Bybelwaarheid toon die weg na veiligheid
Verslag uit die Dominikaanse Republiek
SOWAT 960 kilometer suidoos van Florida, tussen die eilande Kuba en Porto Rico, lê die Karibiese eiland Hispaniola. Die Dominikaanse Republiek beslaan die oostelike twee derdes van hierdie eiland. Dit is ’n waterryke land sodat dit goed is vir die verbouing van gewasse. Produkte sluit suikerriet, koffie en kakao in, asook vrugte soos papajas, piesangs, mango’s en pynappels.
Die mense van die Dominikaanse Republiek is vriendelik en geniet lewendige gesprekke. Hulle maak gebare met hulle hande, gesig en selfs die hele liggaam. Baie Dominikaners is Protestante, maar die meeste is Rooms-Katolieke, soos dit die geval was met die Europese setlaars wat gedurende die 15de eeu van Spanje af na die eiland Hispaniola gekom het.
Hoe sou die hartlike en nederige mense van hierdie Karibiese land op Bybelwaarheid reageer? Op 1 April 1945 het sendelinge van die Wagtoring-Bybelskool Gilead begin uitvind. Hulle het verblyf verkry in ’n hotel in die hartjie van Santo Domingo en dieselfde dag gaan soek na ’n dokter wat gesê het dat hy belangstel in ’n Bybelstudie en wie se adres hulle gekry het terwyl hulle nog in New York gewoon het. Hulle het die dokter gevind en die Skrif saam met hom begin bestudeer. ’n Buurman het aan hierdie besprekings deelgeneem. Gevolglik was Juan Pedro Green en Moisés Rollins die eerste Dominikaners wat getuies van Jehovah geword het.
Die werk om Bybelwaarheid aan die Dominikaners te verkondig, is nie tot Santo Domingo beperk nie, maar het gou na die binneland versprei. Die sendelinge het noordwaarts na Santiago, die tweede grootste stad in die republiek, gewerk. Toe het hulle verder noord gegaan tot by Porto Plata aan die kus. In hierdie plekke het baie dit geniet om te luister na Bybelwaarhede wat hulle nog nooit tevore in die kerk gehoor het nie.
Kort na die aanvang van hulle predikingsbedrywighede het Jehovah se Getuies in die Dominikaanse Republiek ’n besoek van N. H. Knorr en F. W. Franz, die destydse president en onderpresident van die Wagtoringgenootskap, ontvang. As gevolg van daardie besoek is meer sendelinge na die land gestuur. Eindelik is sendinghuise in Santiago, Porto Plata, San Francisco de Macorís, La Romana en San Pedro de Macorís opgerig.
Teen die einde van 1946 was daar 28 Getuies in die republiek. Aangesien die meeste mense aldaar nie eens basiese Bybelleerstellings geken het nie, het die boodskap wat hierdie klein groepie verkondig het vreemd geklink. Die Getuies het aanvanklik stadig aangewas. Trouens, hulle werk het groot teenstand ondervind kort nadat dit begin het. Maar ‘in tye van benoudheid het Jehovah hulle rotsvesting geword’, net soos die psalmis Dawid gesê het.—Ps. 9:10.
Volgelinge van Jesus Christus bly neutraal ten opsigte van menslike politieke aangeleenthede en botsings. Om daardie rede verwag hulle om in party plekke vervolg te word (Joh. 15:18-20). Dit was in 1948 dat Jehovah se Getuies in die Dominikaanse Republiek teenstand begin ondervind het. Die land was destyds onder die bewind van diktator Rafael Trujillo. Gedurende 1948 het ’n vermaarde lid van Trujillo se Partido Dominicano (Dominikaanse Party) die Bybelse boodskap wat deur Jehovah se Getuies verkondig word, aanvaar en belangrike veranderinge in sy lewe aangebring. Hy het begin om die Bybel se boodskap moedig aan ander in sy tuisdorp San Cristobal te verkondig. Regeringsamptenare was ontevrede oor die mense se belangstelling in daardie boodskap. ’n Katolieke priester en plaaslike skrywers het hulle teen die bedrywighede van Jehovah se Getuies uitgespreek. In Junie 1950 is die Getuies amptelik verbied. Die verbod is in 1956 opgehef, maar weer ’n jaar later van krag gemaak. Dit is eers in 1960 opgehef.
Diens tydens die verbod
Het die verbod daarin geslaag om ’n einde te maak aan Jehovah se Getuies se verkondiging van Bybelwaarheid? Inteendeel, hierdie werk het gefloreer. Soos reeds gemeld is, was daar in 1946 28 Getuies in die Dominikaanse Republiek. Toe die verbod in 1960 opgehef is, het die aantal al tot 460 aangegroei.
Die jare 1961 en 1962 was jare van herorganisasie. Die Wagtoringgenootskap het gereël dat reisende verteenwoordigers die gemeentes besoek en versterk. In 1961 is 17 voltydse evangeliedienaars na gebiede van die republiek gestuur waar daar nog nooit gepreek was nie. Hierdie pogings het vrugte afgewerp, en teen 1963 het meer as 1 000 Dominikaners daadwerklike waardering getoon vir die psalmis se woorde: “U, o HERE, alleen laat my in veiligheid woon.”—Ps. 4:9.
Na die buitedistrikte
Teen 1973 was Bybelopvoedkundige werk in al die stede en dorpe van hierdie land aan die gang. In Desember van daardie jaar het die Genootskap reëlings getref dat daar omgesien word na die geestelike behoeftes van mense in afgeleë buitedistrikte. Gemeentes het briewe ontvang wat persone genooi het om twee maande lank in sulke buitedistrikte te gaan preek. Negentien “gewone pioniers” (voltydse verkondigers) het hulle vir hierdie spesiale diens aangebied. Tussen Desember 1973 en Januarie 1977 is ses groepe georganiseer en na plekke gestuur waar Jehovah se Getuies vantevore nog nooit of selde gepreek het. Hoe het hierdie vrywilligers te werk gegaan? Een van hulle vertel:
“Ons is eers na ’n sentrale plek in die gebied waar ons moes preek. Daar het ons ’n ou ‘kombuis’ (’n grasdakhutjie wat buitekant huise gebou word) gehuur. Ons het dit ingerig met ’n bedjie, ’n kookplaat, ’n drukkastrol en soortgelyke toerusting. Ons het elke dag vroeg opgestaan, ’n groot ontbyt genuttig en onsself toegerus met ’n klomp lektuur wat basiese Bybelleerstellings verduidelik. Soggens het ons swaar gedra aan al die lektuur. Maar dit het nie lank geduur nie. Die mense was verheug om die boodskap van die Woord van God te hoor. Namate ons gepreek het, het die kartonne publikasies ligter geword.
“Nadat ons ’n dag lank die Bybel se boodskap verkondig het en lektuur by mense gelaat het, het ons die volgende dag herbesoeke gedoen by diegene wat belangstelling getoon het. Omdat die plaasmense min geld gehad het, het ons Bybelpublikasies verruil vir hoenders, eiers en vrugte. Danksy Jehovah het ons nooit honger gely nie.”
Die reaksie van die mense in hierdie buitegebiede was merkwaardig. Baie het vir die eerste keer in hulle lewe gehoor hoe iemand vir hulle uit die Bybel lees. In party gevalle het godsdiensleiers vir die mense vertel dat Jehovah die Duiwel is. Hoe verbaas was hulle om Bybeltekste soos die volgende te lees: “Sodat hulle kan weet dat U, wie se Naam [Jehovah] is, alleen die Allerhoogste is oor die hele aarde.” “[Jah Jehovah] is my krag en my psalm, en Hy het my tot heil geword”! (Ps. 83:19; Jes. 12:2, vgl. NW). In party plekke was die belangstelling so groot dat openbare vergaderinge gereël is. Een van hierdie vergaderinge is deur 68 persone bygewoon. Hulle wou so graag meer omtrent God se Woord te wete kom dat hulle aangebied het om ’n huis te huur om “’n kerk in te rig”. Hulle wou waarlik geestelike veiligheid hê. “Party het gehuil toe ons vertrek”, sê een van die pioniers. Predikingsveldtogte word vir hierdie plekke beplan.
By een geleentheid het Jesus vir sy hoorders gesê: “Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is, en Ek sal julle rus gee” (Matt. 11:28). Baie persone in die Dominikaanse Republiek vind daardie rus, asook geestelike veiligheid, terwyl Jehovah se Getuies voortgaan om die “goeie nuus” in hierdie land te verkondig.—Matt. 24:14, NW.