Die wetenskap getuig van die akkuraatheid van die Bybel
WEERSPREEK wetenskaplike ontdekkings die Bybel? In antwoord hierop moet ons eerstens daarop wys dat die Bybel nie ’n wetenskapboek is nie. Maar wanneer dit wel wetenskaplike onderwerpe aanroer, weerlê dit mense se gissings en teorieë. Die ontdekking van universele wette het keer op keer die akkuraatheid van die Heilige Skrif en die waaragtigheid van die psalmdigter se volgende woorde in verband met God bevestig: “Die hele inhoud van u woord is waarheid” (Ps. 119:160). Kom ons stel ondersoek in op die gebiede van die sterrekunde, die geneeskunde, plantkunde, anatomie en fisiologie, om te kyk of hierdie wetenskappe werklik die akkuraatheid van die Bybel bevestig.
DIE STERREKUNDE
Dit is alom bekend dat die eerste hoofstukke van Genesis die skyf van spot en buitengewoon skerp aanvalle is. Die vyfde-eeuse Katolieke “kerkvader” en geleerde Augustinus het die bewerings van baie van die Christendom se geestelikes dat Genesis bloot ’n versameling gedigte en legendes is regstreeks weerspreek toe hy gesê het dat Genesis se “verslag nie die soort styl is waar dinge figuurlik gestel word nie, . . . maar van begin tot einde verhaal dit feite wat werklik plaasgevind het, soos in die boek Konings en ander geskiedkundige boeke” (De Genesi ad litteram, VIII, 1, 2). ’n Ondersoek van die eerste hoofstuk van Genesis sal openbaar dat die Bybel kontemporêre begrippe destyds ver voor was.
Lank voor Aristoteles (384-322 v.G.J.), wat geglo het dat die sterre soos spykers in die hemel ingedryf is, het Genesis (1:6-8) die sterrehemel as ’n “uitspansel” (Afrikaanse Bybel, New World Translation) of “firmament” (Douay-vertaling) beskryf. Die woord “firmament” kom van die Latynse woord firmare, wat beteken om vastheid te gee aan, om vas of solied te maak. Hieronymus het hierdie uitdrukking in die Latynse Vulgata gebruik om die Hebreeuse woord raqia te vertaal wat, inteendeel, “uitgestrekte oppervlak” of “uitspansel” beteken. Volgens T. Moreux, voormalige hoof van die Bourges-sterrewag, Frankryk, “word hierdie uitspansel, wat vir ons op hemel neerkom, in die Hebreeuse teks aangedui deur ’n woord wat die (Griekse) Septuaginta, onder die invloed van kosmologiese gedagtes wat destyds geheers het, met stereoma, firmament, vaste gewelf vertaal het. Moses dra glad nie so ’n gedagte oor nie. Die Hebreeuse woord raqia bevat slegs die gedagte van uitgestrektheid of, nog beter, uitspansel.” Die Bybel het dus die uitspansel of atmosfeer bokant ons uiters akkuraat beskryf.
Genesis praat van ligte wat op die aarde skyn “om skeiding te maak tussen die lig en die duisternis” (Gen. 1:14-18). Daardie woorde is in die 16de eeu voor ons Gewone Jaartelling deur Moses neergeskryf. Let op net een van die sonderlinge opvattings wat destyds hieroor bestaan het. Paul Couderc, ’n astronoom aan Parys se Sterrewag, skryf: “Tot die vyfde eeu voor ons gewone jaartelling het manne dit mis gehad oor die fundamentele kwessie van dag en nag. Vir hulle was lig ’n helder damp, terwyl duisternis ’n swart damp was wat saans uit die grond opgestyg het.” Wat ’n teenstelling met die bondige maar wetenskaplik akkurate verklaring wat in die Bybel gemaak word oor die oorsaak van dag en nag op ons planeet!
Die mense wat gelewe het toe die Bybel geskryf is, het eienaardige gedagtes oor die vorm en fondament van die aarde gehad. Volgens antieke Egiptiese kosmologie “is die heelal ’n reghoekige kis, in ’n noord-suid-posisie, soos Egipte. Die aarde is geleë aan die onderkant, as ’n vlak dal met Egipte in die middel. . . . By die vier windstreke het baie hoë pieke die hemel opgehou. Die hemel is ’n plat of effens geboë metaalbedekking met gate. Die sterre hang daaraan soos lampe aan drade.”
Is sulke kinderagtige teorieë eeue later verwerp? Glad nie. Griekse sterrekundige en filosoof Anaximander (sesde eeu v.G.J.) het beweer: “Die Aarde is silindervormig, drie keer so wyd as diep, en slegs die boonste deel word bewoon. Maar hierdie Aarde is geïsoleer in die ruimte, en die hemel is ’n volmaakte sfeer waarin ons silinder, die Aarde, sonder enige steun in die middel geleë is sodat die hemel oral ewe ver daarvandaan is.” ’n Eeu later het Anaxagoras geglo dat die aarde sowel as die maan plat is.
Die Bybel was die wetenskaplike opvattings wat destyds verkondig is, ver voor. In die 15de eeu voor die Gewone Jaartelling het dit gesê dat die Skepper “die aarde ophang oor ’n niks”, en in die agtste Egiptiese opvatting van die heelal eeu v.G.J. het dit gepraat van “die kring van die aarde” (Job 26:7; Jes. 40:22). Is dit nie presies hoe die aarde op jou televisieskerm gelyk het toe die ruimtevaarders dit vanaf die maan afgeneem het nie?
DIE GENEESKUNDE EN PLANTKUNDE
Die Bybel verwys na plante en bome wat in verskeie lande gegroei het. Dit verwys byvoorbeeld akkuraat na die genesingskrag van balsem, wat van verskeie immergroen bome verkry word. In die Franse Encyclopedic Dictionary of the Bible verduidelik C E. Martin: “Klein hoeveelhede mastik [hars] drup vanself uit die boom, maar om meer te verkry, word vertikale snye in die stam gemaak sodat die hars vryelik kan vloei. . . . Dit was bekend daarvoor dat dit pyn verlig en wonde laat genees; balsem van Gilead, ’n bekende salf vir wonde, word deur Jeremia figuurlik gebruik (8:22; 46:11; 51:8); dit word ook vandag spreekwoordelik gebruik.” Talle Romeinse en Griekse geskiedskrywers, soos Plinius en Diodorus van Sicilië, het hierdie balsem gemeld.
Volgens die Bybelverslag het die Hebreeuse profeet Jona tydens die negende eeu v.G.J. na Nineve, die antieke hoofstad van Assirië, gereis. As gevolg van sy sendingwerk ‘het die manne van Nineve God geglo’ (Jona 3:5). Later het hy aan die oostekant van die stad gaan sit en is hy teen die son beskerm deur ’n fleskalbasplant wat oornag opgekom het om vir Jona se hoof skadu te bied (Jona 4:6, 10, 11, NW). Is dit waar dat die fleskalbasplant (Cucurbita lagenaria) so vinnig groei? Die Franse Bible Dictionary, wat onder die redaksie van F. Vigouroux gepubliseer is, sê die volgende: “Dit is bekend dat die kalbasplant baie vinnig in warm lande groei en dat dit gebruik word om die mure van huise en skuilings waarteen dit net soos die wildewingerd klou, met lower te bedek en deur sy groot blare beskerming teen die hitte te verleen. . . . In die simboliese skilderye wat in die katakombes aangetref word en wat gebaseer is op die verhaal van Jona, is dit altyd hierdie plant wat afgebeeld word.” Dit kom dus mooi ooreen met die feit dat ’n kalbasplant wat normaalweg vinnig groei deur Jehovah se mag in een nag wonderdadig opgeskiet het om Jona teen die warm strale van die son te beskerm.
Waar dit die lot van volke beskryf wat teen God se soewereiniteit gekant is, sê die Bybel dat hulle “soos ’n dwarrelwind van distels [Hebreeus, galgal] voor ’n stormwind” sal wees (Jes. 17:13, NW). Die Encyclopœdia Judaica sê: “Die Bybelse galgal het ’n unieke manier om sy saad te versprei. Aan die einde van die somer breek dit op die grond af en word sy stekelrige blare, wat soos seile lyk, deur die wind opgeskep sodat die sade verstrooi word.” Nogah Hareuveni, skrywer van die boekie met die titel “Ecologie dans la Bible” (Ekologie in die Bybel), verwys na die galgal-distel en skryf: “Die plant met hierdie naam begin in Maart vinnig groei. . . . In ’n paar weke word hierdie oënskynlik onskuldige galgal ’n stekelrige monster met blare en blomme wat oortrek is met skerp dorings. In die somer begin die plant verdroog, maar dit lyk so stewig gewortel en dreigend dat dit oënskynlik onmoontlik is om daarvan ontslae te raak. Maar wanneer die galgal ten volle ontwikkel het, gebeur iets eienaardigs onder die grond tussen die stingel en die wortels: ’n selskeiding vind plaas tussen die stingel en die wortels, en slegs die ligste somerbries is nodig om die hele plant weg te waai.” Net soos hierdie distel, wat vreesinboesemend lyk, maar wat so maklik deur die wind weggewaai kan word, sal diegene wat goddelike soewereiniteit teëstaan, weggevee word. Die Bybelse vergelyking ‘soos ’n distel’ is akkuraat.
ANATOMIE EN FISIOLOGIE
Indien die Bybel van die mens se Skepper af kom, behoort ons oortuigende bewys in die bladsye daarvan te vind dat dit nie die produk van menslike wysheid is nie. Soos ons reeds gesien het, het volke van die ou tyd ’n paar baie sonderlinge gedagtes oor die mens se oorsprong gehad. Mediese tekste uit eertydse Egipte openbaar eweneens groot onkunde op die gebied van die geneeskunde. Alhoewel Moses ‘opgelei is in al die wysheid van die Egiptenaars’, het hy geskryf dat die mens, nie uit Ra se trane nie, maar “uit die stof van die aarde” gemaak is (Gen. 2:7; Hand. 7:22). Het die hedendaagse mediese wetenskap die feit bevestig dat die mens uit die minerale elemente van die aarde se grond gemaak is?
In hulle gesamentlike werk Les oligoéléments (Spoorelemente), sê Andrée Goudot en Didier Bertrand, ’n lid van die Franse Landbou-akademie, vir ons: “Benewens koolstof, suurstof, waterstof, stikstof, fosfor, kalsium, swawel, chloor, magnesium, kalium en natrium in al die lewende organismes wat ons bestudeer het, kan die teenwoordigheid van die volgende elemente as ’n bewese feit beskou word: ses nie-metale: fluoor, broom, jodium, boor, arseen en silikon; ’n oorgangselement: vanadium; en dertien metale: yster, sink, mangaan, koper, nikkel, kobalt, litium, rubidium, sesium, aluminium, titaan, chroom, molibdeen en waarskynlik ook tin, lood, silwer, gallium, stronsium en barium.” Al hierdie stowwe kan in die aarde se kors aangetref word, en dit bewys dat die mens waarlik uit die grond gemaak is, soos die Bybel sê.
Eeue lank het die Bybel gesê dat die bloed van ’n skepsel sy lewe of siel verteenwoordig. “Die siel van alle vlees is sy bloed” (Lev. 17:14). Kan hierdie standpunt medies verantwoord word? Dit is ’n wetenskaplike feit dat bloed onontbeerlik vir die lewensprosesse is. Die wetenskap het daarbenewens heel onlangs ontdek dat elke persoon se bloed spesifiek en uniek is. Léone Bourdel, professor aan die Franse Skool vir Gevorderde Antropobiologie, skryf soos volg: “Die genetiese kombinasies by voortplanting is van so ’n aard dat ons bloed uniek is en nooit identies is aan dié van ons ouers of dié van ons kinders nie. En ons maak ons lewe lank hierdie selfde bloed. Trouens, ongeag hoeveel oortappings ons ontvang, ons sal nooit die bloed aanneem wat die skenker vir ons gegee het nie; dit is altyd ons bloed wat die oorhand kry en wat voortdurend en identies hernieu word.”
REDES OM DIE BYBEL TE GLO
Die doel van hierdie bespreking oor die vraag “Moet jy die Bybel glo?” was, om Aldous Huxley, wat vroeër aangehaal is, te parafraseer, ‘om goeie redes aan te voer vir die dinge wat ’n mens om ander goeie redes glo’.
Eerstens, ons het gesien dat die Bybel self ons nie vra om blinde geloof te hê nie. Dit nooi ons om ons “denkvermoë” te gebruik en om ‘alle dinge te beproef’ (Rom. 12:1, 2, NW; 1 Thess. 5:21). Ons het gesien dat argeologie die geskiedkundige akkuraatheid van die Bybel staaf. Met behulp van ’n paar voorbeelde is daar ook getoon dat die Skriftuurlike verslag selfs tot in die fynste besonderhede wetenskaplik betroubaar is.
Dit is “goeie redes” om die Bybel te glo. Maar daar is “ander goeie redes”—trouens, selfs beter redes, want dit is heeltemal duidelik dat geloof in God en vertroue op sy Woord nie bloot van argeologiese ontdekkings en wetenskaplike ondersoeke kan afhang nie. Benewens sy intrinsieke waarde as ’n morele gids, is die Bybel die enigste boek wat vir ons die openbaring van God se wil en voorneme vir die mensdom gee. Ja, hierdie goddelik geïnspireerde Boek der Boeke gee vir ons ware hoop vir die toekoms van ons aarde en die mensdom daarop, soos die slotartikel van hierdie reeks sal toon.
[Prent op bladsy 11]
Egiptiese opvatting van die heelal
[Prent op bladsy 12]
“Galgal”-distel