Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w80 4/15 bl. 14-17
  • Wat is jou gesindheid teenoor God se naam?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Wat is jou gesindheid teenoor God se naam?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1980
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • “HOE KAN EK GOD WERKLIK LEER KEN?”
  • “HOU AAN SOEK”
  • GESINDHEID TEENOOR GOD SE NAAM
  • TROTS DAAROP OM SY NAAM TE DRA
  • ’N BEROEP
  • Eer Jehovah se groot naam
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2013
  • Die boodskap wat ons moet verkondig
    Vind baat by opleiding in die Teokratiese Bedieningskool
  • Jehovah verheerlik sy naam
    God se Koninkryk regeer!
  • Die allergrootste naam
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1984
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1980
w80 4/15 bl. 14-17

Wat is jou gesindheid teenoor God se naam?

DIEP in jou hart is jy ongetwyfeld alreeds daarvan oortuig dat God bestaan en dat hy die tallose mooi dinge wat ons rondom ons sien, voorsien of geskep het. Jy het moontlik groot eerbied vir God—en nogtans is jy nie na aan hom nie. Dit lyk nog vir jou asof God afsydig en ondeurgrondelik is.

Maar dit is van die grootste belang en uiters dringend om God te leer ken en werklik lief te kry, om hom as die Vader van ’n universele gesin te ken en om ’n lid van daardie groot gesin te word. Uit ’n persoonlike standpunt is dit ’n saak van lewe en dood om God as ’n liefdevolle Vader te leer ken, te respekteer en te gehoorsaam. En uit ’n globale standpunt is die vorming van hierdie wêreldwye gesin die enigste oplossing vir die haglike situasie waarin die mens hom vandag bevind. Goddelike profesie toon baie duidelik dat hierdie ou stelsel van dinge op ’n globale ramp afstuur wat oorleef sal word slegs deur diegene wat God en hulle naaste waarlik liefhet (Ps. 37:10, 11, 28, 29). Maar jy vra dalk.

“HOE KAN EK GOD WERKLIK LEER KEN?”

Veronderstel jy doen navorsing op ’n sekere gebied en koester groot bewondering vir ’n beroemde onderrigter op daardie gebied. En gestel ook jy wou hom graag beter leer ken en meer by hom leer, maar hy het in ’n afgeleë land gewoon. Wat dan? Sou jy jou dit nie ten doel gestel het om al sy geskrifte en alles wat oor hom gepubliseer word te lees nie? Sou jy nie met ander studente gesels het wat reeds meer oor hom en sy leer geweet het nie? En gestel jy het dan oor sekere moeilike, persoonlike vrae of probleme aan hom geskryf en baie bevredigende antwoorde ontvang. Jou bewondering en respek vir hierdie goeie onderrigter sou aansienlik toegeneem het en sy hulp sou hom vir jou dierbaar gemaak het.

Is dit ook moontlik met Jehovah, die Grootste Onderrigter? Beslis! (Jes. 30:20, 21, NW). Maar hoe?

Het jy al ooit ‘Sy geskrifte’—die Bybel—gelees? Jy het moontlik al probeer en dit moeilik gevind om sekere dele te verstaan. Volg dan gerus die voorbeeld van ’n amptenaar van ’n Afrikaland wat ook die Skrif gelees het en vrae gehad het. Wat het hy gedoen? Hy het vir Filippus, ’n getuie van Jehovah, gevra om hom te help. Lees gerus oor hierdie interessante voorval in die boek Handelinge, hoofstuk 8, verse 26 tot 39.

Terloops, jy kan vandag dieselfde doen. Indien jy die Bybel lees en vrae het, kan jy Jehovah se Getuies raadpleeg. Hulle is altyd baie bereid om diegene te help wat kennis van die hemelse Vader, Jehovah, wil verkry. En hulle het Bybelgebaseerde publikasies (benewens hierdie tydskrif) om opregte studente in te lig.

’n Bybelbespreking met ’n ervare student van die Skrif kan inderdaad jou kennis van Jehovah en jou respek en liefde vir hom grootliks laat toeneem. Jy sal byvoorbeeld leer dat Jehovah “’n barmhartige en genadige God, lankmoedig en groot van goedertierenheid en trou” is (Ex. 34:6). Jy sal afkom op talle voorbeelde van Jehovah se barmhartigheid en geduld, soos in die geval van Dawid, wat op skokkende wyse gesondig het, maar berou getoon het en gespaar is.—2 Sam. 12:13, 14; Ps. 51.

Jy sal ook begryp waarom Jehovah toegelaat het dat goddeloosheid voortduur, en waarom hy nog nie boosheid en verdorwenheid uitgewis het nie—iets wat net so seker gaan gebeur as wat die son more gaan opkom (Spr. 2:21, 22; 2 Pet. 3:7). Jy sal leer van Jehovah se groot lankmoedigheid, sy grenslose wysheid en begrip, en sy wonderlike voorneme om die aarde skoon te maak en vrede en ’n paradys hier te herstel.—Vergelyk Jesaja 65:17, 21-25

“HOU AAN SOEK”

Maar jy kom dalk probleme of teenkanting tee. Party mense, selfs onder jou familielede en vriende, sal spot met jou pogings om Jehovah se Woord te bestudeer, en hulle sal moontlik selfs probeer om diegene wat jou help te belaster. Jesus het sy dissipels gewaarsku om sulke dinge te verwag.—Matt. 5:11.

Indien jy egter daarvan oortuig is dat daar ’n verhewe Persoon is wat die sleutel tot die mensdom se toekoms besit, spoor ons jou aan om te bly by jou voorneme om hom en sy Seun, Jesus Christus, te leer ken. Dit was hierdie einste Seun wat gesê het: “Dit is die ewige lewe, dat hulle U ken, die enige waaragtige God, en Jesus Christus wat U gestuur het.” Jesus het ook gesê: “Hou aan soek, en julle sal vind: hou aan klop, en daar sal vir julle oopgemaak word.”—Joh. 17:3; Matt. 7:7, NW.

Indien jy dit doen, sal jy aangenaam verras wees om uit te vind hoe naby, hoe genaakbaar Jehovah werklik is. In ’n openbare toespraak voor ’n groep Atheners het die apostel Paulus gesê: “Hy [God is] nie ver van elkeen van ons nie” (Hand. 17:27). En ’n goddelik geïnspireerde profeet het geskryf; “Soek [Jehovah] terwyl Hy nog te vinde is; roep Hom aan terwyl Hy naby is.”—Jes. 55:6.

Ja, “roep Hom aan”. “Nader tot God, en Hy sal tot julle nader” (Jak. 4:8). Roep Jehovah, “die Vader van ontferminge en die God van alle vertroosting”, aan indien jy na die waarheid soek, indien jy smartlike probleme of sondes het wat jou belas (2 Kor. 1:3). Doen dit in die naam van sy Seun, Jesus Christus, wat gesê het: “Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is, en Ek sal julle rus gee.”—Matt. 11:28.

Jy sal verheug wees om uit te vind wat ’n behaaglike, bevredigende verskil jou pogings om tot Jehovah te nader in jou lewe kan maak. Jou gemoed sal bevry word van ontstellende, verwarrende valse godsdiensleerstellings en -beskouings. En jou studie van God se profesieë en voornemens sal vir jou toon waarom die wêreld so vol probleme, verdorwenheid en vrees is. Ja, en so ’n studie van die Bybel sal vir jou openbaar watter wonderlike toekoms daar wag op die aarde en op diegene wat die voorreg het om onder God se koninkryk daarop te lewe.—Matt. 6:9, 10.

Stem jy nie saam dat ons, in hierdie donker uur in die mens se geskiedenis, begrip, gesig en geestelike lig broodnodig het nie? Psalm 119:105 sê gepas van God: “U Woord is ’n lamp vir my voet en ’n lig vir my pad.” Ja, God se Woord kan nou ’n wonderlike nuwe lewenspad aantoon, asook heerlike vooruitsigte vir die toekoms. Dit kan jou lei tot ’n juiste kennis van en ’n innige liefde vir die ware God, Jehovah.

GESINDHEID TEENOOR GOD SE NAAM

Wat ’n mens se ras of nasionaliteit ook al is, ’n ferme, vriendelike en liefdevolle gesinshoof word hoog op prys gestel. ’n Goeie vader is nie alleen ’n lewegewer nie, maar oor ’n voorsiener, ’n raadgewer, ’n beskermer, ’n vriend in tye van nood. So ’n vader geniet die respek en liefde van sy kinders.

Sal jy nie altyd

—met lof van hom praat nie?

—hom verdedig wanneer hy gekritiseer word nie?

—probeer om hom nie te mishaag nie?

—daarop trots wees om sy naam te dra nie?

Diegene wat lede van Jehovah se wêreldwye gesin word, praat altyd met lof van hom. Hulle gee nie hulle steun aan enige kampanje om God se naam te onderdruk nie, maar wil graag sy groot naam onder die nasies bekend maak (Ps. 105:1-3). Hulle is altyd bereid om “aan God ’n lofoffer [te] bring, dit is die vrug van die lippe wat sy Naam bely”.—Hebr. 13:15.

Sulke indiwidue wil altyd graag hulle Vader se naam verdedig wanneer hy gekritiseer word. Omdat hulle sy Woord noukeurig bestudeer het, kan hulle die God-onterende leerstelling oor die ‘helse vuur en foltering’ weerlê. Hulle kan toon dat ‘God liefde is’ (1 Joh. 4:8). Daarbenewens kan hulle daarop wys dat hy nie “dood” is nie maar dat hy beslis lewe en besorg is oor die situasie hier op aarde en besig is om sy voornemens vir die mensdom tot ’n wonderlike hoogtepunt te voer.

Lede van hierdie wêreldwye gesin probeer ook om nooit iets te doen wat hulle Vader mishaag nie. Hulle neem die ou gebod ter harte: “Jy mag die Naam van [Jehovah] jou God nie ydellik gebruik nie” (Ex. 20:7). Alhoewel hulle onvolmaak is en net soos koning Dawid foute kan begaan, probeer diegene wat Jehovah liefhet om hoë standaarde van gedrag te handhaaf—om eerlik te wees, fisies en sedelik rein te bly en afgodediens, hebsug en gierigheid te vermy (Luk. 12:15; 1 Kor. 6:9, 10; Hebr. 13:18; 1 Joh. 5:21; Openb. 19:8; 21:8). Hulle vermy politieke botsings en geweld, wat kwansuis in die naam van God plaasvind, maar wat sy naam in werklikheid groot smaad aangedoen het (Jes. 2:4; Joh. 15:19). Maar God se knegte respekteer regerings en burgerlike owerhede en hulle is wetsgehoorsame, belastingbetalende burgers wat ’n eerlike dag se werk aan hulle werkgewers gee “sodat die Naam van God . . . nie belaster mag word nie”.—1 Tim. 6:1; Rom. 13:1-7.

TROTS DAAROP OM SY NAAM TE DRA

Indien jy uit ’n goeie gesin kom, is jy waarskynlik trots daarop om jou vader se naam te dra. So ook diegene wat vandag Jehovah se naam dra. ’n Groot internasionale, wêreldwye gesin dra trots die hemelse Vader se naam as Jehovah se Getuies (Jes. 43:10, 12, NW; Openb. 7:4-10). Hoewel hulle die groter kennis en geriewe waardeer wat deur slim mense voorsien is, erken en eer hulle “die lewende God wat die hemel en die aarde en die see en alles wat daarin is, gemaak het”. Dit is hy wat “vir ons reën en vrugbare tye . . . gee en [mense]harte met voedsel en vrolikheid . . . vervul” (Hand. 14:15-17). En hy het die oortreffende gawe, sy Seun, gegee, sodat ons “die ewige lewe kan hê” (Joh. 3:16). Lowers van Jehovah is hom diep dankbaar vir al sy gawes.—Jak. 1:17.

As ’n blyk van innige dank aan hulle Skepper, dra hierdie toegewyde, wêreldwye gesin by tot die verheerliking van God se glorieryke, eksklusiewe naam deur die regmatige plek daarvan in sy heilige boek te erken—in die Hebreeuse sowel as die Christelike Griekse Skrifte. En omdat hulle in die voetspore van die Meester, Jesus Christus, en sy eerste-eeuse volgelinge volg, verkondig hulle die lewensbelangrike boodskap vir hierdie dag ywerig: dat die koninkryk van God ophande is en dat dit die mensdom se enigste hoop is.—Matt. 4:23; 24:14; 28:19, 20.

’N BEROEP

Ons doen ’n dringende beroep op jou om meer te wete te kom oor die ware God, Jehovah, sy Seun, Jesus Christus, en hierdie gelukkige, verenigde gesin wat ‘God se naam op die hele aarde verkondig’ (Ex. 9:16; Rom. 9:17). Dit kan nie alleen nou jou hele lewe verander nie, maar dit kan meebring dat jy die komende “groot verdrukking” oorlewe en vir ewig in God se beloofde nuwe stelsel van dinge lewe.—Matt. 24:21, 22; 2 Pet. 3:13.

Dit is ’n feit dat jou lewe afhang van die weg wat jy inslaan. Die Skrif gee die versekering: “Elkeen wat die Naam van [Jehovah] aanroep, sal gered word” (Rom. 10:13; Joel 2:32). Gaan jy die goddelike naam in geloof as ’n toegewyde aanbidder van Jehovah aanroep?

[Prent op bladsy 16]

GOD SE BYBELSE NAAM WORD WÊRELDWYD VERKONDIG

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel