Vrae van lesers
• Voordat ek die Bybel bestudeer het, het ek en my vrou geskei, nie weens onsedelikheid nie, maar omdat ons eenvoudig nie kon klaarkom nie. Nou het ek ’n Christen geword. Staan dit my volgens die Skrif vry om weer te trou?
Of dit ’n persoon in die situasie wat jy beskryf Skriftuurlik vrystaan om weer te trou, sal daarvan afhang of die huwelik in God se oë geëindig het.
Julle huwelik het wetlik geëindig voordat jy ’n Christen geword het, moontlik op ’n wetlike grondslag soos onaanpasbaarheid. Dit het die huwelik uit die regering se standpunt ontbind. Maar jy is tereg daaroor besorg of die Universele Wetgewer jou en jou gewese vrou steeds as “een vlees” beskou.—Gen. 2:22-24.
Jesus het iets gesê wat ons hier help. Nadat hy erken het dat egskeidings al om verskeie redes verkry is, het hy bygevoeg: “Elkeen wat van sy vrou skei, behalwe oor hoerery [Grieks, porneía], en ’n ander een trou, pleeg egbreuk” (Matt. 19:9; 5:32). Die enigste Bybelse grondslag vir egskeiding wat ’n persoon die reg gee om weer te trou, is “hoerery” of porneía, wat owerspel en ander growwe geslagsonsedelikheid insluit.
Indien jou vrou dus skuldig was aan owerspel, sou jy ’n Skriftuurlike grondslag vir egskeiding gehad het. Indien jy geskei het, hetsy op grand van owerspel of die een of ander ware en wettige grondslag, sou julle nie langer “een vlees” wees nie. Omgekeerd, as jy owerspel gepleeg het en jou vrou jou nie wou vergewe nie en van jou geskei het, sou julle albei Skriftuurlik vry gewees het.
Jy sê egter dat daar geen onsedelikheid voor die egskeiding plaasgevind het nie. Watter rede bestaan daar dus, in die lig van Jesus se woorde, om te glo dat die egskeiding outomaties die huwelik in God se oë ontbind het? Hoewel ’n persoon, wanneer hy ’n Christen word, God om vergifnis kan vra vir sondes van die verlede, beteken dit nie dat alle verpligtinge van die verlede gekanselleer is nie (1 Joh. 1:7; 1 Kor. 6:9-11). Ter toeligting: Jy het dalk geld by ’n vriend geleen en beloof om die skuld oor ’n tydperk af te betaal. Toe het jy ’n Christen geword. Sou dit die skuld delg? Nouliks. Toe jy uitgevind het hoe God die vereffening van skuld beskou, sou jy waarskynlik meer bewus van jou verpligting gewees het (Ps. 37:21; 15:4; 112:5). Dieselfde kan waar wees ten opsigte van ’n huwelik. Toe julle getrou het, het God begin om julle twee as “een vlees” te beskou. Vra jouself dus af: Bestaan daar enige grondslag vir God om julle nie meer so te beskou nie?
Daar is dalk. lets kon sedert die egskeiding gebeur het wat die huwelik in God se oë laat eindig het. Ons kan dit besef as ons die saak beskou in die lig van wat Jesus in Mattheus 19:9 gesê het. Al het jy jou nie aan onsedelikheid skuldig gemaak nie, maar jou vrou van jou geskei het en jy later wel “hoerery” gepleeg het, kan die huwelik as nietig beskou word. Sy het jou verwerp en later was daar ’n Bybelse grondslag om julle nie meer as “een vlees” te beskou nie. Dit was andersyds dalk sy wat skuldig was aan “hoerery” na die egskeiding. Soos Jesus verduidelik het, kan die huwelik onder daardie omstandighede beskou word as iets wat in God se oë geëindig het, want daar was ’n egskeiding en nou het jy, die onskuldige maat, vasgestel dat sy onsedelik was.
In ’n geval soos jy beskryf het, sal dit wat sedert die egskeiding gebeur het of nie gebeur het nie gevolglik die beslissende faktor wees om te bepaal of julle twee nog “een vlees” in God se oë is.
Wat kan jy doen indien jy tot die gevolgtrekking kom dat dit jou, in God se oë, nie Skriftuurlik vrystaan om weer te trou nie? Een moontlikheid sal wees om te probeer om die Bybelwaarheid wat jy ken aan jou geskeide maat te leer. Jy kan haar moontlik help om te sien dat die Bybel persoonlikhede kan verander en geluk kan verskaf aan indiwidue wie se lewens voorheen vol probleme was. Maar indien julle twee besluit om weer saam te lewe, sal dit gepas wees om wettiglik te trou sodat julle verbintenis voor almal eerbaar is.—Hebr. 13:4.
Indien sy nie op die oomblik versoen wil raak nie, moet jy voortgaan om ’n sedelik rein lewe te lei, soos jy klaarblyklik reeds doen (Jak. 3:17; 1 Thess. 4:3-5). Die apostel Paulus het verduidelik dat diegene wat sonder ’n maat lewe in die posisie is om hulle tyd en vryheid goed te gebruik om ware aanbidding te beoefena (1 Kor. 7:29-35). As jy voortgaan om met die Christengemeente te assosieer en besig bly in die werk om te preek en God se Woord aan ander te leer, sal dit jou veel genoegdoening verskaf en bale seëninge meebring.
[Voetnoot]
a Kyk Ontwaak! van 22 Februarie 1973, ble. 6-10, en Die Wagtoring van 15 Julie 1977, ble. 319-323.