de die vernaamste is (Gal. 5:22). En onthou: “DIE LIEFDE FAAL NIMMER MEER”!
18, 19. (a) Wat vereis a·ga’pe van ’n vrou? (b) Hoe sal a·ga’pe ’n man sy vrou laat behandel?
18 Wat verg beginselvaste, onselfsugtige liefde van ’n vrou? Dit verg dat sy haar man as haar hoof erken (Ef. 5:22-24). Dit sal nie altyd maklik wees nie, maar liefde sal haar help; dit sal dit makliker maak om voorkeur aan haar man se belange te gee. Daar is byvoorbeeld liefdevolle vroue wat weet dat hulle mans ’n sekere dieet moet volg en dus nooit enige disse voorberei wat hulle mans nie saam met hulle kan eet nie. Hulle weet dat dit geen ontbering vir hulself is nie, trouens, dit kan selfs vir hulle beter wees.
19 Wat verg onselfsugtige liefde van ’n man? Dit verg dat hy ag slaan op die raad: “Manne, julle moet jul eie vroue liefhê, soos Christus ook die gemeente liefgehad en Homself daarvoor oorgegee het . . . So behoort die mans hul eie vroue lief te hê soos hul eie liggame” (Ef. 5:25, 28). Hoe baie verg dit tog nie van ’n man nie! Net soos hy sy eie liggaam goed oppas wat voedsel, klere, huisvesting, rus, ontspanning en geestelike belange betref, moet hy vir sy vrou sorg. Net soos hy homself nie voor ander in die verleentheid wil stel nie, moet hy ook nie sy vrou voor ander in die verleentheid stel nie. Liefde vir haar soos vir sy eie liggaam sal ook insluit dat hy ooreenkomstig kennis met haar saamlewe en vriendelik en bedagsaam is waar dit by die intiemer aspekte van die huwelik kom. Die aantyging moet nooit gemaak kan word dat hy sy vrou verkrag het nie.—1 Pet. 3:7.
20, 21. (a) Die toepassing van watter ander Skriftuurlike beginsels sal toon dat God in ’n mens se huwelik is? (b) Wat is die volgende onderwerp wat ons gaan bespreek, en waarom?
20 Watter geleenthede vir geluk is daar tog in die huwelikstaat! Jesus het gesê: “Dit is saliger om te gee as om te ontvang”, en hierdie beginsel geld ook vir getroudes (Hand. 20:35). Mans en vrouens het soveel geleenthede om te gee—van hulself, hulle tyd, hulle aandag, hulle gedagtes, hulle gevoelens, en materiële dinge! En in hulle verhouding geld die beginsel altyd: “Wie spaarsaamlik saai, sal ook spaarsaamlik maai; en wie volop saai, sal ook volop maai.” Slaan ag op al sulke raad en God sal in jou huwelik wees.—2 Kor. 9:6.
21 Maar selfs toegewyde, getroude persone wat bely dat hulle Christene is, skiet herhaaldelik in hierdie opsigte te kort. Daarom is dit nodig om die onderwerp “Die God van liefde haat egskeiding” te bespreek sonder om doekies om te draai.