Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w81 9/15 bl. 8-11
  • Die soektog na “skape” in Liberië se hinterland

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die soektog na “skape” in Liberië se hinterland
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1981
  • Onderhofies
  • JEHOVAH SOEK NA SY “SKAPE”
  • JEHOVAH VOED SY “SKAPE”
  • JEHOVAH GENEES SY “SKAPE”
  • JEHOVAH STORT STEEDS SY SEËN UIT
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1981
w81 9/15 bl. 8-11

Die soektog na “skape” in Liberië se hinterland

’N LANG Mandingo-herder staan swygsaam bo-op ’n miershoop terwyl ’n lang blou kleed sy liggaam teen die hitte van die Afrikason beskerm. Onder sy waaksame oë vreet sy kudde aan die sappige gras wat langs die wortelboommoerasse en die soutvleie van Sutter Creek groei. Dit is ’n gemengde kudde. Die bokke het gladde bruin-en-wit pelse en die skape is groot, lenig en wit.

Terwyl ons die kudde dophou, word ons herinner aan Jesus se gelykenis van die skape en die bokke. Hy het voorspel dat al die nasies voor hom versamel sou word en dat hy die “skape”, persone met ’n kans op die ewige lewe, sou afskei van die “bokke”, persone wat vernietiging verdien (Matt. 25:31-46). Ons kan dus vra: Hoe vorder hierdie skeidingswerk? Is daar al “skape” in Liberië se hinterland gevind?

JEHOVAH SOEK NA SY “SKAPE”

Daar is meer as 1 000 “skape” van Jehovah in Liberië. Sou jy graag wou hoor hoe God sy “skape” in hierdie land gevind en versorg het? Sluit dan gerus by ons aan terwyl ons ’n paar plekke besoek waar hulle woon en vergader.

Ons begin by die hoofstad Monrovia. Daar ontmoet ons ’n jong man wat die Bybel by die Crown Hill-sendinghuis bestudeer. Hy het op een stadium diep in die binneland, ver van enige van Jehovah se Getuies af, gewoon. Hoe het hy hulle gevind?

“Ek was nie tevrede met my vader se geloof nie”, verduidelik hy. “Ek het dus tot God gebid vir leiding. ’n Paar dae later het ek ’n eksemplaar van die boek Die waarheid wat lei tot die ewige lewe in ’n buurman se huis gesien. Ek het dit geleen en gelees. Omdat ek daarvan oortuig was dat my gebed verhoor is, het ek aan die kantoor van die Wagtoringgenootskap in Monrovia geskryf. Maar ek kon nie op die antwoord wag nie; ek het dus na Monrovia gereis, die Getuies gevind en hulle het begin om die Bybel saam met my te bestudeer.” Toe ’n kennis vir hom gevra het: “Wie het jou by Jehovah se Getuies ingesleep?” het hy geantwoord: “Niemand anders nie as Jehovah self.”

Omtrent 160 kilometer met die kus langs van Monrovia af, kom ons by die stad Buchanan. Die stad is in die dertigerjare van die negentiende eeu gestig deur Amerikaanse Liberiërs wat slawe in Amerika was en hulle hier onder die Bassa-volk kom vestig het. Buchanan is vandag ’n florerende hawe waar ystererts per spoor van die Nimba-gebergte af aankom, verwerk en dan verskeep word. Wanneer ons die stad binnekom, sien ons ’n klein, groen Koninkryksaal bo-op ’n wal langs ’n teerpad. Sal ons ingaan?

Ons word deur 40 glimlaggende gesigte begroet. Kollie het goeie rede om te glimlag. Hy is een van die baie wat gedurende onlangse jare gedoop is. Hy sê: “Terwyl ek in Kakata op hoërskool was, het van my skoolmaats met my oor Jehovah gepraat en my na hulle Koninkryksaal genooi; maar ek het altyd hulle uitnodigings van die hand gewys omdat ek gemeen het dat hulle wette te beperkend was. Nadat ek gematrikuleer en na Buchanan verhuis het, het ek egter begin sien dat die lewens van die Getuies beter as myne is omdat hulle meer gedissiplineerd is. Ek het toe ’n brief aan die gemeente geskryf en om hulp gevra. Een van die ouere manne het met my begin studeer, en vandag is ek bly om ’n toegewyde kneg van Jehovah te wees.” Ja, met behulp van sy heilige gees het Jehovah sulke “skape” gevind en hulle na sy vergaderde kuddes gerig.

JEHOVAH VOED SY “SKAPE”

Baie wat nou “goeie weiveld” onder Jehovah se skape” geniet, het eens in die kerke van die Christendom na geestelike voedsel gesoek. Jehovah het sulke persone liefdevol gelei na diegene wat ag slaan op Jesus se vermaning om ‘sy lammers te laat wei’—Eseg. 34:2, 14, 15; Joh. 21:15.

Francis was een van diegene wat na geestelike voedsel gesoek het. Hy woon in een van die baie huise op die rand van Bushrod Island, in ’n deel van Monrovia wat Clara Town genoem word. Hoe het hy geestelike voedsel gevind?

“Ek het aan die Pinksterkerk behoort”, verduidelik hy, “maar dit het my ontstel dat sekere sitplekke vir sekere lidmate gehou is. Ek wou die Bybel verstaan, maar die predikant het meestal oor geld gepraat. Hy het gesê dat as ons nie geld aan die kerk gee nie, ons nie hemel toe kan gaan nie. Eendag het een van Jehovah se Getuies ’n eksemplaar van Die Wagtoring by my gelaat. Toe ek dit lees, het ek die verskille tussen die leerstellings van die Bybel en die gebruike van my kerk gesien. Die Getuie het teruggekeer en my gereeld gehelp om die Bybel te verstaan, en namate my kennis toegeneem het, het ek begin om die vergaderinge by te woon. My neef het saam met my begin studeer, en ons is albei gedoop.”

Wanneer ons Bushrod Island verlaat, ry ons per taxi oor die Montserrado-rivier, verby die sakegebied en na Sinkor, die modernste deel van Monrovia. Jehovah se Getuies vergader hier in ’n pragtige Koninkryksaal. Ook hier vind ons iemand wat na antwoorde gesoek het. Hy vertel vir ons:

“Terwyl ek op hoërskool was, het die gesindheid van my Bybel-onderwysers my ontstel. Een boek wat ons bestudeer het, het Jesus byvoorbeeld as onkundig en bygelowig uitgebeeld omdat hy geglo het dat duiwels bestaan en in mense kan invaar. Ek wou so graag weet of die Bybel God se Woord is of die woord van mense. Ek is ook verwar deur die mag der menigte kerke wat sê dat hulle Christelik is.”

Latere omgang met die Bahai-geloof “het klaarblyklik net die gevoel van leegheid verskerp” waarvan die jongman bewus was. Hy gaan voort:

“Ek het ’n onderwyserspos in Ganta, waar my moeder woon, aanvaar. Sy het saam met Jehovah se Getuies gestudeer. Ek het ook mettertyd ’n tuis-Bybelstudie aanvaar, maar met die gedagte om vir die Getuie te bewys dat hy mislei word. Na ons eerste gesprek, waartydens hy my verbaas het met Bybelse antwoorde op al my vrae, moes ek tot die gevolgtrekking kom dat ek die een is wat mislei is. . . . Ek het besluit om ’n paar ouer Wagtoringpublikasies te lees om te sien of ek enige teenstrydighede kon vind. Maar hierdie lektuur het slegs my geloof in die Bybel as God se Woord en in die Getuies as sy volk versterk.

“Toe het ek veranderinge in my lewe begin aanbring. Ek het opgehou rook, uit die Metodiste-kerk bedank en begin om vir ander, onder meer my verloofde, van my geloof te vertel. Ook sy het die waarheid aanvaar ondanks familieteenstand en die feit dat sy uit die skool gesit is omdat sy haar Christelike neutraliteit bewaar het. Ons het getrou en is in 1971 gedoop.”

Sedertdien het hierdie egpaar die voorreg gehad om verskeie ander te help om knegte van Jehovah te word. Die man dien nou as ’n ouere man in die gemeente.

JEHOVAH GENEES SY “SKAPE”

Voordat Jehovah hulle gevind het, het baie “skape” ver van die regverdige beginsels van sy Woord afgedwaal. Beskou die volgende voorbeelde:

Oorkant Sutter Creek, in Gardnersville, woon daar ’n fris Kru-man. Hy het eens so ’n wilde lewe gelei dat sy vriende hom die bynaam “Brandweer” gegee het. Sy vrou, Zoe, het vir ons aartappelblare en rys gekook. Terwyl ons dit in die skadu van ’n mangoboom eet, vertel hy vir ons:

“Terwyl ek in die polisiemag was, was ek teleurgestel toe my beurs om my oorsee as vlieënier te bekwaam, gekanselleer is. Ek het besluit om na ’n ‘toordokter’ te gaan om ’n bietjie ‘moeti’ te kry om my te help om my doel te bereik. Maar dit het nie gehelp nie. Toe het twee Getuies ons besoek en ’n Bybelstudie begin. Ons belangstelling het toegeneem toe ons geleer het van Jehovah se voorneme om hierdie aarde ’n paradys te maak waarin reg en geregtigheid sal heers. Maar ons gewetens het ons gepla omdat ons geweet het dat ons nie volgens God se regverdige standaarde lewe nie. Toe ons die waarheid omtrent bose geeste leer, het ons die ‘moeti’ en ander spiritistiese voorwerpe in ons besit vernietig. Ons het besluit om ons lewens in orde te bring, maar dit het tyd geverg, want Zoe was nog met haar vorige man getroud. Sy het mettertyd daarin geslaag om ’n egskeiding te kry; ons is getroud en is die volgende maand gedoop.”

Vervolgens besoek ons Jerome by Bong Mine. Om daar te kom, ry ons met ’n motor van Monrovia na Kakata, ’n afstand van net meer as 64 kilometer. Langs die pad ry ons by ry na ry rubberbome verby. By Kakata klim ons op ’n bus wat met ’n grondpad langs ry. Tussen die rubberplase en die tropiese bosveld is daar ’n paar tipiese Liberiese statte—groepies kleihutte met dakke van palmblare. Ons kom eindelik by die yster-mynkamp aan en vind Jerome by die spruit waar hy pas tevore sy klere gewas het. Terwyl ons wag dat ’n paar ander Getuies van die werk af moet kom, vertel hy vir ons die volgende oor hoe Jehovah hom gehelp het:

“Ek het graag gerook en straf gedrink, en ek het twee vroue gehad. Terwyl ek eendag saam met ’n paar vriende bier gedrink het, het ’n Getuie met ons oor die Bybel gepraat en vir ons die Waarheid-boek aangebied. My vriende het my probeer ompraat om dit nie te aanvaar nie, maar ek het geredeneer dat as ek dit kon bekostig om soveel geld aan bier te bestee, ek tog seker [’n klein bedrag] vir die boek kon betaal. Hulle het gesê dat ek nooit weer die Getuie sou sien nie. Maar hy het op die vasgestelde tyd teruggekeer en ’n Bybelstudie saam met my begin.

“Toe ek Jehovah leer ken het, het ek besef dat my lewenswyse hom nie behaag nie en dat ek geldelik daarby baat sou vind as ek Bybelbeginsels in my lewe toepas. Met Jehovah se hulp het ek daarin geslaag om op te hou rook en nie meer straf te drink nie, en ek het met my twee minnaresse gebreek. Ek is bly dat ek nou nie meer my lewe verkwis nie, maar ander kan help om van Jehovah God en sy Seun, Jesus Christus, te leer deur as ’n voltydse verkondiger van die ‘goeie nuus’ te dien.”

Ons keer terug na Kakata vir ’n kringbyeenkoms waar ’n suster van Gbarnga die volgende ondervinding vertel het: “Toe ek nog klere verkoop het op die mark in Yekepa, het die ander vroue by die mark altyd gekla dat hulle kêrels hulle nie onderhou nie, maar eerder van die geld vat wat hulle by die mark verdien het. Ek het dan vir hulle verduidelik wat die Bybel oor ’n eerbare huwelik sê en hoe die toepassing van Bybelbeginsels vir ’n gesin vrede en geluk kan bring. Maar hulle het net vir my gelag. Terwyl ek hulp-pionierdiens gedoen het, het ek eendag een van daardie markvroue ontmoet. Haar kêrel het haar aangespoor om ’n aborsie te ondergaan, en dit het amper haar lewe gekos. Sy het die goeie dinge onthou wat ek vir haar vertel het en gesê dat sy graag die Bybel wou bestudeer en haar lewe wil verander. Hierdie vrou is verlede jaar gedoop en het onlangs met ’n Christen getrou.”

JEHOVAH STORT STEEDS SY SEËN UIT

Ons hoop dat jy jou besoek aan Liberië geniet het en dat dit jou gehelp het om te besef hoe Jehovah sy geestelike skape hier gevind het en versorg. Maar wat van die toekoms? Ons is seker dat God sal voortgaan om ons pogings te seën terwyl ons ywerig na meer van sy “skape” soek.

In Desember 1979 het 1 956 persone ons “Lewende Hoop”-Streekbyeenkoms bygewoon, en ons was bly dat 17 gedoop is. Daar was ook sterk aanduidings dat daar nog “skape” is wat hulp nodig het, want altesaam 3 931 persone het op 31 Maart 1980 dwarsoor Liberië byeengekom om die dood van Jesus Christus te herdenk.—1 Kor. 11:23-26.

Namate die kudde in hierdie land groter word, het ons ook groter fasiliteite nodig om daarvoor te sorg. In Mei 1979 was ons baie opgewonde toe ons hoor dat die Bestuursliggaam van Jehovah se Getuies die takkomitee in Liberië gemagtig het om ’n genootskap sonder winsoogmerk te stig en grond te koop waarop ons ons eie takkantoor en Bethelhuis kan bou. Sedertdien is ’n baie mooi stuk grond gekoop. Onlangs is daar verder gevorder toe ons bouplan deur die plaaslike owerheid goedgekeur is. Nou sien ons met afwagting uit na die tyd wanneer ons kan begin bou.

Ons het waarlik rede om ons te verheug wanneer ons dink hoe Jehovah sy mense hier in Liberië versamel en geseën het. Van die stadig vloeiende water van die Mano-rivier tot by Cape Palmas in die suide, en van die tropiese reënwoude in Nimba tot die palmryke strande van die Atlantiese Oseaan word Jehovah se “skape” gevind. En dit is ons bede dat hy sal voortgaan om ons ywerige pogings om die goeie nuus van sy koninkryk te verkondig en dissipels van sagmoedige mense te maak, sal seën.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel