Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w80 6/15 bl. 3-6
  • Die belofte van ’n rooskleurige toekoms

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die belofte van ’n rooskleurige toekoms
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1980
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • BETROUBARE GETUIENIS
  • VERVULLING VAN BELOFTE WAT HERHAAL IS
  • “Wees vir ewig bly oor wat ek skep”
    Jesaja se profesie—Lig vir die hele mensdom II
  • Hoe „nuwe hemele en ’n nuwe aarde” begin
    Oorlewing tot in ’n nuwe aarde
  • Alles sal nuut gemaak word—Soos voorspel is
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2000
  • “Vertroos my volk”
    Jesaja se profesie—Lig vir die hele mensdom I
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1980
w80 6/15 bl. 3-6

Die belofte van ’n rooskleurige toekoms

WATTER medelydende persoon was nie al baie ontsteld omdat hy onreg en lyding aanskou het nie? Daar is voorwaar ’n magdom onregte wat reggestel moet word. Maar sal ons ooit ’n einde sien aan al die ontstellende dinge wat die mensdom steeds teister?

Meer as 19 eeue gelede het ’n man wat sy bestaan as ’n gewone visser gemaak het. geskryf: “Ons verwag volgens [God se] belofte nuwe hemele en ’n nuwe aarde waarin geregtigheid woon” (2 Pet. 3:13). Saam met baie ander knegte van die Allerhoogste het hierdie man, die apostel Petrus, bemoediging uit hierdie belofte geput. Hulle het almal met groot afwagting uitgesien na daardie heuglike dag wanneer wetteloosheid, verdrukking en geweld gaan eindig en geregtigheid sal geskied. Maar hoe kan ons seker wees dat hierdie ’n belofte is wat deur die Skepper van die mens gemaak is en beslis vervul gaan word? Sal ’n vervulling daarvan slegs voordele inhou vir diegene wat dan lewe? En is daar enigiets in die belofte wat ’n betroubare hoop vir miljoene ontslapenes inhou?

Dit is opmerkenswaardig dat Petrus, toe hy na “nuwe hemele en ’n nuwe aarde” verwys het, nie ’n belofte bekend gemaak het wat Jehovah God maar eers pas tevore gemaak het nie. Ongeveer 800 jaar tevore het die Almagtige deur sy profeet Jesaja gesê: “Ek skep nuwe hemele en ’n nuwe aarde, en aan die vorige dinge sal nie gedink word en hulle sal in die hart nie opkom nie” (Jes. 65:17). “Soos die nuwe hemel en die nuwe aarde wat Ek maak, voor my aangesig sal bestaan, spreek die HERE, so sal julle nageslag in julle naam bestendig wees.”—Jes. 66:22.

BETROUBARE GETUIENIS

Hoewel hierdie woorde baie eeue gelede op skrif gestel is, het ons vandag betroubare getuienis dat hulle inderdaad van God af kom. Die Bybel self bied die sleutel om die bron van ware profesie te identifiseer. Daar is drie punte: (1) Die boodskap moet ware aanbidding bevorder, (2) die profeet moet in Jehovah se naam spreek en (3) die dinge wat voorspel is, moet bewaarheid word (Deut. 13:1-4; 18:20-22). Voldoen die profesieë van Jesaja aan hierdie vereistes wanneer hulle daaraan beoordeel word?

’n Ondersoek van die boek Jesaja toon dat dit deurgaans beroepe op die Israeliete doen om die verkeerde weg te verlaat en die Skepper met ’n rein beweegrede te dien. In elke geval word die woorde in Jehovah se naam verkondig. Ons lees byvoorbeeld:

“Was julle, reinig julle, neem die boosheid van julle handelinge voor my oë weg, hou op om kwaad te doen, leer om goed te doen, soek die reg, beteuel die verdrukker, doen reg aan die wees, verdedig die saak van die weduwee. As julle gewillig is en luister, sal julle die goeie van die land eet. Maar as julle weier en wederstrewig is, sal julle deur die swaard geëet word; want die mond van die HERE het dit gespreek” (Jes. 1:16, 17, 19, 20).

“Soek die HERE terwyl Hy nog te vinde is; roep Hom aan terwyl Hy naby is. Laat die goddelose sy weg verlaat en die kwaaddoener sy gedagtes; en laat hy hom tot die HERE bekeer, dan sal Hy hom barmhartig wees; en tot onse God, want Hy vergeef menigvuldiglik” (Jes. 55:6, 7).

Dit is dus duidelik dat die profesieë van Jesaja voldoen aan die vereistes dat dit (1) indiwidue na ware aanbidding moet rig en (2) in Jehovah se naam gespreek moet wees.

Maar wat van die vervulling—(3) dat die dinge wat voorspel is, bewaarheid moet word? Iemand sal dalk sê: ‘Ons sien nog nie “nuwe hemele en ’n nuwe aarde” nie.’ Ons moet egter daarop let dat daar ’n vroeë vervulling van hierdie profesie was wat deur die geskiedenis gestaaf kan word.

Omdat die Israeliete geweier het om ag te slaan op die beroep tot bekering wat herhaaldelik deur hulle profete gedoen is, het Jehovah God die ongehoorsame volk in die hande van hulle vyande oorgegee. Die hoofstad Jerusalem en die land Juda is woes gelaat nadat die Babiloniërs onder Nebukadnesar hulle oorwinning voltooi het. Argeologiese getuienis staaf hierdie feit. Die boek The Archaeology of Palestine deur W. F. Albright sê: “Daar is nie ’n enkele geval bekend waar ’n dorp in Juda ononderbroke tydens die ballingskap bewoon is nie. Om die teenstelling toe te lig: Bet-el, wat voor die ballingskap net buitekant die noordelike grens van Juda geleë was, is nie destyds vernietig nie, maar is tot in die laaste deel van die sesde eeu ononderbroke bewoon” (Bl. 142). Terwyl die land in ’n vervalle toestand gelê het, was baie Jode ballinge in Babilon.

Daar was min hoop dat die Joodse ballinge na hulle tuisland sou kon terugkeer. Die beleid van die Babiloniese heersers het dit nie toegelaat nie (Jes. 14:16, 17). Jesaja se profesie het egter gesê dat ’n heerser met die naam Kores sou beveel dat Jerusalem herbou en die land Juda herbevolk moet word (Jes. 44:25-45:2). Maar dit sou eers gebeur nadat 70 jaar verloop het vanaf die tyd dat die Babiloniërs in 607 v.G.J. “puinhope van Jerusalem” gemaak het.—Dan. 9:2.

Die keerpunt het aangebreek op die nag van 5/6 Oktober 539 v.G.J., 68 jaar na die begin van Juda se 70 jaar van diensbaarheid aan Babilon (Jer. 25:9-11). Omdat hulle veilig gevoel het binne die goedversterkte Babilon, het die inwoners rumoerig feesgevier. Hulle was onbewus van die feit dat die vlak van die Eufraat wat deur die middel van die stad gevloei het, besig was om vinnig te daal. Die rivier is deur die beleërende magte onder aanvoering van Kores die Pers verlê. Toe die Mede en die Perse met die rivierbedding langs getrek het, het hulle Babilon maklik deur die hekke langs die rivier binnegegaan. Die invallers het vinnig deur die strate beweeg en almal wat weerstand gebied het om die lewe gebring. Toe het hulle die paleis verower en die inwonende heerser Belsasar doodgemaak. Sonder enige noemenswaardige stryd het Babilon dus in een nag geval.

Wat het al hierdie dinge met die belofte van “nuwe hemele en ’n nuwe aarde” te doen? Daar is ’n regstreekse verband. Na die belofte van “nuwe hemele en ’n nuwe aarde” sê die woord van Jehovah deur Jesaja voorts: “Wees julle bly en juig vir ewig oor wat Ek skep; want kyk, Ek skep Jerusalem om te juig, en sy mense om bly te wees. En Ek sal juig oor Jerusalem en bly wees oor my volk; en daarin sal nie meer gehoor word die stem van geween of die stem van geskreeu nie.”—Jes. 65:17-19.

Na die terugkeer van die ballinge na die land Juda en die voltooiing van die herbouingswerk, was Jerusalem inderdaad ’n rede “om te juig”, want dit het opgehou om ’n plek van droewige verlatenheid te wees. Die stem van geween weens die oorlogsrampe wat dekades vroeër in die strate van daardie stad weerklink het, is nie meer gehoor nie. In 537 v.G.J., toe gerepatrieerde Israeliete en hulle vee weer die land bewoon het, het ’n “nuwe aarde” in aansyn gekom. ’n “Nuwe hemele” het oor hierdie “aarde” gerepatrieerde Israeliete geheers, want deur goewerneur Serubbabel en hoëpriester Josua het Jehovah God die ballinge wat teruggekeer het, gerig en toesig oor hulle gehou.—Jes. 51:16; Hag. 1:1, 14.

Met die oog op hierdie vervulling van Jesaja se profesie kan ons sê dat dit van God af kom, aangesien dit aan al drie vereistes vir ’n ware profesie voldoen. Omdat die ewige God, Jehovah, die bron van die boodskap is, kan ons daarvan seker wees dat die herhaalde belofte van “nuwe hemele en ’n nuwe aarde” ’n heerlike vervulling sal hê.

VERVULLING VAN BELOFTE WAT HERHAAL IS

Terwyl die huidige stelsel van dinge voortduur, kan ons inderdaad nie verwag dat regverdigheid onder die mensdom sal heers nie. Die huidige stelsel moet dus eindig. Dit sal gebeur wanneer Jehovah God deur middel van sy Seun optree teen almal wat volhard op ’n weg wat die vrede en geluk van die mensdom bedreig. Die feit dat hierdie groot teregstellingsdag nog nie gekom het nie, moet nie verkeerd vertolk word nie, want die verloop van tyd het ’n goeie doel gedien. Waar hy hieroor kommentaar lewer, het die apostel Petrus geskryf: “Die Here stel nie die vervulling van sy belofte uit nie, al dink party mense so. Nee, Hy is geduldig met julle, omdat Hy nie wil hê dat iemand verlore gaan nie: Hy wil hê dat almal hulle moet bekeer.”—2 Pet. 3:9, 10, NAB; 2 Thess. 1:6-10.

Ons sal verstandig wees as ons nie van God se geduld misbruik maak nie. Die dag van afrekening kom al hoe nader. Indien enigiemand op daardie dag nie die Skepper se goedkeuring wegdra nie, sal dit vir hom rampspoedig wees. Dit is waarom Jesus Christus hierdie waarskuwing gerig het: “Pas op vir julleself, dat julle harte nie miskien beswaar word deur swelgery en dronkenskap en sorge van die lewe nie, en dié dag julle nie skielik oorval nie. Want soos ’n strik sal hy kom oor almal wat op die hele aarde woon. Waak dan en bid altyddeur, sodat julle waardig geag mag word om al hierdie dinge wat kom, te ontvlug en voor die Seun van die mens te staan.”—Luk. 21:34-36.

Diegene wat God se goedkeuring wegdra, sal dan die vervulling van hierdie woorde beleef: “God sal al die trane van hulle oë afvee, en daar sal geen dood meer wees nie; ook droefheid en geween en moeite sal daar nie meer wees nie, want die eerste dinge het verbygegaan” (Openb. 21:4). Watter wonderlike verligting sal dit tog nie vir die mensdom beteken nie! Al die droefheid oor die onreg, verdrukking en lyding sal dan nie meer wees nie. Angswekkende pyn sal tot die verlede behoort. Die dood sal nie meer ons dierbares opeis nie. Vrede sal oral heers. Almal sal aangespoor word deur opregte liefde in gesindheid, woord en daad.

Selfs diegene wat gesterf het, sal baat vind by die vervulling van God se belofte. Waarom? Die Bybel antwoord: ‘Daar sal ’n opstanding wees’ (Hand. 24:15). Die feit dat Jesus Christus opgewek is—iets waarvoor daar meer as 500 getuies was—bied die grondslag vir hierdie hoop.—1 Kor. 15:3-6, 13, 16.

Dit is voorwaar die allerbeste nuus dat God se belofte van “nuwe hemele en ’n nuwe aarde” vinnig besig is om sy vervulling te nader. Dit is dus van die grootste belang dat ons ons daarop moet toelê om ons Skepper se goedkeuring weg te dra. Dit is wat die apostel Petrus sy medegelowiges aangespoor het om te doen toe hy gesê het: “Terwyl julle hierdie dinge verwag, beywer julle dat julle vlekkeloos en onberispelik voor Hom bevind mag word in vrede” (2 Pet. 3:14). Is dit wat jy probeer doen?

[Prent op bladsy 4]

Toe die weggevoerde Jode uit Babilon teruggekeer het, het ’n “nuwe aarde” tot stand gekom

[Prent op bladsy 5]

“Doen reg aan die wees, verdedig die saak van die weduwee.”—Jes. 1:17.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel