Insig in die nuus
Kerkreuse worstel
• Volgens die “National Catholic Reporter” is die vooraanstaande Katolieke teoloog Hans Küng volgens die bepalings van “die Vatikaan se konkordaat met Hitler in 1933” verbied om teologie aan die Bondsrepubliek van Duitsland se Tübingen-universiteit te doseer. Die redes vir Pous Johannes Paulus II se optrede teen Küng het onder meer geskrifte ingesluit wat selfs die grondslag van die Katolieke leer bevraagteken—die Drie-eenheid en pouslike onfeilbaarheid. Küng hou vol dat sy gedagtes nie kettery is nie, maar dat “indien die Katolieke Kerk nie op die skrif gegrond is nie, dit nie die Kerk van Jesus is nie”.
Om sy Skriftuurlike standpunt oor die saak van pouslike onfeilbaarheid te staaf, het Küng tydens ’n onderhoud met Stuttgart se “Sonntag Aktuel” gesê dat “daar ’n duidelike presedent in die Skrif en in Katolieke tradisie is vir konfrontasie met die pous. St. Paulus het St. Petrus in die teenwoordigheid van die hele gemeenskap teëgestaan (Galasiërs 2:11-14).” In die teks wat deur Küng gesiteer is, het die apostel Paulus van Petrus gesê: “Ek [het] hom openlik teëgestaan, omdat hy veroordeeld gestaan het.”
“Die oorlog is verby”
• ’n Brasiliaanse kettingwinkel het onlangs ’n advertensie in Rio de Janeiro se grootste koerant geplaas. Dit het ’n prent bevat van talle plastiekoorlogspeelgoed met ’n wit vlag wat oor hulle waai. Die opskrif het gelui: “Die oorlog is verby!” Die winkel het bekend gemaak dat dit nie langer speelgoed sou verkoop wat op geweld dui nie. “Laat almal wat wil ons voorbeeld volg”, het die bestuurder gesê.
Die reaksie van een sielkundige weerspieël die treurige toedrag van sake in die hedendaagse oorloggeoriënteerde gemeenskap: “Wanneer die kind met hierdie speelgoed speel, ontwikkel hy in sy verbeelding die aggressiwiteit wat nodig is vir sy aanpassingsproses by die gemeenskap. Indien ons die speelgoedwapens, die gewelddadige rolprente en die veldslae van die kind se heelal wegneem, vervreem ons hom net van die wesenlikheid van hongerte, maatskaplike onreg, en van ekonomiese onveiligheid, die hoofoorsake van geweld.” Maar is sulke “aggressiwiteit” in die jeug se “aanpassingsproses by die gemeenskap” nie op sigself ’n hoofoorsaak van geweld nie? ’n Brasiliaanse onderwysbeampte het geredeneer: “Wanneer hy wapens hanteer, word ’n kind gewoond aan die gedagte van moord, en raak hy onverskillig teenoor die lyding van ander.”
Duisende kinders en volwassenes in baie nasies is andersyds ’n lewende vervulling van Jesaja se profesie: “Nie meer sal nasie teen nasie die swaard ophef nie, en hulle sal nie meer leer om oorlog te voer nie.” In plaas daarvan om speelgoedwapens of werklike wapens op te neem, kweek Jehovah se Getuies dwarsoor die wêreld ’n liefde aan wat militaristiese nasionalisme oorwin.—Jes. 2:4; Joh. 13:35.
“Die mensdom se enigste hoop”?
• Ezra Taft Benson, voormalige Minister van Landbou in die V.S.A., het onlangs die internasionale Vryheidskonferensie in Philadelphia, Pennsilvanië, toegespreek. Hy het gepraat oor wat hy die versuim van die “Westerse beskawing” genoem het om die gety Kommunistiese ideologie dwarsoor die wêreld te stuit. Benson, wat gepraat het as die president van die Kworum van die Twaalf Apostels van die Kerk van Jesus Christus van Heiliges van die Laaste Dae (Mormone), het gesê: “Ons is vandag gewikkel in ’n wêreldwye stryd om die liggame en siele van mense.” Hierdie kerkvoog glo klaarblyklik dat die belangrikste stryd om “die liggame en siele van mense” tussen menslike politieke blokke is.
“Ek is vas daarvan oortuig dat ons die verloop van sake kan verander”, het hy gesê, “indien genoeg manne en vroue in die Vrye Wêreld vasbeslotenheid, die moraliteit en die geloof het om dit te doen.” Die Mormoonleier het sy toespraak tot ’n klimaks gevoer met die bewering: “Hier in die Weste hou ons die mensdom se enigste hoop in ons hande; en dit sal vir ons ’n skande en oneer voor God en die mens wees indien ons toelaat dat daardie hoop kwyn en sterf.”
Sal dit? Het die Weste waarlik “die mensdom se enigste hoop”? Die Bybel toon dat daar nog ’n keuse is—een wat ’n Christen moet voorstaan. Aangesien die hele wêreld, met sy regerings van die Ooste sowel as die Weste, “in die mag van die Bose lê”, is dit slegs die “koninkryk van God” waarop ware volgelinge van Christus hoop en aan ander verkondig. Hulle probeer nie wanhopig om siek regeringstelsels wat reeds deur God tot vernietiging gedoem is, te onderstut nie.—1 Joh. 5:19; Luk. 4:43; Matt. 24:14; Dan. 2:44.