Haar pogings is geseën
Jehovah God seën diegene wat hulself in sy diens inspan ondanks probleme soos swak gesondheid. ’n Christin in Barbados skryf:
“Een Sondagoggend het ek baie mismoedig en effens neerslagtig gevoel, maar ek het nogtans die poging aangewend om van huis tot huis te werk. Die meeste persone wat ek daardie oggend besoek het, het nie belang gestel nie. Dit het my nog meer terneergedruk laat voel. Ek het egter besluit dat ek nog een besoek sou doen voordat ek ophou. Daardie laaste besoek was beter as wat ek verwag het, want ek het later uitgevind dat die vrou wat ek besoek het baie soos ek gevoel het. Sy het kort tevore uit die hospitaal gekom en het gesê dat sy haar huiswerk verrig het, maar ‘gehuil en gebid het dat God iemand moes stuur om haar te vertroos’.”
Die Getuie was in staat om vir die vrou die vertroostende boodskap van God se beloofde nuwe stelsel van dinge te gee, ’n stelsel waarin daar geen siekte, geween of selfs die dood sal wees nie (Openb. 21:4). Dit het tot ’n gereelde Bybelstudie gelei. Na net drie weke het die vrou Christenvergaderinge bygewoon. Kort daarna het sy begin om die “goeie nuus” aan ander te verkondig.
“Ek is bly om te kan sê dat hierdie vrou nou my geestelike suster is”, skryf die Getuie. “Sy is by die ‘Lewende Hoop’-Streekbyeenkoms gedoop. Ek is Jehovah so dankbaar dat sy gees, en moontlik die engele, my in staat gestel het om daardie Sondagoggend te volhard al het ek sleg gevoel, want nie alleen het hierdie belangstellende persoon baat gevind nie, maar hierdie ondervinding het vir my die apostel Paulus se woorde beaam: ‘As ek swak is, dan is ek sterk.’”—2 Kor. 12:10.