Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g94 9/8 bl. 7-10
  • Ouers—Kies julle kind se speelgoed wyslik

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Ouers—Kies julle kind se speelgoed wyslik
  • Ontwaak!—1994
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Sewe nuttige riglyne
  • Party dinge is belangriker as speelgoed
  • Hedendaagse speelgoed—Wat leer hulle ons kinders?
    Ontwaak!—1994
  • Ouers—Waarmee speel julle kind?
    Ontwaak!—1994
  • Speelgoed—Vandag en in die verlede
    Ontwaak!—2005
  • Die beste speelgoed
    Ontwaak!—2004
Sien nog
Ontwaak!—1994
g94 9/8 bl. 7-10

Ouers—Kies julle kind se speelgoed wyslik

KINDERS is ‘’n erfdeel van Jehovah’, sê die Bybel (Psalm 127:3). Godvresende ouers besef dus dat dit hulle verantwoordelikheid is om hulle kinders “in die tug en vermaning van die Here” op te voed (Efesiërs 6:4). Hulle laat dit nie aan speelgoedvervaardigers oor om hulle kinders se persoonlikheid te vorm nie.

Speelgoed kan ’n belangrike rol daarin speel om die emosionele en verstandelike ontwikkeling van kinders te stimuleer. Dit beteken egter nie dat ouers baie geld aan hipertegnologiese toestelle moet spandeer nie. Party van die heilsaamste en stimulerendste speelgoed sal jou baie min kos.

’n Eenvoudige kartondoos kan omskep word in ’n pophuis, ’n vliegtuig of enigiets wat in ’n kind se ryk verbeelding gevorm kan word. Met ’n emmer en ’n grafie bou ’n kind sandkastele. Eenvoudige blokkies, legkaarte, klei en kryt kan eweneens ure lange heilsame ontspanning verskaf. Kunsbenodigdhede en modelle wat gebou kan word, kan ouer kinders nuttige vaardighede leer en is ’n heilsame manier om aan hulle skeppingsvermoë uiting te gee—iets wat oneindig bevredigender is as elektroniese speletjies waar daar op flikkerende teikens geskiet word.

Sommige speletjies vereis glad nie eers spesiale toerusting nie. ’n Wandeling deur die bos kan ’n opwindende avontuur vir ’n kind wees, veral wanneer hy saam met ’n liefdevolle ouer is wat graag tyd met hom deurbring. Selfs basiese huishoudelike vaardighede kan as iets prettigs geleer word. In haar boek Your Growing Child skryf Penelope Leach: “Om koek te bak of ’n ete te kook, die tuin om te spit, die motor te was of die dak te verf, inkopies te doen of die baba te bad, is dalk alles werk vir jou, maar vir jou kind kan dit van die lekkerste speletjies wees.”

Sewe nuttige riglyne

Vervaardigde speelgoed het natuurlik ’n plek. En as die gesinsbegroting dit toelaat, kan jy jou gerus die volgende vrae afvra voordat jy iets koop:

1. Prikkel die speelding werklik my kind se weetgierigheid en verbeelding? Indien nie, sal hy gou verveeld raak daarmee. ’n Speelding lyk miskien goed in ’n TV-advertensie, maar hou in gedagte: Die kinderakteurs en -aktrises is betaal om opgewonde oor die speelding te lyk. Jou kind voel moontlik nie dieselfde daaroor nie. Probeer hom dophou wanneer hy speel of in ’n speelgoedwinkel is. Watter soort speelgoed trek hom aan?

Ouers meen soms dat ’n speelding geen waarde het tensy dit “opvoedkundig” is nie. Maar professor Janice T. Gibson herinner ons aan die volgende: “Kinders leer uit alle speelgoed waarmee hulle speel. Wat belangrik is, is dat hulle dit geniet sodat hulle aanhou speel op maniere wat vir hulle goed is.”

2. Is die speelding gepas vir my kind se liggaamlike en verstandelike vermoëns? Soms is ’n kind net nie sterk genoeg, geduldig genoeg of skrander genoeg om ’n sekere speelding te gebruik nie. ’n Ouer kan egter geneig wees om dit te koop omdat dit ’n sekere nostalgiese aantrekkingskrag het. Maar kan ’n driejarige seuntjie werklik ’n elektriese treinstel beheer—of ’n bofbalkolf swaai? Waarom wag jy nie totdat jou kind beter in staat is om sulke speelgoed te waardeer nie?

3. Is die speelding veilig? Klein kindertjies is geneig om alles in hulle mond te sit en kan maklik verstik aan klein houtblokkies of plastiekvoorwerpe. Skerp kante of punte kan gevaarlik wees vir kinders van enige ouderdom. Jy kan jou ook afvra of die speelding waarskynlik gegooi of as ’n wapen teen ’n broer of suster gebruik sal word.

In die Verenigde State word daar op party speelgoed aangedui vir watter spesifieke ouderdomsgroepe dit bedoel is. As jy by sulke aanbevelings bly, kan jy jou kind teen beserings beskerm. As jy onseker oor ’n speelding is, kan jy gerus vir die verkoopspersoon vra of daar ’n demonstrasiemodel is wat jy kan ondersoek.

4. Is die speelding goed gemaak en duursaam? “Klein kindertjies wat daarvan hou om alles te laat val, te gooi en te proe, kan speelgoed verniel as dit nie duursaam is nie”, sê die tydskrif Parents.

5. Is die speelding die geld werd? TV-advertensies maak selde melding van die prys, maar speelgoed kos geld. ’n Groot deel van die bedrag betaal vir die handelsmerk pleks van die materiaal wat gebruik is. Boonop wek advertensies dikwels onrealistiese verwagtinge by kinders, wat tot groot teleurstelling kan lei.

Leer jou kinders om verstandige kopers te wees. Spreuke 14:15 sê: “Wie ervaring kortkom, glo alles wat gesê word; ’n verstandige mens oorweeg elke tree wat hy gee” (NAV). ’n Artikel in The New York Times het gesê: “Soms kan jy vooraf aandui waarom ’n bepaalde speelding van swak gehalte is of op ’n misleidende manier geadverteer is.” Die Times het bygevoeg: “Kinders word kieskeuriger verbruikers wanneer die geld uit hulle eie sak kom pleks van uit joune.”

Die werklike waarde van ’n speelding sluit natuurlik meer in as net die materiaal of die afwerking daarvan. Belangrike faktore is ook hoe dikwels jou kind dit sal gebruik en hoeveel genot dit hom sal verskaf. Dit is dalk redelik duur om ’n swaai of twee in die agterplaas op te rig, maar dit kan jare lank baie ure se pret verskaf. ’n Goedkoop speelding wat gou weggegooi word, is moontlik op die lange duur ’n slegter belegging.

6. Watter waardes en standaarde leer die speelding jou kind? ’n Professor van kinderstudie, David Elkind, waarsku dat “speelgoed kinders se verbeelding op positiewe maniere, nie negatiewe maniere nie, moet prikkel”. Vermy speelgoed wat afskuwelik is, wat sonder twyfel geweld aanmoedig of wat euwels onder volwassenes, soos dobbelary, naboots.

Wat van speelgoed wat soos karakters van gewilde sprokies- of wetenskapsfiksieverhale lyk? Sulke verhale handel gewoonlik oor hoe die goeie die kwaad oorwin. Party ouers beskou dus die ‘magiese elemente’ in hierdie verhale as blote kinderlike verbeeldingsvlugte en dink nie dat dit hulle kinders kwaad kan doen om dit te geniet nie. Ander vrees dalk dat die verhale belangstelling in die okkulte sal aanwakker (Deuteronomium 18:10-13). Ouers moet hulle eie besluite in hierdie verband neem sonder om ander te oordeel, en hulle moet in ag neem watter uitwerking sulke verhale—en enige speelgoed wat daarop gegrond is—op hulle kinders het.

Hou ook die beginsel in 1 Korinthiërs 10:23 in gedagte: “Alles is my geoorloof, maar nie alles is nuttig nie.” Is ’n gewilde speelding, al is dit miskien nie vir jou afkeurenswaardig nie, werklik nuttig om te koop? Kan dit ander aanstoot gee of laat struikel?

Speelgoed wat na bewering opvoedkundig is, behoort ook noukeurig deur ouers ondersoek te word, veral wanneer hulle bedoel is om kinders van seksuele sake en swangerskap te leer. Is die kind gereed vir sulke inligting? Sal dit beter wees om dié inligting oor te dra tydens gesprekke tussen jou en jou kind?a Sekere speelgoed dra moontlik die fisiese sy van sulke sake oor, maar dra hulle die regte sedelike gesindheid oor?

7. Wil ek werklik hê dat my kind hierdie speelding moet hê? Jy meen dalk dat jou kind reeds te veel speelgoed het, dat die speelding net nie prakties in julle omstandighede is nie of dat die speelding meer geraas maak as wat jy kan verduur. As sulke probleme nie opgelos kan word nie, het jy moontlik nie ’n ander keuse as om nee te sê nie. Dit is nie maklik nie. Maar om aan elke gril en eis van jou kind toe te gee, sal hom nie help om tot ’n gebalanseerde volwassene te ontwikkel nie. Let op die beginsel in Spreuke 29:21: “As ’n mens sy slaaf [of kind] van jongs af verwen, word hy op die end ondankbaar.”

Dit beteken nie dat jy as ouer dogmaties en onredelik moet wees nie. Dit sal jou kind net kwaad en gebelg laat voel. “Die wysheid van bo is . . . redelik” (Jakobus 3:17, NW). ’n Kindersorgdeskundige het dit so gestel: “Jy moet met jou kind gaan sit en baie mooi verduidelik waarom jy nie vir hom sekere speelgoed wil gee nie.”

Party dinge is belangriker as speelgoed

Hoewel speelgoed waardevolle instrumente vir opvoeding en vermaak kan wees, is hulle net lewelose dinge. ’n Kind kan lief wees vir ’n speelding, maar ’n speelding kan ’n kind nie liefhê nie. Kinders het liefdevolle aandag nodig wat net ouers hulle kan gee. “’n Ouer is by uitstek die beste speelding wat daar is”, sê dr. Magdalena Grey. Wanneer ouers met hulle kinders speel, help hulle ’n hegte emosionele band smee en dra hulle by tot die ontwikkeling van heilsame gesindhede en emosies.

Ja, kinders het heilsame spel nodig. Maar nog belangriker, hulle het sedelike en geestelike leiding nodig. Die Bybel sê: “Dit is die ewige lewe, dat hulle U ken, die enige waaragtige God, en Jesus Christus wat U gestuur het” (Johannes 17:3). Ouers kan ’n groot rol daarin speel om hulle kinders hierdie lewensreddende kennis te help verkry. Gesinne onder Jehovah se Getuies probeer om ’n studie van die Bybel ’n deel van hulle gereelde roetine te maak. Hulle doen dit dikwels met behulp van publikasies soos My boek met Bybelverhale, Luister na die Groot Onderwyser en Vrae wat jongmense vra—Antwoorde wat werk wat spesiaal vir kinders geskryf is.b Hierdie boeke is nie net vir vermaak nie—hulle het al duisende kinders gehelp om ’n sterk geloof in God op te bou. Kinders hou ook van die kassetopnames van Bybeldramas en van publikasies soos Die grootste mens wat nog geleef het.*

Ware Christene speel dus nie net met hulle kinders nie—hulle bid ook saam met hulle, studeer met hulle en gesels met hulle. Dit verg tyd en baie inspanning om sulke liefdevolle aandag te gee. Maar op die ou end bring dit vir ’n kind blywender vreugde mee as enige speletjie of blink speelding!

[Voetnote]

a Sien die artikels oor seksonderrig in die Ontwaak! van 22 Februarie 1992.

b Uitgegee deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc.

[Prente op bladsy 8, 9]

Kinders hou van selfgemaakte speelgoed—wasgoedmandjies word motors; skoendose word treine

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel