God se Woord is lewend
Wie regeer werklik die wêreld?
DUISENDE jare lank was die geskiedenis van die nasies so eenders dat geskiedkundiges met die teorie vorendag gekom het dat die geskiedenis homself herhaal. Oorloë, verdrukking en intimidasie het algemeen voorgekom tydens die opkoms en ondergang van nasies. Waarom?
Is dit moontlik dat dieselfde onsigbare mag oor alle nasies heers? Is dieselfde leidende krag verantwoordelik vir hulle ooreenstemmende dade van geweld?
Ons hoef nie oor die antwoord te raai nie. Die Bybel toon duidelik dat ’n intelligente bomenslike mag manne sowel as nasies beïnvloed. In God se Woord noem Jesus Christus daardie bomenslike mag “die owerste van hierdie wêreld” (Joh. 12:31; 14:30; 16:11). Wie is hy?
Om hierdie vraag te beantwoord, kan ons kyk na die situasie aan die begin van Jesus se bediening hier op aarde. Die Bybel deel ons mee dat Jesus ná sy doop na die woestyn gegaan het waar hy deur Satan die Duiwel versoek is. ’n Deel van daardie versoeking het die vorm van drie voorstelle aangeneem wat die Duiwel aan Jesus gedoen het. Die derde een word soos volg beskryf:
“Weer neem die duiwel Hom saam na ’n baie hoë berg en wys Hom al die koninkryke van die wêreld en hulle heerlikheid, en sê vir Hom: Al hierdie dinge sal ek aan U gee as U neerval en my aanbid.”—Matt. 4:8, 9.
Wat het die Duiwel vir Christus aangebied? Dit was “al die koninkryke van die wêreld”. Het al die wêreldregering waarlik aan die Duiwel behoort? Ja, want hoe anders kon hy hulle vir Christus aangebied het? Satan was hulle onsigbare heerser. Daarom het Jesus later gesê: “My koninkryk is nie van hierdie wêreld nie.”—Joh. 18:36.
Die Bybel verduidelik dat al die nasies onder die Duiwel se beheer is en sê dat “die hele wêreld in die mag van die Bose lê” (1 Joh. 5:19). Trouens, God se Woord noem Satan “die god van hierdie wêreld”.—2 Kor. 4:4.
Hierdie inligting help ons om te begryp waarom nasies mekaar haat en probeer uitwis wanneer dit alle normale persone se natuurlike begeerte is om in vrede te lewe. Ja, Satan is die een “wat die hele wêreld verlei”.—Openb. 12:9; Ef. 6:12.
Maar al hierdie dinge gaan binnekort verander. Die tyd is ophande wanneer die verrese Jesus Christus Satan en sy goddelose wêreld gaan uitwis, terwyl God se knegte vir ewig bewaar gaan word.—Openb. 20:13; 1 Joh. 2:17.