Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w81 5/15 bl. 24-27
  • “Waardeer jy die “getroue en verstandige dienskneg”?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • “Waardeer jy die “getroue en verstandige dienskneg”?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1981
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • “WIE IS DAN DIE GETROUE EN VERSTANDIGE DIENSKNEG?”
  • DIE ‘GETROUE DIENSKNEG’ ’N RUK LANK NIE DUIDELIK HERKENBAAR NIE
  • DIE ‘GETROUE DIENSKNEG’ WORD UITGEKEN AAN HULLE AKTIWITEIT
  • ’n “Slaaf” wat getrou sowel as verstandig is
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2004
  • “Wie is werklik die getroue en verstandige slaaf?”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2013
  • Die getroue bestuurder en sy Bestuursliggaam
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2009
  • “Hou dié in gedagte wat die leiding onder julle neem”
    Georganiseer om Jehovah se wil te doen
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1981
w81 5/15 bl. 24-27

“WAARDEER JY DIE “GETROUE EN VERSTANDIGE DIENSKNEG”?

“WIE is dan die getroue en verstandige dienskneg?” Met daardie woorde het Jesus Christus ’n gelykenis of illustrasie van profetiese belang ingelei. Dit is deel van die “teken” wat hy gegee het oor die “voleinding van die wêreld” waarin ons nou lewe (Matt. 24:3). Nadat Jesus sy dissipels beveel het om te waak, het hy gesê:

“Wie is dan die getroue en verstandige dienskneg vir wie sy heer oor sy diensvolk aangestel het om hulle hul voedsel op tyd te gee? Gelukkig is daardie dienskneg vir wie sy heer, as hy kom, op hierdie manier besig sal vind. Voorwaar Ek sê vir julle, hy sal hom oor al sy besittings aanstel.”—Matt. 24:42-47.

Wie is hierdie “dienskneg” en wie is die “diensvolk”? Wat is die “besittings”? Sulke vrae is nie bloot van akademiese belang nie. As ons die “getroue en verstandige dienskneg” reg identifiseer en daarmee saamwerk, sal dit vir ons geluk en ryke geestelike beloninge meebring.

“WIE IS DAN DIE GETROUE EN VERSTANDIGE DIENSKNEG?”

Party sê dat die “dienskneg” verwys na Christenbedienaars, of hulle posisie van toesig, met die verantwoordelikheid om in die geestelike behoeftes van die gemeente te voorsien. Die ‘heer’ se koms is dan glo òf Christus se wederkoms òf die dood van die betrokke bedienaar. Daar word dus beweer dat die gelykenis Christenbedienaars moet beweeg om goed te sorg vir die persone wat aan hulle toevertrou is.

Jehovah se Getuies glo dat hierdie gelykenis betrekking het op die een ware gemeente van Jesus Christus se gesalfde volgelinge. Vanaf Pinkster van 33 G.J. het hierdie gemeente, wat soos ’n dienskneg is, reg deur die 19 eeue sedertdien sy lede geestelik gevoed, en dit getrou en verstandig gedoen. Die identiteit van hierdie “dienskneg” het veral duidelik geword tydens Christus se wederkoms of teenwoordigheid. Die “dienskneg” kan uitgeken word aan sy waaksaamheid en die feit dat hy getrou en verstandig geestelike voedsel voorsien soos dit deur almal in die Christengemeente benodig word. Hierdie “dienskneg” of geesgesalfde gemeente is inderdaad die enigste goedgekeurde kanaal wat God se koninkryk in die “tyd van die einde’ op aarde verteenwoordig (Dan. 12:4). Getuies van Jehovah verstaan dat die “dienskneg” bestaan uit alle gesalfde Christene as ’n groep wat op enige gegewe tyd gedurende die 19 eeue sedert Pinkster op aarde was of is. Die “diensvolk” is gevolglik hierdie volgelinge as van Christus as indiwidue.

Party lesers meen moontlik dat dit ’n sektariese beskouing van sake is. Of hulle maak beswaar teen die gedagte dat die “dienskneg” en die “diensvolk” dieselfde klas voorstel, een as ’n samegestelde liggaam en die ander as indiwidue. Die beswaarmakers kan redeneer dat nie al Christus se gesalfde dissipels ’n aandeel het aan die voorbereiding van geestelike voedsel nie, sodat die “dienskneg” moontlik slegs die verantwoordelikes afbeeld, terwyl die “diensvolk” diegene is wat hulle in die gemeente dien.

Dit is nie nodig om ’n vertolking van die gelykenis af te dwing nie. Selfbedrog is nutteloos en geestelik skadelik. Ons moet ons dus na die Skrif wend om die gelykenis te verstaan. Wat vind ons as ons dit doen? Hierdie “dienskneg” is ’n kneg van die Heer Christus Jesus en sy Vader, Jehovah. (Vergelyk Mattheüs 10:24, 25.) En ’n kneg kan ’n groep mense wees. In die verlede was die hele nasie Israel Jehovah se kneg of dienskneg. Hy het vir hulle gesê: “Jy, Israel, my kneg” (Jes. 41:8, 9; 44:21). Hierdie een kneg het uit indiwidue bestaan, soos Jesaja 43:10 toon wanneer dit sê: “Júlle is my getuies [meervoud], spreek die HERE, en my kneg [enkelvoud] wat Ek uitverkies het, sodat julle kan weet en My kan glo.” Hierdie Israeliete van lank gelede was Jehovah se “eiendom”, ’n “heilige nasie” (Ex. 19:5, 6). Selfs al het nie elke indiwidu ’n aandeel gehad aan die administrasie van die nasie se aangeleenthede nie, het alle indiwidue die een volk, God se “kneg”, uitgemaak. Net ’n paar het ’n aandeel gehad aan die skryf of oorskryf van die heilige Skrif, tog kon die apostel Paulus van die mense van Israel sê: “Aan hulle [is] die woorde van God toevertrou” (Rom. 3:1, 2). Dit is aan hulle dat die verbonde, die Wet en die beloftes behoort het (Rom. 9:3-5). Die hele nasie was dus Jehovah se kollektiewe of samegestelde “kneg”, terwyl dit terselfdertyd uit indiwidue, sy “getuies”, bestaan het.

Toe Jesus op aarde was, het hy vir Israel se godsdiensleiers gesê: “Die koninkryk van God sal van julle weggeneem en aan ’n volk gegee word wat die vrugte daarvan sal dra” (Matt. 21:43). Hierdie “volk” wat Koninkryksvrugte dra, moet die wydverspreide, ware Christengemeente wees van wie Petrus geskryf het: “Julle is . . . ’n heilige volk, ’n volk as eiendom verkry, om te verkondig die deugde van Hom [God] wat julle uit die duisternis geroep het tot sy wonderbare lig, julle wat vroeër geen volk was nie, maar nou die volk van God is” (1 Pet. 2:9, 10). Hierdie gemeente word ook die “Israel van God” en die “huisgesin van God” genoem (Gal. 6:16; 1 Tim. 3:15, NAB). Die indiwidue in die gemeente word die “lede van die huisgesin van God” genoem (Ef. 2:19, NAB). ‘Getroue besturing’ onder sulke huisgenote behels die verspreiding van geestelike waarhede, wat geskikte “voedsel” vir gelowiges uitmaak (1 Kor. 3:2-5; 4:1, 2, NAB). Dit is opmerklik dat die “getroue en verstandige dienskneg” in Lukas 12:42-48 ’n “bestuurder” genoem word.

Terwyl hulle op aarde was, was Jesus se getroue apostels veral daarvoor verantwoordelik om die “huisgesin van God” geestelik te onderrig. Aangestelde ‘herders’ van die “kudde”, sowel as ander, het ’n soortgelyke verantwoordelikheid gehad. Maar die apostel Petrus toon dat die bediening van goddelike waarhede in werklikheid aan al die ‘uitverkorenes’ toevertrou is. Gevolglik het elke lid van die gemeente ’n bydrae gelewer tot die opbouing van die liggaam (Ef. 4:11-16; 1 Pet. 1:1, 2; 4:10, 11; 5:1-3). Ons sien dus dat daar ’n duidelike Skriftuurlike grondslag is om te sê dat alle gesalfde volgelinge van Christus Jesus God se “kneg” uitmaak, terwyl Jesus hulle Heer is. Gevolglik gee daardie kneg of “dienskneg”, as ’n samegestelde liggaam, geestelike voedsel aan al die indiwidue in hierdie gemeente, wat die huisgesin of “diensvolk” uitmaak. Hulle vind indiwidueel baat as ontvangers van daardie voedsel.—1 Kor. 12:12, 19-27; Hebr. 3:5, 6; 5:11-14.

DIE ‘GETROUE DIENSKNEG’ ’N RUK LANK NIE DUIDELIK HERKENBAAR NIE

Die “getroue en verstandige dienskneg”-klas sou nie deur al die eeue heen tot die wederkoms van die Heer met koninklike mag duidelik herkenbaar wees nie. Die apostels het gewaarsku dat ’n groot afval na hulle dood sou ontstaan en tot Christus se teenwoordigheid sou voortduur (2 Thess. 2:1-12; Hand. 20:29, 30; 1 Joh. 2:18, 22; 4:2, 3). Jesus het dit ook te kenne gegee in sy gelykenis van die ‘koring en die onkruid’. Volgens hierdie gelykenis is goeie saad, koring, in die saailand, die wêreld, gesaai. Die “koring” is “die kinders van die koninkryk”, dit wil sê, ware, gesalfde dissipels van Jesus Christus. Maar daar is gesê dat ’n “vyand” (die Duiwel) “onkruid” (“die kinders van die Bose”, of naamchristene) onder die “koring” gesaai het en dat albei sou saamgroei tot die “oes” toe.—Matt. 13:24-30, 36-43.

Die afval het plaasgevind toe heidense filosofie en valse leerstellings ingebring is. Die afvallige gemeente het al hoe meer ’n deel van die wêreld geword en die leerstellings, gebruike en gesindhede daarvan aangeneem. Jesus het voorspel dat die “koring” sowel as die “onkruid” saam sou groei tot die “oes” of “voleinding van die wêreld” toe. Dan sou die “koring” (ware Christene) geskei word van die “onkruid” (naamchristene) en sou hulle hulle lig laat skyn (Matt. 13:30, 39-43). Die “getroue en verstandige dienskneg”-klas sou dus eers weer met Christus Jesus se wederkoms duidelik herkenbaar word.

Dan sou Jesus se getroue dissipels duidelik sigbaar wees. Hulle gesonde geestelike toestand sou ooreenkom met die profesieë van Daniël wat voorspel het dat diegene met insig in die “tyd van die einde” soos die sterre sou skyn, groter Skriftuurlike kennis en begrip sou geniet en baie tot regverdigheid sou lei (Dan. 12:3, 4, 9, 10). Dit toon dat die gemeente van Christus se gesalfde dissipels, die met insig, wakker sou wees vir die Heer se terugkeer en dat hulle getrou besig sou wees om geestelike voedsel op tyd te voorsien wanneer hy terugkeer.—Matt. 24:43-46.

DIE ‘GETROUE DIENSKNEG’ WORD UITGEKEN AAN HULLE AKTIWITEIT

Alhoewel die “onkruid” die wêreld se godsdienstoneel deur die eeue heen oorheers het, was daar “koring” bedrywig en is geestelike voedsel vir die “diensvolk” gegee. Teen die vroeë sewentigerjare van die vorige eeu was daar ’n groep opregte Bybelstudente wat geestelik genoeg gevoed was om die Heer se wederkoms te verwag en om te besef dat daar ’n behoefte aan deeglike studie van die Skrif bestaan het om voorbereid te wees. Hulle onsektariese ondersoek van die Bybel het tot ’n oorvloed kennis gelei.

Gedurende daardie jare was die kerke van die Christendom gebonde deur die tradisies, dogmas en seremonies wat die gevolg van die groot afval was. Hulle het valse leerstellings soos die Drie-eenheid, onsterflikheid van die siel en ’n brandende hel aangehang. Hulle was ook ’n deel van hierdie wêreld. Skeptisisme ten opsigte van die Bybel was besig om hulle kweekskole binne te sypel. Darwin se ewolusieteorie is teenoor die Bybel se skeppingsverslag gestel, toegepaste sielkunde het die leer van oorgeërfde sonde en die nodigheid vir ’n losprysofferande verwerp, en die hele gebied van hoër kritiek het die goddelike outeurskap en onfeilbaarheid van die Skrif aangeval.

Te midde hiervan het die Bybelstudente (soos Jehovah se Getuies destyds bekend was) opgetree as sterk voorstanders van die Bybelleer. Hulle het Skriftuurlik aangevoer dat daar slegs een almagtige God en Skepper, Jehovah, is en dat Christus Jesus sy eniggebore Seun en eerste skepping is, wat God na die aarde gestuur het om sy lewe as ’n losprys vir die sondige mensdom te gee. Hulle het die stryd aangeknoop om die hele Bybel as God se onfeilbare, geïnspireerde Woord te verdedig en het die bevindings van hulle Bybelse studie gepubliseer as “voedsel op tyd”, en het aldus hierdie lewensbelangrike informasie met almal gedeel wat voorbereid wou wees vir die Here se wederkoms. Die Bybelstudente het die ware Christelike leerstelling verkondig dat die menslike siel sterflik is en dat die dode se hoop die opstanding is. Hulle het daarop gewys dat die doel van Christus se losprysoffer nie slegs was om die weg te baan sodat die 144 000 van die aarde af vrygekoop kon word sodat hulle mede-erfgename van Christus in die hemele kon wees nie, maar ook om die res van Adam se afstammelinge die geleentheid te bied om gedurende die duisendjarige Messiaanse Koninkryksbewind ewige lewe op aarde te kry. Hulle het ook aan die wêreld verkondig dat die einde van die vasgestelde “tye van die nasies” in 1914 sou aanbreek (Luk. 21:24). Hierdie geloofversterkende herstel van Bybelwaarhede en die aansporing om die teenwoordigheid van Christus Jesus te verwag, het gelei tot die versameling en opbouing van ’n gemeente gesalfde dissipels van Jesus Christus wat blyke lewer dat hulle geestelik welgevoed is.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel