CHRISTENE EN DIE MILLENNIUMHOOP
“Laat u koninkryk kom; laat u wil geskied, soos in die hemel net so ook op die aarde.”—Matt. 6:10.
1. (a) Hoe praat die valse Christendom van die millenniumhoop? (b) Hoekom ontstel dit Jehovah se Getuies nie?
DIE Rooms-Katolieke Kerk en inderdaad die meeste groot, goed gevestigde Protestantse gelowe meld nooit die millenniumhoop vir kerkgangers nie. Hulle praat minagtend van daardie hoop as “chiliasme” en van diegene wat dit koester as “chiliaste”. Maar Jehovah se Getuies skaam hulle nie vir hierdie geloof nie, want onweerlegbare geskiedkundige feite toon dat die vroeë Christene die millenniumhoop gekoester het.
VROEË CHRISTENE IS “CHILIASTE” GENOEM
2. Wat sê twee ensiklopedieë oor geloof in die millennium onder die vroeë Christene?
2 Met verwysing na Christene wat aan die duisendjarige bewind van Christus glo, sê die Encyclopedia Americana: “Diegene wat sulke menings huldig, heet chiliaste, en hulle leerstelling chiliasme (Gr. chilioi, 1 000). Daar word allerweë erken dat hierdie beskouings, indien nie universeel nie, dan ten minste baie algemeen in die antieke kerk gehuldig is.” Die Franse Encyclopœdia Universalis deel ons mee: “In die Westelike Christendom was die chiliasme gedurende die eerste drie eeue baie algemeen in die Judees-Christelike geloof. . . . Die chiliasme was baie diep gewortel tydens die eerste eeue van die Christelike godsdiens.”
3, 4. (a) Watter aanduidings is daar dat Christene nie op die Openbaring hoef te gewag het voordat hulle verwagtinge in verband met die millennium kon koester nie? (b) Wat beweer party omtrent die millenniumhoop?
3 Daar is getuienis dat Christene verwagtinge in verband met die duisendjarige bewind van Christus gekoester het selfs nog voordat die apostel Johannes die Openbaring aan die einde van die eerste eeu G.J. ontvang het. Deur die Joodse profete se geskrifte te lees, het hulle ’n idee gekry van die wonderlike millenniumhoop wat Christus in Openbaring, hoofstukke 20 en 21, gegee het. Interessant genoeg bevestig die Encyclopœdia Britannica (uitgawe van 1966) dit waar dit sê: “Onder die vroeë Christene het die gedagte van die chiliasme . . . hoofsaaklik voortgespruit uit Joodse eskatologiese verwagtinge [verwagtinge aangaande die lot van die mensdom en die wêreld].” Oor hierdie selfde punt sê die New Encyclopœdia Britannica (1977), wat uit 30 bundels bestaan, die volgende: “In die boek Openbaring is die opname van Joodse apokaliptisisme [verwagting van die uiteindelike vernietiging van die kwade en die triomf van die goeie] in die Christelike godsdiens voltooi. . . . Gedurende die eerste honderd jaar van Christelike geskiedenis [33-133 G.J.] is hierdie vorm van chiliasme (van die Griekse woord vir 1 000) algemeen in die kerk geleer en aanvaar.” (Ons kursiveer.)
4 Party sal dalk antwoord: ‘Moontlik, maar die millenniumhoop van hierdie vroeë Christene het nie met die aarde in verband gestaan nie. Dit was ’n hemelse hoop.’ Maar wat toon die geskiedenisfeite en die Bybel? Kom ons kyk.
VROEË CHRISTENE HET STEEDS GEHOOP OP ’N PARADYS OP AARDE
5, 6. Wat was eerste-eeuse Christene se beskouings, volgens verskeie gesaghebbende bronne?
5 Daar is oorvloedige getuienis dat die vroeë Christene nooit gedink het dat al die profesieë en beloftes in die Hebreeuse Skrifte oor die herstelling van die paradys op aarde deur die koms van die Messias of Christus opgehef is nie. Die Dictionnaire de Théologie Catholique erken self: “Die oorspronge van die chiliasme strek terug tot voor die Christelike tydvak. Die geloof in ’n aardse bewind van die Messias het sy ontstaan in die verwagtinge van Israel gehad.”
6 In A History of Christianity se geskiedskrywer Kenneth Scott Latourette van die vroeë Christene wat gehoop het op die wederkoms van Christus: “Baie het die mening gehuldig dat Christus sou terugkeer, sy koninkryk op aarde sou oprig en ’n duisend jaar lank sou regeer voor die finale einde van die geskiedenis en die volbrenging van God se voorneme wanneer Sy wil volmaak sal geskied, ’n hoop wat deur alle Christene gekoester is. . . . Die begrip van ’n tydvak of tydvakke van ’n duisend jaar was nie tot Christene beperk nie, maar is ook in Judaïsme aangetref.”
7. Wat toon dat die vroeë Christene die paradys nie met die hemel verwar het nie?
7 Daar is dus kumulatiewe getuienis dat die vroeë Christene “chiliaste” was, vir sover daardie naam toegepas is op diegene wat op die duisendjarige bewind van die Christus of Messias gehoop het. Jesus het geopenbaar dat hy uit die hemel sou regeer, maar hy het nie die oorspronklike Messiaanse hoop van die Jode, die herstelling van die paradys op aarde gedurende die millennium, tot niet gemaak nie. Interessant genoeg erken die Katolieke Supplément au Dictionnaire de la Bible dat “die woord paradys in Joodse geskrifte, net soos in vroeg-Christelike literatuur, nie gewoonlik sinoniem met hemel is nie”. (Ons kursiveer.)
CHRISTUS HET NIE DIE MILLENNIUMHOOP TOT NIET GEMAAK NIE
8. (a) Waarvan was Jesus se koms ’n waarborg? (b) Hoe toon die Skrif dat die paradys op aarde herstel sal word?
8 In sy beroemde Bergpredikasie het Jesus gesê: “Moenie dink dat Ek gekom het om die wet of die profete te ontbind nie. Ek het nie gekom om te ontbind nie, maar om te vervul” (Matt. 5:17). Of soos Die Lewende Nuwe Testament die laaste sin weergee: “Ek het gekom om die dinge wat in die Skrif staan te laat uitkom en dit klaar te maak, nie om dit tot niet te maak nie.” Aangesien Jesus gekom het om die leerstellings van die profete te laat uitkom, was sy koms ’n waarborg dat hulle profesieë aangaande die herstelling van die paradys op aarde vervul sou word. Hier is net ’n paar: Psalm 37:11, 29; 72:1-8, 16-19; 115:16; Jesaja 9:5, 6; 11:1-10; 45:18; Daniël 2:34, 35, 44, 45; 7:13, 14.
9. Hoe verbind die Onse Vader die Koninkryk met die millenniumhoop?
9 In die Bergpredikasie het Jesus ook baie duidelik getoon dat die aarde ’n rol gaan speel by die volbrenging van die goddelike wil of voorneme. Hy het sy volgelinge geleer bid: “Onse Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word; laat u koninkryk kom; laat u wil geskied, soos in die hemel net so ook op die aarde” (Matt. 6:9, 10). Hy verbind die volbrenging van God se wil op aarde met die koms van God se koninkryk, en dit is niks anders as die Messiaanse koninkryk nie. Die Onse Vader, wat letterlik miljoene kere deur die eeue heen deur Katolieke en Protestante opgesê is, is dus inderdaad ook ’n gebed vir die vervulling van die Messiaanse beloftes wat met die millenniumhoop verband hou.
DIE MILLENNIUMHOOP TEN VOLLE OPENBAAR
10. (a) Wanneer en hoe het Jesus die millenniumhoop ten volle geopenbaar? (b) Watter hartverblydende besonderhede het hy verstrek?
10 ’n Kwart eeu na die vernietiging van Jerusalem deur die Romeine in 70 G.J. (wat ’n einde gemaak het aan Joodse verwagtinge van nasionale verlossing deur ’n politieke Messias) het Jesus, die ware Messias, die ware millenniumhoop ten volle geopenbaar. In sy verslag van die Openbaring wat hy van God deur Jesus Christus ontvang het, het die apostel Johannes geskryf:
“En ek het ’n engel uit die hemel sien neerdaal, met die sleutel van die afgrond en ’n groot ketting in sy hand. En hy het die draak gegryp—die ou slang wat die duiwel en die Satan is—en hy het hom gebind duisend jaar lank . . .
“En ek het trone gesien, en hulle het daarop gaan sit, en aan hulle is die oordeel gegee . . . Salig en heilig is hy wat deel het aan die eerste opstanding; oor hulle het die tweede dood geen mag nie, maar hulle sal priesters van God en van Christus wees en sal saam met Hom as konings regeer duisend jaar lank.
“En ek het ’n nuwe hemel en ’n nuwe aarde gesien . . . En ek het ’n groot stem uit die hemel hoor sê: Kyk, die tabernakel van God is by die mense, en Hy sal by hulle woon . . . En God sal al die trane van hulle oë afvee, en daar sal geen dood meer wees nie; ook droefheid en geween en moeite sal daar nie meer wees nie, want die eerste dinge het verbygegaan.”—Openb. 20:1-6; 21:1-4.
’N “HEILIGE GEHEIM” VERKLAAR
11. Hoe het die millenniumhoop wat deur Jesus geopenbaar is, ooreengekom met die oorspronklike Messiaanse hoop van die Jode?
11 Jy kan sekerlik die ooreenkoms sien tussen hierdie beskrywing van die duisendjarige bewind van Christus en die oorspronklike Messiaanse hoop van die Jode, “die hoop op ’n ideale Messiaanse toekoms . . . die goue eeu van paradysagtige saligheid . . . ’n wêreld van volmaakte vrede en harmonie onder alle skepsele . . . ‘nuwe hemele en ’n nuwe aarde’ om weer The Jewish Encyclopedia aan te haal.a
12, 13. Wat toon dat Jesus se dissipels steeds ’n aardse bewind van die Messias verwag het?
12 Maar daar was onteenseglik belangrike besonderhede omtrent die Messiaanse koninkryk wat die Jode nie verstaan het nie en wat selfs die 12 apostels en ander vroeë dissipels van Christus moeilik gevind het om te begryp. Kort na sy Bergpredikasie, waarin hy sy dissipels geleer het om te bid dat God se koninkryk moet kom en dat God se wil op aarde moet geskied net soos in die hemel, het Jesus vir die dissipels gesê: “Aan julle is die insig in die [heilige] geheim van die koninkryk van God gegee; maar vir die wat daarbuite is, bly alles net by gelykenisse.”—Mark. 4:11, NAB; vgl. NW.
13 Van die begin tot die einde van sy aardse bediening het Jesus sy dissipels baie dinge aangaande die Messiaanse koninkryk geleer. Trouens, selfs na sy dood en reg totdat hy opgevaar het na sy hemelse Vader, het hy aangehou om met hulle “oor die dinge van die koninkryk van God” te spreek. Desondanks was die laaste vraag wat hulle aan hom gestel het: “Here, gaan U in hierdie tyd die koninkryk vir Israel weer oprig?” Hulle het aldus getoon dat hulle steeds verwag het dat die Messias weer die vleeslike koninkryk van Israel gaan oprig (Hand. 1:3, 6). Hulle het reg gehad toe hulle gedink het dat die Messiaanse koninkryk in verband staan met heerskappy, regering, maar hulle het verkeerdelik gedink dat die Messias op aarde sou regeer en dat sy regering uitsluitlik uit Jode sou bestaan.
14. (a) Wat het Christus se dissipels in staat gestel om ontslae te raak van hulle verkeerde hoop? (b) Watter belangrike aspekte van die “heilige geheim” het die vroeë Christene geleidelik begin verstaan?
14 Dit was eers na die uitgieting van die heilige gees op Pinkster dat Christus se dissipels ontslae geraak het van die begrip van ’n nasionalistiese Messiaanse koninkryk en nuwe en belangrike aspekte van “die [heilige] geheim van die koninkryk van God” verstaan het. Een aspek van daardie “heilige geheim” was dat die Messias ’n hemelse koning sou wees en dat sy regering in die hemel geleë sou wees (Joh. 18:36; Hand. 2:32-36; 1 Tim. 3:16). Ander aspekte van daardie “heilige geheim”—waarhede wat nuut en rewolusionêr was vir getroue Joodse gemoedere wat deur die Skrifte gevorm is en nie deur Griekse filosofie nie—was dat ’n beperkte getal mense as “heiliges” gekies sou word om saam met die Messias in sy koninkryk te regeer, dat hulle in die hemel saam met hom sou regeer en dat hulle nie net uit die Jode gekies sou word nie, maar ook uit die heidene of nie-Jode.—Dan. 7:13, 14, 27; Luk. 12:32; 22:28-30; Joh. 14:13; Ef. 3:3-6; Kol. 1:26, 27.
’N REWOLUSIONÊRE NUWE HOOP
15. Waarom was die blote gedagte om hemel toe te gaan vir die getroue Joodse oorblyfsel rewolusionêr?
15 Dit was alles heeltemal nuut. Soos ons reeds gesien het in die artikel “Die oorsprong van die millenniumhoop” was die Jode se oorspronklike Messiaanse hoop ’n aardse hoop, en was dit slegs onder die invloed van valse godsdienstradisies en filosofie dat party van hulle baie laat in hulle geskiedenis aan ’n onsterflike siel begin glo het. Die getroue Joodse oorblyfsel wat by die geïnspireerde Hebreeuse Skrifte gebly het en Jesus as die ware Messias aanvaar het, het beslis nie aan inherente onsterflikheid geglo nie. Vir hulle was die gedagte van ’n Messias wat vanuit die hemel oor die aarde gaan heers en dat hulleself sy medeheersers in die hemel sou word des te meer rewolusionêr.
16. Wat het Petrus omtrent hierdie rewolusionêre nuwe hoop geskryf?
16 In ’n brief aan vroeë Christene wat hierdie baie besondere roeping gehad het om saam met die hemelse Messias priesters en konings te word het die apostel Petrus geskryf: “Geseënd is die God en Vader van onse Here Jesus Christus wat na sy grote barmhartigheid ons die wedergeboorte geskenk het tot ’n lewende hoop deur die opstanding van Jesus Christus uit die dode, sodat ons ’n onverganklike en onbesmette en onverwelklike erfenis kan verkry, wat in die hemele bewaar is vir ons . . . Maar julle is ’n uitverkore geslag, ’n koninklike priesterdom.”—1 Pet. 1:3, 4; 2:9.
17. Hoe het Paulus getoon dat die roeping tot lewe in die hemel iets nuuts was?
17 Die apostel Paulus het ook oor hierdie buitengewone roeping tot hemelse lewe geskryf en gesê dat God “ons gered en geroep het met ’n heilige roeping . . . wat nou geopenbaar is deur die verskyning van ons Verlosser, Jesus Christus, wat die dood tot niet gemaak het en die lewe en die onverderflikheid aan die lig ge bring het” (2 Tim. 1:9, 10). Waarom moes Jesus hierdie “heilige roeping” tot onverderflikheid ‘aan die lig bring’ as lewe in die hemel die hoop van die getroue oorblyfsel onder die Jode was? Nee, hier die roeping tot hemelse lewe was duidelik iets heeltemal nuuts vir hierdie vroeë Christene wat uit die Jode en die nie-Jode gekies is.
DIE HEMELSE HOOP VIR ’N BEPERKTE GETAL “UITVERKORENES”
18, 19. Verduidelik hoe Paulus se tweede brief aan Timotheüs en Petrus se eerste brief toon dat nie almal wat hoop om vir ewig te lewe saam met Christus konings en priesters in die hemel sal wees nie. (Openb. 5:9, 10, NAB; NW)
18 Maar kry almal wat Christus aan neem en hoop om vir ewig te lewe hierdie “heilige roeping” tot onverderflike lewe in die hemele? Om te toon dat hierdie spesiale roeping bedoel is vir ’n beperkte getal “uitverkorenes”, voeg Paulus by: “Daarom verdra ek alles ter wille van die uitverkorenes, sodat hulle ook die verlossing wat in Christus Jesus is, kan verkry met die ewige heerlikheid. Dit is ’n betroubare woord; want as ons met Hom gesterf het, sal ons ook met Hom lewe. As ons verdra, sal ons met Hom regeer.”—2 Tim. 2:10-12.
