Die “blye tyding” verskaf vreugde in Sentraal-Afrika
‘JULLE sal my getuies wees tot aan die uiterste van die aarde’ was van die verrese Jesus Christus se laaste woorde voor sy hemelvaart. Hoewel Sentraal-Afrika vir baie ’n afgeleë gebied is wat “aan die uiterste van die aarde” geleë is, het dit nie verhoed dat die waarheid van God se Woord of die boodskap oor sy koninkryk na die kleinste en mees afgeleë statte aldaar uitgedra word nie.—Hand. 1:8.
In 1947 het belangstellende persone uit hulle eie versoek dat die Wagtoringgenootskap Bybellektuur aan hulle moet stuur. Sonder enige regstreekse kontak met Jehovah se Getuies het hulle vergader om die publikasies wat deur die pos ontvang is te lees en te bespreek. Aanvanklik het slegs manne vergader. Maar eerlank het hulle besef dat hulle vrouens en kinders dit ook moes bywoon. Hulle het dus die Franse materiaal mondelings in die plaaslike taal vertaal. Toe hulle leer dat doop ’n Christelike vereiste is, het hierdie groep ’n doopplegtigheid in 1949 gereël. Aangesien geeneen van hulle tevore gedoop is nie, het hulle een gekies om eerste gedoop te word. Daarna het hy die ander gedoop. Hoewel hulle sekere Bybelbeginsels nie begryp het nie, het hulle merkwaardige ywer aan die dag gelê.
Hulle godsdiensvyande het dit waargeneem. In 1950 is die invoer en verspreiding van alle lektuur van die Wagtoringgenootskap verbied. Toe die koloniale bewind teen die einde van die vyftigerjare geëindig het, is Jehovah se Getuies egter wettig erken en die reg gegee om Bybellektuur in te voer. Dit sowel as die koms van sendelinge het die Koninkrykspredikingswerk ’n stoot gegee.
’n Geloof wat nie die dode vrees nie
Sommer gou het die mense, selfs die in afgeleë statte, geleer van ’n geloof wie se lede nie die dode vrees nie (Pred. 9:5, 10; Eseg. 18:4). Eeue lank al lewe die mense van Sentraal-Afrika in vrees vir die dode. Trouens, ’n groot deel van hulle lewe word gebou om die dood en gebruike in verband met die dode. Offerandes word gebring om afgestorwenes te paai, en voedsel moet uitgesit word vir die geeste. Gevolglik is die toestand van die dode ’n onderwerp wat dikwels tydens die predikingswerk van Jehovah se Getuies bespreek word.
Bybelwaarheid het baie se oë geopen. Een man het byvoorbeeld beweer dat sy oorlede tante hom snags gereeld besoek het. Toe daar vir hom gevra is wat sy wou hê, het hy gesê: ‘Dat ’n offer vir haar op die oewer van die rivier gebring moet word.’ En wat sou gebeur indien die offer nie gebring is nie? Sy het hom met die dood gedreig. Toe sy nog gelewe het, was sy tante ’n baie liefdevolle persoon wat hom van kleins af grootgemaak het. Maar na haar dood het sy glo soos ’n dreigende tiran opgetree. Kon dit werklik dieselfde persoon wees? Met behulp van logika en die gebruik van die Skrif is hierdie man en ander soos hy bevry van die vrees vir die dode. Hierdie persone het geleer dat die gesigte, stemme en gedaantes die werk van gevalle engele, demone of duiwels, is.—Vergelyk 2 Korinthiërs 11:3, 14; Efesiërs 6:12; Openbaring 16:14.
Getroue gehoorsaamheid aan Bybelleerstellings bring nietemin talle moeilike beproewings mee. Nadat ’n familielid se lyk begrawe is, kom die familie by die huis byeen waar ’n lykwaak gehou word en doen hulle dinge wat die gees van die afgestorwene dan glo bly maak. Daar word gewoonlik wild gedans. Indien ’n persoon aan sulke gebruike sou meedoen, sou dit ’n openlike erkenning wees dat hy aan onskriftuurlike leerstellings oor die dode glo. Dit is iets wat ’n ware Christen eenvoudig nie kan doen nie. Maar hoe word onthouding beskou? Dit word beskou as ’n openbare erkenning dat ’n mens verantwoordelik is vir die dood van die afgestorwene. Wat ’n toets is dit tog vir Jehovah se Getuies om deur hulle familielede daarvan beskuldig te word dat hulle moordenaars is, selfs al besef almal dat so ’n aantyging heeltemal vals en belaglik is!
Maar daar was nog iets wat baie verbaas het. Jehovah se Getuies handhaaf die standaard wat in die Christelike Griekse Skrifte uiteengesit word vir die huwelik. Die Katolieke en Protestantse sendelinge sien die gebruik om bykomstige vroue te neem deur die vingers. Weens die hoë kindersterftesyfer beskou die mense in Sentraal-Afrika baie kinders as ’n vorm van sekuriteit. As ’n persoon baie kinders het, is dit ’n manier om te verseker dat daar iemand sal wees om hom te versorg wanneer hy siek of bejaard is. Om baie kinders te hê, moet ’n mens ’n aantal vroue hê. Veelwywery word dus as ’n tradisie en as ’n ekonomiese noodsaaklikheid aanvaar. Niemand sal juis beweer dat verskeie vroue onder dieselfde dak ’n gelukkige lewenswyse bevorder nie. Trouens, baie mans en ander vroue is al vergiftig weens mededinging en jaloesie tussen vroue wat ’n vete voer.
Tot baie se verbasing het Afrikane veelwywery gestaak wanneer hulle Jehovah se Getuies geword het. Maar dit het nie sonder probleme geskied nie. Dikwels word groot druk deur die familie op ’n man uitgeoefen om meer as een vrou te neem. Stel jou voor hoe dit is om eendag van die werk af tuis te kom en uit te vind dat jou familie vir jou ’n tweede vrou gekoop het en dat sy reeds ingetrek het terwyl jy nog by die werk was! Een van die talle toetse waarvoor knegte van Jehovah in Sentraal-Afrika te staan kom, is dat hulle moet kies of hulle Bybelbeginsels wil handhaaf en gevolglik die toorn van ’n verwoede familie, wat moontlik uit meer as 200 lede bestaan, gaan verduur.
Die predikingswerk in Sentraal-Afrika
Om godsdiensonderwerpe met die mense te bespreek, is net so natuurlik soos ’n gesprek oor die weer of sport in Noord-Amerika of in Europa. In die statte is dit nie nodig om te klop nie, aangesien so te sê al die werk buitekant onder die skadu van ’n boom verrig word. ’n Vinnige blik sal vir jou sê of daar iemand tuis is of nie. Teen die einde van ’n Bybelbespreking het ’n Getuie dikwels ’n gehoor van 10, 20 of selfs 30 namate verbygangers stilstaan om te luister. Op die platteland sal Getuies soms talle kilometers per fiets aflê om die bewoners van ’n statjie te bereik, slegs om te vind dat die mense reeds van God se Woord gehoor het by ’n besoekende familielid wat die dinge wat hy gehoor het na sy geboortestat teruggeneem het. Die statsbewoners is gewoonlik bereid om meer te hoor.
Gedurende die sestiger- en die vroeë sewentigerjare het Jehovah se Getuies Koninkryksale dwarsoor die land gebou. Getuies uit verskillende stamme vergader eensgesind daar. Dit is sommer ’n groot prestasie, soos gesien kan word uit wat in Protestantse kerke gebeur. Toe ’n pastoor van een stam byvoorbeeld gestuur is om as herder te dien van ’n kerk waar die lidmate aan ’n ander stam behoort het, is hy so kwaai deur sy nuwe “kudde” geslaan dat hy en sy vrou in die hospitaal opgeneem moes word.
Hoewel Jehovah se Getuies se werk en beginsels nie altyd in Sentraal-Afrika waardeer is nie, het dit oral respek en bewondering afgedwing. Maar toe het nasionalistiese druk toegeneem, en in 1976 is hulle werk verbied. Die destydse regering was die mening toegedaan dat ’n organisasie wat nie aan politieke verrigtinge deelneem nie, nie geduld kon word nie. Indiwiduele Getuies is egter nie met vyandigheid behandel nie. Vergaderinge is in huise gehou. Huis-tot-huiswerk was nie moontlik nie, maar die mense se algemene belangstelling in godsdiensaangeleenthede het talle geleenthede geskep om Bybelwaarheid met hulle te deel. Hoewel sowat 40 Getuies tot etlike maande lank in die tronk was en ’n paar hulle werk verloor het, was die howe regverdig en het die omstandighede geleenthede gebied om God se naam te verkondig.
Op 20 September 1979 het ’n ander regering aan bewind gekom en het die land weer sy oorspronklike naam, Sentraal-Afrikaanse Republiek, aangeneem. Die nuwe regering het beloof om die mense hulle volle vryheid terug te gee. Hoe verheug was Jehovah se Getuies tog toe ’n bevel op 27 September 1979 aangekondig het dat die verbod opgehef is!
Geen verslag oor die bedrywigheid van Jehovah se Getuies in Sentraal-Afrika kan volledig wees sonder die vermelding van die lewensbelangrike rol van reisende opsieners wat al die gemeentes gereeld besoek nie. Die land is yl bevolk en dorpe en statte word verbind deur grondpaaie wat gedurende die reënseisoen dikwels onbegaanbaar is. Daar is geen rooster vir vervoer tussen plekke nie, en busse en vragmotors breek dikwels. Reisende opsieners is dikwels maande lank sonder elektrisiteit of lopende water, en hulle lewe onder baie moeilike omstandighede. Hierdie broers gaan egter getrou met hulle werk voort want hulle besef dat hulle besoeke die gemeentes baie kan bemoedig.
Jehovah se Getuies in Sentraal-Afrika waardeer dit dat hulle bevry is van vrees vir die dode. Hulle is bly dat hulle nie stam- of statsbewus is nie, maar dat hulle deel is van ’n aardwye broederskap wat deur liefde verenig word. Hulle ywer en werk het die hoop op God se koninkryk dwarsdeur hierdie land bekend gemaak. Hulle beginsels het ook die respek van baie afgedwing, selfs van diegene wat nie self die Christelike lewenswyse aanvaar nie. Dit verskaf Jehovah se Getuies groot vreugde om voort te gaan om die “blye tyding” in hierdie uithoek van die aarde te verkondig.—Openb. 14:6, 7, NW.