Die brullende leeu
DIE gebrul van ’n leeu is ’n ontsagwekkende geluid. Dit kan agt kilometer ver gehoor word. Daar is ’n tweevoudige rede vir hierdie harde geluid. Dit is ’n manier om te kommunikeer met lede van die trop wat ver daarvandaan is en dien ook as ’n proklamasie van gebiedsregte. In stryd met die gewilde opvatting brul die leeu nie gewoonlik wanneer hy wilde diere jag nie. Wanneer hy egter vee in ’n kamp as prooi begeer, sal ’n leeu brul. Dit word gedoen met die hoop dat die vreeswekkende geluid die prooi sal laat skrik sodat hulle deur die beskermende heining bars en hulself blootstel.
Dit herinner ons aan die woorde van die apostel Petrus. Hy het aan mede-Christene geskryf: “Julle teëstander, die duiwel, loop rond soos ’n brullende leeu en soek wie hy kan verslind” (1 Pet. 5:8). As Christelike “skape”, veilig in die beskerming wat voorsien is deur die “goeie herder”, Christus Jesus, kan ons gerus aandag skenk aan Petrus se woorde (Joh. 10:14, 15). “Wees nugter en waaksaam”, sê die apostel, sodat die dreigende gebrul van die Duiwel party nie paniekbevange maak en na ’n gebied van geestelike gevaar laat vlug nie.