Sendelinge word aangespoor: “Verheerlik julle bediening!”
OP 14 September 1980 het 50 studente van die Wagtoring-Bybelskool Gilead gegradueer en hulle toewysings na 19 lande ontvang. Die Skool se president, F. W. Franz, het hulle toegespreek en sy kommentare gebaseer op die teks in Romeine 11:13 waar die apostel Paulus geskryf het: “Vir sover as ek ’n apostel van die heidene is, verheerlik ek my bediening.”
Toegewyde Christene het ’n heerlike bediening, het Franz verduidelik, iets waaraan hulle almal, manne en vroue, kan deelneem. Hulle is bedienaars van die Woord van God. Hierdie bediening is dus nie die behartiging van sekulêre dinge of familie-aangeleenthede nie, maar is die geklassifiseerde bediening wat die verkondiging en onderrigting van die goeie nuus van God se koninkryk behels. En waarom is dit veral vandag heerlik? “Sedert 1914”, het hy gesê, “verkondig julle gegradueerdes van Gilead en alle toegewyde en gedoopte Christene die goeie nuus van ’n opgerigte koninkryk; dit is wat die verskil maak.”
Franz het verduidelik dat talle Engelse Bybelvertalings, soos die “King James Version” en die “New World Translation” die woord “minister” gebruik. Dit is dus ’n geoorloofde benaming vir almal wat toegewyde, gedoopte volgelinge van Jesus Christus is. “Julle gegradueerdes van Gilead”, het hy gesê, “het die reg om julself bedienaars te noem en is geregtig op al die voorregte wat die geestelikes van die valse Christendom geniet.”
‘Ons lewe in die “tyd van die einde”’, het die Skool se president ten slotte gesê, ‘en dit is die tyd der tye om as ’n bedienaar van die allerhoogste God Jehovah te lewe! Onthou dus wat die apostel Paulus oor sy bediening gesê het. Hy het gesê: “Ek verheerlik my bediening.” Ek spoor julle aan om dieselfde te doen—verheerlik julle bediening!’
L. A. Swingle het vroeër gepraat oor die tevredenheid wat ’n mens smaak as jy iets bereik. Maar dit gaan gepaard met sekere valstrikke, het hy gesê; ’n mens kan opgeblase of trots raak. Die gegradueerdes is aangespoor om soos die apostel Paulus te wees wat veel in sy bediening bereik het, maar die eer aan God gegee het.—2 Tim. 4:17.
Tydens sy bespreking van Psalm 102:2-7 het D. Sydlik getoon dat die psalmis gevoel het soos “’n pelikaan van die woestyn”. ’n Sendeling kan ook soms vol heimwee wees en uit sy plek voel. ln daardie geval help dit om die Psalms te lees en altyd in gedagte te hou dat ’n sendingtoewysing van Jehovah af kom.
Max Larson het gepraat oor “Bou saam met Jehovah”. Hy het gewys op watter voorreg dit is om “medewerkers van God” te wees deur met behulp van die Woord van God ’n geestelike gesindheid in mense te bou (1 Kor. 3:9; Hand. 20:32). “Moenie julle pos verlaat nie”, het hy ten slotte beklemtoon; “julle Mede-bouer sal nie.”
Instrukteur J. Redford het gesê dat die mens gemaak is om te werk, nie om leeg te lê nie (Gen. 2:15; Rom. 12:11). Maar ‘moenie die werktoewysings van iemand anders in God se organisasie begeer nie’, het hy gesê. ‘Gaan waar hy julle stuur, en mag julle almal die werk van julle hande geniet.’
Die Skool se registrateur, instrukteur U. V. Glass, het ’n ‘driepuntplan vir geestelike behoud’ bespreek: (1) Verkry en behou ’n intieme verhouding met Jehovah. (2) Erken Jehovah se kommunikasiekanaal. (3) Bly na aan jou Christenbroers en betoon ‘vurige liefde aan mekaar’.—1 Pet. 4:8.
L. Barry het die aandag gevestig op die goeie voorbeeld wat Jesus op die gebied van nederigheid gestel het (Filip. 2:7-10). Die ontberings wat sendelinge soms verduur, help om hulle nederig te hou, het hy verduidelik. Dit help ook as ’n mens humorsin het. Nederigheid bring baie beloninge mee.—Spr. 22:4.
Nadat voorsitter K. Klein die diplomas aan die studente uitgedeel het, het T. Jaracz aangekondig dat ’n Kultuurskool vir Latyns-Amerikaners in Mexiko opgerig gaan word. Die medium sal Spaans wees. Elke klas sal uit 25 studente bestaan en 10 weke duur. Die eerste klas sou op 24 November 1980 begin.
Die namiddag het die gegradueerdes ’n baie aangename program aangebied wat uit liedere, volksdanse en twee puik Bybeldramas met die titels “Jehovah beloon sy lojale dienaars” en “Pas op vir ’n opstandige tong” bestaan het. Die eerste het gehandel oor Dawid en dinge wat gebeur het voordat hy koning geword het, dinge wat sy lojaliteit aan Jehovah op die proef gestel het. Die tweede drama was oor Korag, ’n aanstigter van opstand.
Vir die 2 059 aanwesiges was die hele dag se program wonderlike aansporing om Jehovah nederig en lojaal te dien en om altyd ‘hulle bediening te verheerlik’.