Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w80 10/15 bl. 8-11
  • God se Woord kan jou onderskraag

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • God se Woord kan jou onderskraag
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1980
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Tyd en inspanning nodig
  • Lewende voorbeelde
  • God se Woord is “lewend en kragtig”
  • Bly na aan Jehovah se organisasie
    Georganiseer om Jehovah se wil te doen
  • Hoe moet ons beproewinge beskou?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2002
  • Vrae van lesers
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe)—2017
  • Hou ondanks beproewinge vas aan jou geloof!
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1997
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1980
w80 10/15 bl. 8-11

God se Woord kan jou onderskraag

’N SNYBLOM kan slegs ’n paar dae hou voordat dit verwelk en doodgaan. Maar ’n boom wat in ’n waterryke gebied geplant is, kan groot en sterk word en honderde of selfs duisende jare lank lewe. Dit is interessant dat die Bybel die persoon wie se ‘behae in die wet van Jehovah is’ vergelyk met “’n boom wat geplant is by waterstrome, wat sy vrugte gee op sy tyd en waarvan die blare nie verwelk nie”.—Ps. 1:1-3.

’n Boom met ’n goeie watervoorraad kan groot word en vrugbaar bly. Net so kan ’n persoon wat gereeld die kosbare lewensonderhoudende waarhede van God se Woord deur ernstige studie en bepeinsing indrink geestelik sterk word en aanhou om vrug te dra.

Net soos water noodsaaklik is vir die onderhouding van plant- sowel as dierelewe, is die waarheid in God se Woord noodsaaklik vir die onderhouding van geestelike lewe. Jehovah se knegte is vandag gewikkel in ’n stryd op lewe en dood. Die apostel Paulus het reguit gesê: “Ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen . . . die bose geeste in die lug” (Ef. 6:12). Christene moet dus ’n geestelike stryd voer teen magtige, bomenslike skepsele. Om Jehovah se knegte se verhouding met God te vernietig, maak hierdie bose geeste gebruik van gewelddadige frontaanvalle soos vervolging en van subtiele druk, soos versoekings om onsedelik en materialisties te wees.

In die lig van ons vyande se bomenslike krag en geslepenheid, het ons werklik geen hoop om hulle aanvalle in ons eie krag te oorleef nie. Maar as God se knegte kan ons staatmaak op die krag wat Jehovah gee. Solank as wat ons ons volkome vertroue in die allerhoogste God stel, kan ons die sekerheid hê wat die apostel Paulus gehad het. Hy het gesê: “Ek is tot alles in staat deur Hom wat my krag gee.”—Filip. 4:13, NAB.

Paulus se verklaring was nie ’n stukkie hoogdrawende retoriek nie. Hy het geskryf met ’n oortuiging wat voortgespruit het uit jare se persoonlike ervaring. Volgens sy eie getuienis was die apostel ‘dikwels in gevangenisse, het hy baie slae gekry en was hy dikwels in doodsgevaar’ (2 Kor. 11:23-27). Maar deur die krag wat hy van God ontvang het, was hy in staat om getrou met godvrugtige werksaamhede voort te gaan totdat vyande hom om die lewe gebring het.

Maar om geestelike krag te verkry en die vermoë te hê om die toekoms as ’n handhawer van onkreukbaarheid tegemoet te gaan, moet ’n Christen ’n deeglike kennis van God se Woord hê. In die Skrif het ons liefdevolle hemelse Vader vir ons ’n onmisbare rigsnoer vir ’n gelukkige lewe en ’n onoortreflike bron van geestelike krag gegee. God se Seun het beslis die lewensonderhoudende waarde van sy Vader se Woord besef, soos blyk uit die feit dat hy dit aangehaal het en in antwoord op een van Satan se versoekings gesê het: “Daar is geskrywe: Die mens sal nie van brood alleen lewe nie, maar van elke woord wat deur die mond van God uitgaan.”—Matt. 4:4.

Tyd en inspanning nodig

Ons moet egter nie verwag dat God ons op wonderdadige wyse kennis van die Bybel sal gee nie. Om ’n goeie begrip van God se Woord te hê, moet ons tyd daaraan afstaan en ons inspan om die Bybel te bestudeer en te peins oor wat ons daaruit leer.

Weens menslike onvolmaaktheid het baie min van ons weliswaar ’n sogenaamde ‘fotografiese geheue’ wat ons in staat stel om alles te onthou wat ons studeer. Maar indien ons ’n ernstige poging aangewend het om die Bybel te bestudeer, kan ons op Jehovah se gees staatmaak om ons te herinner aan Skriftuurlike gedagtes wat die nodige leiding en bemoediging sal voorsien om verskeie beproewings te verduur en aan die informasie wat nodig is om ons geloof te verdedig. Jesus het sy dissipels verseker: “Wanneer hulle jul oorlewer, moenie julle kwel oor hoe of wat julle sal spreek nie, want dit sal julle in daardie uur gegee word wat julle moet spreek: want dit is nie julle wat spreek nie, maar die Gees van julle Vader wat in julle spreek.”—Matt. 10:19, 20.

Dit is natuurlik nie altyd die geval dat ons getuienis voor heersers moet aflê of voor diegene wat aandring op ’n verduideliking van ons geloof en Christelike bedrywighede nie. Dit is heel dikwels ’n saak van ontberings en vervolging, selfs lang tronkvonnisse, wat verduur moet word. Kan God se Woord ons onder sulke omstandighede onderskraag? Beslis.

Lewende voorbeelde

Talle van God se knegte kan getuig oor die wonderlike onderskragingskrag van God se Woord. Beskou byvoorbeeld ware Christene in China, waarvan party baie ontberings in tronke en arbeidskampe verduur het. Hulle het baie jare lank geen eksemplare van die Bybel gehad en ook geen geleentheid om met mede-Christene te assosieer nie. Die dinge wat hulle egter voor hulle gevangesetting uit God se Woord geleer het, het hulle gedurende die jare van beproewing onderskraag.

Een van hierdie persone was Stanley Jones, wat in 1958 in hegtenis geneem is en ’n tronkvonnis van sewe jaar opgelê is. Hoewel hy nie ’n Bybel gehad het nie, was hy in staat om baie tekste te herroep en het hy baie vertroosting en krag daaruit geput wanneer hy oor hulle gepeins het. Een teks wat hom baie vertroos het, was Romeine 12:12, wat lui: “Verbly julle in die hoop; wees geduldig in die verdrukking; volhard in die gebed.”

Nog ’n voorbeeld is dié van Harold King, wat in hegtenis geneem is en ’n tronkvonnis van vyf jaar in China opgelê is. Broer King het God se Woord 26 jaar lank bestudeer. Trouens, hy het die Bybel 22 jaar lank voortdurend tydens sy voltydse predikingswerk gebruik. Dit het hom gehelp om ’n goeie begrip van God se Woord te verkry. Toe hy hom in die tronk bevind waar hy afgesny was van al sy geestelike broers, het hy tot Jehovah gebid oor die situasie en gevra wanneer en hoe hierdie proewing sou eindig. Jesus se woorde in Mattheüs 6:31-34 het by hom opgekom, en sy benoudheid het verdwyn. Dit was asof Jehovah vir hom gesê het: ‘Lewe van dag tot dag en moet jou nie oor more bekommer nie. Ek sal goed vir jou sorg, net soos in die verlede.’ Broer King het ook gedink aan God se profeet Jeremia wat eenkeer in ’n modderput neergelaat is en klaarblyklik daar gelos is om te sterf (Jer. 38:6). Jeremia is egter uit daardie oënskynlik hopelose situasie verlos. Toe hy nagedink het oor hierdie eertydse voorbeeld van getrouheid, was Harold King seker dat Jehovah hom mettertyd sou verlos sodat hy kon terugkeer na sy broers en sy diens in vryheid kon voortsit.

Harold King het die onderskragingskrag van God se Woord verder benut deur soveel tekste moontlik te probeer onthou, net soos Stanley Jones ook gedoen het. Sou hierdie twee Christene baie tekste, wat hulle geestelik kon onderskraag, kon herroep het indien hulle die Bybel tevore nie ernstig en naarstig bestudeer het nie?

Dan is daar die voorbeeld van Nancy Yuen, wat 20 jaar in tronke en arbeidskampe in China deurgebring het. Tydens haar lang aanhouding was sy nie alleen van haar gesin geskei nie, maar is daar ook voortdurend druk op haar uitgeoefen om haar geloof te verloën. Sy was egter in staat om die lang, moeilike beproewing te oorleef deur op Jehovah staat te maak vir krag en deur die onderskragingskrag van sy Woord te benut. Met behulp van God se gees kon sy talle tekste herroep wat gelyk het of hulle presies was wat sy onder verskillende omstandighede nodig gehad het. Sy het dit soos volg gestel: “Daar het altyd gepaste tekste by my opgekom om my die regte leiding en die krag te gee om elke situasie die hoof te bied.”

Toe suster Yuen byvoorbeeld met geweld en mishandeling gedreig is, het sy Jehovah se vertroostende woorde aan die profeet Esegiël onthou: “Wees nie vir hulle of vir hulle woorde bevrees nie” (Eseg. 2:6). Toe sy baie na haar gesin verlang het, het hierdie woorde van Jesus by haar opgekom: “Wie vader of moeder bo My liefhet, is My nie waardig nie; en wie seun of dogter bo My liefhet, is My nie waardig nie. En wie sy kruis nie neem en agter My volg nie, is My nie waardig nie” (Matt. 10:37, 38). Dit het haar met hernieude vasbeslotenheid vervul om haar onkreukbaarheid te handhaaf, ongeag wat dit haar sou kos.

Wanneer suster Yuen moedswillig verneder en mishandel is, het sy onthou hoe Jesus se apostels gereageer het nadat hulle geslaan is omdat hulle die “goeie nuus” verkondig het. Sy het in gedagte gehou dat hulle “van die Raad af weggegaan [het], bly dat hulle waardig geag was om vir [Christus se] Naam oneer te ly” (Hand. 5:40-42). Sy kon die smaad dus blymoedig verduur. Wanneer sy gebrek gely het, het sy onthou dat ‘die mens nie van brood alleen lewe nie’.—Luk. 4:4.

Suster Yuen het gedink aan talle getroue knegte van Jehovah wat hulle onkreukbaarheid aan God tydens ontberings en beproewings gehandhaaf het. Sy het baie troos geput uit die goeie voorbeelde van Job en Daniel, aangesien sy gemeen het dat sy soortgelyke dinge as daardie getroue manne van die ou tyd ondervind het. Die allergrootste voorbeeld, die van Christus Jesus, was natuurlik ’n voortdurende bron van bemoediging.

In talle ander gevalle het God se hedendaagse knegte in verskillende dele van die wêreld lang, moeilike beproewings van hulle geloof verduur. Hierdie Christene, wat oor beproewings geseëvier het, is gewone manne en vroue soos ons almal. Maar hulle volkome vertroue op God het hulle in staat gestel om verskriklike ontberings te verduur. Dit is inderdaad so dat ‘die krag wat alles oortref van God kom, nie van ons nie’.—2 Kor. 4:7, NAB.

God se Woord is “lewend en kragtig”

Daar word weliswaar nie van al Jehovah se aanbidders verwag om dieselfde moeilike beproewings, soos gevangesetting weens hulle geloof, te verduur nie. Maar al God se knegte moet beproewings van die een of ander aard ondervind sodat hulle geloof deeglik beproef kan word. Die beproewings kan kom in die vorm van teenstand deur familielede, versoekings om onsedelik te wees, druk deur metgeselle om ’n onskriftuurlike weg in te slaan, sorge van die lewe, swak gesondheid, verskeie persoonlike probleme, ensovoorts. Maar ongeag hoe moeilik die beproewings is, ons kan daarvan seker wees dat die vertroosting en krag wat ons uit God se Woord kan put vir ons van onskatbare hulp sal wees in ons tyd van nood en ons in staat sal stel om vas te staan en ons geloof in God te behou.—Rom. 15:4.

Duisende van Jehovah se aanbidders kan getuig van die onderskragingskrag van sy Woord. Hulle is in staat gestel om jare lank dag na dag teenstand deur familielede te verduur. Dit is vir hulle moontlik om goeie Christelike gedrag te handhaaf in ’n wêreld wat al hoe onsedeliker en wetteloser word. Hulle het vaste geloof getoon ondanks spot en veragting van ’n samelewing sonder geloof. Hierdie ware, lewende voorbeelde toon dat God se Woord “lewend en kragtig” is (Hebr. 4:12). Dit kan vergelyk word met ’n swaard wat gebruik word om aan te val sowel as om te verdedig. ’n Swaard is egter nie veel werd in die hand van ’n indiwidu wat nooit geleer is om dit te gebruik nie. God se Woord het dus min waarde vir ’n persoon met ’n baie beperkte kennis daarvan en wat nie weet hoe om dit in sy lewe toe te pas nie.—Ef. 6:17.

God se Woord is die produk van Jehovah se heilige gees, die sterkste krag in die heelal. Vir ’n behoorlike begrip van hierdie Woord, moet ons dit biddend met behulp van God se gees en saam met die gemeente van sy volk bestudeer (Matt. 24:45-47; Hand. 8:30-35; 1 Kor. 2:10). Alhoewel hierdie wêreld ’n tydperk van ongeëwenaarde beroering en moeilikheid beleef, iets wat baie beproewende toestande veroorsaak, kan ons krag uit die Skrif put. Dit is inderdaad nou die tyd om God se Woord naarstiglik te bestudeer om ten volle baat te vind by die wonderlike onderskragingskrag daarvan.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel