Woon 1981 se “Koninkrykslojaliteit”-Streekbyeenkomste by
JEHOVAH se Getuies se jaarlikse streekbyeenkomste is waarlik een van die unieke seëninge wat hulle geniet. Watter puik verslae het ons tog by die hoofkwartier ontvang oor die voordele vir diegene wat verlede jaar se “Goddelike Liefde”-Streekbyeenkomste bygewoon het! Ons broers het ’n ryk geestelike feesmaal geniet wat bestaan het uit toesprake, demonstrasies, ondervindinge, dramas en vrystellings, asook die geleentheid om vrywilligerdiens te doen en aan die huis-tot-huisbediening deel te neem! Almal het gevolglik teruggekeer huis toe met ’n dieper waardering vir Jehovah God se groot liefde en met groter vasberadenheid om liefde aan hulle broers en buitestaanders te betoon. Tot op hede het ons verslae oor hierdie streekbyeenkomste uit 85 lande ontvang waar altesaam 3 696 191 die byeenkomste bygewoon het en 40 996 gedoop is.
Vanjaar se “Koninkrykslojaliteit”-Streekbyeenkomste beloof om net so interessant en opbouend te wees as daardie “Goddelike Liefde”-Streekbyeenkomste. Wat ’n voortreflike eienskap is lojaliteit tog! Hoe tydig tog om dit vanjaar as ons byeenkomstema te hê! Lojaliteit strek verder as getrouheid, wat hoofsaaklik die gedagte van betroubaarheid bevat. Lojaliteit impliseer volgehoue gehegtheid ondanks versoekings of druk, en daarom kan die uitdrukking nie vir diere of lewelose dinge gebruik word soos in die geval van ‘getrouheid’ nie.—Ps. 89:38.
Ons lees gepas dat Jehovah by uitstek die lojale Een is. “Wie sal u nie werklik vrees nie, Jehovah, en nie u naam verheerlik nie, omdat u alleen lojaal is?” Hy is “lojaal in al sy werke” (Openb. 15:4, NW; Ps. 145:17, NW). Daar word heel gepas herhaaldelik na God se eersgebore Seun verwys as “die een wat aan u lojaal is” (Ps. 16:10, NW; Hand. 2:27, NW). Daar word eweneens dikwels na God se getroue knegte as “lojale dienaars” verwys, veral in die boek Psalms.—1 Sam. 2:9, NW; Ps. 30:4, NW; 50:5, NW; 85:8, NW; 145:10, NW.
Ons lojaliteit teenoor die Koninkryk word vandag aangeval soos nog nooit tevore nie. Satan, wat weet dat hy min tyd het, bejeën die lojale dienaars van Jehovah God met groot woede. Deur middel van sy sigbare en onsigbare organisasie oefen Satan die druk van nasionalisme en mensevrees op God se volk uit, tesame met versoekings tot materialisme, geslags- en ander vorms van onsedelikheid, afvalligheid, bitterheid, apatie en opstandigheid. Dit is voorwaar swaar tye.—Openb. 12:12; 2 Tim. 3:1-5.
As ons die “Koninkrykslojaliteit”-Byeenkomste bywoon, sal ons onderrig, vermanings, bemoediging en aansporing ontvang oor al die maniere waarop ons lojaliteit kan en moet betoon—aan Jehovah, aan sy organisasie, aan ons broers, aan ons gesinne. Kom ons betoon lojaliteit deur hierdie byeenkoms by te woon en elke dag teenwoordig te wees reg vanaf die openingslied tot die slotgebed, indien enigsins moontlik. Skenk aandag aan wat van die verhoog af gesê word, ‘gee des te meer ag’ en sing hartlik saam aan ons Koninkryksliedere, wat vir die meeste van ons die enigste daadwerklike deelname aan formele aanbidding is wat die program betref.—Hebr. 2:1; Ef. 5:18, 19.
Lojaliteit aan ons broers sal beteken dat ons nie onnodig ’n klomp sitplekke hou nie. Lojale dienaars sal ook aan velddiens deelneem, nie waar nie? En as ons ’n deel op die program het, moet ons natuurlik ons bes doen, tot lof van Jehovah en tot seën van ander en onsself.