Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w80 8/15 bl. 8-10
  • ‘Laat julle lig skyn’

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • ‘Laat julle lig skyn’
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1980
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ONDANKS TEENSTAND
  • WAAROM ’N SAAK VAN ERNS?
  • ‘Laat julle lig skyn’
    Ons Koninkryksbediening—2011
  • “Laat julle lig . . . skyn”
    Ons Koninkryksbediening—2001
  • ‘Laat julle lig skyn’ sodat Jehovah verheerlik kan word
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) — 2018
  • Laat jou lig voortdurend skyn
    Ons Koninkryksbediening—1995
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1980
w80 8/15 bl. 8-10

‘Laat julle lig skyn’

DISSIPELS van Jesus Christus moet soos helder ligte in hierdie wêreld skyn en vir medemense die weg wys wat na ewige lewe in geluk lei. In sy Bergpredikasie het God se Seun gesê: “Julle is die lig van die wêreld. ’n Stad wat bo-op ’n berg lê, kan nie weggesteek word nie; en ’n mens steek ook nie ’n lamp op en sit dit onder die maatemmer nie, maar op die staander, en dit skyn vir almal wat in die huis is. Laat julle lig só skyn voor die mense, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemele is, verheerlik.”—Matt. 5:14-16.

Die voorbeeldige gedrag van Christus se dissipels moet hulle opvallend anders maak as persone wat nie met die Bybel se boodskap bekend is nie. Hulle vriendelikheid, geduld, lankmoedigheid, liefde en ander goeie eienskappe moet hulle soos ligte in ’n wrede, liefdelose wêreld laat lyk. Maar as Christene wil hê dat ander moet weet wat die rede vir hulle prysenswaardige gedrag is, moet hulle hulle geloofsopvattings bekend maak. Dit is waarom baie getuies van Jehovah elke week tyd opsy sit om hulle naaste met die vertroostende boodskap van God se Woord te besoek. Daarbenewens benut hulle hulle geleenthede om hulle Skriftuurlike kennis te deel met enigeen wat hulle in hulle daaglikse lewe teëkom.

ONDANKS TEENSTAND

Dit is nie altyd maklik vir God se knegte om soos ligte te skyn nie. Hulle word heel dikwels bespot en gehaat. Die boodskap wat hulle verkondig—dat God se koninkryk binnekort die goddelose stelsel gaan verbrysel ter voorbereiding van die Nuwe Orde—is nie by die wêreld gewild nie. Diegene wat verkies om ’n lewe sonder geloof in Jehovah God en sy Seun te lei, wil nie die Bybel se boodskap hoor nie. Hulle staan dit teë en slaag moontlik selfs daarin om die werk van God se volk te laat verbied. En ’n Christen kan gesmaad word omdat hy sy lewe ten goede verander het. Die apostel Petrus het hierdie punt gestel toe hy gesê het: “Daarom vind hulle [wêreldse mense] dit vreemd as julle nie saam loop in dieselfde uitgieting van losbandigheid nie, en hulle laster.”—1 Pet. 4:4.

’n Ondersoek van onlangse geskiedenis toon dat dit die ervaring van Jehovah se Getuies was en is. Gelukkig het dit hulle nie as ’n liggaam laat ophou om Jesus se woorde dat hulle ‘hulle lig moet laat skyn’ te gehoorsaam nie. Hulle besef dat daar nooit ’n tyd is wanneer Christene vreesbevange hulle lig moet wegsteek asof hulle ‘dit onder die maatemmer sit nie’. Ongeag wat die omstandighede is, die waarheid moet uit die woorde en dade van Jehovah se toegewyde knegte straal.

Dit beteken natuurlik nie dat ’n persoon roekeloos die ongunstige omstandighede waaronder hy sy Christelike werk moet verrig, ignoreer nie. Jesus Christus het sy volgelinge vermaan om verstandig in ’n vyandige wêreld op te tree. Hy het vir sy apostels gesê: “Kyk, Ek stuur julle soos skape onder die wolwe in; wees dan versigtig soos die slange en opreg soos die duiwe. Maar pas op vir die mense” (Matt. 10:16, 17). Tydens moeilike tye is dit dus goed om versigtig te wees terwyl ons na persone soek wat God opreg soek.

WAAROM ’N SAAK VAN ERNS?

Maar waarom moet dit vir ons ‘n saak van erns wees om ons lig te laat skyn? Die Bybel toon dat die Skepper ’n dag van afrekening of oordeel vir die hele mensdom bepaal het (Hand. 17:31). As ons wil hê dat daardie oordeelsdag ons tot seën moet strek, moet ons ’n goeie naam by hom hê. Hoe is so ’n goeie naam moontlik? Ons moet die soort geloof hê wat ons dwing om ons bes te doen om ander te help om ware dissipels van Christus te word en te bly.

Let op hoe die apostel Paulus hierdie saak van oordeel verbind het met die belangrikheid van predikingswerk wat deur voorbeeldige gedrag gesteun word. Hy het geskryf: “Ons moet almal voor die regterstoel van Christus verskyn, sodat elkeen kan ontvang wat hy deur die liggaam verrig het, volgens wat hy gedoen het, of dit goed is of kwaad. Omdat ons dan die vrees van die Here ken, probeer ons om die mense te oortuig.”—2 Kor. 5:10, 11.

Paulus het die ongeëwenaarde gesag wat Jehovah God aan sy Seun gegee het, erken. Jesus Christus besit nou “alle mag in die hemel en op aarde” (Matt. 28:18). Van sy regterlike mag het God se Seun gesê: “Die Vader oordeel ook niemand nie, maar het die hele oordeel aan die Seun gegee’’ (Joh. 5:22). Jesus Christus se oordeel sal foutloos en finaal wees. Hy kan nie deur die uiterlike of mooi woorde geflous word nie. Daar is profeties omtrent hom gesê: “Hy sal nie regspreek na wat sy oë sien nie, en nie oordeel na wat sy ore hoor nie; maar aan die armes sal Hy in geregtigheid reg doen en die sagmoediges van die land met billikheid oordeel’’ (Jes. 11:3, 4). Daar bestaan voorwaar goeie rede om ’n heilsame vrees te hê vir so ’n besonder bekwame regter wat die volle gesag het om finale beslissings te vel. Ons sal nie alleen self wil optree op ’n wyse wat ons geloof in hom as regter toon nie, maar dit behoort ook ons begeerte te wees om ander te oorreed om die nodige stappe te doen om ’n gunstige uitspraak van hom te kry.

Dit is dus duidelik dat mense van alle rasse, nasies en stamme moet weet wat hulle moet doen sodat die vinnig naderende dag van afrekening hulle tot voordeel sal strek. Die apostel Paulus beklemtoon dit mooi met hierdie woorde: “Elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal gered word. Hoe kan hulle Hom dan aanroep in wie hulle nie geglo het nie? En hoe kan hulle in Hom glo van wie hulle nie gehoor het nie? En hoe kan hulle hoor sonder een wat preek?”—Rom. 10:13, 14.

Omdat hulle besef hoe belangrik die verkondiging van die “goeie nuus” is, neem baie getuies van Jehovah deel aan die hulppionierdiens en wy hulle ten minste 60 uur gedurende ’n bepaalde maand aan die verkondiging van Bybelwaarheid. Dit het baie seëninge meegebring. Drie jaar gelede was daar byvoorbeeld slegs een Getuie in Dacca, Bangladesj. Toe het ’n ander Getuie en sy vrou weens ’n werkkontrak na die stad gekom. Hierdie egpaar het begin om die Bybel se boodskap ywerig aan ander te verkondig, en eerlank het die aantal Koninkryksverkondigers tot agt toegeneem. Twee van hulle het gereeld hulppionierdiens gedoen. Wat was die gevolg van hierdie groter bedrywigheid? Omtrent ’n jaar gelede is daar meer as 20 Bybelstudies by belangstellendes gehou, en baie van hulle het die vergaderinge wat gereël is, bygewoon.

Indien ons waarlik glo dat die dag van afrekening vinnig nader kom, sal dit mos weerspieël word deur ’n opregte begeerte om mense omtrent die sekerheid van hierdie gebeurtenis in te lig, nie waar nie? Hoe beïnvloed die kennis dat jy voor God se aangestelde Regter gaan staan jou lewe? Het jy jou voorgeneem om te dink, te spreek en op te tree op ’n wyse wat by die goeie gewetens van jou medemens inslag sal vind? Sit jy gereeld tyd opsy om die waarhede van God se Woord aan ander te verkondig? Beweeg jou hart jou om ook op ander tye te praat? Indien jy ywerig probeer om in gedagte, woord en daad soos God se Seun te wees, lewe jy voorwaar in harmonie met sy vermaning: ‘Laat julle lig skyn.’

“Wandel soos kinders van die lig. Want die vrug van die Gees bestaan in alle goedheid en geregtigheid en waarheid.”—Ef. 5:8, 9.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel