BIED “DIE WERKLIKHEDE VAN DIE LEWE” DIE HOOF—’n Wêreldwye opvoedkundige program wys hoe
DIE lewe het die sewentienjarige Franse meisie stief behandel. Na ’n ongelukkige jeug het sy getrou in die hoop om geluk te vind. Haar verwagtinge is gou verpletter en sy is wreed deur haar man mishandel. Toe sy eenkeer na ’n aanranding bykom, het sy ’n geweer gegryp en gevuur—haar man het dood neergeslaan. Dit was maar die begin van haar probleme.
Nadat sy ’n tronkvonnis van twee jaar uitgedien het, het sy by ’n ander man na liefde gesoek. Maar al wat sy gekry het, was ’n buite-egtelike kind. Eensaam, wanhopig, heeltemal verlore en lewensmoeg het sy een Sondagoggend besluit om ’n einde aan haar leë bestaan te maak en haar kind saam te neem. Sy het die gaskraan oopgedraai en gewag om te sterf.
Maar hierdie jong vrou het nie nog ’n selfmoordslagoffer geword nie. Die verbasende feit is dat sy onder die vreugdevolle skare van meer as 90 000 byeenkomsgangers was wat die afgelope noordelike somer in Frankryk byeengekom het. Trouens, haar lewe het nou werklik sinvol geword. Sy het hoop en kan nou die lewensprobleme die hoof bied. Sy was een van die duisende wat gedoop is tydens hierdie reeks byeenkomste van Jehovah se Getuies wat dwarsoor die wêreld gehou is.
Wat het die verskil gemaak? Sy het baat gevind by ’n wêreldwye opvoedkundige program. Dieselfde oomblik dat hierdie vrou die gaskraan oopgedraai het, het iemand aan haar deur geklop. Dit was een van Jehovah se Getuies, en die boodskap was so hartverblydend dat dit gelei het tot ’n weeklikse Bybelstudie saam met die Getuies en uiteindelik tot haar doop die afgelope noordelike somer. Baie dekades lank gehoorsaam die Getuies al Jesus se bevel: “Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, . . . en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het.” Duisende word elke jaar gehelp.—Matt. 28:19, 20.
’N VERNAME DEEL VAN DIE ONDERRIGPROGRAM
Hierdie jaarlikse byeenkomste, waarvan die afgelope reeks die “Goddelike Liefde”-byeenkomste genoem is, is ’n vername deel van die onderrigtingswerk van Jehovah se Getuies. Daar was groot belangstelling in hierdie byeenkomste. In 1979 het meer as 3 400 000 in meer as 80 lande sulke byeenkomste bygewoon. Dit is ’n vermeerdering van 43 persent vergeleke met die aantal wat die byeenkomste net vyf jaar tevore bygewoon het. In Japan, byvoorbeeld, het ’n nasionale byeenkoms net tien jaar gelede ’n opkoms van 12 615 gehad—’n opwindende nuwe hoogtepunt op daardie stadium. Die afgelope noordelike somer is die byeenkoms deur 105 534—meer as agt keer soveel—bygewoon!
Teen November 1980 het daar 2 267 955 in 33 lande vergader, en daarna is daar reg tot aan die begin van 1981 nog talle byeenkomste in die suidelike halfrond gehou. Maar is dit syfers alleen wat hierdie opvoedkundige program so besonder maak?
PRAKTIESE ONDERRIG
Alhoewel onderwys vandag dwarsoor die wêreld beklemtoon word, is baie ontnugter deur die resultate van blote akademiese kennis. “Ons moet begin om ons kinders praktiese opleiding te gee wat hulle voorberei en oplei vir die werklikhede van die lewe”, het die burgemeester van Nairobi, Kenia, beklemtoon. Jy stem moontlik saam. Dit is nie net kinders wat sulke opleiding nodig het nie. Baie van ons besef dat ons meer nodig het as net om te kan ‘lees, skryf en somme maak’ indien ons die druk van vandag se ‘wrede wêreld’ die hoof wil bied.
