Waarom doen hulle dit?
ELKE jaar vergader derduisende Getuies van Jehovah regoor die wêreld vir streekbyeenkomste. Daar geniet hulle mekaar se geselskap en hoor hulle ’n uitstekende program van Bybelonderrig. Party doen groot moeite om hierdie byeenkomste by te woon. In Malawi het ’n egpaar in hulle middel-sestigerjare byvoorbeeld verlede jaar saam met hulle seun en sy vrou en baba 80 kilometer per fiets gereis om ’n byeenkoms by te woon. Hulle het hulle dorpie sesuur die oggend verlaat en 15 uur later by die byeenkomsterrein aangekom.
In Mosambiek het ’n groep drie dae per fiets gereis om by ’n byeenkoms te kom. Terwyl hulle een aand in die ope lug gekampeer het, het hulle gehoor hoe leeus naby hulle brul. Hoewel hulle brandhout in die rigting van die diere gegooi het, het die leeus tot dagbreek daar gebly. ’n Ander Getuie wat na dieselfde byeenkoms onderweg was, het ’n leeu van aangesig tot aangesig in die pad ontmoet. Hy het doodstil gestaan totdat die leeu weggestap het. By die byeenkoms het hierdie Getuies ewe opgewek vertel hoe hulle “uit die leeu se bek verlos” is.—2 Timoteus 4:17.
Talle Getuies van Jehovah doen groot moeite om byeenkomste of selfs weeklikse gemeentelike vergaderinge vir aanbidding by te woon. Waarom? Die volgende artikels sal jou help om te verstaan waarom dit so belangrik is om saam te vergader.