19 As almal wat gered word tot “ewige heerlikheid” geroepe is om as konings saam met Christus Jesus te “regeer”, oor wie gaan hulle dan regeer? En as hulle almal “’n koninklike priesterdom” gaan word, ten behoewe van wie gaan hulle dan as koninklike priesters optree?
20. Hoe toon Paulus se briewe aan die Galasiërs en die Romeine dat die getal geestelike Israeliete beperk is?
20 Beskou die volgende: In sy brief aan die Galasiërs sê Paulus dat Christene wat onder Jode en nie-Jode uitverkies is en wat “in Christus gedoop is” “die nageslag van Abraham en volgens die belofte erfgename” is, en noem hy hulle “die Israel van God” (Gal. 3:26-29; 6:16). En in sy brief aan die Romeine praat dieselfde apostel van die “heilige geheim” dat nie Jode deur God geroep word weens die “ongeloof” van baie Jode en voeg dan by—en dit is ’n sleutelgedeelte—“totdat die volheid [“die volle getal”, NAB] van die heidene ingegaan het”. “So”, dit wil sê, deurdat nie-Jode geroep word om die nodige getal te bereik, “sal die hele Israel gered word”. Dit slaan klaarblyklik op geestelike Israel, die “uitverkorenes” uit die Jode en nie-Jode wat “werklik Israel” is.—Rom. 11:7, 17-26; 9:6, NAB; 2:28, 29.
21. (a) Hoeveel geestelike Israeliete is daar? (b) Watter teks toon dat hulle nie uit die engele gekies word nie?
21 Aangesien nie-Jode hierdie “heilige roeping” slegs sou kry totdat die “volle getal” van “die Israel van God” bereik is, is dit logies dat die getal geestelike Israeliete beperk is. Wel, wat is daardie getal? Slaan Openbaring 7:1-8 na. Daar word ’n duidelike perk gestel aan die aantal Christene wat ‘verseël’ word om lede van geestelike Israel te word. Openbaring 14:1-4 bewys dat hierdie beperkte getal nie uit die engele gekies word nie. Dit sê daar dat hierdie selfde getal “van die aarde vrygekoop is” en “gekoop is uit die mense as eerstelinge vir God en die Lam”.
22. Watter soort hoop is die 144 000 se Bybelse hoop?
22 Hierdie 144 000 geesverwekte, gesalfde Christene se Bybelse hoop is ’n hemelse hoop. Nadat hulle deel gehad het aan “die eerste opstanding”, sal hulle “priesters van God en van Christus wees en . . . saam met Hom as konings regeer duisend jaar lank”.—Openb. 20:6.
23. Watter vrae ontstaan as gevolg van die woorde “eerstelinge” en “konings”?
23 Maar as hierdie “uitverkorenes” “eerstelinge” is, is dit logies dat daar ’n na-oes sal volg. En as hulle “as konings” gaan “regeer”, wie sal dan hulle onderdane wees en wat is dié se hoop? Dit sal duidelik word namate ons met hierdie ondersoek voortgaan.
[Voetnoot]
a Kyk die artikel “Die oorsprong van die millenniumhoop” in hierdie nommer.
[Venster op bladsy 15]
Papias van Hierapolis, Ireneüs van Lyon en Justinus van Rome—tweede-eeuse “heiliges” en “Vaders” wat deur die Katolieke Kerk erken word—was almal chiliaste.—The Catholic Encyclopedia.
[Venster op bladsy 16]
In hulle stryd teen die millenniumhoop het Roomse ouderling Caius en “Sint” Dionysius nie geskroom om die egtheid van die Openbaring, wat aan die apostel Johannes gegee is, te loën nie—Dictionnaire de Théologie Catholique.
[Prent op bladsy 17]
Gedurende die Millennium sal Jesus vanuit die hemel regeer oor ’n aarde wat tot ’n paradys herstel is