Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w89 11/15 bl. 15-20
  • Toon persoonlike belangstelling in ander

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Toon persoonlike belangstelling in ander
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1989
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Geestelike belangstelling en persoonlikheidsverskille
  • Ag ander hoër as jouself
  • Ontwikkel persoonlike belangstelling in ander
  • Openbaar meegevoel
  • Hoe jou broer gewin kan word
  • Hoe ongelowiges gewin kan word
  • Toon persoonlike belangstelling in ander
    Ons Koninkryksbediening—1991
  • Belangstelling in die ander persoon getoon
    Vind baat by opleiding in die Teokratiese Bedieningskool
  • “Ek wil”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1981
  • Christen- ouer manne—‘Medewerkers vir ons vreugde’
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2013
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1989
w89 11/15 bl. 15-20

Toon persoonlike belangstelling in ander

“Julle moet nie elkeen na sy eie belange omsien nie, maar elkeen ook na die ander s’n.”—FILIPPENSE 2:4.

1, 2. Wat is party redes waarom ons persoonlike belangstelling in ander behoort te toon?

ONS het goeie redes om persoonlike belangstelling in ander te toon. Byvoorbeeld, ons medemens behoort ons te interesseer omdat ons van mekaar verskil. Die genetiese materiaal van ons liggaamselle bevat ’n bloudruk van ons oorgeërfde eienskappe. Dit is so kenmerkend dat speurdienste genetiese “vingerafdrukke” by hulle identifikasietegnieke gevoeg het.

2 Daar is ander redes waarom ons verskil en interessant is as individue. Ons is van ons ontvangenis af onderhewig aan die invloed van ons omgewing. Daar is heelwat getuienis dat ongebore babas reageer op wat buite die baarmoeder plaasvind. Dan, nadat ons as onafhanklike asemhalers, of siele, in die wêreld ingekom het, het ons ouers se gesindhede en leefwyse ’n uitwerking op ons. Dalk word ons groot as die enigste kind of kry ons broers en susters en help ons om na hulle om te sien. Sulke omgang of gebrek daaraan het ’n invloed op ons ontwikkeling. Wat ons lees, op skool geleer word en op die televisie sien, beïnvloed ook ons denke en dade.

3. Veral watter belangstelling moet ons, in ooreenstemming met Filippense 2:4, in ander hê?

3 Die manier waarop ons verskil, bevorder dus belangstelling in mekaar. Maar die apostel Paulus het ’n meer verhewe rede vir belangstelling in ander in gedagte gehad. Daarom het hy mede-Christene aangespoor om ‘nie net na hulle eie belange om te sien nie, maar ook na ander se belange’ (Filippense 2:4). Pleks van ons eie voordeel na te streef, moet ons veral geestelik in ander belangstel. Wat is dus party maniere waarop ons sulke persoonlike belangstelling in ander toon?

Geestelike belangstelling en persoonlikheidsverskille

4. Watter veranderinge wat in Efesiërs 4:22-24 beskryf word, vergroot ons geestelike belangstelling in ander?

4 Ons geestelike belangstelling in ander word vergroot wanneer ons kennis van skriftuurlike waarheid persoonlik toepas en leer om Jesus Christus se voorbeeld na te volg (1 Petrus 2:21). As ware Christene ‘lê ons die ou persoonlikheid af wat met ons vroeëre lewenswandel ooreenkom’ en doen ons ons bes om dit te vervang deur “die nuwe persoonlikheid . . . wat na God se wil geskape is in ware regverdigheid en lojaliteit” (Efesiërs 4:22-24, NW). Gevolglik word selfsugtige gesindhede progressief vervang deur vriendelike, bedagsame besorgdheid oor ander.—Jesaja 65:25.

5. Waarom is daar verskillende persoonlikhede in die Christengemeente, en watter vrae laat dit ontstaan?

5 Ten spyte van merkwaardige persoonlikheidsveranderinge onder Jehovah se volk, duur sondige neigings steeds voort. Selfs Paulus het erken: “As ek die goeie wil doen, is die kwaad by my aanwesig” (Romeine 7:21). Daar is natuurlik ander oorgeërfde en aangeleerde eienskappe, en hierdie eienskappe identifiseer ons. Party is kunssinnig, ander het ’n analitiese benadering. Terwyl party stil en teruggetrokke is, is ander gesellig en spontaan. Hoe moet die eenheid van die Christengemeente dan ten spyte van sulke persoonlikheidsverskille gehandhaaf word?

6. Hoe moet ons persoonlikheidsverskille beskou, en hoe sal jy dit toelig?

6 As ons geestelike belangstelling in ander wil toon en Christelike eenheid wil bewaar, moet ons realisties en simpatiek wees. Aangesien God nie volmaaktheid van ons vereis nie, moet ons dit nie van ons Christenmetgeselle eis nie. Boonop verwag Jehovah nie dat al sy knegte presies eenders moet wees nie. In die Christengemeente het elkeen ’n plek en kan ons almal ons oorgeërfde, godgegewe vermoëns gebruik om sy werk te bevorder (1 Korinthiërs 12:12-26). As ons aanhou werk onder die leiding van die Hoof van die gemeente, Jesus Christus, sal ons nie tyd hê om krities na mekaar te kyk nie (1 Korinthiërs 4:1-4). Soos ’n ambagsman weet, is elke gereedskapstuk ontwerp om ’n bepaalde werk te doen. Kan ’n hamer so ’n netjiese gaatjie soos ’n boor maak? Sal ’n skaaf wat gebruik word om hout te vorm ’n skroef doeltreffend daarin kan inslaan? Nee, want elke gereedskapstuk het sy korrekte gebruik.

7. Wat moet vir ons van die allergrootste belang wees terwyl ons saam aan Koninkryksdiens deelneem?

7 Hoe waar is die woorde van die Koninkrykslied “Vreugdevolle diens” tog nie! Dit spoor ons aan: “Laat ons ons verlustig in die diens van God. Dien met ons talente en hou sy gebod.” Ons het dalk weliswaar nie uitmuntende vermoëns nie. Maar ons beskou die werk wat aan ons as Jehovah se Getuies gegee is as van die allergrootste belang en lê ons heelhartig daarop toe. Soos die lied byvoeg: “Al is dit ook hoe gering, ons sal bewys dat ons harte, vol van liefde, Hom wil prys.”—Sing lofliedere voor Jehovah, lied 130.

Ag ander hoër as jouself

8. Hoe word eenheid bevorder as ons Paulus se woorde in Filippense 2:1-3 toepas?

8 Eenheid word ook bevorder deur ander hoër as jouself te ag. Paulus het geskryf: “As daar dan enige troos in Christus is, as daar enige vertroosting van die liefde, as daar enige gemeenskap van die Gees, as daar enige innige tederheid en ontferming is, maak dan my blydskap volkome deur eensgesind te wees en dieselfde liefde te hê, een van siel, een van sin.” Let op dat die apostel byvoeg: “Moenie iets doen uit selfsug of uit ydele eer nie, maar in nederigheid moet die een die ander hoër ag as homself.”—Filippense 2:1-3.

9. Wat beteken dit om twissoekerig en egotisties te wees, en hoe kan ons hierdie eienskappe vermy?

9 ’n Twissoekerige persoon wat ander nie hoër as homself ag nie, openbaar “’n dikwels perverse en irriterende neiging om rusie te maak en te stry” (Webster’s New Collegiate Dictionary). Hierdie eienskap kan hom openbaar in “stryery oor woorde” (1 Timotheüs 6:4, NAV). Die gees agter die woorde en die gedagtes wat hulle oordra, behoort tog die belangrikste te wees. Moet dus nie daarop aandring dat sekere uitdrukkings in gesproke of geskrewe taal gebruik word nie. En sê nou iemand probeer jou van ’n ander beskouing van een of ander opvatting oortuig? Bly getrou by die skriftuurlike informasie wat God deur “die getroue en verstandige dienskneg” voorsien het (Mattheüs 24:45-47). Dit is per slot van rekening hoe ons aanvanklik die waarheid geleer het. As ons dit erken, sal dit ons help om nie egotisties te wees nie, dit wil sê, om nie ’n te hoë eiedunk te hê nie.

Ontwikkel persoonlike belangstelling in ander

10. Hoe moet Filippense 2:4 in die gemeente toegepas word?

10 Onthou dat Paulus ons aangespoor het om ‘nie net na ons eie belange om te sien nie, maar elkeen ook na die ander se belange’ (Filippense 2:4). Wat beteken dit? Net soos dit ons kan help in die veldbediening as ons op ons omgewing let, sal belangstelling in die welsyn van ander in die gemeente ons geleenthede bied om die liefdeband wat ons verenig te versterk. Veral ouere manne het ’n verantwoordelikheid om besorgdheid oor medegelowiges te toon, want ’n spreuk sê: “Jy behoort beslis te weet hoe jou kleinvee daar uitsien” (Spreuke 27:23, NW). Ons almal kan en moet natuurlik let op wat ons medegelowiges se behoeftes is.—1 Petrus 2:17, vgl. NW.

11. Waarom moet ons aandagtig luister wanneer ons met ons geestelike broers en susters praat?

11 Nog ’n manier waarop jy eenheid kan bevorder en belangstelling in ander kan ontwikkel, is om tyd daaraan af te staan om goed met jou geestelike broers en susters te kommunikeer. Vind uit hoe hulle dinge beskou. Dit kan gedoen word wanneer jy hulle tuis besoek, voor en na vergaderinge by die Koninkryksaal en tussen sessies van ons byeenkomste. En luister aandagtig wanneer hulle praat. Dit sal dalk beteken dat ons van die probleme hoor waarmee hulle te kampe het, maar dan sal ons dalk kan help om hulle laste te dra en sodoende die wet van Christus te vervul (Galasiërs 6:2). Buiten die feit dat ons met ons broers moet praat, is daar egter ook iets anders wat die eenheid van die gemeente sal beskerm. Wat is dit?

Openbaar meegevoel

12. Waarom moet ons meegevoel openbaar?

12 Meegevoel bevorder ook Christelike eenheid. Weens die toenemende druk van die lewe moet ons almal hierdie eienskap openbaar. Mag ons nooit so verdiep raak in wat ons in gedagte het dat ons nalaat om ander se gevoelens in aanmerking te neem nie. Byvoorbeeld: Toe een spreker wat ’n deel op die Diensvergadering moes behartig by die Koninkryksaal aangekom het, het ’n ouere man dadelik met hom oor ’n saak begin praat wat aangekondig moes word. Tot die ouere man se verbasing en skaamte het die spreker na hom gekyk, geglimlag en gesê: “Eerstens, Broer, goeienaand!” Die saak wat aangekondig moes word, is bespreek nadat hulle mekaar vriendelik gegroet het en die broer gerusgestel is. Wat ’n les het daardie ouere man geleer! Moenie te haastig wees en sodoende die hoflikhede ignoreer wat jou verhouding met ander aangenaam maak nie.

13. Wat sal meegevoel ouere manne beweeg om in hulle handelinge met hulle Christenmetgeselle te doen?

13 Meegevoel beweeg ouere manne om medelye en ander goeie eienskappe aan die dag te lê. Partymaal moet hierdie manne sagsinnig wees, “soos wanneer ’n sogende moeder haar eie kinders koester” (1 Thessalonicense 2:7, NW). Baie geduld en liefdevolle ondersteuning is nodig om sekere individue te help. Diegene wat ‘hulle eerste liefde verlaat het’, moet dalk aangespoor word om bedrywiger te wees en het dalk hulp nodig om die dringendheid van ons tye te besef (Openbaring 2:4; 2 Timotheüs 4:2, vgl. NW; Hebreërs 6:11, 12). Soos Paulus het ouere manne “tere geneentheid” vir Christenmetgeselle en vermaan en bemoedig hulle hul ‘sodat hulle sal voortgaan om te wandel op ’n wyse wat God waardig is’.—1 Thessalonicense 2:8, 11, 12, NW.

14. Watter bewys het Paulus gelewer dat hy meegevoel gehad het?

14 Paulus het vir ouere manne ’n goeie voorbeeld gelaat van hoe hulle liefdevolle besorgdheid oor die welsyn van geestelike broers en susters moet toon. Hy het geskryf: “Behalwe dit alles was daar nog die daaglikse bekommernisse, die besorgdheid oor al die gemeentes.” Omdat Paulus sulke besorgdheid gehad het, kon hy sê: “As iemand swak is, voel ek asof ek self ook swak is; as iemand in sonde val, voel ek asof ek ook deur vuur gaan.” Is jy ’n ouere man? Het jy dan sulke meegevoel?—2 Korinthiërs 11:28, 29, NAV.

Hoe jou broer gewin kan word

15. Watter raad van Jesus in Mattheüs 18:15 moet gevolg word wanneer ernstige probleme tussen broers ontstaan, en wat moet die doel wees?

15 Meegevoel bevorder eenheid onder Jehovah se knegte. Maar daar is seldsame gevalle waar onenigheid tussen persone ontstaan. Wanneer dit sake van ’n ernstige aard behels, moet Christene Jesus se raad volg wat in Mattheüs 18:15-17 (vgl. NW) opgeteken is. Let op die eerste stap. Dit is om “privaat” met jou broer te praat om ‘sy fout bloot te lê’. Wat moet jou doel wees? Om jou broer ‘te win’! Jesus het gesê: “As hy na jou luister, dan het jy jou broeder gewin.” Gelukkig is ’n privaat gesprek gewoonlik al wat nodig is om vreedsame betrekkinge tussen jou en jou mede-aanbidder van Jehovah te herstel.

16. Wat moet jy doen as jy opmerk dat jou broer iets teen jou het?

16 As jy opmerk dat jou broer iets teen jou het, moet jy Jesus se raad volg om ‘jou . . . met jou broeder te versoen’ (Mattheüs 5:24). Bespreek die probleem op ’n kalm, vriendelike manier, en probeer om mekaar se beskouing te verstaan. Sodoende kan die saak gewoonlik opgelos en die vrede van die gemeente behou word.

Hoe ongelowiges gewin kan word

17, 18. Watter raad het Petrus Christenvroue in godsdienstig verdeelde huisgesinne gegee?

17 Een van die moeilikste situasies waarin skriftuurlike beginsels toegepas moet word, is in ’n godsdienstig verdeelde huisgesin. Baie Christene arbei getrou ondanks frustrasies en moeilikhede wat deur ’n gebrek aan geestelike eenheid in hulle huwelik veroorsaak word. Hoe kan hulle gehelp word?

18 Omdat ouere manne persoonlike belangstelling in ander toon, verleen hulle graag geestelike hulp aan diegene in godsdienstig verdeelde huisgesinne. Hulle kan byvoorbeeld die aandag vestig op Petrus se raad oor die gedrag van Christenvroue in hierdie situasie. Hy sê vir hulle om aan hulle mans onderdanig te wees, selfs as die mans ongelowig en “aan die woord ongehoorsaam is”. Waarom moet hulle onderdanig wees? “Sodat . . . hulle ook deur die wandel van die vroue sonder woorde gewin kan word” (1 Petrus 3:1). Maar hoe doeltreffend is dit om hierdie raad toe te pas?

19. Meld ’n voorbeeld om toe te lig watter voordele dit inhou om 1 Petrus 3:1 toe te pas.

19 Een vrou, Vera, erken dat toe sy ’n Christen geword het sy aanhoudend met haar man oor Bybelwaarheid gepraat het, en hy het keelvol daarvoor geraak. “Ek het die skriftuurlike raad toegepas wat ek van ’n ouere man gekry het”, voeg sy by, “en besluit dat dit beter was om taktvol te wees en te wag totdat gunstige geleenthede hulle voordoen.” Vera het in werklikheid 1 Petrus 3:1 toegepas, hoewel sy tog nog inisiatief aan die dag gelê en haar man, Barry, aangemoedig het om Bybelbeginsels te bespreek. Hy het later verduidelik: “Deur die jare heen het ek opgemerk dat Ontwaak! [Die Wagtoring se medetydskrif] op buitengewone plekke in die huis gelê het. Dit het items bevat wat prakties was en partykeer die nuus voor was.” Die gevolg is dat Barry en Vera, na 20 jaar van verdeeldheid, nou bly is om in Jehovah se diens verenig te wees.

20. Watter hulp kan ouere manne Christenmans in godsdienstig verdeelde huisgesinne gee?

20 ’n Gelowige man kom voor groot probleme te staan wanneer sy vrou die ware Christelike godsdiens opponeer en hulle kinders teen hom opsweep. Ouere manne kan persoonlike belangstelling in so ’n man toon deur sy aandag op nuttige Bybelbeginsels te vestig. Hulle kan byvoorbeeld daarop wys dat hy, ten spyte van sy vrou se teenkanting, die gesinshoof is en sy kinders skriftuurlike onderrig moet gee (Efesiërs 6:4). Hy kan aangespoor word om “verstandig” met sy vrou saam te lewe en belangstelling te toon in wat sy doen en haar met haar huiswerk en die versorging van die kinders te help (1 Petrus 3:7). Die gelowige man en vader moet bowenal aangemoedig word om goeie kommunikasie met sy gesin te behou sodat hy kan uitvind wat in elke gesinslid se hart is. Die ouere manne kan hom ook aanmoedig om aan te hou om sy vrou te probeer help met woorde wat “met sout besprinkel” is deur by gepaste geleenthede taktvol skriftuurlike waarheid met haar te bespreek.—Kolossense 4:6.

21. Hoe kan ’n ongelowige vrou gehelp word om in die waarheid te begin belangstel?

21 Belangstelling in die gesinslede van Christene in godsdienstig verdeelde huisgesinne laat hulle partymaal gunstig op die Koninkryksboodskap reageer. Ter toeligting: Een Christenman was mismoedig omdat sy vrou hom reeds etlike jare lank bitterlik teengestaan het. ’n Ouere man het aangebied om hulle te besoek en met ’n Bybelbespreking te help. Toe die ouere man by die huis aankom, het hy die vrou vriendelik gegroet en gevra: “Wil jy nie graag by ons aansluit nie?” Daardie vriendelike uitnodiging het die vrou so beïndruk dat sy met graagte by die bespreking aangesluit het. Kort daarna het sy die waarheid aanvaar en vir ander begin preek.

22. Waarom moet ons persoonlike belangstelling in mekaar toon?

22 Laat ons as Jehovah se Getuies dus “alles [doen] ter wille van die goeie nuus” (1 Korinthiërs 9:23, NW). Ja, “laat ons dan, terwyl ons geleentheid het, aan almal goed doen, maar die meeste aan die huisgenote van die geloof” (Galasiërs 6:10). Mag ons persoonlike belangstelling in mekaar toon, sodat liefde in ons wêreldwye broederskap sal gedy.

Hoe sou jy antwoord?

◻ Wat is die belangrikste rede waarom ons in ander moet belangstel?

◻ Hoe kan ons persoonlike belangstelling in medegelowiges ontwikkel?

◻ Hoe kan ouere manne meegevoel toon?

◻ Wat kan die gevolg wees as ons persoonlike belangstelling in ongelowiges toon?

[Prente op bladsy 16, 17]

Net soos elke gereedskapstuk ontwerp is om ’n bepaalde werk te doen, kan almal in die Christengemeente godgegewe vermoëns gebruik om God se werk te bevorder

Toon persoonlike belangstelling in ander om Christelike eenheid te bevorder

[Prent op bladsy 18]

Paulus het vir ouere manne ’n goeie voorbeeld gelaat van hoe hulle liefdevolle besorgdheid oor medegelowiges moet toon

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel