’N SOLDAAT WAT ’N PREDIKER GEWORD HET
Soos vertel deur Richard A. Boeckel
TERWYL ek gedurende die tweede wêreldoorlog in die leër was, het ek Bybellektuur begin bestudeer. Terwyl ek gelees het en probeer het om dinge te snap, het die vraag deur my kop gemaal: Wat is God se beskouing van die moeilike situasies waarmee ons vandag in die lewe te kampe het?
Ek het geredeneer dat daar in 1776, toe die Verenigde State gebore is, dapper manne was wat hulle lewe vir hulle land gegee het, ja, baie wat selfs spyt was dat hulle slegs een lewe gehad het om te gee. Maar ek het myself afgevra: Watter ewige voordele het hulle edele opoffering nou werklik meegebring? Dit het beslis nie die mens se grootste vyande, siekte en die dood, oorwin nie, aangesien al die mense wat destyds gelewe het al lank dood is.
Ongelukkig kan geen menslike regering die dood, of selfs siekte of bejaardheid, oorwin nie. Maar nou het ek geleer van die regering van Jehovah God wat hierdie vyande kon en sou oorwin. In ’n profesie oor God se koning, Jesus Christus, sê die Bybel: “Want ’n Kind is vir ons gebore, ’n Seun is aan ons gegee; en die heerskappy is op sy skouer . . . tot vermeerdering van die heerskappy en tot vrede sonder einde.”—Jes. 9:5, 6.
Jesus het sy volgelinge geleer om vir hierdie regering van God te bid. “Só moet julle dan bid” het hy gesê. “Onse Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word; laat u koninkryk kom; laat u wil geskied, soos in die hemel net so ook op die aarde.” Hierdie koninkryksregering, wat die Bybel toon ‘die dood, droefheid, geween en moeite’ sal wegdoen, is beslis beter as enige menslike regering. En aangesien Jesus vermaan het: “Soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid” het dit vir my sin gehad dat gehoorsaamheid aan God se wette voorkeur moes geniet in die lewens van diegene wat Sy regering steun.—Matt. 6:9, 10, 33; Openb. 21:3, 4.
Omdat ek van hierdie dinge oortuig was, het ek aansoek gedoen om ontslag; maar dit is nie toegestaan nie.
KONINKRYKSVERKONDIGING
Uit die dinge wat ek geleer het, het ek besef dat dit my Christelike verantwoordelikheid is om die “evangelie van die koninkryk” aan ander te verkondig (Matt. 24:14). Terwyl ek by Fort Francis E. Warren, Wyoming, gestasioneer was, het ek begin om die vergaderinge van Jehovah se Getuies in nabygeleë Cheyenne by te woon en het ek lektuurvoorrade verkry. Gedurende die daaropvolgende weke het ek honderde boeke en boekies in die kamphospitaal en in die slaapsale versprei. Die kampowerheid het gou van hierdie predikingskampanje te hore gekom, en hulle het probeer uitvind wie daarvoor verantwoordelik was. Maar die manne het my gehelp sodat ek nie gevang is nie.
Ek het van bed tot bed gegaan en saggies met indiwidue of klein groepe gesels. Intussen het soldate by die voor- en agterdeur van die slaapsaal waggehou. Wanneer offisiere na my kom soek het, het die manne my gewaarsku en het ek by die ander deur uitglip. Ek het dan na slaapsale in ’n ander deel van die kamp gegaan en daar begin getuig. Ek kon steeds nie my ontslag kry nie.
’N BELANGRIKE VERLOF
In Augustus 1944 het ek verlof ontvang om die Verenigde Aankondigers se Teokratiese Byeenkoms in Denver, Colorado, by te woon. Ek glo vas dat die Here sake bestier het sodat hierdie verlof toegestaan is, veral in die lig van wat by die byeenkoms gebeur het.
Gedurende een van die sessies het ek langs Lotta Thayer, ’n Getuie uit Abilene, Kansas, gesit. Tydens ons gesprek het sy gehoor van die probleme wat ek gehad het om God in ’n militêre milieu te probeer dien, as gevolg van wat ek in Jesaja 2:4 en verwante tekste geleer het.
“Weet jy wie is my buurvrou?” het sy gevra. “Dis generaal Eisenhower se moeder! Sy is een van Jehovah se Getuies. Sou jy daarvan hou dat sy vir jou moet skryf?”
“Natuurlik!” het ek uitgeroep.
HULP VAN EISENHOWER SE MOEDER
Teen die einde van Augustus was ons besig met krygsoefeninge in Colorado. Ek het geweier om wag te staan en is na die hoofkwartiertent ontbied. Halfpad soontoe is ek aangesê om onder ’n jenewerboom te sit totdat ek geroep word. Terwyl ek gewag het, het ’n soldaat uitgeroep: “Pos!” en het iemand vir my ’n brief gebring. Ek het dit pas klaar gelees toe ek beveel is om my aan te meld.
Toe ek die hoofkwartiertent, waar al die “grootkoppe” bymekaar was, binnegaan, het ek nie gesalueer nie. Een van die offisiere het gesê: “Salueer jy nie jou meerderes nie?”
“Nee.”
“Waarom nie?”
Ek het my redes, gebaseer op my begrip van die Bybel, eerbiedig verstrek. Toe het die offisier gesê: “Generaal Eisenhower behoort julle Jehovahsgetuies teen ’n muur te sit en julle almal te skiet!”
“Dink u dat hy sy eie moeder sal skiet?” het ek gevra.
“Wat bedoel jy?” het hy vinnig gevra.
Ek het my hand in my sak gesteek, Suster Eisenhower se brief uitgehaal en dit vir hom gegee. “Ek het so pas hierdie brief van die Generaal se moeder ontvang terwyl ek gewag het dat u my moet roep.”
Terwyl hy die brief (waarvan jy ’n afskrif op die oorkantste bladsy kan sien) gelees het, het die ander offisiere om hom saamgedrom om ook te sien wat daarin staan. Toe hy die brief peinsend vir my teruggee, het sy gesindheid heeltemal verander. “Gaan terug na jou kompanie” het hy gesê, “ek wil nie met die Generaal se moeder deurmekaar raak nie.”
Ida Eisenhower, wie se seun later die president van die Verenigde State geword het, was destyds 82 jaar oud. Uit haar brief kan jy sien dat sy die grootste deel van haar lewe een van Jehovah se Getuies was. Haar brief het presies op die regte tyd gekom! Haar bemoediging was net wat ek nodig gehad het.
EK STAAN VAS
Hoewel ek voortdurend probeer het om my ontslag te kry, is dit nie toegestaan nie. Ek het egter geweier om aan enigiets deel te neem wat ek gemeen het Bybelbeginsels regstreeks skend. Dit het eenkeer ’n komiese situasie geskep. Omtrent 60 van ons het ons katels in ’n groot kring in die slaapsaal getrek om na die lesing van ’n besoekende majoor te luister. Hy het in die middel van die kring gestaan, omgeswaai en met sy vinger na my gewys. “Wys gou vir ons hoe om ’n handgranaat te gooi.”
“Ek sou liewer nie, Majoor” het ek geantwoord.
“En waarom nie?”
“Want iemand kan dalk seerkry.”
Wel, die mans, wat almal geweet het van my Bybelse opvattings, het op hulle katels neergeslaan en so baie gelag dat die majoor my nie weer kon vind tydens die verwarring wat gevolg het nie. Hy het dus ’n ander onderwerp begin bespreek.
PREDIKINGSWERK IN FRANKRYK
Later, terwyl ek steeds gesukkel het om uit die leër te kom, is ek na Frankryk gestuur. Ek het hierdie verwikkeling as Jehovah se wil beskou en was vasbeslote om Hom te dien ongeag wat gebeur. Wonderlike geleenthede om die Koninkryk te dien is dus in Frankryk vir my geopen. Die 1980 Yearbook of Jehovah’s Witnesses vertel kortliks hiervan onder die tussenhofie “’n Amerikaanse soldaat maak dissipels”.
Toe ek omstreeks 1 Oktober 1944 in Frankryk aankom, het ek my soldy aan die Wagtoringgenootskap in New York gestuur en vir hulle gevra om Franse lektuur aan my te stuur. Maande het verstryk, maar daar was geen teken van die lektuur nie.
Omdat ek gedurende die noordelike somer van 1933 aan die Universiteit van Grenoble gestudeer het, het ek ’n bietjie Frans geken. Ek kon dus vir die plaaslike mense preek waar ons ook al gestasioneer was—in Nancy, Dijon, Le Mans en Vittel. Ek het dikwels eers teen middernag na ons woonkwartier teruggekeer nadat ek die mense vyf tot tien uur lank met die Koninkryksboodskap by hulle huise besoek het.
Terwyl ek in Parys was, het ek Henri Geiger ontmoet wat destyds toesig gehou het oor die bedrywighede van Jehovah se Getuies in Frankryk. Ek het ’n klompie Franse lektuur by hom gekry. Maar omdat dit so skaars was, het ek ’n boekie drie of vier dae lank vir ’n huisbewoner geleen en dan het ek teruggekeer om dit terug te kry sodat ek dit vir iemand anders kon leen. My predikingswerk, sowel as my weiering om wapens op te neem of offisiere te salueer, het baie aandag getrek. Maar ek is steeds nie ontslaan nie!
EK WEIER OM ’N KOMPROMIS AAN TE GAAN
Dit was omstreeks die tyd dat die Duitsers tot hulle laaste groot offensief, die Ardenne-offensief, oorgegaan het dat ek na die plaaslike leërhoofkwartier ontbied is. Weens ’n tekort aan vegtroepe wou hulle hê dat ek wapens moes opneem. Hulle het my ook beveel om offisiere te salueer en op te hou preek. “Ek verwag dat jy die werk van ’n goeie soldaat sal doen” het die kolonel gesê.
Ek het vir die kolonel verduidelik: “Indien almal my Bybelse raad oor sedes aanvaar het, sou daar geen probleme met dronkenskap onder die soldate wees nie, en sou dit ook nie nodig wees om geslagskwale te behandel nie.”
Die kolonel se antwoord hierop was: “Amerika sal sy soldate nie die genot van geslagsomgang ontsê nie, want Amerika is op daardie beginsel gebou.”
Ek het die kolonel tereggewys en vir hom gesê dat ek verstaan het dat Amerika gebou is op die beginsel van die eerbaarheid van die huwelik, en dat dit nie owerspel en hoerery voorgestaan het nie. Toe is die ultimatum aan my gestel: ‘Jy hou op preek of jy word môreoggend geskiet.’ Ek het die apostels se woorde in Handelinge 4:19, 20 en 5:29 gebruik en vir hulle verduidelik dat ek meer gehoorsaam aan God moet wees as aan hulle, en dus kon ek nie ophou om oor God se koninkryk te praat nie.
In plaas daarvan om geskiet te word, is ek in hegtenis geneem en aangesê om ’n latrine te grawe. Daar was ek dus, twee meter diep in ’n gat, terwyl sersant Randy Tarbell bokant my wag gehou het. Na die oorlog het Randy saam met John Booth, nou ’n lid van die Bestuursliggaam van Jehovah se Getuies, gestudeer, en vandag is Randy ’n Christelike ouere man.
GETUIENIS VAN JEHOVAH SE LEIDING
Omdat daar steeds ’n groot behoefte aan vegtroepe was, is ’n jong soldaat in Vittel verplaas en is ek gestuur om hom te vervang. Ek was dus nie langer in arres nie. En in plaas daarvan om in ’n tweemanstent te woon, het ek nou ’n kamer met ’n regte bed in Vittel se weelderige Hotel des Grandes Sources gehad!
Die dag na my aankoms het ek ’n groot houer met 60 boeke ontvang—die lektuur wat ek amper vyf maande tevore van die Wagtoringgenootskap bestel het. Dit is van plek tot plek agter my aangestuur, maar dit het nie by my uitgekom nie. Ek het dit onder my bed weggesteek. Dit was my eerste verblyfplek waar ek Bybellektuur met veiligheid kon hou. Dit moes beslis Jehovah se leiding gewees het. Maar benewens Franse boeke het die Genootskap ook Italiaanse, Russiese en Duitse boeke aan my gestuur. “Waarom?” het ek myself afgevra. “Weet hulle dan nie dat ek in Frankryk is nie?”
Wel, wat het ek gesien toe ek die volgende oggend met die trap na die eetsaal afloop? My hele liggaam het getintel! Daar was omtrent 50 Italiaanse soldate! Teen daardie tyd, Februarie 1945, het hulle by die Geallieerde magte aangesluit in die stryd teen die Nazi’s. Maar dit was nie al nie. Daar het ook sowat 50 Russiese soldate in die hotel gebly. Terwyl ek gedurende die volgende paar dae saam met hulle in die menasie geëet het, het ek daarin geslaag om met hulle te kommunikeer in tale wat ons gemeen gehad het, en so het ek al die Italiaanse en Russiese boeke versprei.
Maar wat van die Duitse boeke? Later, terwyl ek in Nancy was, het ek 60 Duitse gevangenes ontmoet. Aangesien ek Duits kon praat, kon ek vir hulle getuig. Hoe dankbaar was hulle tog nie vir leesstof nie! En hoe duidelik het dit tog vir my geword dat Jehovah die Koninkryksprediking rig! Ek is daarvan oortuig dat nie een van hierdie dinge blote toeval was nie.
Gedurende die weke wat ek in Vittel was, het ek elke huis in die dorp met die Koninkryksboodskap besoek. Ek sal een besoek nooit vergeet nie. Dit was by André en Suzanne Perrin. Ons het saam met hulle kinders aan tafel gesit en tot middernag gestudeer. Toe ek die volgende oggend daar verbygaan, het Suzanne tot my geroep: “Monsieur Richard, weet jy wat ek gedoen het nadat jy verlede nag vertrek het? Ek het al my kruise, my beelde, maagde en rosekranse in die vuur verbrand!”
Suzanne het onlangs aan my geskryf om vir my te sê dat daar sowat 50 persone aan die gemeente in Vittel verbonde is. Hoewel haar man gesterf het, is sy, haar seun en ander familielede bedrywige Getuies. Ek ag dit ’n groot voorreg dat ek saadjies van Koninkrykswaarheid in Frankryk kon saai en kon sien hoedat party van hulle vrug dra terwyl ek nog op my ontslag uit die leër gewag het.
TERUG NA AMERIKA
’n Paar weke later, vroeg in Mei, het die oorlog in Europa geëindig. Kort daarna was ons op pad terug na Amerika.
Ons is na Camp Lee, Virginië, gestuur waar ons moes wag totdat ons ontslaan is. Ek het met die plaaslike groep van Jehovah se Getuies in verbinding getree en die meeste van my tyd gebruik om te preek, by die huise van die plaaslike mense sowel as in die yslike militêre kamp. Ek het elke dag ’n winkelsak met omtrent 25 Bybelleerboeke gevul en hulle almal versprei. Die broers moes voortdurend spesiale ritte na Richmond onderneem om hulle lektuurvoorrade aan te vul.
Toe breek die laaste naweek voor ons ontslag aan. Ek het drie dae in die leër oorgehad om te preek. My lektuur was gedaan. Wat moes ek doen? Ek is na die barakke waar die manne op hulle ontslag gewag het. Ek het in die deur gaan staan en hard uitgeroep: “Manne, julle aandag asseblief! Ek het ’n boodskap vir julle en iets wat julle saam met julle huis toe kan neem en vir die volgende jaar kan geniet.”
Daarop het hulle nader gekom en het ek ’n getuienis gelewer waarin ek beklemtoon het dat God se koninkryk die enigste hoop vir die mensdom is. Ek het intekeninge op Die Wagtoring en Vertroosting (nou Ontwaak!) aangebied. Soms het ek ’n dosyn intekeninge in een barak gekry. Die laaste intekening wat ek verkry het, was om 2 nm. op die bus terug na New York. Ek het by die huis aangekom met $203,00 vir 203 intekeninge. My diens in die leër het met eervolle ontslag geëindig.
Gedurende die 35 jaar sedert daardie dag het my oortuigings aangaande God se Koninkryksbeloftes nie in die minste verswak nie. Nadat ek uit die leër gekom het, kon ek my doelwit om as ’n dienaar van God te dien, nastreef. Deur die jare heen het ek talle voorregte in die Christengemeente geniet en dien op die oomblik as ’n ouere man. Ek is ook nou al 13 jaar lank ’n voltydse prediker wat die goeie nuus oor God se koninkryk verkondig, die enigste regering wat duursame vrede op aarde kan bring.
[Lokteks op bladsy 25]
‘My buurvrou is Eisenhower se moeder, het die vrou gesê. ‘Sy is een van Jehovah se Getuies’
[Lokteks op bladsy 26]
“Gaan terug na jou kompanie” het die offisier gesê, “Ek wil nie met die Generaal se moeder deurmekaar raak nie”
[Venster op bladsy 27]
Abilene, Kansas. August-20-’44.
Mr. Richard Boeckel.
35 Garland Drive Eggertsville. 21, New York.
Dear Sir:-
A friend returning from the United Announcers Convention of Jehovah’s witnesses,informs me of meeting you there. I rejoice with you in your privilege of attending such convention.
It has been my good fortune many times in the years gone by to attend these meetings of those faithfully proclaiming the name of Jehovah and his glorious Kingdom which shortly now will pour out its rich blessings over all the earth.
My friend informs me of your desire to have a word from General Eisenhower’s mother whom you have been told is one of the witnesses of Jehovah. I am indeed such and what a glourious privilege it has been in association with those of the present time and with those on back through the annals of Biblical history even to Abel.
Generally I have refused such requests because of my desire to avoid all publicity. However, because you are a person of good will towards Jehovah God and his glorious Theocracy I am very happy to write you.
I have been blessed with seven sons of which five are living, all being very good to their mother and I am constrained to believe are very fine in the eyes of those who have learned to know them.
It was always my desire and my effort to raise my boys in the knowledge of and to reverence their Creator. My prayer is that they all may anchor their hope in the New World, the central feature of which is the Kingdom for which all good people have been praying the past two thousand years.
I feel that Dwight my third son will always strive to do his duty with integrety as he sees such duty. I mention him in particular because of your expressed interest in him.
And so as the mother of General Eisenhower and as a witness of and for the Great Jehovah of Hosts (I have been such the past 49 years) I am pleased to write you and to urge you to faithfulness as a companion of and servant with those who “keep the commandments of God and have the testimony of Jesus”.
There can be no doubt that what is now called the post-war period is the “one hour” mentioned at Revelations chapters 17 and 18. Ten here being a symbol not of just ten nations but rather of the whole number or all of the nations, then if we have a real League of Nations acting efficiently as a super guide to the nations of earth at the close of this war, that should be ample proof.
Surely this portends that very soon the glorious Theocracy, the long promised Kingdom of Jehovah the Great God and of his Son the everlasting King will rule the entire earth and pour out manifold blessings upon all peoples who are of good will towards Him. All others will be removed.
Again may I urge your ever faithfulness to these the “Higher Powers” and to the New World now so very near.
Respectfully yours in hope of and as a fighter for the New World,
Ida E. Eisenhower
[Lokteks op bladsy 28]
ln plaas daarvan om geskiet te word, is ek in hegtenis geneem en aangesê om ’n latrine te grawe
[Lokteks op bladsy 29]
Soms het ek ’n dosyn intekeninge in een barak gekry