Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w81 7/1 bl. 20-25
  • Die millenniumhoop seëvier

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die millenniumhoop seëvier
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1981
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • TOEKOMSTIGE LEWE DEUR DIE OPSTANDING
  • ’N HEMELSE EN ’N AARDSE HOOP
  • DIE MILLENNIUMHOOP VIR TWEE GROEPE
  • DIE MILLENNIUMHOOP LEWE STEEDS VOORT!
  • NIE ’N “MATERIALISTIESE DROOM” NIE
  • ’N PARADYS—GEESTELIK EN FISIES
  • ’N HOOP WAT JOUNE KAN WORD
  • “Verbly julle altyd in die Here; ek herhaal: Verbly julle!”—Filip. 4:4.
  • Christene en die millenniumhoop
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1981
  • Katolieke is van die millenniumhoop beroof
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1981
  • Die millennium—wat is dit?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1980
  • Blydskap in “die God wat hoop gee”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1980
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1981
w81 7/1 bl. 20-25

DIE MILLENNIUMHOOP SEËVIER

1. Watter vrae het ontstaan weens die koms van die Messias?

HET die langverwagte Messias, met sy koms na die Jode, hulle oorspronklike geloof in ’n toekomstige lewe deur die opstanding bevestig, of het hy hom uitgespreek ten gunste van hulle pasgevonde heidense begrip van inherente onsterflikheid van die siel? Het Jesus Christus, deur ’n hemelse hoop aan die lig te bring, bedoel dat almal wat gered word hemel toe sou gaan? Of hou die Hebreeuse sowel as die Christelike Griekse Skrifte die hoop op ewige lewe op aarde aan miljoene voor?

TOEKOMSTIGE LEWE DEUR DIE OPSTANDING

2. Wat het Jesus oor die hoop op toekomstige lewe geleer?

2 Jesus het geensins die heidense begrip van inherente onsterflikheid van die mensesiel geleer nie, maar eerder getoon dat enige hoop op toekomstige lewe van die opstanding afhang. Hy het gesê: “Want soos die Vader lewe het in Homself, so het Hy aan die Seun ook gegee om lewe in Homself te hê. En Hy het Hom mag gegee om ook te oordeel, omdat Hy die Seun van die mens is. Moenie julle hieroor verwonder nie. Want daar kom ’n uur wanneer almal wat in die grafte is, sy stem sal hoor en sal uitgaan, die wat goed gedoen het, tot die opstanding van die lewe, en die wat kwaad gedoen het, tot die opstanding van die veroordeling.”—Joh. 5:26-29.

3. Wat erken party van die Christendom se teoloë nou omtrent die siel?

3 Dit is interessant dat party hedendaagse teoloë van die Christendom begin erken dat die gedagte van inherente onsterflikheid nie deur die Hebreeuse of die Christelike Griekse Skrifte gesteun word nie. The New International Dictionary of New Testament Theology (Dl. 3, 1978) beklemtoon byvoorbeeld “hoe onbekend die OT [Ou Testament] is met die begrip van ’n siel wat apart van die liggaam is, of ’n siel wat na die dood van die liggaam skei”. En weer: “Matt. 10:28 leer nie die potensiële onsterflikheid van die siel nie, maar die onherroeplikheid van goddelike oordeel oor die onberouvolles. . . . Die NT [Nuwe Testament] sien die mens wesenlik as ’n eenheid en beloof dat die hele persoon verander sal word, en nie net dat ’n deel sal voortbestaan nie. . . . daar kan geen onsterflikheid wees as daar nie éérs ’n opstanding is nie.”

’N HEMELSE EN ’N AARDSE HOOP

4. Wat aanvaar Jehovah se Getuies, maar wat ontken hulle, en waarom?

4 Jehovah se Getuies ontken nie dat die Christelike Griekse Skrifte leer dat party Christene “die hemelse roeping” kry nie (Hebr. 3:1). Wat hulle wel ontken, is dat so ’n “hemelse roeping” God se oorspronklike voorneme dat die aarde tot ’n paradys bewerk moet word en met ’n regverdige geslag manne en vroue gevul moet word, tot niet maak. Hulle kan nie die gedagte aanvaar dat al die profesieë in die Hebreeuse Skrifte wat die herstelling van ’n paradys op aarde voorspel dooie letters geword het nie. Hulle is des te meer daarvan oortuig omdat die belofte van “’n nuwe aarde” waarin geregtigheid [sal] woon” in die Christelike Griekse Skrifte bevestig word.—2 Pet. 3:13; Openb. 21:1-4.

