Ons aanvaar die uitdaging in Colombia
WATTER uitdaging? Om die “goeie nuus” te verkondig dwarsoor ’n land met ’n groot verskeidenheid klimaatstoestande, terreine en kulture. Ons praat van Colombia, wat geleë is aan die noordwestelike puntjie van Suid-Amerika. Die hoofstad, Bogotá, en talle ander stede is uitstekende gebied om die “goeie nuus” te verkondig. Maar die Koninkryksboodskap word ook verkondig in die uitgestrekte plattelandse gebiede, waar grondpaaie, swerms insekte en stortbuie voortdurend ’n uitdaging bied.
Hier in Colombia kan die temperatuur daal van 28 grade Celsius in die stomende woude tot 12 grade Celsius in die berge. Die gebiede tussenin geniet egter deurentyd ’n lentetemperatuur. Die groot bergmassas bevat volgens berig onuitputlike voorrade klipsout. En die Zipaquirá-myn voorsien Colombiane nie alleen van die meeste van hulle sout nie, maar is ook omskep in een van die mooiste voorbeelde van ondergrondse argitektuur. Die beroemde Soutkatedraal, wat diep in die myn uitgehol is, is dwarsoor die wêreld beroemd.
DIE VERKONDIGING VAN DIE “GOEIE NUUS”
Colombia is ryk aan mineraleafsettings. Maar iets baie kosbaarder is die Godvresende mense wat hier aangetref word. In 1922 het Heliodoro Hernández, wat naby die dorpe Paz de Rio en Tasco gewoon het, begin om Die Wagtoring te lees en geestelike wysheid verkry, iets wat baie meer werd is as goud (Spr. 3:13, 14). Hy het begin om sy pasgevonde wysheid met sy landgenote te deel, en teen 1924 het Juan B. Estupiñán begin om die “goeie nuus” saam met hom te verkondig.
Sedert 1922 het Koninkryksverkondigers in Colombia talle hindernisse te bowe gekom, en hulle getroue volharding is deur bestendige groei beloon. Teen 1978 het hulle toegeneem tot 14 856. Daar is natuurlik nog baie werk. Bogotá het byvoorbeeld na raming ’n bevolking van sowat 5 000 000, maar daar is slegs ongeveer 3 000 Koninkryksverkondigers verbonde aan die 36 gemeentes aldaar.
Dit verskaf ’n mens vreugde om te sien hoedat talle indiwidue groot veranderinge aanbring om hulle lewens na Bybelbeginsels te skik, en dit spoor ander aan om standvastig met die getuieniswerk voort te gaan. In 1975 het ’n jongman wat besig was om hom as priester voor te berei, met die waarheid in aanraking gekom. Sy gesin het gedreig om hom nie meer finansieel te ondersteun nie en gesê dat hy die huis moet verlaat indien hy aanhou om saam met Jehovah se Getuies te studeer. Hy het aanvanklik versoek dat sy persoonlike Bybelstudie gestaak word. Maar nadat hy nagedink het oor die Skriftuurlike kennis wat hy besig was om te verkry, het hy gevra dat twee studies per week met hom gehou moet word. Aangesien hy ’n onderwyser by ’n godsdiensskool was, het hy uit sy pos bedank. Hy was ook verplig om sy ouerhuis te verlaat. Slegs een maand van studie en bepeinsing oor die Heilige Skrif het groot veranderinge in hierdie jongman se lewe teweeggebring. Hy het opgehou rook, sy hare netjies laat kap en sy kleredrag verander. Trouens, die transformasie was so merkwaardig dat niemand hom herken het toe hy by die Koninkryksaal opgedaag het nie. Iemand het selfs vir hom gevra of hy die besoekende openbare spreker was. Aangesien die jongman geen ander verantwoordelikhede gehad het nie, het hy begin om elke dag te preek. Hy is kort daarna gedoop en het later ’n gewone pionier (’n voltydse Koninkryksverkondiger) geword. Hy dien nou as ’n lid van die Bethelgesin by die Wagtoringgenootskap se takkantoor in Colombia.
Beskou ook die persoonlikheidsverandering wat ’n sekere man in die stad Cali aangebring het. Hy was ’n matroos, musikant, buikspreker en ’n polisieman. Omdat hy baie aggressief was, en altyd gereed was om vuis te slaan of sy vuurwapen te gebruik, het sy bure hom gevrees. Hy was naweke altyd dronk en dan was die bure se gloeilampe sy teikens wanneer hy met sy vuurwapen geoefen het.
In 1971 het hierdie persoon teësinnig geluister na ’n pionier wat sy huis besoek het, en eindelik is ’n Bybelstudie met hom begin. Kort daarna het hy egter sy studie beëindig en by die Pinksterkerk aangesluit. Maar later het die pionier hom besoek en hom genooi om ondersoek in te stel en te sien wat die Bybel sê agter die sogenaamde wonderwerke sit wat deur daardie godsdiensorganisasie verrig word. Die man het al die tekste wat hulle bespreek het, neergeskryf en besluit om weer saam met die Getuies te studeer. Daardie selfde aand het hy die Pinksterpredikant besoek om hom uit te vra oor die tekste wat hy gelees het. Toe die pastoor nie ’n bevredigende Bybelse antwoord kon verstrek nie, het nie net hierdie man die kerk verlaat nie, maar het 15 ander mense dit saam met hom verlaat.
Nie lank daarna nie is hierdie man se moeder oorlede en het hy ’n begrafnistoespraak gereël waarin die opstandingshoop verduidelik sou word (Joh. 5:28, 29). Dit was ’n beproewing van sy geloof, want die hele familie het teen sy besluit beswaar gemaak, dermate dat een van sy broers hom ’n harde opstopper gegee het. Hierdie man se pasverkreë Bybelkennis het hom egter in staat gestel om selfbeheersing te behou, en hy het kalm verduidelik wat die rede vir sy standpunt is. Die familie was so verbaas oor sy vredeliewendheid dat hulle toegelaat het dat die Bybelse begrafnistoespraak gehou word. Nie alleen het sy familie later die Bybel begin studeer nie, maar sy bure is so beïndruk deur die verandering in sy persoonlikheid dat agt gesinne op sy blok begin het om die Bybel saam met Jehovah se Getuies te bestudeer. Hierdie man het sy huis aangebied vir ’n gemeentelike boekstudie, later sy huis vergroot sodat ’n nuwe gemeente daar kon vergader en eindelik gehelp om ’n Koninkryksaal te bou. Op die oomblik dien hierdie persoon as ’n aangestelde Christelike ouere man in een van die stad se gemeentes.
BAANBREKERSWERK IN NUWE GEBIEDE
Ondanks die uitstekende aanwas wat daar gedurende die jare in Colombia was, is daar nog die uitdaging om die Koninkryksboodskap na die uitgebreide gebiede te neem wat hoofsaaklik bestaan uit warm, bedompige wildernisse en plattelandse gebiede. Dit is ’n uitdaging om die “goeie nuus” na hierdie dele van die land te neem, nie alleen weens die fisiese probleme waarmee ’n mens daar te kampe het nie, maar ook weens die uiteenlopende kulture, gebruike en karaktertrekke van die bewoners. Die welslae waarmee ’n mens die hart van hierdie mense met die Koninkryksboodskap bereik, hang baie af van ’n begrip van Colombia se verskillende kulture en jou vermoë om jou daarby aan te pas.
Alhoewel die meeste Colombiane Rooms-Katolieke is, wissel hulle seremonies baie van een gebied na die ander. Aangesien hulle godsdiensleiers en -publikasies nie juiste Skriftuurlike onderrig voorsien nie, is die mense geneig om godsdiensaangeleenthede met magiese verskynsels te verwar. Hulle volkskunde skryf bewuste lewe aan lewelose voorwerpe toe, en die mense sê dat die dooies die siekes kan genees en die lewendes op ander maniere kan help. Dit is ook baie algemeen om te vind dat die mense in plattelandse gebiede ’n lys gebede vir al hulle daaglikse probleme het. Hulle het by voorbeeld gebede om hulle beeste van wurms te genees, om voorspoed te bring, om hulle van hulle vyande te bevry, om slangbyte te genees en om hulle hoenders en beeste te beskerm.
In Colombiaanse stede kom begrafnisdienste baie ooreen met die in die meeste Katolieke lande. Maar in die plattelandse gebiede is dit ’n ander saak. As iemand byvoorbeeld in die omgewing van Jegüita sterf, sal die plaaslike voorbidder die rouklaers nege nagte lank in gebede vir die oorledene lei. Nadat hulle ’n uur lank gebede opgesê het, doen hy ’n beroep op die “siel” van die oorledene om die huis te verlaat. Daardie nag word ’n glas water met ’n klein stukkie watte daarin by die kis gelos. Waarom? Sodat die oorledene se gees sy dors kan les. Hoewel die oorledene se “siel” dus op die eerste nag beveel word om die huis te verlaat, bid die rouklaers nog agt nagte lank om seker te maak dat dit nie terugkom en hulle lastig val nie. Wanneer hulle die lyk op die 10de dag begrawe, word die naaste familielid nie toegelaat om na die kis te kyk terwyl dit in die aarde in afsak nie, want volgens tradisie sal hy die volgende familielid wees wat sterf indien hy daarna kyk. Terloops, diegene wat aan die lykwaak deelneem, moet voorsien word van voedsel, drank en tabak. Gevolglik dompel talle hulle in die skuld om diegene wat die nege nagte van gebed teenwoordig is te voed en te onthaal.
Op een tydstip was Alberto Medina die voorbidder in die Jardin-distrik van die staat Córdoba. Maar deur sy Bybelstudie het hy geleer dat die siel sterf, dat die dode hoegenaamd niks weet nie en dat die opstanding hulle enigste hoop is (Pred. 9:5, 10; Eseg. 18:4, 20; Hand. 24:15). Medina se standpunt vir Skriftuurlike waarheid het dit natuurlik vir hom nodig gemaak om baie druk van ongelowige familielede te weerstaan, asook teenstand deur bure wat nie wou hê dat ander die gemeenskap se ou tradisies moet staak nie. Hy was nietemin in staat om lede van sy eie familie en baie ander te help om juiste kennis van God se Woord en voornemens te verkry.
DIE UITDAGING WORD STEEDS AANVAAR
Ja, dit is ’n uitdaging om die Koninkryksboodskap te aanvaar. Dit is ook ’n uitdaging om die “goeie nuus” te verkondig, veral in afgeleë gebiede. Hier in Colombia verg dit soms dat ’n mens te perd moet reis, in ’n kano moet roei en swerms insekte moet trotseer. Tydens die reënseisoen is daar baie plekke in hierdie land waar ’n Koninkryksverkondiger tot by sy enkels deur die modder moet loop. Maar sulke pogings is beloon, want daar is nou gemeentes in party van hierdie gebiede.
Diegene wat hulle Christelike voorreg om die “goeie nuus” te verkondig waardeer, aanvaar sulke uitdagings met graagte. En daar is beslis geen aangenamer ondervinding as om persone te vind wat na die waarheid dors nie, ongeag waar hulle woon. Die viering van die Here se Aandmaal in 1979 is in hierdie land deur altesaam 59 383 bygewoon. Die ‘lande is voorwaar wit vir die oes’ en daar is nog baie werk om te doen om ware aanbidding te bevorder.—Joh. 4:35.
Indien jy ’n toegewyde getuie van Jehovah is, kan jy gerus jou omstandighede ernstig oorweeg om vas te stel of jy die Koninkryksboodskap meer of op ’n produktiewer wyse kan verkondig. Jy kan moontlik dien waar die behoefte aan verkondigers groot is, hetsy in Colombia of in jou eie land (1 Kor. 16:9). Maar wat jou omstandighede ook al is, vra God se hulp in gebed om die uitdaging van Christelike lewe en diens aan Jehovah te aanvaar.