Regte gedragstandaarde, die krag om met slegte gewoontes te breek, die vermoë om met ander klaar te kom en morele onkreukbaarheid is maar ’n paar eienskappe wat ’n persoon moet verkry indien hy die werklikhede van die lewe die hoof wil bied en ware geluk wil vind. Deur hoofsaaklik die Bybel te gebruik, probeer Getuies om persone te help om sulke eienskappe aan te kweek.
Bybelhulpe word ook gebruik. Een van hulle, ’n geïllustreerde verhaal van die Bybel (heel regs onder), is ’n gunsteling van kinders. ’n Nota wat in een van die byeenkoms se bydraebusse in Japan gevind is en wat onderteken is deur “’n vyfjarige meisie”, het gesê: “Ek het 745 jen [R2.54] gespaar uit die geld wat ek gekry het omdat ek my moeder gehelp het. Dit is nie baie nie, maar ek sal bly wees as julle dit gebruik om sulke mooi boeke soos My Boek met Bybelverhale te druk.”
Met behulp van sulke lektuur help hierdie opvoedkundige program om ware dissipels van Christus te maak. Buitestaanders is dikwels beïndruk deur die gedrag van hierdie dissipels by hulle onlangse byeenkomste. “Ek is nie ’n vleier nie”, het die bestuurder van ’n stadion in Napels gesê, “maar ek ag dit my plig om vir julle te sê dat julle die ernstigste, ordelikste en mees opgevoede mense is wat ek nog ooit ontmoet het.”
Ja, hierdie man kon sien dat die onderrig wat Jehovah se Getuies ontvang baie wenslike eienskappe voortgebring het. Nadat hy die Getuies dopgehou het, het ’n verkeerskonstabel in Nagoya, Japan, gesê: “Dit is baie duidelik dat die mense hier iets leer wat hulle bo die gemiddelde persoon verhef.” Nee, hierdie kennis laat hulle nie meerderwaardig voel nie, maar dit verhef hulle denke sodat hulle eienskappe kan aankweek wat bitter skaars is in vandag se wêreld.
Maar wat word by hierdie byeenkomste geleer? Die volgende twee bladsye bevat glanspunte van die program van die afgelope “Goddelike Liefde”-byeenkomste, onder meer opsommings van die drie Bybeldramas wat daar aangebied is.
Wat is die resultate?
Om hulle byeenkomste by te woon, het derduisende van Jehovah se Getuies na honderde stede gereis. Een Sweedse koerant het hulle aankoms beskryf as ‘die stilste en vriendelikste migrasie in die geskiedenis van die wêreld’. Hulle word fyn dopgehou. Wat is gesien? Was daar tasbare bewys van die welslae van hulle opvoedkundige program?
GEEN ONEERLIKHEID NIE
In Italië het die eienares van ’n winkel langs ’n byeenkomsterrein vir ’n paar Getuies gesê: “Gister het ek vir een van julle die verkeerde kleingeld gegee. Ek het vir die persoon 10 000 liras [R9] te veel gegee. Wel, ’n rukkie later het hy dit kom teruggee. Dit het nog nooit tevore met my gebeur nie.”
Net ’n alleenstaande geval? Nee. Die eerlikheid van die Getuies is alombekend. Toe sy haar hotelrekening per tjek vereffen, het een van die byeenkomsgangers in die Verenigde State gevra of sy haarself moet identifiseer. “O, nee!” het die klerk geantwoord. “Wie kan ons vertrou as ons julle nie kan vertrou nie?”
KRAG OM MET SLEGTE GEWOONTES TE BREEK
Jy weet moontlik van vriende of bure wie se lewens geruïneer is deur slawerny aan slegte gewoontes, soos alkoholisme, dwelmmisbruik of ander. Die Italiaanse koerant La Nazione het egter berig: “Onder hulle [pasgedoopte Getuies] was daar gewese dwelmslawe, gewese alkoholiste en persone van verskeie wat die krag gevind het om ernstige gesins- en maatskaplike teenslae die hoof te bied.”
’n Man wat een van die 108 byeenkomste in die Verenigde State bygewoon het, het erken: “Ek kon nie laer daal nie. Ek was klaarblyklik daarop uit om ’n verdorwe lewe te lei, selfs al het ek uit vroeëre besprekings met Jehovah se Getuies van beter geweet. Toe het een voorval my laat besef tot watter mate ek aan my slegte gewoontes verslaaf was.
“Besope en bedwelmd van dwelmmiddels het ek en ’n vriend op ’n buurman wraak geneem deur sy huis af te brand”, het David verduidelik. “Toe het ek besef dat ek te ver gegaan het. Gefolter deur my skuldgevoelens het ek die Getuies opgesoek. Met hulle hulp het ek toe met ’n ernstige studie van die Bybel begin.”
Later het hy homself aan die polisie oorgelewer en is hy in die tronk gesit. Maar sy Bybelstudie het voortgegaan—selfs in die tronk. Sy gedrag het dramaties verbeter. Gevangenisbeamptes was so beïndruk dat hulle sy vonnis verkort het. Alhoewel hy nog ’n prisonier was, het hulle die gewese boef—wat ’n slaaf van verskeie verderflike gewoontes was—toegelaat om die byeenkoms op sy eie by te woon! Hy was een van die 1 034 364 wat die byeenkomste in die Verenigde State bygewoon het.
SAMEWERKING
“Ons sou nooit kon glo dat mense soos julle bestaan het indien ons julle nie met ons eie oë aanskou het nie”, het een van die opsigters van die stadion in Ascoli Piceno, Italië, gesê. Hulle het toegekyk terwyl die Getuies al die stoele in die bedekte pawiljoene wegneem, onder hulle skoonmaak en hulle terugdra. “Dit sou vir ons ondenkbaar wees om so iets te doen”, het die opsigters gesê. Maar wanneer mense mekaar liefhet, kan baie “ondenkbare” take verrig word.
In Japan, byvoorbeeld, is ’n groot seil wat as vloerbedekking in een van die sale gebruik word die dag voor dje byeenkoms vuilgesmeer. Mense het gewoonlik ’n week nodig om dit skoon te maak. Tot die verbasing van die bestuur het die Getuies dit in 90 minute gedoen!
“Meer as 1 200 plaaslike, manlike Getuies van Jehovah het verlede week die vloer van die Astrodome met 8 000 stukke laaghout bedek in ruil vir die gratis gebruik hierdie somer van die Astroarena vir die Getuies se twee [“Goddelike Liefde”-]streekbyeenkomste”, het Houston se Chronicle van 3 Mei 1980 gesê. Hierdie buitengewone reëling is gemaak omdat die amptenare van die Astrodome in Houston, Texas, beïndruk is deur die Getuies se doeltreffendheid toe hulle die stadion tevore gebruik het.
Dit is nou al twee jaar dat die Getuies die taak aangepak het om die speelveld van die yslike Astrodome met ’n dubbele laag van 8 000 stukke laaghout van 120 by 240 sentimeter te bedek en aanmekaar vas te slaan vir ’n komende uitstalling. Die laaghout was nodig om die veld te beskerm teen die swaar items wat uitgestal sou word. Na die uitstallings sou dit nodig wees om die planke te verwyder, die spykers uit te trek en die planke in die kelderverdieping terug te pak.
Die Getuies het die veld in ’n rekordtyd bedek—in slegs sowat vier uur. (Dit het professionele manne voorheen 11 uur besig gehou!) Die Getuies het so vinnig gewerk dat een toeskouer gesê het: “Dit het gelyk of die vloer gegiet word!” Na die uitstalling het hulle teruggekom, die laaghout opgetel, die duisende spykers uitgetrek en dit teruggepak—alles in agt uur. Dit het gewoonlik weke geduur!
Maar hoe diep geseteld is die eienskappe wat deur hierdie opvoedkundige program ingeskerp word? Wat gebeur wanneer groot druk uitgeoefen word om die Getuies van hulle Bybelbeginsels te laat afsien?
NIE AFGESKRIK DEUR VERVOLGING NIE
“Gaan staan op die veranda en roep om God se hulp”, het die onderwyser gespot. Die woorde was gerig tot ’n tienderjarige Getuie in Japan. Daar is voor die hele klas met haar gespot weens haar standpunt vir Bybelbeginsels. Ondanks herhaalde gespot en beledigings het sy by haar geloof gebly en was sy een van die 1 860 persone wat in Japan by die byeenkomste gedoop is.
Ander persone wat in Japan gedoop is, is van hulle eie huise uitgesluit en gedwing om maande lank in allerhande weerstoestande buitekant te slaap omdat hulle Bybelvergaderinge bygewoon het. Een vrou is weke lank elke nag natgegooi wanneer sy probeer slaap het. Baie is kwaai aangerand deur eggenote wat nie na rede wou luister nie. Die geloof van hierdie nuwe Getuies het egter nie gewankel nie.
’N WARE HOOP
Terwyl een Getuie in Italië persone uitgenooi het na die openbare toespraak “Waarom sal ’n liefdevolle God wraak neem?” het hy ’n groep werkers naby ’n begraafplaas genader. Een werker het die eerste deel van die toespraak se titel gesien en gesê: “’n Liefdevolle God? Dit sal die dag wees!” Sonder om ’n verdere woord te sê, het hy die Getuie na ’n graf gelei wat oortrek was met wit blomme. “Hier lê my dogtertjie, sy was net drie jaar oud. Waarom sou ’n liefdevolle God dit doen?” het hierdie radelose man gevra.
Die Getuies het vriendelik verduidelik waar die dood ontstaan het—nie by God nie—en vir die man die Bybelse opstandingshoop getoon (Rom. 5:12; Hand. 24:15). Dit het hom diep geraak. Daardie selfde aand het hy na die byeenkoms gekom en iemand gevra om hom te onderrig sodat hy weer sy kind kon sien. Hierdie man en duisende ander het ware hoop gevind.
’N SUKSESVOLLE PROGRAM
Die resultate toon hoe hierdie onderrigprogram eienskappe voortbring wat so seldsaam—en tog so nodig—in ons wêreld is. Die program kan persone help om ware tevredenheid te vind. Een hoteleienaar in Cosenza, Italië, het gesê: “Ons kan baie by Jehovah se Getuies leer. Daar is net een manier om geluk te verkry—dink soos hulle.”
Vind gerus self uit of hierdie man se raad goed is. Vind persoonlik baat by hierdie internasionale opvoedkundige program, Dit is kosteloos en hou groot wins in—die vermoë om “die werklikhede van die lewe” die hoof te bied.
[Venster op bladsye 10, 11]
Wat is daar geleer?
WAAROM ’N LIEFDEVOLLE GOD WRAAK NEEM
Dit is omdat God geregtigheid liefhet en goddeloosheid haat (Ps. 11:5-7). Sy groot naam en voornemens moet geregverdig word. Wanneer God binnekort wraak neem, sal hy ons aarde van alle verdorwenheid reinig en die vrygekoopte mensdom in staat stel om tot volmaaktheid te vorder. Blinde oë sal dan geopen word, dowe ore sal ontsluit word. Almal sal blakend gesond wees.
TROU AAN GOD SE KONINKRYK
Die volgende resolusie is deur letterlik miljoene byeenkomsgangers aangeneem: “Ons neem ons voor om ons pogings om die goeie nuus van God se koninkryk te verkondig asook om God se oordeelboodskap binne die Godgegewe tyd moedig bekend te maak, te verskerp. Ons sal voortgaan om ons heelhartige trou aan God se koninkryk te gee en ons daarop toelê om lojale onderdane daarvan te wees.”
JONGMENSE, HAAT DIE KWAAD
Die besluit om God te dien, moet uit die hart kom, want wanneer hulle voor die versoeking te staan gekom het om onsedelik te wees, het baie gesê: “My verstand het aaneen gesê: ‘Nee! Nee! Nee!’ maar my hart het aaneen gesê: ‘Ja! Ja! Ja!’ “ Maar een jong persoon wat ’n ernstige morele swakheid te bowe gekom het, het vertel hoe: “Wanneer ek sterk geslagsdrif ervaar het, het ek herhaaldelik vir myself gesê: ‘Jy moet dit haat, want Jehovah haat dit.’”
LEI KINDERS OP IN GEREGTIGHEID
Liefde vir God word nie oorgeërf nie. Ouers moet nie net hulle kinders soms straf nie, maar hulle ook in geregtigheid oplei. Dit verg dat daar met die kind geredeneer moet word en dat daar vir hom getoon moet word watter onwenslike gevolge ’n slegte gesindheid sal hê.
DIE BEHOEFTE AAN SELFOPOFFERENDE LIEFDE
Selfopofferende liefde, soos dié wat Jesus getoon het, is die kenmerk van die Christelike godsdiens (Joh. 13:35). Hierdie liefde het Jesus baie gekos—onder meer ’n smartlike dood. Om ware dissipels te wees, moet ons mekaar liefhê soos Jesus ons liefgehad het.
HOE OM MEKAAR IN LIEFDE TE VERDRA
ln ’n demonstrasie op die program moes ’n Christen wat deur ’n ander een kortaf behandel is, besluit of sy (1) bloot van die voorval sou vergeet, of (2) die beginsel in Mattheüs 5:23, 24 gaan toepas en probeer om weer vriende te maak. Sy het die tweede weg ingeslaan, selfs al het sy haar geestelike suster geen onreg aangedoen nie. Dit is hierdie bereidwilligheid om Bybelraad toe te pas—om die minste te wees en vrede na te streef—wat ons in staat stel om mekaar te verdra.
MORELE GETROUHEID
Ongeag hoeveel genot ’n mens tydelik smaak wanneer jy God se wet verbreek, moet ons voortdurend vir onsself sê dat dit net nie die moeite werd is nie. Die hart is bedrieglik en kan altyd verskonings aanvoer (Jer. 17:9). Indien die apostel Paulus voortdurend sy vleeslike neigings moes beveg, kan ons dan tevrede wees om minder te doen? Ons moet aanhou probeer. Indien ons ophou, is ons verlore!
GOD HAAT EGSKEIDING
Party het listig planne beraam om van hulle huweliksmaat te skei en met iemand anders te trou, selfs al het dit beteken dat hulle uit die Christengemeente gesit sou word. Hierdie indiwidue moet egter nooit vergeet dat hoewel die gemeente hulle moontlik sal herstel, God, wat die hart en al die omstandighede ken, die finale Regter is nie.—Hebr. 13:4.
MOENIE HEILIGE DINGE VERAG NIE
Jakob het die geloof nagevolg van sy grootvader Abraham wat probeer het om sy seun Isak op God se bevel op te offer. Esau, Jakob se broer, het heilige dinge verag deur sy geboortereg in ruil vir ’n maaltyd te verkoop. Hy het sy eie belange voor God s’n gestel. Bou ons ons lewens om ons heilige verhouding met God of beklee dit in werklikheid die tweede plek? Niemand wil dink dat hy ’n Esau is nie, maar sal hy die beloofde beloning ontvang indien Jehovah hom so beskou?
JEHOVAH SAL DIE WEG VAN SY LOJALE KNEGTE BEWAAR
Sommige het vandag gestruikel weens die gebreke van ’n paar vername onderrigters wat aan die gemeente verbonde is. ’n Soortgelyke toets van lojaliteit het tydens die dae van koning Dawid plaasgevind. Ondanks sy foute, waaroor hy nederig berouvol was, het hy God se gesalfde gebly. Diegene wat lojaal aan Dawid gebly het, is beloon; ontroues het God se guns verloor. Hoe belangrik is dit tog dat ons nooit vergeet watter organisasie God vandag gebruik en hoe belangrik hartgrondige lojaliteit is nie!
DIE STRYD IS NIE JULLE SAAK NIE, MAAR DIE SAAK VAN GOD
Daar is vyande wat graag Jehovah se Getuies as ’n volk wil vernietig. Ons kan egter dieselfde vertroue hê as koning Josafat, wat hom tot God gewend het vir beskeming teen vyande wat gedreig het om sy nasie te vernietig. Die nasie is verlos omdat die koning gesorg het dat die volk God se wette ken en gehoorsaam. Indien ons vandag ware aanbidding beoefen net waar ons gaan en ons gemeentes sedelik rein hou deur God se wette te handhaaf, sal ons God se beskerming geniet en sal ons binnekort sien hoedat hy ons vir ewig van ons vyande verlos.
[Venster op bladsy 14]
Onverwagte gaste uit Kuba—Handhawers van onkreukbaarheid
“Onder die groepe wat met die Kubaanse skipbrug in die Verenigde State aangekom het en wat veel publisiteit geniet het”, het die York (Nebraska) News Times berig, “is ’n ander groep wat minder publisiteit gekry het en wie se enigste misdaad is dat hulle voortgegaan het om God op hulle manier te aanbid ondanks die feit dat hulle sekte verbied is.”
Baie van hierdie Getuies wat beveel is om Kuba te verlaat, het die “Goddelike Liefde”-byeenkomste in die Verenigde State bygewoon. Hulle het vertel van die vervolging wat hulle in Kuba verduur het. Terwyl hulle in Kuba was, het die twee jong dogters van ’n Getuie byvoorbeeld geweier om deel te neem aan ’n patriotiese seremonie. Hulle is met die dood gedreig. Hulle is beveel om met hulle rug na ’n soldaat met ’n masjiengeweer te gaan staan en meegedeel dat hulle geskiet sou word. Die meisies het kalm omgedraai en verwag om te sterf. Kliek! Die geweer was leeg. Die owerhede het besef dat selfs dreigemente met die dood nie hulle geloof sou laat wankel nie, en daarom het hulle hulle vrygelaat.
’n Ander vlugteling, Miriam, is om 3 vm. deur die Kubaanse polisie gekonfronteer. Sy en haar man is toe een uur gegee om gereed te maak om die land te verlaat. Kort daarna, terwyl hulle op ’n oorlaaide boot na die Verenigde State op pad was, het hulle ’n verskriklike storm beleef. Party van die bote daar naby het gesink. Miriam en haar kinders het langs ’n veroordeelde moordenaar gesit. Sy het hardop tot Jehovah gebid om beskerming. Eindelik het sy aan die slaap geraak. Die volgende oggend het die moordenaar haar wakker gemaak en gesê: “Dit lyk of jou gebede verhoor is. Daar is Key West [V.S.A.].”
Die geloof van hierdie Kubaanse Getuies was vir die hele gehoor ’n aansporing.
[Prent op bladsy 9]
Boeke wat in die opvoedkundige program gebruik word, soos hulle in Osaka, Japan, voorgestel is
[Prent op bladsy 11]
Bybeldramas
[Prent op bladsy 13]
“Ons kan ook help om boeke uit te deel!” is die gees van hierdie kinders wat baat gevind het by Bybelonderrig