Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w80 6/15 bl. 7-11
  • Rwanda—waar Jehovah se geduld nie tevergeefs was nie

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Rwanda—waar Jehovah se geduld nie tevergeefs was nie
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1980
  • Onderhofies
  • EERS ONLANGS DEUR DIE GOEIE NUUS BEREIK
  • JEHOVAH SE GEDULD WORD WAARDEER
  • STRUIKELBLOKKE IS TE BOWE GEKOM
  • ’N GEES VAN SELFOPOFFERING
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1980
w80 6/15 bl. 7-11

Rwanda—waar Jehovah se geduld nie tevergeefs was nie

KUIFKOPKRAANVOËLS wei tussen papirusbiesies langs die kronkelende Niabarongo-boloop van die magtige Nyl. Daar naby bied bosse piesangbome skuiling aan ’n paar winkeltjies langs ’n klipperige pad. Kassaweplante, mielies, koffieplante, bone en ander gewasse groei teen die steil hange, met hier en daar ’n huis tussenin. Die huise van kleistene met rooi teëldakke lyk nogal mooi met hulle wit of geel gepleisterde mure.

Teen die groen hange werk vroue wat in rooi geklee is hard op die landerye terwyl ’n paar bokke en langhoringbeeste op klein weilande gesien kan word. Omdat die gebied nagenoeg 1 600 meter bo seespieël geleë is, is die vars lug verfrissend. In die verte, gedeeltelik deur wit wolke toegevou, troon die 4 000 meter hoë pieke van die vulkaniese Virungareeks oor die vreedsame toneel.

Dit is Rwanda, waar Jehovah se geduld nie tevergeefs was nie. Al met een van die talle voetpaadjies, wat nog effens glad is na die nag se reëns, loop daar ’n halfdosyn volwassenes en kinders. Dit is Saterdagoggend en hulle is besig om die 25 kilometer na Kigali, Rwanda se hoofstad, af te lê. Daar wil hulle weeklikse Christenvergaderinge bywoon en by persoonlike Bybelstudies baat vind. Hulle belangstelling in Skriftuurlike waarheid is aangewakker deur ’n jong vrou uit hulle gebied wat die Koninkryksboodskap in Kigali gehoor het. Hulle is onder diegene in Rwanda wat Jehovah se geduld tydens hierdie “laaste dae” waardeer.—2 Pet. 3:9; 2 Tim. 3:1.

EERS ONLANGS DEUR DIE GOEIE NUUS BEREIK

Die ware Christelike geloof het Rwanda eers heel onlangs bereik. Rwanda is ’n klein landjie met ’n oppervlakte van slegs 26 338 vierkante kilometer en is in die hartjie van Afrika van alle kante ingesluit. Sy bevolking van meer as 4,5 miljoen benut feitlik elke beskikbare stukkie grond op sy duisende groen heuwels. Tot onlangs was dit onder die oorheersing van ’n paar van die Christendom se godsdiensorganisasies en het die mense geestelik honger gely (Amos 8:11). Maar in 1971 het drie buitelandse Koninkryksverkondigers daar begin arbei en hulle pogings hoofsaaklik toegespits op die klein Swahilisprekende bevolking. Teen 1974 het hulle aangegroei tot 14, maar daar was baie min Rwandese onder hulle. Sedertdien was daar groter godsdiensvryheid in Rwanda en het verskeie getuies van Jehovah wat Rwanda se volkstaal, Kinyarwanda, praat, by hulle geledere aangesluit.

Onder hulle was daar een huisvader wat, soos talle Rwandese, vir die kopermyne in Shaba (voorheen Katanga) in suidelike Zaïre gewerk het. Hierdie man het na die waarheid gesoek en dit uiteindelik teen die einde van die sestigerjare gevind. Namate ander verhuis het, het hy die geleentheid gehad om gemeentelike verantwoordelikhede te dra en dus vinnig die nodige ondervinding verkry om ’n behulpsame geestelike herder te wees. Rwanda, sy afgeleë geboorteland waar amper niemand die “goeie nuus” gehoor het nie, was dikwels in sy gedagtes en gebede. Kort daarna het die instrukteur van ’n spesiale kursus wat vir Christenopsieners voorsien is, hom aangespoor om ’n voltydse prediker in sy geboorteland te word. Hierdie moontlikheid het sy hart verbly, sodat nòg ’n bevordering wat hy kort tevore by sy werk gekry het, nòg die teenkanting van familielede hom teruggehou het. Hy en sy vrou kon Jehovah se hand duidelik in die saak sien, aangesien hulle in ’n verbasende kort tydjie al die nodige dokumente gehad het en sy firma vir hulle vliegtuigkaartjies na Rwanda betaal het. Sy ondervinding in die dissipelmaakwerk en die harde werk van ander ywerige Getuies was ’n groot stimulus vir die werk hier.—Matt. 28:19, 20.

JEHOVAH SE GEDULD WORD WAARDEER

Talle van Rwanda se nuwe Koninkryksverkondigers was voorheen toegewyde lidmate van ander kerke. Nou toon hulle groot waardering vir Jehovah se geduld deur vinnig vordering te maak en die “goeie nuus” ywerig te verkondig, dikwels as voltydse evangeliedienaars. ’n Paar voorbeelde sal dit toelig.

’n Pinksterevangelis het die jong spesiale pionier-verkondiger in sy dorp jammer gekry en besluit om “hom reg te help”. Maar die gesprek wat gevolg het, het net mooi die teenoorgestelde uitwerking gehad. Die evangelis het sy priester met 18 leerstellige vrae gekonfronteer, maar daardie geestelike kon hulle nie bevredigend beantwoord nie. Toe die evangelis begin het om die Bybel saam met Jehovah se Getuies te bestudeer, is hy met die dood gedreig en op ander maniere teëgestaan. Sy vrou wou van hom skei en het met sy vyande geheul, maar haar gesindheid het op ’n dag verander. Terwyl sy die Bybelstudie vanuit die “gebedekamer” in die huis afgeluister het, het sy gehoor hoedat die Getuies vir haar man sê om haar nie te slaan nie. Jy kan jou voorstel hoe verbaas haar man eendag was toe hy op haar afkom waar sy vir die priester getuig! Die man en vrou is nie alleen in ware aanbidding verenig nie, maar vyf ander familielede het ook Jehovah se geduld benut.

Een van hierdie familielede was ’n bekwame jong man wat deur die kerk gestuur is om sy oom te “red”. Na ’n bespreking van vyf uur met die Getuie wat die Bybelstudie saam met die gewese evangelis gehou het, het hierdie neef egter in die geheim gereël dat ’n Bybelstudie elke dag met hom gehou word, op voorwaarde dat sy oom nie daarvan vertel word nie. Maar hierdie geheimhouding het geëindig toe sy oom tydens ’n studie ingeloer het. Hoe verheug was hy tog dat sy neef besig was om te studeer! Na hulle Christelike doop het hierdie man en sy neef dadelik hulppioniers en kort daarna gewone pioniers (voltydse Koninkryksverkondigers) geword. Sedertdien het hulle na ’n taamlik afgesonderde gebied verhuis waar ’n aantal van hulle familielede en ander die “goeie nuus” geredelik aanvaar het. Hoe bly is hulle tog om te sien dat ’n nuwe gemeente daar gestig is en dat meer as 30 persone die vergaderinge gereeld bywoon.

In ’n ander geval het ’n laerskoolonderwyser gehoor dat ’n sekere man in sy dorp die Drie-eenheidsleerstelling loën. Omdat sy nuuskierigheid geprikkel is, het die onderwyser met die man in aanraking probeer kom, en ’n bespreking met hom het tot ’n Bybelstudie gelei. Vier maande later het die onderwyser besef dat hy deel is van ’n wêreldryk van valse godsdiens en het hy hom dadelik daaraan onttrek, en daarna het twee lede van sy gesin sy voorbeeld gevolg.—Openb. 18:4.

Toe hierdie man as ’n getuie van Jehovah gedoop is, het sy vorige kerk briewe dwarsoor die land gestuur waarin hulle hulle “kuddes” teen hom gewaarsku het. Maar waardering vir sy verhouding met God het hom beweeg om dadelik na sy doop ’n hulppionier te word, en kort daarna ’n gewone pionier. Dit het nog ’n drastiese verandering in sy lewe teweeggebring. Hy moes sy pos as onderwyser, waarin hy baie aansien geniet het, prysgee en weer ’n baie eenvoudiger lewe as boer lei. Aangesien Rwanda baie digbevolk is en ongeveer 97 persent van sy bewoners op plase werk, is sekulêre werk skaars en baie gesog. Maar hierdie jong man het groter geluk as ooit tevore gesmaak, onder meer die vreugde om te sien hoe etlike van sy studente gedoop word.

Nog ’n onderwyser, wat ’n halwe dagreis vanaf die naaste dorp woon, het die boodskap van waarheid gehoor toe hy Rwanda se universiteitstad besoek het. Omdat hy so afgesonderd was en vervoerkoste hoog is, moes ’n Bybelstudie per brief gehou word, en dit is slegs deur twee persoonlike besoeke oor ’n tydperk van maande aangevul. Maar dit was genoeg om hom te beweeg om die “goeie nuus” aan bure, vriende en party van sy leerlinge te verkondig. Mettertyd het sy vrou ook hierdie hoop aanvaar.

Eerlank is ’n ultimatum aan hierdie man gestel: Hou op preek of verloor jou betrekking. Sy besluit was finaal; hy sou voortgaan om vir ander van God se koninkryk te vertel. Party het hom gewaarsku dat hy gaan honger ly. Dit is egter nie alleen sy gesinslewe en gesondheid wat verbeter het nie, maar hy vaar ook geestelik beter. Van sy familielede en verskeie van sy oudleerlinge het onderdane van God se koninkryk geword. En met die hulp van ’n spesiale pionier is ’n nuwe gemeente onlangs in daardie gebied gestig. As ons terugkyk, kan ons sien hoe waardevol ’n Bybelstudie per pos is wanneer persoonlike besoeke nie moontlik is nie.

STRUIKELBLOKKE IS TE BOWE GEKOM

Talle van die persone in Rwanda wat die ware Christelike godsdiens aanvaar het, het godsdiensverbintenisse, algemene teenstand, moeilikhede by die werk en afsondering te bowe gekom. Ander probleme wat die hoof gebied is, sluit onsedelikheid, diepgewortelde rookgewoontes en strawwe drinkery in. Stamvooroordeel is nog ’n struikelblok wat Christene te bowe moes kom.

Dan is daar ook vooroueraanbidding en verwante ritusse. ’n Tradisionele rugo (’n ovaalvormige opstal met ’n heining rondom) bevat ’n huisie wat spesiaal vir afgestorwe voorouers gebou is. Baie persone bring nog steeds offerandes waarin bloed en bier ’n rol speel. Duideliker verskynsels van geesaanbidding is te sien in gevalle van dood, siekte en huweliksprobleme. Diegene wat die ware aanbidding van Jehovah begin beoefen, staak natuurlik sulke gebruike.

’n Jong huisvader het byvoorbeeld met die toorkuns gebreek. Omdat hy ’n ywerige student van die toorkuns was, het hy amper die stadium bereik waar hy self ’n toordokter was. So te sê die helfte van sy maandelikse inkomste is bestee aan luiperdvelle, leeutande, olifanthare, dranke en ander dinge wat met die toorkuns geassosieer word. Selfs op sy troudag het hy die geeste toegewyd aangeroep. Maar hy, en later ook sy vrou, was kort-kort siek.

Na ’n kort ontmoeting met Jehovah se Getuies was hierdie man se vrou beïndruk omdat sy vir die eerste keer die naam “Jehovah” in Jeremia 16:21 in haar Kinyarwandese Bybel gesien het, en sy het gevolglik die Getuies genooi om haar tuis te besoek. Hulle belangstelling is gewek, en op ’n dag het hierdie egpaar ’n Christenvergadering bygewoon waartydens ’n toespraak gehou is oor spiritisme en die toestand van die dooies. Hierdie inligting het die man diep getref. Hy het huis toe gegaan, al sy artikels wat tydens spiritistiese aanbidding gebruik is—toebehore wat meer as R220 werd was—bymekaargemaak en verbrand, ’n werk wat drie-en-’n-half uur geduur het. (Vergelyk Handelinge 19:18, 19.) Hoe verbaas was hierdie egpaar tog toe hulle gesondheid daarna vinnig verbeter het! Eendag het ’n vrou hulle besoek, en nadat sy die “goeie nuus” gehoor het, het sy gevoel dat sy bevry is van jare van oorheersing deur geeste. Sy het op haar beurt begin om die Bybel te bestudeer en Christenvergaderinge saam met haar man by te woon. Intussen het ons jong huisvader ander nodige veranderinge in sy lewe aangebring en sy toewyding aan Jehovah, wat soveel geduld en barmhartigheid aan hom betoon het, gesimboliseer.

’N GEES VAN SELFOPOFFERING

Dit is hartverblydend om die gees van ywer, waardering en opoffering te sien wat aan die dag gelê word deur diegene wat maar eers onlangs begin het om Jehovah se goedertierenheid te smaak. Een man het slegs genoeg geld gehad om vir die helfte van ’n enkelkaartjie na ’n kringbyeenkoms te betaal. Hy het dus begin loop. Nadat hy omtrent 65 kilometer te voet afgelê het, was hy omtrent halfpad en kon hy vir sy vervoer na die byeenkoms betaal. Hoe bly was hy tog om daar te wees!

Selfs wanneer vervoer beskikbaar is, is die rytuie dikwels nie baie gerieflik nie. ’n Persoon moet dalk agterop ’n vragmotor of bo-op ’n vrag steenkool, vuurmaakhout, suiker of koeldrankbottels ry. Die bestuurders benut gewoonlik die hele ruimte en prop soms 50 persone agterop ’n bakkie—teen ’n prys, natuurlik! Voeg hierby die voortdurende gestamp op klipperige paaie asook reënbuie wat van tyd tot tyd uitsak, en jy kan jou voorstel onder watter toestande hulle dikwels moet reis. Maar Christene het sulke reise gelate afgelê om groot vreugde en verkwikking by hulle kringbyeenkomste te smaak.

Dit was uiters moeilik om in 1979 van Rwanda na die internasionale byeenkoms in Nairobi, Kenia, te reis. Die 29 byeenkomsgangers—volwassenes sowel as kinders—is byna ’n dag lank deur soldate in Uganda, wat destyds onder die bewind van Idi Amin was, vertraag. Toe hulle uiteindelik in Nairobi aangekom het, het hierdie byeenkomsgangers dit baie waardeer om ’n geestelik lonende byeenkoms saam met medegelowiges uit 28 lande by te woon.

Waardering vir die lig van die waarheid en Jehovah se onverdiende goedheid blyk ook uit die “pioniergees” van baie Koninkryksverkondigers in Rwanda. Elke verkondiger wat nie ’n voltydse prediker is nie, wy elke maand gemiddeld tussen 20 en 25 uur daaraan om die “goeie nuus” te verkondig en meer as een weeklikse Bybelstudie saam met belangstellendes te hou. En dit het al herhaaldelik gebeur dat ’n nuwe verkondiger meer as 50 uur in die evangelisasiewerk en drie, vier of selfs vyf Bybelstudies saam met ander gedurende ’n maand gerapporteer het!

Maar daar moet nog baie Koninkrykspredikingswerk in hierdie mooi Afrikalandjie gedoen word. Wanneer ’n mens oor Rwanda vlieg, sien jy talle afgesonderde opstalle. Met die uitsondering van die waterryke vlaktes van die Akagera-Nasionale Park in die ooste, woon baie mense langs hierdie land se vleierige rivieroewers, op die geronde heuwels, naby die groen teeplantasies, op die rande van die bergagtige reënwoud, op die talle skiereilande in die skilderagtige mere en teen die steil hange, selfs so hoog as die gebied van die berggorilla teen die boomryke hange van die Virunga-vulkane. Pogings word aangewend om soveel moontlik van hierdie mense te bereik, deur die toeganklike huise te besoek sowel as die mense op markdae te ontmoet.

Jehovah se Getuies hier is dankbaar vir God se geduld en vir hulle geleenthede om ander te help om dit te benut. Goddelike geduld kan voorwaar vir baie ‘beskou word as geleentheid om gered te word’, soos blyk uit ’n gelukkige skare aanbidders van Jehovah in Rwanda.—2 Pet. 3:15, NAB.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel