Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w80 9/15 bl. 3-4
  • Bly waaksaam!

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Bly waaksaam!
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1980
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • “HEF JULLE HOOFDE OP”
  • WAAK!
  • Die tekens van die tye—Wat beteken dit vir jou?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1982
  • Laaste dae
    Redenering uit die Skrif
  • Wanneer sal die voorspelde wêreldvernietiging kom?
    Ware vrede en veiligheid—Hoe kan jy dit vind?
  • Wat sê die Bybel oor kernoorlog?
    Nog onderwerpe
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1980
w80 9/15 bl. 3-4

Bly waaksaam!

’N ARTIKEL met die titel “Thinking About the Unthinkable” het in New York se Times van 14 Februarie 1980 verskyn. Dit het dr. Howard H. Hiatt, dekaan van die Harvard-Skool van Openbare Gesondheid aangehaal oor die uitwerking wat een kernbom, “lank nie die grootste wat nou in die arsenale is nie”, op die Boston-gebied sou hê. Hy het gesê:

“Daardie een wapen sal alles oor ’n afstand van [6,4 kilometer] vernietig. Die bomkrater self sal [0,8 kilometer] in deursnee en honderde [meter] diep wees. Buite die [6,4 kilometer]-radius waar daar algehele verwoesting sal wees, sal ’n drukgolf, gevolg deur winde van meer as [1 600 kilometer] per uur, ’n ontsaglike vuurstorm veroorsaak. [Vier-en-sestig kilometer] daarvandaan sal mense wat in die rigting van die ontploffing kyk, verblind word deur brandwonde op die retina. Van die 3 miljoen mense wat in Boston woon, sal 2,2 miljoen dadelik deur die ontploffing of die vuurstorm gedood word.”

Dit kan die aanvanklike uitwerking wees indien net een van die duisende bomme in die wêreld se arsenale sy “teiken” tref.

Die moontlikheid dat die ergste kan gebeur, bied beslis goeie rede om oor die wêreldsituasie na te dink. En baie mense is besig om daaroor te dink. ’n Spesiale verslag in U.S. News & World Report van 11 Februarie 1980 het die militêre vermoë van die sterkste nasies op aarde ontleed. Dit het geopen met hierdie woorde: “Vir ’n wêreld wat beangs toekyk, lyk die Sowjet-Unie vandag soos ’n yslike krygsmasjien wat meedoënloos op globale oorheersing afstuur.” Dit is voorwaar ’n wêreld wat beangs toekyk, want die soort slagting wat met ’n kernoorlog gepaard sal gaan, gaan die verbeelding eenvoudig te bowe. En dit ly geen twyfel dat globale oorheersing inderdaad in ons dag ’n groot geskil geword het nie.

Is daar enige oplossing vir hierdie situasie wat ons met uitwissing bedreig? Baie persone kyk wanhopig toe. Hulle sien hoedat die nasies hulself versterk met vuurpyle, ballistiese missiele wat deur duikbote afgevuur kan word, afstandsbomwerpers, kernplofkoppe en dies meer. En terwyl hulle toekyk, word hulle pynlik daarvan bewus dat vreeslike gevare hulle nou vanuit die hemele en vanuit die see bedreig, net soos die Meester, Jesus, vir die laaste dae van die goddelose stelsel van dinge op hierdie aarde voorspel het. Jesus het gesê:

“Daar sal verskriklike dinge en groot tekens van die hemel kom. En daar sal tekens wees aan son en maan en sterre, en op die aarde benoudheid van nasies in hulle radeloosheid, wanneer see en branders dreun, en mense se harte beswyk van vrees en verwagting van die dinge wat oor die wêreld kom. Want die kragte van die hemele sal geskud word.”—Luk. 21:11, 25, 26.

“HEF JULLE HOOFDE OP”

Die vooruitsigte kan inderdaad vreeswekkend wees vir diegene wat verwikkelinge bloot uit ’n wêreldse standpunt beskou. Maar Jesus het voorts gesê:

“As hierdie dinge begin gebeur, kyk dan na bo en hef julle hoofde op, omdat julle verlossing naby is” (Luk. 21:28).

Diegene wat wêreldgebeure met geloof in Jehovah se profetiese Woord dophou, het dus geen rede om te vrees nie. In plaas daarvan om verteer te word deur ’n morbiede vrees oor wat tydens ’n kernslagting kan gebeur, sien hulle met vertroue uit na God se beloofde verlossing.

Is jy een van diegene wat hoop dat die mensdom weer veiliger tye sal beleef? Dan moet jy aandag skenk aan Jesus se verduideliking van die betekenis van ons tye. Sedert die Eerste Wêreldoorlog uitgebreek het, neem benoudheid van nasies, ongeregtigheid, misdadigheid, voedselskaarstes, aardbewings, pessiektes en ander beproewings met rasse skrede op die aarde toe, net soos Jesus voorspel het, en volgens hom sou dit die ‘teken van sy teenwoordigheid en van die voleinding van die stelsel van dinge’ wees (Matt. 24:3-12, vgl. NW; Luk. 21:10, 11). Maar hy het hierdie woorde bygevoeg: “So moet julle ook weet dat die koninkryk van God naby is wanneer julle hierdie dinge sien gebeur. Voorwaar Ek sê vir julle, hierdie geslag sal sekerlik nie verbygaan voordat alles gebeur het nie. Die hemel en die aarde sal verbygaan, maar my woorde sal nooit verbygaan nie.”—Luk. 21:31-33.

Ten minste ’n paar van die geslag wat die begin van hierdie eeu van ongeregtigheid in 1914 gesien het, verwag om nog “hier” te wees wanneer dit eindig. Dit sal plaasvind tydens die vervulling van Daniel 2:44 in verband met die “konings” of heersers wat nou selfsugtig om wêreldoorheersing stry: “In die dae van dié konings sal die God van die hemel ’n koninkryk verwek wat in ewigheid nie vernietig sal word nie, . . . dit sal al daardie koninkryke verbrysel en daar ’n einde aan maak, maar self sal dit vir ewig bestaan.” Die kernwapens van die nasies sal nutteloos wees teen die oorweldigende mag van God se koninkryk in die hande van Christus Jesus. Hierdie “Koning van die konings” sal die nasies in geregtigheid oordeel, die goddelose vernietig en die sagmoediges wat waaksaam gebly het, bewaar. Wonderlike Koninkrykseëninge sal volg! “Die ootmoediges . . . sal die aarde besit en hulle verlustig oor groot vrede.”—Ps. 37:10, 11; Openb. 19:11-21.

WAAK!

Teen die einde van sy profesie oor die voleinding van die stelsel van dinge het Jesus hierdie waarskuwing gerig: “Maar pas op vir julleself, dat julle harte nie miskien beswaar word deur swelgery en dronkenskap en sorge van die lewe nie, en dié dag julle nie skielik oorval nie. Want soos ’n strik sal hy kom oor almal wat op die hele aarde woon.” Op daardie dag wanneer God wraak neem op goddelose nasies en wettelose mense sal net diegene wat “die Seun van die mens”, Christus Jesus, se gunstige oordeel ontvang veilig wees. Almal wat behoue wil bly, moet ag slaan op Jesus se raad: “Waak dan en bid altyddeur, sodat julle waardig geag mag word om al hierdie dinge wat kom, te ontvlug en voor die Seun van die mens te staan.”—Luk. 21:34-36.

Volgens Markus se verslag het Jesus aan die einde van dieselfde profesie gesê: “Wees op julle hoede: wees waaksaam, omdat julle nie weet wanneer die tyd daar is nie. . . . Bly dus waaksaam . . . sodat wanneer [die huiseienaar] onverwags kom, hy julle nie aan die slaap kry nie. En wat Ek vir julle sê, sê Ek vir almal: Bly waaksaam!” Dit is wat Jehovah se Getuies vandag doen terwyl hulle die goeie nuus dat God se koninkryk in die hande van sy Christus ophande is ywerig “aan al die nasies verkondig” (Mark. 13:10, 33-37, NAB). Die Wagtoring, wat in Engels nou al meer as 101 jaar lank uitgegee word, neem aan hierdie wonderlike wêreldwye getuieniswerk deel. Ons hoop dat hierdie bladsye steeds ons miljoene lesers sal vertroos en ieder en elk sal aanspoor om WAAKSAAM TE BLY!

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel