Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w81 1/1 bl. 30-31
  • Vrae van lesers

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Vrae van lesers
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1981
  • Soortgelyke materiaal
  • Vrae van lesers
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1997
  • ’n Tyd om wakker te bly
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1995
  • Wat 1914 vir jou kan beteken
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1984
  • Wanneer sal die voorspelde wêreldvernietiging kom?
    Ware vrede en veiligheid—Hoe kan jy dit vind?
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1981
w81 1/1 bl. 30-31

VRAE van LESERS

• Paulus het gesê dat ’n gemeentelike opsiener “die man van een vrou” moet wees. Waarom het hy dit onder die kwalifikasies vir opsieners aangegee, aangesien geen Christen ’n bigamis of ’n veelwywer kan wees nie?

In 1 Timotheüs 3:2 het die apostel Paulus geskryf: “’n Opsiener dan moet onberispelik wees, die man van een vrou, nugter.” Die uitdrukking “die man van een vrou” sou aandui dat die man nie van geslagtelike verdorwenheid verdink word nie en dat hy dien as ’n voorbeeld van een wat die Christelike standaard vir die huwelik naleef.

Jesus het beveel dat sy dissipels moet bly by God se oorspronklike huweliksreëling, naamlik een man vir een vrou (Matt. 19:5, 6). Geen persoon kan dus as ’n Christen gedoop word voordat hy nie ophou om ’n veelwywer te wees nie. Dit was egter gepas vir Paulus om die saak rakende ouere manne te beklemtoon, daar veelwywery onder die Jode toegelaat is en kon voorkom in lande waarheen die Christelike godsdiens sou versprei. ’n Nuwe persoon wat met die gemeente assosieer, sou uit die voorbeeld van die ouere manne moes kon sien dat monogamie en nie veelwywery nie die aanvaarbare reëling vir Christene is.

Maar die uitdrukking “die man van een vrou” kan meer behels. Destyds was die heersende morele slapheid te sien in maklike, herhaalde egskeidings en huwelike.

“Weens die verdorwe egskeidingsreëling wat deur die Griekse sowel as die Romeinse wet toegelaat is, was dit baie algemeen vir ’n man en vrou om te skei en dan, terwyl albei nog gelewe het, weer met ander persone te trou. ’n Man kon dus drie of vier lewende vroue hê; of eerder, vroue wat die een na die ander sy eggenotes was” (The Life and Epistles of St. Paul, deur Conybeare en Howson). Met ’n Christen moes dit anders gesteld wees. Slegs indien sy maat haar skuldig gemaak het aan “hoerery” (growwe geslagsonsedelikheid) kon hy skei en met iemand anders trou (Matt. 5:32; 19:9). Die kwalifikasie van “die man van een vrou” sou beteken dat ’n ouere man die voorbeeld sou stel deur nie ’n man te wees wat sonder Skriftuurlike gronde van ’n vrou geskei en daarna weer getrou het nie.

Party geleerdes meen dat 1 Timotheüs 3:2 beteken dat ’n ouere man glad nie ’n tweede keer kon trou nie. Wat Jesus vroeër gesê het en wat Paulus elders geskryf het, toon egter dat dit nie verkeerd was om weer te trou nie. Dit sou ’n man gevolglik nie berispelik maak of hom diskwalifiseer om as ’n ouere man in die gemeente te dien nie. Jy sal onthou dat Paulus geskryf het dat weduwees (en, logies, wewenaars) liewer moes trou as om van begeerte te brand of om ledige, bemoeisieke mense te word.—1 Kor. 7:8, 9, 36-39; 1 Tim. 5:13, 14.

Die feit dat ’n ouere man “die man van een vrou” moes wees, sou ook die gedagte bevat dat hy nie skuldig moet wees aan bigamie of owerspel nie. Hy moes moreel onberispelik in sy huwelikslewe wees, lojaal en getrou aan sy vrou. Die 1979-vertaling van Die Nuwe Testament en die Psalms gee die vers dus soos volg weer: “’n Ouderling moet onberispelik wees, getrou aan sy vrou.”

Deur te sê dat ’n opsiener “die man van een vrou” moet wees, het Paulus gevolglik met ’n paar woorde die hoë sedelike voorbeeld wat deur ’n getroude ouere man gestel moet word, uit verskeie hoeke beklemtoon. Enigiemand moet na hom kan kyk en sien dat hy ’n lewende voorbeeld van die verhewe beskouing van die huwelik is wat in die ware Christelike geloof aangetref word.

• Toe Jesus gepraat het oor “die teken van [sy] koms en van die voleinding van die wêreld” het hy vir sy dissipels gesê: “Voorwaar Ek sê vir julle, hierdie geslag sal sekerlik nie verbygaan voordat al hierdie dinge gebeur het nie” (Matt. 24:3, 34). Hoe moet ons dit verstaan?

Hierdie profesie, wat in die jaar 33 G.J. uitgespreek is, het ’n merkwaardige tipiese vervulling gehad tot die jaar 70 G.J. toe die Joodse stelsel van dinge vernietig is en Jerusalem se tempel omvergewerp is sodat ‘nie een klip op die ander gelaat is nie’. Volgens die geskiedskrywer Josefus het daar net in Jerusalem 1 100 000 Jode omgekom. Hoewel baie van Jesus se vroeë dissipels gesterf het tydens die vervolging tot op daardie tyd, het party van die geslag wat by Jesus was en sy kragtige werke aanskou het nog gelewe om ook die einde van daardie “voleinding van die stelsel van dinge” te sien (Matt. 24:2, 3, NW). Hulle was persone van Jesus se geslag, sy tydgenote.

Uit Jesus se profesie verstaan ons egter dat sy woorde ’n latere, groter vervulling het wat uitloop op ’n “groot verdrukking . . . soos daar van die begin van die wêreld af tot nou toe nie gewees het en ook nooit sal wees nie”. Hierdie “groot verdrukking” gaan nie net ’n Joodse “stelsel van dinge” tref nie, maar die hele wêreld van die mensdom, ja, “al die nasies” aan wie Jehovah se Getuies ‘hierdie evangelie van die koninkryk moet verkondig voordat die einde kom’. Die “smarte” wat hierdie aarde sedert die Eerste Wêreldoorlog teister, toon dat Jesus se “teken” se groot antitipiese vervulling sedert 1914 plaasvind.—Matt. 24:3-8, 14, 21.

Wat is dan die “geslag” wat “sekerlik nie [sal] verbygaan voordat al hierdie dinge gebeur het nie”? Dit verwys nie na ’n tydperk wat party as 30, 40, 70 of selfs 120 jaar probeer vertolk het nie, maar dit verwys eerder na mense, die mense wat gelewe het tydens die “begin van die smarte” van hierdie gedoemde wêreldstelsel. Dit is die geslag wat die rampspoedige gebeure gesien het wat vanaf die Eerste Wêreldoorlog in 1914 plaasvind.

’n Artikel op bladsy 56 van U.S. News & World Report vir 14 Januarie 1980 het gesê: “Indien jy aanneem dat 10 die ouderdom is waarop ’n gebeurtenis ’n blywende indruk op ’n persoon se geheue maak” dan is daar vandag meer as 13 miljoen Amerikaners wat “herinneringe van die Eerste Wêreldoorlog” het. En indien die goddelose stelsel van dinge tot die eeuwisseling sou voortbestaan, iets wat hoogs onwaarskynlik is in die lig van die verloop van sake in die wêreld en die vervulling van Bybelprofesie, sou daar nog oorlewendes van die Eerste Wêreldoorlog se geslag wees. Maar die feit dat hulle aantal aan die afneem is, is nog ’n aanduiding dat “die voleinding van die wêreld” vinnig sy einde nader.

In hierdie verband het die tydskrif The Economist vir 15 Maart 1980 ’n interessante resensie bevat oor ’n boek met die titel “Die Geslag van 1914” deur Robert Wohl. Dit het hierdie betekenisvolle opmerking gemaak: “Eindelik spreek mnr. Wohl sy eie menings oor die geslag van 1914 uit. In ’n bondige en beknopte laaste hoofstuk gee hy te kenne dat geslagte nie matematies bepaalbaar is in terme van ’n aantal jare nie, maar gegroepeer word rondom groot geskiedkundige krisisse, waarvan die eerste wêreldoorlog die belangrikste voorbeeld is.” Dit stem baie goed ooreen met die Skriftuurlike beskouing wat Jehovah se Getuies van “die geslag van 1914” het.

Ja, daar was ’n geslag wat in 1914 gelewe het en wat die groot geskiedkundige veranderinge gesien het van ’n tydvak van betreklike rustigheid tot die huidige tydvak van oorlog, wetteloosheid en verwoesting. Baie persone wat nou Jehovah se Getuies is, is lede van daardie geslag. Die jaar 1914 was waarlik “die belangrikste voorbeeld” van verandering, want daardie jaar het die voorspelde “begin van die smarte” onder die nasies aan die gang gesit. Daar lewe nog baie persone wat vir ons kan vertel hoe drasties toestande op aarde in die jaar 1914 verander het. En die wêreld raak net al hoe dieper in die moeilikheid. Ons kan dus bly wees oor Jesus se versekering dat daar oorlewendes sal wees uit “die geslag van 1914”—dat hierdie geslag nie heeltemal verby sou wees nie—wanneer die “groot verdrukking” die gordyn oor hierdie goddelose wêreldstelsel laat sak.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel