Is jy “vurig van gees”?
“WEES nie traag in die ywer nie; wees vurig van gees; dien die Here.” Dit is wat die Christenapostel Paulus geskryf het (Rom. 12:11). Dit is belangrik dat diegene wat aan God toegewy is, hom ywerig dien, byvoorbeeld wanneer hulle die “goeie nuus” van die Koninkryk verkondig (Matt. 24:14, NW). Die ywerige verkondiging van daardie boodskap kan inderdaad onmiddellik lewens red. Dit blyk duidelik uit die volgende voorval in die Filippyne:
“In die suidelike dele van die land is rebelle baie bedrywig, en Jehovah se Getuies het as gevolg daarvan in moeilike situasies beland. Een Getuie in daardie gebied het gevind dat sy ywer om by elke geleentheid te preek in werklikheid sy lewe gered het. Hierdie Getuie was ’n kringopsiener en hy was op pad van een gemeente om die volgende een in sy kring te dien. Hy moes per lanza (’n kleinerige boot) reis, en terwyl hy gewag het dat die vaartuig moet vertrek, het hy vir die man langs hom op die boot getuig. Die eienaar van die lanza was woedend. Hy wou nie hê dat sy boot omskep moes word in ’n ‘kerk’ vir ’n ander geloof nie, en hy het die Getuie luidrugtig beveel om sy boot te verlaat. . . . die Getuie het net gedwee uit die boot geklim en vir die volgende een gewag.
“Op die oop see het hulle [die kringopsiener en die ander passasiers op die tweede boot] die eerste vaartuig gesien. Almal aan boord was dood, onder andere die eienaar wat hom uitgeskel het. Die rebellegroep het skynbaar ’n paar dae tevore vir die eienaar van die lanza gevra om hulle lede te vervoer, en hy het geweier. Nou het hulle wraak geneem. Die kringopsiener se informele getuieniswerk het dus in werklikheid sy lewe gered.”
Indien ’n persoon Jehovah met ’n vurige ywer dien, kan dit op meer as een manier lewensreddend wees. Dit kan meebring dat ’n persoon se lewe feitlik onmiddellik gered word. Maar dit kan veral lei tot die latere redding van die Koninkryksverkondiger en van ’n waarlik waarderende hoorder (1 Tim. 4:13-16). Het jy die “goeie nuus” van harte aangeneem? Verkondig jy dan die Bybel se boodskap “vurig van gees” aan ander?