Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w81 9/15 bl. 4-6
  • “Ek wil”

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • “Ek wil”
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1981
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ‘EK WIL TERUGGAAN’
  • “SORG VIR MEKAAR”
  • Toon persoonlike belangstelling in ander
    Ons Koninkryksbediening—1991
  • Toon persoonlike belangstelling in ander
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1989
  • Medelye vir ’n melaatse
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1986
  • “Om die liefde van die Christus te ken”
    Kom nader aan Jehovah
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1981
w81 9/15 bl. 4-6

“Ek wil”

DIE mense in ’n sekere Galilese stad het reeds gehoor dat Jesus Christus siekes genees en duiwels uitgedryf het. ’n Man vol melaatsheid het toe na hom gekom.

Die melaatse het op sy aangesig geval en Jesus toe op sy knieë begin smeek: “As U wil, kan U my reinig.” Die Bybel berig: “Jesus het vir hom innig jammer gevoel en die hand uitgesteek en hom aangeraak en vir hom gesê: Ek wil, word gereinig! En toe Hy dit sê, het die melaatsheid hom dadelik verlaat, en hy is gereinig.”—Mark. 1:40-42; Luk. 5:12, 13.

Hier was ’n man vol melaatsheid—’n walglike siekte in daardie dae. Omdat mense bang was dat hulle sou aansteek, het melaatses hulle gewoonlik met weersin vervul. Maar wat het Jesus gedoen? Hy het sy hand uitgesteek en die melaatse aangeraak. Hy was nie bang nie. Hy is eerder met medelye vir die man gevul.

Al was Jesus besig, het hy altyd begrip getoon vir die gevoelens, behoeftes en omstandighede van indiwidue. Daar is talle sulke kosbare voorbeelde waar Jesus persoonlike belangstelling in ander getoon het. Hierdie eienskap van Jesus maak hom by ons bemind, vertroos ons en versterk ons. Hoe hy selfs vandag nog voel oor mense wat hulp nodig het, kan nie beter uitgedruk word as in sy woorde aan die melaatse nie: “Ek wil.”

Deur dit te sê, het Jesus die persoonlikheid van sy Vader, Jehovah God, volmaak weerspieël. As die ewige en volmaakte God, het hy niks kortgekom nie. Hy het nietemin besluit om sy liefde en wysheid met ander te deel. Hy het gevolglik bewuste, intelligente lewe met die vermoë om lief te hê in die hemel en op die aarde geskep. En hy voorsien nie alleen mildelik in die behoeftes van sy skepsele as ’n groep nie, maar hy stel ook persoonlik in ons belang, luister na ons gebede en ondersoek ons harte indiwidueel.—Rom. 8:26, 27.

Deur onselfsugtig in ander belang te stel, lewer Jesus se ware volgelinge bewys dat hulle navolgers van Jehovah God is en volbring hulle God se wil, soms selfs sonder dat hulle dit besef.

‘EK WIL TERUGGAAN’

Jesus het sy dissipels beveel om die goeie nuus van God se koninkryk te verkondig (Matt. 24:14; 28:19, 20; Hand. 1:8). Omdat Jehovah se Getuies daardie opdrag ernstig opneem, gaan hulle na elke deur met die begeerte om die Bybel se boodskap te deel met diegene wat wil luister.

Die mees geslaagde evangeliedienaars is die wat ’n opregte, persoonlike belangstelling in ander in hulle gebied het. So ’n persoonlike belangstelling sal natuurlik die verkondigers van die “goeie nuus” na die mense laat luister om soveel moontlik omtrent hulle te wete te kom. ’n Goeie dokter gee nie vir ’n pasiënt ’n voorskrif voordat hy die persoon deeglik ondersoek het nie. As ’n Christen die hartgrondige begeerte het om mense te help, sal hy hulle eweneens wil leer ken. Slegs dan sal ’n getuie van Jehovah indiwidue op doeltreffende wyse kan help.

Die beste wyse waarop Jehovah se Getuies vir die predikingswerk kan voorberei, is dus nie soseer deur aanbiedings uit die hoof te leer nie, maar deur hulle hart voor te berei. As ons hart waarlik belangstel in die mense wat ons teëkom, sal ons nooit woorde kortkom nie. Ons sal dinge sê en doen om hulle geestelik te help.

As ons in ons bediening persoonlik in ander belangstel, sal ons dink oor die persone wat ons teëkom, selfs nadat ons hulle huis verlaat het. Dit sal die begeerte by ons wek om terug te gaan.

Een van Jehovah se Getuies in Connecticut (die Verenigde State) het vir haar moeder die ondervinding vertel wat sy eendag gehad het toe sy ’n jong dame ontmoet het terwyl sy van huis tot huis gepreek het. “Met daardie groot, blou oë het sy na my gekyk en gesê: ‘Ek glo nie aan God nie’”, het sy vir haar moeder gesê. “Maar ek dink dat sy na iets soek, Moeder, en ek wil na haar toe teruggaan.”

Die Getuie het teruggegaan. Sy het ’n Bybelstudie begin. Ses maande later het die jong dame begin om van huis tot huis te preek en sy is kort daarna as ’n Christen gedoop. Vandag is hierdie voormalige ateïs die vrou van ’n reisende opsiener van Jehovah se Getuies.

Omdat ons Jehovah en Jesus navolg en persoonlik in ander belangstel, voel mense aangetrokke tot ons en die waarheid van God se Woord wat ons verkondig.

“SORG VIR MEKAAR”

Dit is Jesus se dissipels se liefdevolle belangstelling in mekaar wat hulle in die Christengemeente saamsnoer (Joh. 13:35; Gal. 6:10). Die apostel Paulus het die Christengemeente met die menseliggaam vergelyk toe hy die onderlinge afhanklikheid en wedersydse belangstelling van die lede daarvan beskryf het. Hy het geskryf:

“Die oog kan nie vir die hand sê: Ek het jou nie nodig nie; of ook die hoof vir die voete: Ek het julle nie nodig nie. . . . sodat daar geen verdeeldheid in die liggaam mag wees nie, maar dat die lede gelyke sorg vir mekaar mag dra.”—1 Kor. 12:14-25.

Die Griekse uitdrukking vir “gelyke sorg vir mekaar mag dra”, beteken letterlik ‘moet oor mekaar besorg wees’ (Kingdom Interlinear Translation). Dit beklemtoon die intensiteit van die persoonlike belangstelling wat die lede van die gemeente vir mekaar moet hê. Paulus voer ’n kragtige argument hiervoor aan wanneer hy sê: “As een lid ly, ly al die lede saam; en as een lid geëer word, is al die lede saam bly.”—1 Kor. 12:26.

Deur persoonlike belangstelling in ander te betoon, laat ons die goeie in mense na vore kom. Ons sien ’n potensiaal vir die goeie in ander en voed dit.

Die Bybel deel ons mee dat Barnabas persoonlik in Johannes, wat Markus genoem word, as ’n sendelingmetgesel belanggestel het. Barnabas het ’n potensiaal vir die goeie in Markus gesien ondanks die probleme wat hy vir Paulus en Barnabas tydens hulle eerste sendingreis veroorsaak het. Markus is gevolglik gehelp om geestelik te ontwikkel om ’n voortreflike kneg van God te word (Hand. 13:5, 13; 15:36-39; 2 Tim. 4:9-11). Markus is mettertyd deur God geseën met die wonderlike voorreg om geïnspireer te word om die Bybelboek met sy naam te skryf.

In die Verenigde State was daar eweneens ’n Christen- ouere man wat persoonlike belangstelling in ’n tienderjarige seun in die gemeente getoon het. Hy het die jong man genooi om hom te kom help met die bou van ’n Koninkryksaal, ’n gemeentelike vergaderplek. Op pad huis toe het hulle dan verversings genuttig en met mekaar gesels. Die seun is nou groot en dien as ’n kringopsiener. Maar hy onthou nog hierdie ouere man se persoonlike belangstelling in hom as een van die glanspunte van sy geestelike ontwikkeling.

As ware Christene kan ons hernieude vreugde en doelgerigtheid in die lewe smaak deur persoonlik in ander belang te stel—persone aan wie ons die Bybel se boodskap verkondig, asook ons geestelike broers en susters in die gemeente, onder meer die jonges, die bejaardes, die siekes, die weduwees, die wese en ons eie familielede. Sodoende kan ons hulle lewe met geluk vul.

Ons is terselfdertyd daarvan seker dat God ons op baie maniere sal beloon. Jesus het ons verseker: “Dit is saliger om te gee as om te ontvang” (Hand. 20:35). Laat alle ware liefhebbers van God dus die hemelse Vader navolg deur persoonlike belangstelling in ander te toon. Jesus het die voorbeeld gestel toe hy vir die melaatse gesê het: “Ek wil.”

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel