Die krag agter die heelal ’n geheimsinnige mag of ’n werklike persoon?
REISE na die maan en allerhande wetenskaplike waarnemings het ons kennis van die heelal ontsaglik verbreed. Die ontsagwekkende uitgestrektheid en ordelikheid daarvan word al hoe duideliker. Vir baie mense lyk dit onlogies dat so ’n heelal sonder die een of ander beherende mag kan bestaan. Alhoewel miljoene hulle geloof in die kerke, geloofsbelydenisse en godsdienste oor die algemeen verloor het, glo hulle steeds aan “God”.
Maar wat beteken die woord “God” vir jou? ’n Geheimsinnige mag? ’n Vae intelligensie? ’n Afgeleë, onomskryfbare en naamlose Persoon?
Of is “God” vir jou iemand baie persoonlik, selfs so na en dierbaar soos ’n liefdevolle vader? Vir diegene wat hulle geloof in die wetenskap en die tegnologie stel, klink dit dalk na onsin. Maar dink hieraan:
DIE WETENSKAP EN DIE TEGNOLOGIE HET HULLE BEPERKINGS
Wat ontdekkings en toenemende kennis betref, lewe ons in ’n opwindende eeu. Die mens se prestasies is merkwaardig. Begaafde persone het die mensdom verryk met verstommende uitvindsels wat die veld van die mensdom se bedrywighede en kennis ontsaglik verbreed het.
Ondanks al hulle breër kennis en gevorderde tegnologie sal wetenskaplikes die eerste wees om te erken dat hulle nie ’n enkele lewende sel kan voortbring nie. Wetenskaplikes is glad nie daartoe in staat om iets alledaags soos ’n grashalmpie te maak nie.
Wanneer hulle probeer om die wondere rondom hulle te verklaar, maak party skrywers gebruik van uitdrukkings soos “Moeder Natuur het dit gemaak” of “Ewolusie het dat gedoen”, asof dit persone met intelligensie is. Maar is dit nie heeltemal duidelik dat ’n redelose mag geen verklaring kan bied vir die verbasende verskeidenheid lewensvorme of die grenslose wysheid en krag wat in die heelal te sien is nie?
DIE GEBIED VAN DIE INTELLEK OF GEES
Waar kan ons betroubare antwoorde op ons vrae kry wanneer ons die gebied van die intellek of gees betree en probeer verstaan waar eienskappe soos wysheid, geregtigheid, barmhartigheid, vriendelikheid en waarheid vandaan kom? Kan enige man die funksies en oorsprong van daardie verbasende “meganisme” van die mens se innerlike wat vir hom sê wanneer hy iets verkeerds doen—die menslike gewete—verklaar? Diere besit dit nie. Maar selfs primitiewe, ongeletterde mense besit dit. Dit is soos die vroeg-Christelike skrywer Paulus eenkeer verduidelik het: “Hulle toon dat die werk van die wet in hulle harte geskrywe staan, terwyl hulle gewete saam getuienis gee en die gedagtes mekaar onderling beskuldig of ook verontskuldig” (Rom. 2:15). Sulke sake gaan die mens se verstand te bowe. Maar is die mens se intellektuele en geestelike prestasies nie verreweg belangriker as sy liggaamlike vermoëns nie?
Talle diere se liggaamlike vermoëns oortref dié van die mens. Olifante is sterker, arende kan verder sien, herte kan vinniger hardloop, vlermuise kan beter hoor, honde se reukvermoë is baie groter. Maar watter dier kan nuwe dinge maak? Voëls kan weliswaar neste bou, bewers kan damme bou, spinnekoppe kan spinnerakke spin. Maar hierdie skepsele maak sonder uitsondering dieselfde ding op dieselfde patroon. Nie een kan iets nuuts ontwerp en bou nie.
In skerp teenstelling hiermee kan mense ’n ontsaglike verskeidenheid dinge uitdink, beplan en maak. Of dit nou ’n vrou is wat ’n trui brei of tegnici wat ’n ruimtetuig bou wat maan toe kan gaan en terugkom, die mensdom put genot daaruit om dinge te maak. Dit is deel van die menslike samestelling. Met verstandelike vermoëns en karaktertrekke wat dié van diere verreweg oortref, asook ’n aangebore vermoë om dinge te maak, is die mens ’n onvolmaakte beeld van die Opperwese, wat die mens na Sy gelykenis gemaak het.—Gen. 1:26.
Beskou nou nog ’n eienskap van die mens wat diere nie het nie—sy begeerte om te aanbid. Dit is ’n onweerlegbare feit wat deur die eeue heen en in alle rasse waargeneem is, dat die mensdom ’n diepgesetelde, natuurlike begeerte het om ’n onsigbare mag of magte te aanbid.
Hedendaagse filosowe ontken dit en sê: “Ons het al verder gevorder.” “Gevorder” waarheen? Na ’n wêreld wat van die een krisis na ’n ander voortsteier en wat ineenkrimp onder die paddastoelvormige skadu van ’n gevreesde wêreldramp. Waarom? Omdat so baie die tegnologie en verskeie ideologieë as “gode” aanbid terwyl hulle die wysheid van die Opperwese verwerp.—Jer. 8:9.
Alhoewel hulle deur die kerke en godsdienste ontnugter is, stem baie mense vandag saam met hierdie woorde van die mees algemeen gelese en gerespekteerde boek van alle tye, die Bybel, wat van die Opperwese sê: “Sy onsigbare dinge [hoedanighede, NW] kan van die skepping van die wêreld af in sy werke verstaan en duidelik gesien word, naamlik sy ewige krag en goddelikheid.”—Rom. 1:20.
WETENSKAPLIKES HET AANSIENLIK GEHELP
Hoe dieper wetenskaplikes die heelal, die atoom en alle lewensvorme binnedring, des te meer openbaar hulle studies die skoonheid, die harmonie en die ingewikkeldheid van al hierdie dinge. Die onmeetlikheid en ingewikkeldheid van die heelal verbyster mense se verstande. Maar daar is geen gevolg sonder ’n oorsaak nie. Kan jy nie met “die oog van verstand” die “onsigbare hoedanighede” van die Grootse Maker agter al hierdie skoonheid, hierdie wonderlike openbaring van wysheid en dinamiese krag “sien” nie? Dit is duidelik dat die heelal deur onveranderlike wette beheer word. Bewys dit nie dat daar ’n Opperste Wetgewer bestaan nie? Tallose toestande en voorsienings op aarde is klaarblyklik gemaak om presies in die mens se behoeftes te voorsien. En daardie veelvuldige gevolge moet ’n ooreenstemmende OORSAAK hê, ’n groot Voorsiener en Lewegewer.
Wat sê party wetenskaplikes hieroor?
Frank Allen, ’n biofisikus, het gesê: “Daar is gans te veel aanpassings vir lewe op die aarde om dit aan die toeval toe te skryf.”
’n Wiskunde-professor aan Cambridge-Universiteit, P. Dirac, het in Scientific American geskryf: “God is ’n wetenskaplike van ’n baie hoë orde, en Hy het baie gevorderde wiskunde gebruik toe hy die heelal gemaak het.”
Sir Isaac Newton, wat al deur talle wetenskaplike geskiedskrywers beskryf is as “die grootste wetenskaplike brein wat die wêreld nog ooit gesien het”, het in sy beroemde werk Principia geskryf: “Hierdie pragtige stelsel wat uit die son, planete en komete bestaan, kan slegs die produk wees van die raad en heerskappy van ’n intelligente en magtige Wese . . . Die allerhoogste God is ’n ewige, oneindige, absoluut volmaakte Wese.”
Jy is dit miskien eens met sir Isaac Newton. Jy put moontlik ook genot uit die glorie van die sterre, die glans van die son, die rustige skoonheid van die maan, die verkwikking van reën, die majesteit van berge, die immer veranderende kaleidoskoop van wolke en see, die betowerende verskeidenheid blomme, bome, insekte, voëls en diere, die gelag van kinders, die goedheid van vriende en die liefde van ’n huweliksmaat. En diep in jou hart weet jy dat al hierdie dinge voorsien is deur ’n werklike PERSOON—die groot Bouer van die heelal.—Hebr. 3:4.
In ooreenstemming met al die feite en gesonde verstand moet die Opperwese logies ’n WERKLIKE PERSOON wees. Het hy dan ’n naam? Indien wel, wat is daardie NAAM?