5, 6. Hoe verduidelik die Bybel die tweevoudige Skriftuurlike hoop: (a) die hemelse? (b) die aardse?

5 Ernstige Bybelstudie het Jehovah se Getuies tot die gevolgtrekking laat kom dat die Christelike Skriftuurlike hoop tweevoudig van aard is: Die gawe van onsterflikheid in die hemel vir ’n beperkte groepie, en ewige lewe op aarde vir die groter aantal. Die hemelse hoop om saam met Christus “as konings [te] regeer”, word as ’n buitengewone “genade” of “onverdiende goedheid” voorgehou aan die 144 000 “uitverkorenes”, waarvan die apostels en vroeë dissipels van Christus die eerstes was (Luk. 12:32; Rom. 5:17; 8:33; Openb. 5:9, 10, NW; 7:1-4; 14:1-4). Van hulle is daar nou nog net ’n paar “oorblywendes” wat ‘tot by die wederkoms van die Here in die lewe oorgebly het’ op aarde.—1 Thess. 4:14-17; Openb. 12:17, NW.

6 Die aardse hoop is die oorspronklike hoop wat Adam en Eva kon gekoester het as hulle onder Jehovah God se soewereiniteit gebly het en nie morele onafhanklikheid nagestreef het nie. (Kyk die eerste drie hoofstukke van Genesis.) Die mens is “aards” (1 Kor. 15:47). Sy natuurlike begeertes en hunkering is na aardse dinge. “Die hemele is hemele vir die HERE, maar die aarde het Hy aan die mensekinders gegee” (Ps. 115:16). En die Bybel sê duidelik dat Jehovah ‘die aarde nie geskape het om woes te wees nie, maar dit geformeer het om bewoon te word’ (Jes. 45:18). Die hoop op ewige lewe op aarde in paradysagtige toestande is dus natuurlik sowel as Skriftuurlik. Dit is niks om oor skaam te wees nie.

DIE MILLENNIUMHOOP VIR TWEE GROEPE

7. Watter hoop hou die Abrahamitiese belofte en die profesie van Daniël vir die volke van die aarde voor?

7 Aangesien die 144 000 geestelike Israeliete die “werklike nageslag van Abraham” en die “ware erfgename van sy belofte” is (Gal. 3:26-29, Die Lewende Nuwe Testament; Phillips), is dit goed om te onthou dat die belofte wat aan Abraham gegee is, ook gesê het: “In jou nageslag sal al die nasies van die aarde geseën word” (Gen. 22:16-18). Die profeet Daniël het ook gepraat van “volke en nasies en tale” waaroor die “Seun van ’n mens”, Jesus Christus, “die koningskap en die heerskappy” vanuit “die hemel” sal uitoefen. Hy doen dit saam met die “uitverkorenes” wat “die heiliges van die Allerhoogste” genoem word.—Dan. 7:13, 14, 27; 2 Tim. 2:10.

8. Wat toon dat Paulus en Johannes besef het dat nie net die die “uitverkorenes” gered sou, nie?

8 Die vroeë Christene was nie onbekend met hierdie profesieë wat van twee groepe praat nie: die “nageslag” en die “nasies”, die “heiliges” en die “nasies”. Dit word gestaaf deur die apostel Paulus se woorde nadat hy gepraat het van diegene wat “mede-erfgename van Christus” gaan wees en wat “saam met Hom [in die hemel] verheerlik” gaan word. Paulus praat dan van die menslike “skepping” wat met “reikhalsende verlange” wag om “vrygemaak [te] word van die slawerny van die verganklikheid” of sonde, en om “die vryheid van die heerlikheid van die kinders van God” te geniet (Rom. 8:15-21). Toe die apostel Johannes geskryf het aan Christene wat net soos hy die hemelse hoop gekoester het, het hy gepraat van Christus as “’n versoening vir ons sondes [die van die “uitverkorenes”], en nie alleen vir ons s’n nie, maar ook vir dié van die hele wêreld”.—1 Joh. 2:2; 3:1-3.

9. (a) Watter gesigte het Johannes waarskynlik reeds gehad toe hy sy eerste brief geskryf het? (b) Hoe bevestig dit die bestaan van twee groepe persone wat gered gaan word?

9 Toe Johannes daardie woorde geskryf het, het hy waarskynlik reeds die Openbaring ontvang. Daarin het hy, nadat hy die 144 000 ‘verseëlde’ geestelike Israeliete gesien het, ’n gesig gehad van “’n groot menigte wat niemand kon tel nie, uit alle nasies en stamme en volke en tale”. Hulle oorleef die “groot verdrukking” en word deur die “Lam”, Christus Jesus, “na lewende waterfonteine” gelei (Openb. 7:4-17). En dit was natuurlik in daardie selfde Openbaring dat Johannes ’n gesig gehad het van die duisendjarige bewind van Christus, wat weer eens twee groepe meld: diegene “wat deel het aan die eerste opstanding” en wat “as konings [gaan] regeer”, en “die mense”, wat deur God geseën gaan word en wat ‘sy volk sal wees’.—Openb. 20:1-21:8.

10. Watter twee groepe koester vandag die millennium hoop, en hoe vergelyk hulle getalle?

10 Die millenniumhoop seëvier vandag in die harte van die lede van die “klein kuddetjie” wat geroepe is om saam met Christus in die hemel “op trone [te] sit” om ’n duisend jaar lank te regeer (Luk. 12:32; 22:28-30). Daardie hoop op die millennium is ook aangeneem deur die lede van die “groot menigte” wat saam met die oorblywende gesalfde Christene “hierdie evangelie van die koninkryk . . . tot ’n getuienis vir al die nasies” verkondig (Matt. 24:14). Hierdie twee groepe is verteenwoordig by die herdenking van die Here se Aandmaal wat op 31 Maart 1980 gehou is. Dwarsoor die wêreld is daar slegs 9 564 persone wat die embleme, die brood en die wyn, gebruik het—inderdaad net ’n paar “oorblywendes” van die 144 000 wat saam met Jesus in sy duisendjarige koninkryk gaan regeer. Maar saam met hulle het 5 717 092 ander dit as waarnemers bygewoon en al dus hulle waardering getoon vir Jehovah se wonderlike reëling wat deur die offerande van sy Seun moontlik gemaak is. Hulle verheug hulle in die vooruitsig van ewige lewe op ’n paradysaarde.

DIE MILLENNIUMHOOP LEWE STEEDS VOORT!

11. Wanneer en hoe sal die millenniumhoop verwesenlik word?

11 Ja, die millenniumhoop is vandag nog baie lewend. Dit sal verwesenlik word na die “groot verdrukking” wanneer Christus en die 144 000 “uitverkorenes” met hulle bewind van 1 000 jaar in die hemel begin en die groot menigte” “skape”, tesame met duisendmiljoene verresenes op aarde, ongekende seëninge in die aardse ryk van daardie Messiaanse koninkryk begin geniet.—Matt. 25:34; Openb. 20:12, 13.

12. Hoe word die millennium in ’n ensiklopedie gedefinieer?

12 Die mensdom het vandag so ’n hoop broodnodig. Wêreldwyse mense is nie onbekend met hierdie hoop nie. Die Britannica-Macropædia (1977) definieer die millennium dus soos volg: “Hierdie duisendjarige tydperk, bekend as die millennium, word beskou as ’n tydperk waartydens die mens se hunkering na vrede, vryheid van boosheid, en die bewind van geregtigheid op aarde uiteindelik deur die krag van God verwesenlik word. . . . die chiliasme staan in verband met die aardse vooruitsigte van die mensegemeenskap. . . . die chiliasme probeer om met duidelike beeldspraak te antwoord op vrae soos: Wat sal die uiteinde van hierdie wêreld wees? Sal die mensdom ooit die eeue-oue droom vervul om in ’n aardse paradys te woon of sal alle mense vernietig word deur ’n hewige vuurramp wat die gevolg is van hulle eie dwaasheid of God se oordeel?” (Ons kursiveer.)

13. (a) Glo jy dat die aarde tydens ’n “hewige vuurramp” vernietig gaan word? Wat is die rede vir jou antwoord? (b) Wat was God se oorspronklike voorneme met die aarde?

13 Vir sekere ensiklopedieskrywers en ontroue godsdiensleiers is daardie vrae moontlik bloot van teoretiese belang. Maar vir talle opregte mense in alle lande is hulle baie realistiese, brandende vraagstukke. Jehovah se Getuies het die antwoord op hierdie vrae in die Bybel gevind. Vir hulle is die hoop op ewige lewe “in ’n aardse paradys” nie ’n “eeue-oue droom” nie. Daardie hoop het ’n vaste grondslag, daar dit op gegronde Bybelstudie gebaseer is. Die Hebreeuse sowel as die Griekse Skrifte toon dat God nie sal toelaat dat goddelose mense die aarde tydens “’n hewige vuurramp” vernietig nie (Openb. 11:18; Jes. 45:18). Hy gaan ook nie die aarde vernietig nie (Ps. 104:5). Nadat God die mens geskep het en hom in ’n begrensde paradys geplaas het, het Hy Sy voorneme aan hom bekend gemaak, naamlik dat die mens die aarde moet “onderwerp” deur paradystoestande aardwyd uit te brei en die aarde met ’n regverdige geslag manne en vroue ‘wat na die gelykenis van God gemaak is’ te “vul” (nie oorvul nie).—Gen. 1:26-28; 2:15.

14. Hoe pas die millenniumhoop by God se “ewige voorneme” in?

14 Dit is nog steeds God se “wil”, wat deur middel van sy Messiaanse koninkryk “soos in die hemel net so ook op die aarde” sal geskied (Matt. 6:10). Die hele strekking van die Bybel toon buite alle twyfel dat God nie van hierdie oorspronklike voorneme afgesien het nie (Jes. 46:9, 10). Die millennium, of duisendjarige bewind van Christus, pas by God se “ewige voorneme” in, wat onder meer is “om alle dinge in die hemele sowel as wat op die aarde is, onder een hoof in Christus te verenig” (Ef. 3:11; 1:8-10). Met ander woorde, die millennium is nie op sigself ’n doel nie; dit is ’n middel tot ’n doel, iets om God se oorspronklike voorneme met die aarde te volbring.

NIE ’N “MATERIALISTIESE DROOM” NIE

15, 16. Hoe het een Katolieke-priester die millennium hoop gedefinieer, maar wat het hy klaarblyklik vergeet?

15 Godsdiensteenstanders bespot Jehovah se Getuies omdat hulle die millenniumhoop verkondig. Maar hierdie spotters is doodtevrede om al die goeie mense hemel toe te stuur en al die goddelose mense ewige foltering in die hel te laat onder gaan en aldus die aarde heeltemal uit God se “ewige voorneme” weg te laat. Die Franse Dominikaanse priester H. C. Chéry, wat hom daarop toelê om Jehovah se Getuies te kritiseer, noem byvoorbeeld die hoop op ’n herstelde paradys op aarde “’n materialistiese droom”.

16 Hierdie Katolieke priester behoort eerstens daaraan herinner te word dat die Katolieke Kerk nog nooit die millenniumhoop formeel veroordeel het of as ’n kettery gedefinieer het nie. Dit is nie verbasend nie, aangesien hierdie hoop op die Bybel gebaseer is en deur die meeste van die vroegste en agtenswaardigste “Kerkvaders” beskou is as “een van die essensiële dogmas van die Christelike geloof. Was Polycarpus, Papias, Ireneüs, Justinus die Martelaar en Tertullianus ook ‘materialistiese dromers’?

17. Waarom kan niemand Jehovah se Getuies tereg daarvan beskuldig dat hulle ‘materialistiese dromers’ is nie?

17 Party van hulle, en ander in latere tye, het weliswaar die millenniumhoop oneer aangedoen deur die voorspelde chiliastiese seëninge ’n sinlike toepassing te gee of dit selfs te verdraai om ’n sosiaalpolitiese betekenis te hê. Maar niemand kan Jehovah se Getuies goedertrou daarvan beskuldig dat hulle dit vandag doen nie. Selfs nou, in ’n genotsugtige wêreld, voer hierdie Christene ’n groot stryd teen materialisme en genotsug in hulle lewens en in hulle gemeentes. Hulle plaas die klem op geestelike waardes. Hulle besef terdeë dat indien persone in hierdie “tyd van die einde” voor materialisme swig, hulle dalk nooit die millennium sal sien nie (Luk. 21:34-36; Dan. 12:4). Hulle hoop daarbenewens ook nie om die millennium deur middel van menslike programme van maatskaplike hervorming tot stand te bring nie. Hulle maak geheel en al staat op God se tussenkoms deur middel van sy Messiaanse koning. Hierdie “Koning van die konings” sal aan die hoof van die hemelse strydmagte veg om ’n einde aan alle goddeloosheid op die aarde te maak.—Openb. 19:11-20:3.

’N PARADYS—GEESTELIK EN FISIES

18. Hoe kan ons verwag dat die geestelike paradys gedurende die millennium verder sal ontwikkel?

18 Jehovah se Getuies lewe reeds in ’n geestelike paradys. Hulle sien daarbenewens met vertroue daarna uit om nog geesteliker te word gedurende die duisendjarige bewind van Christus, wanneer simboliese “boeke”, wat God se vereistes bevat, “geopen” sal word.—Openb. 20:12.

19. Waarom sal die millennium baie selfopoffering en harde werk verg?

19 Uit ’n deeglike studie van die tekste wat van die duisendjarige bewind van Christus praat (byvoorbeeld Openbaring 20:11-21:8), weet Jehovah se Getuies ook dat die millennium baie selfopoffering sal verg van die kant van diegene wat die aardse hoop koester. Dit is ’n groot taak om die aarde te bewerk en te verfraai, maar hulle sal nie selfsugtig paradystoestande net vir hulself en hulle gesinne skep nie. Christus se duisendjarige bewind is in werklikheid ’n “dag” van oordeela vir diegene wat die vinnig naderende “oorlog van daardie groot dag van die almagtige God” oorleef (Hand. 17:30, 31; Openb. 16:14, 16); dit is ook die oordeelsdag vir die miljoene dooies wat opgewek en geoordeel gaan word volgens die werke wat hulle in die paradys op aarde doen (Joh. 5:28, 29; Luk. 23:42, 43, NW). Diegene wat reeds onder die duisendjarige bewind van die Messias lewe, sal onselfsugtig die weë van geregtigheid aan hierdie ontelbare verresenes moet leer. (Vergelyk Jesaja 11:1-9.) Dit is geen “materialistiese droom” nie! Dit sal ook baie harde werk op ’n geestelike vlak verg.

20. Wat sal gebeur wanneer die 1 000 jaar verstryk het, met watter vooruitsig vir die getroues?

20 Daarbenewens sal die millennium maar net ’n begin wees. Na ’n finale toets, wanneer die 1 000 jaar verstryk het, sal die manne en vroue wat aan God se universele soewereiniteit getrou bly ewige lewe op ’n paradysaarde ontvang.b—1 Kor. 15:24-28; Openb. 20:7-10.

’N HOOP WAT JOUNE KAN WORD

21, 22. (a) Wat doen Jehovah se Getuies altyd met graagte? (b) Wat is hulle hoop vir die nabye toekoms?

21 Dit is die hoop wat meer as 2 000 000 Christengetuies van Jehovah in meer as 200 lande nou koester. Dit lewe in hulle verstande en harte, dermate dat hulle al tyd met graagte vir ander ‘verantwoording doen vir die hoop wat in hulle is’.—1 Pet. 3:15.

22 Sedert 1914 toon wêreldgebeure ter vervulling van Bybelprofesie dat ons nou in die “tyd van die einde” lewe en dat die ongeëwenaarde “tyd van benoudheid” ophande is (Dan. 12:1-4; Matt. 24:3-21). Daar is vir die oorblyfsel “uitverkorenes” en hulle “groot menigte” metgeselle beloof dat hulle daardie “groot verdrukking” sal oorleef (Matt. 24:22; Openb. 7:9, 10, 14). Daarna sal hulle onderskeie millenniumverwagtings vervul word. Glo jy dit? “Mag die God van die hoop julle vervul met alle blydskap en vrede deur die geloof, dat julle oorvloedig kan wees in die hoop.”—Rom. 15:13.

“Verbly julle altyd in die Here; ek herhaal: Verbly julle!”—Filip. 4:4.

[Voetnote]

a Kyk hoofstuk 7, “Wat om te verwag van regters vir ’n duisend jaar”, in die boek God’s Kingdom of a Thousand Years Has Approached, wat deur die Wagtoring- Bybel- en Traktaatgenootskap uitgegee word.

b Lees asseblief hoofstukke 12 tot 16 van die boek Die lewe hét ’n doel, wat deur die Wagtoring- Bybel- en Traktaatgenootskap uitgegee word, vir nadere besonderhede.

[Prent op bladsy 23]

Onder die Messias se duisendjarige bewind sal die verresenes die weë van geregtigheid geleer word

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel