Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w81 3/1 bl. 12-17
  • Wie sal die Koning loof?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Wie sal die Koning loof?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1981
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • DIE GESKIL OOR KONINGSKAP
  • JEHOVAH SE GROOTHEID LOK LOF UIT
  • Jehovah verdien ewige lof
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
  • Jehovah se grootheid is ondeurgrondelik
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2004
  • Loof Jehovah se heilige naam!
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
  • Is jy ’n lojale verkondiger van God se koningskap?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1981
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1981
w81 3/1 bl. 12-17

WIE SAL DIE KONING LOOF?

“o My God, o Koning, ek wil U verhoog en u Naam loof vir ewig en altyd. Elke dag wil ek U loof en u Naam prys vir ewig en altyd.”—Ps. 145:1, 2.

1. Wat het koning Dawid oor Jehovah as sy Koning gesê, en waarom?

KONING Dawid het woorde van lof tot sy hemelse Koning, Jehovah God, geskryf. Vir party sal dit taamlik vreemd klink dat ’n aardse koning homself so sterk uitspreek ten gunste van ’n ander Koning wat hy as sy meerdere erken het. Maar Dawid het goeie rede gehad om dit te doen. Sy uitinge was uit waardering vir daardie Koning, Jehovah. Dawid het sagmoedige wysheid voor hierdie Koning besit. (Jak. 3:13). Dawid was ’n lojale aanbidder van Jehovah en het ’n besonder intieme verhouding met hierdie “Here van die konings” gehad.—Dan. 2:47.

2, 3. (a) Wat is party van Dawid se betuigings van waardering vir Jehovah in die Psalms? (b) Wat is party van die dinge wat Dawid in 1 Kronieke oor Jehovah en sy koningskap gesê het?

2 Uit Dawid se talle betuigings in die Skrif kan ons sien wat hom soveel waardering vir sy Koning, Jehovah God, gegee het. Psalm 19 toon Dawid se waardering vir Jehovah as Skepper, Wetgewer en Verlosser. Psalm 24 sê dat Jehovah die Besitter van die aarde en die Erekoning, die Geweldige, is. In Psalm 103:19 spreek Dawid waardering uit vir Jehovah se koningskap waar hy sê: “Die HERE het sy troon in die hemel gevestig, en sy koninkryk heers oor alles.” Dan doen Dawid ’n beroep op engele en mense om Jehovah te loof of te prys. Dawid se danklied in 1 Kronieke 16:8-36 beklemtoon Dawid se waardering vir Jehovah.

3 Naby die einde van Dawid se bewind het hy sy lewenslange gevoelens voor sy hele volk betuig en gesê: “U sy geloofd, HERE, God van ons vader Israel van ewigheid tot ewigheid. Aan U, HERE, kom toe die grootheid en die mag en die heerlikheid en die roem en die majesteit, ja, alles in die hemel en op aarde; aan U, HERE, kom toe die koningskap en die selfverhoging as Hoof oor alles. En die rykdom en die eer kom van U, en U heers oor alles; en in u hand is krag en mag, en in u hand is dit om alles groot en sterk te maak. En nou, onse God, ons loof U, en ons prys u heerlike Naam.”—1 Kron. 29:10-13.

DIE GESKIL OOR KONINGSKAP

4. Wat het in Samuel se dag gebeur sodat Israel ’n mensekoning gekry het, en hoe was die nasies rondom Israel vir hulle ’n strik?

4 Jehovah se koningskap het ’n geskil in Israel geword kort voor Dawid se geboorte. Dit was teen die einde van Samuel se rigterskap, soos gesien in 1 Samuel 8:4-20. Maar wat het Jehovah se verbondsvolk beweeg om vir ’n koning te vra om oor hulle te heers en Jehovah aldus te verwerp? Hulle het vir Samuel gesê dat hulle soos al die ander nasies wou wees. Deur Samuel het Jehovah hulle gewaarsku omtrent die prys wat hulle sou moes betaal omdat hulle soos die nasies ’n mensekoning oor hulle wou hê. Hulle was tog soveel beter daaraan toe met Jehovah as hulle Koning.—Kyk ook Deuteronomium 4:7.

5. Hoe het koningskap in Gideon se dag ’n geskil geword?

5 Die geskil het vantevore in die nasie Israel kop uitgesteek toe Jehovah die volk onder aanvoering van Gideon ’n oorwinning oor die Midianiete besorg het. “Daarop sê die manne van Israel vir Gideon: Heers oor ons, u sowel as u seun en u kleinseun, want u het ons verlos uit die hand van die Midianiete. Maar Gideon antwoord hulle: Ek wil nie oor julle heers nie, en ook my seun mag nie oor julle heers nie: die HERE sal oor julle heers” (Rigt. 8:22, 23). Gideon het lojaal die volk Israel se versoek van die hand gewys en Jehovah se koningskap oor hulle bevestig. Maar kort na Gideon se dood het een van sy seuns genaamd Abimeleg die meeste van sy broers gewelddadig vermoor en homself tot koning uitgeroep. Sy bewind was egter kort en sy einde rampspoedig (Rigt. hfst. 9). Israel was deeglik vertroud met hierdie geskiedenis. Dit toon hoe die koningskap van Jehovah deur die eeue heen ’n geskil was. Daarbenewens het elke persoon gedurende hierdie hele tydperk die geleentheid gehad om sy lojaliteit aan Jehovah as Koning te toon.

6. Wat toon die vroeë geskiedenis oor koningskap, en hoe het Jehovah voorspel dat sake sou verloop?

6 God se Woord toon dat die mense van die wêreldlike nasies reeds van ouds af konings oor hulle gehad het. Kort na die Vloed het menslike koninkryke wat teen Jehovah gekant was tot stand gekom, soos getoon word in Genesis 10:8-12. Dit was onder die invloed van Satan die Duiwel wat oorspronklik die regmatigheid van Jehovah se heerskappy in twyfel getrek het deur teen Jehovah in opstand te kom en deur te probeer om ander skepsele van die aanbidding van Jehovah afvallig te maak. Jehovah het die Bose tyd gegee om sy aantyging te probeer staaf. Hy het ook getoon hoe die saak sal verloop.—Gen. 3:15.

JEHOVAH SE GROOTHEID LOK LOF UIT

7. (a) Watter rol het Jehovah se gees in Dawid se lewe gespeel? (b) In watter opsigte is Psalm 145 ’n besondere psalm?

7 Dit was Samuel wat Dawid op Jehovah se bevel gesalf het. “En die Gees van die HERE het van dié dag af en verder oor Dawid vaardig geword” (1 Sam. 16:12, 13). Dawid is ’n goeie voorbeeld van hoe Jehovah se gees op sy lojale knegte inwerk. Dit was God se gees wat Dawid beweeg het om soveel van die psalms te skryf waarin hy Jehovah loof (2 Sam. 23:2). Psalm 145 is een van sy mooiste lofbetuigings. Hierdie psalm loof, prys en verheerlik Jehovah se goedheid, grootheid, mag, geregtigheid, ewige bestaan, ondeurgrondelikheid en sy barmhartigheid. Joodse geleerdes se hoë agting vir hierdie psalm blyk uit die feit dat dit drie keer in hulle daaglikse liturgie voorkom. In Hebreeus is die naam van die Psalms Tehil·limʹ, wat “Lofliedere” beteken. Psalm 145 is die enigste psalm wat in sy opskrif “’n Loflied” genoem word, waar die term in die enkelvoud gebruik word.

8. Watter betekenis het die voorneme om Jehovah se naam vir ewig te loof vanselfsprekend?

8 Die eerste verse van hierdie psalm spreek van groot vreugde en waardering:

“o My God, o Koning, ek wil U verhoog en u Naam loof vir ewig en altyd. Elke dag wil ek U loof en u Naam prys vir ewig en altyd” (Ps. 145:1, 2).

Bybelkommentators vertolk Dawid se voorneme om God se naam “vir ewig en altyd” te loof gewoonlik as Dawid se hele lewe lank. Maar beteken Dawid se voorneme nie vanselfsprekend nog iets anders nie? Om God se naam vir ewig te loof, moet ’n mens vir ewig lewe. Het Dawid nie die hoop gehad om eendag vir ewig te lewe nie? Die “groot menigte” “ander skape” het vandag as ’n klas voorwaar daardie einste hoop, naamlik om Jehovah se naam vir ewig te loof en te prys omdat hulle nooit op die aarde sal sterf nie.—Sef. 2:3; Joh. 11:26; Openb. 7:14-17; 21:4.

9. Verstaan die mensdom Jehovah se werke ten volle?

9 Dawid se loflied lui voorts:

“Die HERE is groot en baie lofwaardig, en sy grootheid is ondeurgrondelik” (Ps. 145:3).

Die getuienis van Jehovah se grootheid is van die skepping af daar vir die hele mensdom om te sien (Rom. 1:20). Maar betreklik min mense het Jehovah in waarheid geloof, ondanks sy grootheid en sy skeppingswerke waarby hulle almal baat vind. Trouens, Jehovah en sy werke is so groot dat die mensdom tot vandag toe slegs ’n uiters vae begrip het van die ingewikkeldhede van ’n paar van die dinge wat hy geskep het. Die aartsvader Job het waardering soos die van Dawid gehad, want hy het van God gepraat as die Een “wat groot dinge doen en ondeurgrondelike, wonders sonder getal” (Job 5:9; 9:10; 26:14). En nadat die apostel Paulus God se wonderlike voornemens bespreek het, het hy verplig gevoel om uit te roep: “o, Diepte van die rykdom en wysheid en kennis van God! Hoe ondeurgrondelik is sy oordele en onnaspeurlik sy weë!”—Rom. 11:33, 34.

10. Hoe het een “geslag” vir ’n ander “geslag” van Jehovah se magtige dade vertel?

10 “Die een geslag prys u werke by die ander, en hulle verkondig u magtige dade” (Ps. 145:4).

Ja, geslagte het gekom en gegaan, en onder hulle was daar persone wat van Jehovah se mag vertel het. Maar kan daar nie ook gesê word dat die gesalfde oorblyfsel een “geslag” is wat Jehovah se werke by ’n ander “geslag”, die “groot menigte” “ander skape”, aangeprys het sodat laasgenoemdes weer vir ander van Jehovah se magtige dade kon vertel nie? Beslis! Deur God se Woord noukeurig te ondersoek, het ons, hetsy ons lede van die geestelike of van die aardse “geslag” is, hierdie groot werke en magtige dade van Jehovah leer ken. Wat ’n voorreg is dit tog om vir ander van hierdie dinge te vertel! (Kyk Dawid se voorbeeld en hoe hy in Psalm 68 oor Jehovah se magtige dade gespreek het.)

11. Hoe toon ons belangstelling in Jehovah se majesteit en sy dade?

11 “Ek wil spreek van die glans van u heerlike majesteit en van u wonderbare dade” (Ps. 145:5).

Indien ons ons Skepper reg wil loof, moet ons aan sy majesteit en sy wonderbare dade dink en in ons harte daarin belangstel (Matt. 12:34). Hoe toon jy jou belangstelling in hierdie dinge? Wy jy tyd aan ’n persoonlike studie van die dinge wat God in sy Woord gesê het? Mediteer jy en laat jy die betekenis diep insink om ’n blywende indruk te laat wanneer jy studeer? Hoe kan ons Jehovah God prys of loof tensy ons self deeglik oortuig is en Jehovah werklik liefhet? Waardering vir die majesteit en waardigheid van Jehovah help ons om geesdriftig, vasbeslote en positief oor die groot Koning te spreek.

12. Waarom is dit goed om oor Jehovah se vreesinboesemende dade te dink en te praat?

12 “En hulle sal spreek van die krag van u vreeslike dade, en u grootheid wil ek vertel” (Ps. 145:6).

Ja, daar is veel meer wat ons moet vertel. In die bladsye van die Skrif word baie vreeslike of vreesinboesemende dinge geopenbaar wat getuig van die krag wat Jehovah getoon het ten behoewe van sy getroue knegte en teen diegene wat hulself vyande van God gemaak het. Baie van daardie magtige dade van die verlede is profetiese beelde en bevat lesse wat hierdie geslag van die mensdom moet ken. Ja, “alles wat tevore geskrywe is, is tot ons lering tevore geskrywe, sodat ons deur lydsaamheid en bemoediging van die Skrifte hoop kan hê” (Rom. 15:4). Wanneer ’n mens in die openbaar oor hierdie dinge praat, is dit ’n diens en ’n liefdesdaad aan ander. Dit waarsku hulle oor Jehovah se voornemens vir die dae wat voorlê. Diegene wat dit verkondig, vind self baat net soos die wag wat in Esegiël 3:17-19 beskryf word. Die naderende “groot verdrukking” sal ’n verdere betoning van Jehovah se grootheid wees wanneer hy sy verklaarde voorneme uitvoer. Laat ons dit dus verkondig solank as wat Jehovah die weg in hierdie stelsel van dinge oophou. Ons kan die wyse waarop Jesus Christus God se waarskuwing van oordeel gerig het, navolg.—Matt. 10:28-30; Luk. 19:41-44.

13, 14. (a) Waarom moet Jehovah se goedheid vermeld word? (b) Watter rede het ons om te jubel?

13 “Hulle sal die gedagtenis van u grote goedheid laat uitstroom en jubel oor u geregtigheid” (Ps. 145:7).

Ons moenie net vir die wêreld van Jehovah se groot krag vertel nie, maar ook van sy goedheid en geregtigheid. Dwarsdeur die geskiedenis het Jehovah God goedheid aan sy knegte betoon. Wanneer hulle hom getrou gedien het, het hulle ’n oorvloed seëninge ontvang. Tot vandag toe is Jehovah se goedheid teenoor diegene wat hom liefhet besonder groot en beweeg dit hulle om soos ’n groot fontein te word wat voortdurend betuigings van waardering laat uitstroom. Sulke lofbetuigings sal ongetwyfeld baie ander aantrek om die grote goedheid van Jehovah te smaak. Die herhaling van gedagtes laat hulle in die geheue insink. Dit is ’n groot seën en help ons om nooit waardering te verloor vir die wyse waarop Jehovah met sy volk handel nie. Dit is voorwaar voordelig om Jehovah se goedheid teenoor ons in die openbaar te vertel.

14 Het ons nie rede om nou te jubel nie? Deur Adam het ons almal sondaars geword en is ons tot die dood veroordeel (Rom. 5:12). Maar ooreenkomstig Sy geregtigheid en reg het Jehovah groot liefde bewys deur die weg uit die mensdom se moeilikheid te voorsien. Dit was deur die losprysoffer van Jesus Christus. Deur middel van Jehovah se geskrewe Woord het ons Sy regverdige weë en handelinge met sy aardse kinders leer ken. Dit is ’n genot om hierdie dinge te sien en waarlik ’n rede om oor Jehovah te jubel. Ons het goeie rede om die voorbeeld van koning Dawid te volg. Hy het uitgeroep: “Maar ek—op u goedertierenheid vertrou ek; my hart sal juig oor u heil. Ek wil sing tot eer van die HERE, omdat Hy aan my goed gedoen het.”—Ps. 13:6.

15. Watter voorbeelde het ons van Jehovah se barmhartigheid, geduld en liefde?

15 “Genadig en barmhartig is die HERE, lankmoedig en groot van goedertierenheid. Die HERE is vir almal goed, en sy barmhartighede is oor al sy werke” (Ps. 145:8, 9).

Van vroeg in die mensegeskiedenis af is die wonderlike eienskappe van Jehovah teenoor die mensdom betoon terwyl hy sy voorneme om ’n deel van die mensdom te red ten uitvoer gebring het. Jehovah se weg is tydens die Vloed getoon (1 Pet. 3:20). Dawid was beslis ’n ontvanger van Jehovah se barmhartighede en het alle rede gehad om Jehovah te loof. Hoe goed herinner Jesus ons tog aan Jehovah se liefde, soos gesien kan word aan sy woorde in Johannes 3:16, 17! Waardering daarvoor behoort ons Jehovah te laat loof, en moet ons ook beweeg om ander lief te hê. Die apostel Johannes het soos volg hieroor geredeneer: “Hierin is die liefde van God tot ons geopenbaar, dat God sy eniggebore Seun in die wêreld gestuur het, sodat ons deur Hom kan lewe. Hierin is die liefde: nie dat ons God liefgehad het nie, maar dat Hy ons liefgehad het en sy Seun gestuur het as ’n versoening vir ons sondes. Geliefdes, as God ons so liefgehad het, behoort ons ook mekaar lief te hê.”—1 Joh. 4:9-11.

16-18. (a) Watter weg word almal aangespoor om in te slaan terwyl die tyd dit toelaat? (b) Wat beteken Jehovah se barmhartigheid vir ons? (c) Watter woorde van waardering van Paulus kan ons gerus ons eie maak?

16 Wanneer ons sien hoedat die huidige geslag van die mensdom teenoor Jehovah optree en lees van mense se goddeloosheid en gewelddadigheid deur die eeue heen, kan ons voorwaar sê dat Jehovah lankmoedig is. Hoe dankbaar moet ons tog wees dat ons hierdie tyd kon bereik wanneer Jehovah se geduld steeds betoon word! ’n Begrip van Petrus se woorde in 2 Petrus 3:9 en 15 behoort agting vir Jehovah se groot barmhartigheid en goedertierenheid by ons te wek: “Die Here . . . is lankmoedig oor ons en wil nie hê dat sommige moet vergaan nie, maar dat almal tot bekering moet kom. En ag die lankmoedigheid van onse Here as saligheid.”

17 Ons weet dat die stelsel van dinge onder Satan tot vernietiging gedoem is, en daarom wil ons alle persone aanspoor om God se geduld ernstig te beskou en die stappe te doen wat nodig is vir redding voordat dit te laat is (Sef. 2:3; Openb. 18:4). Hoe bly is ons tog dat ons daardie lewensreddende stappe gedoen het! Maar as vleeslike afstammelinge van Adam is ons vlees swak en begaan ons foute, net soos Dawid en ander. Daarom het Jesus ons leer bid: “Vergeef ons ons skulde, soos ons ook ons skuldenaars vergewe; en lei ons nie in versoeking nie, maar verlos ons van die Bose.”—Matt. 6:12, 13.

18 Die voorsiening wat Jehovah deur Jesus Christus gemaak het, beteken vir ons almal so baie. Laat ons altyd Jehovah se goedertierenhede en barmhartighede en alles wat hy vir ons gedoen het, waardeer. Die apostel Paulus het sulke waardering gehad, want hy het gesê: “Ek dank Hom wat my krag gegee het, Christus Jesus, onse Here, dat Hy my getrou geag en in die bediening gestel het . . . Dit is ’n betroubare woord en werd om ten volle aangeneem te word, dat Christus Jesus in die wêreld gekom het om sondaars te red, van wie ek die vernaamste is. Maar daarom is aan my barmhartigheid bewys, dat Jesus Christus in my as die vernaamste al sy lankmoedigheid sou betoon, om ’n voorbeeld te wees vir die wat in Hom sal glo tot die ewige lewe. Aan die Koning van die eeue, die onverderflike, onsienlike, alleenwyse God, kom toe die eer en die heerlikheid tot in alle ewigheid. Amen” (1 Tim. 1:12, 15-17). Ons dank moet ons beweeg om Jehovah al hoe meer te loof terwyl ons voortdurend oor sy koningskap spreek.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel