JESUS AS KLANKINGENIEUR
Auguste Rae se boek “Isolation Sonore et Acoustique Architecturale” (Klankdigting en argitektoniese akoestiek) bevat ’n hoofstuk oor toesprake in die buitelug. Dit is interessant om te let op die volgende onder die tussenhofie “Evangelisasiewerk”:
“Die Evangelietekste deel ons mee: Toe klim Hy in een van die skuite . . . en vra hom [Simon] om ’n entjie van die land af weg te vaar, en Hy het . . . die skare van die skuit uit geleer.’—Luk. 5:3.
“Daar is niks wat dui op ’n aansienlike verandering in die helling van die oewer van die meer van Gennesaret sedert daardie gebeurtenisse nie. Kom ons pas dan hierdie tekste toe op die mees algemene kontoere van sy hedendaagse oewers. . . .
“Al die gunstigste elemente vir klankontvangs is aanwesig. Eerstens, die hele gehoor kan die spreker sien en klank regstreeks ontvang. Weens die helling van die grond is diegene wat verder van die spreker af is hoër teen die oewers. Daarbenewens is die kalm oppervlak van die water van ’n meer die allerbeste weerkaatser. Klank wat so weerkaats word, volg ’n baan wat baie ooreenstem met die van regstreekse klank. . . . duidelikheid is onbelemmer, en daar is ’n versterking van ses desibel. Hierdie weerkaatser is geleë in die rigting van die stemverspreiding, naamlik voor die spreker.
“Laastens, ons het hier ’n voorbeeld ter stawing van ’n belangrike praktiese reël: die spreker moet nie te na aan sy gehoor wees nie.”
Toe die Wagtoring-Bybelskool Gilead in die noorde van die staat New York geleë was, het die spreekkunsinstrukteur altyd hierdie beginsels toegelig deur oor ’n dam met sy studente te gesels wat in ’n amfiteater aan die ander kant gesit het.