In die voetspore van die Meester
WAT doen jy met jou lewe? Wat wil jy werklik met jou lewe doen?
Talle toegewyde Christene het sekulêre betrekkings wat vereis dat hulle baie ure bestee om geld te verdien sodat hulle hulself en hulle gesinne kan onderhou. Hulle het moontlik ook ander verantwoordelikhede wat baie van hulle tyd en aandag in beslag neem. Gevolglik is hulle bewus van die behoefte om van tyd tot tyd ander belange na te jaag omdat dit tot hulle genieting van die lewe en persoonlike tevredenheid bydra. Hoe kan hulle gebalanseerd optree sodat hulle ’n lewe lei wat God behaag?
Die meeste van ons weet dat liggaamlike werk aan materiële dinge die werker kan bevredig en God tot eer kan strek. Voordat God se Seun as ’n mens na die aarde gekom het, het hy saam met sy Vader al die materiële dinge in die heelal gemaak. Hy word beskryf as ’n Meester-werker.—Kol. 1:15, 16; Spr. 8:30, 31, NW.
Later is sy lewe na die aarde oorgeplaas. Toe hy ’n jong man geword het, het hy as ’n timmerman gewerk. Maar die tyd het vir hom aangebreek om ’n ander werk te doen, een in diens van sy Vader. Dit het predikingswerk en die maak van dissipels ingesluit. —Mark. 1:14, 15; Joh. 18:37.
Toe Jesus sy aandag aan hierdie nuwe bedrywigheid gewy het, het dit die eerste plek in sy lewe beklee. Hy was ingenome met hierdie nuwe toewysing. Hy het dit sy “voedsel” genoem (Hebr. 10:7; Joh. 4:34). En sy lewenswyse het getoon dat hy dit bedoel het. Trouens, die weg wat Jesus bewandel het, het getoon dat hy geglo het dat sy Vader sou voortgaan om in sy materiële behoeftes te voorsien terwyl hy hierdie nuwe toewysing sy vernaamste strewe gemaak het.
WAT PARTY DOEN
Volgelinge van Jesus Christus is bewus van die verantwoordelikheid om vir hulself en hulle afhanklikes te sorg en steeds iets te hê om aan behoeftiges te gee (1 Tim. 5:8; Ef. 4:28). Maar party wens dat dit nie vir hulle nodig was om soveel tyd en energie aan hulle sekulêre werk te wy nie. Baie wens dat hulle meer tyd gehad het om te preek, ander te leer en dissipels te maak. Het jy ook daardie begeerte? Party was in staat om hulle sake so te reël dat hulle meer tyd vir hierdie werk het—sodat dit ’n vername plek in hulle lewens kan beklee.
Een van Jehovah se Getuies wat in die stad New York woon, het jare lank vir ’n invoer/uitvoermaatskappy gewerk en het ’n goeie inkomste gehad. Sy vrou het ook gewerk. Maar hulle wou meer tyd aan die dissipelmaakwerk wy.
Die vrou se werkgewer het gekla dat hy nie betroubare hulp kon kry om sy kantore skoon te maak nie. Die Getuie het dus die man genader en aangebied om die plek teen ’n vasgestelde prys skoon te maak. Sy aanbod is aanvaar. Die egpaar is bemoedig. Trouens, hulle het besluit dat indien hulle nog net een of twee sulke werke kon kry, hulle nie hulle voltydse betrekkings hoef te beklee nie.
Nou werk hulle saam in ’n klein skoonmaaksaak. Hulle verdien heelwat minder as tevore, maar dit is genoeg om gerieflik te lewe. Albei is baie bly dat hulle nou meer tyd het om na persone te soek wat in die Bybel belangstel. Hulle het ook genoeg tyd om die Bybel saam met hierdie mense te bespreek en te bestudeer.
’n Moeder met vyf kinders in die huis wou ’n groter aandeel aan die predikingswerk hê. Sy het die nodige aanpassings aangebring om dit te doen. Sy het die kinders die opdrag gegee om hulle eie beddens op te maak en hulle kamers aan die kant te maak voordat hulle ontbyt kom nuttig. Elke kind het ook die werk gekry om een ander vertrek in die huis af te stof en aan die kant te maak. Die moeder staan dikwels vroeg op om ander skoonmaakwerk in die huis te doen, om die klere te was en die maaltye vir die dag te begin voorberei. Wanneer die kinders gereed is om skool toe te gaan, is sy gewoonlik ook gereed om te vertrek om in haar gemeenskap aan die dissipelmaakwerk deel te neem totdat die kinders van die skool af terugkeer.
VOLTYDSE PREDIKINGS- EN DISSIPELMAAKWERK
In amper elke land van die wêreld is daar diegene wat gereël het om as “pioniers” (persone wat die “goeie nuus” voltyds verkondig) te dien. Dit verg soms groot veranderinge in hulle daaglikse roetine. Die voorbeeld van die Meester het hulle gehelp om genoegdoening en vreugde te smaak. Hy het die mense wat hy gedien het innig jammer gekry. Hy het hulle beskou as “skape wat geen herder het nie” en wat moeg en uitgeput was. Hy was bereid om sy siel ten behoewe van hulle te gee. Ons kan almal deur sy voorbeeld bemoedig word.—Matt. 9:36; 20:28.
’n Pionier in Illinois (V.S.A.) wat die afgelope ses jaar al voltyds preek, het gesê: “Hierdie afgelope jare het ek soveel geluk, tevredenheid en vreugde gesmaak dat ek julle net eenvoudig daarvan moes vertel. Ek bid dat ek, met Jehovah se seën, in die voltydse diens kan bly solank as wat daar werk is om te doen.”
Is dit moontlik dat jou omstandighede jou sal toelaat om ’n groter aandeel aan hierdie werk te hê, of kan jy aanpassings maak sodat dit moontlik kan wees? Dit sal dalk help as jy jou begeerte bespreek met diegene wat reeds in die voltydse diens is. By die kring- of streekbyeenkomste van Jehovah se Getuies sal jy met party van hierdie indiwidue kan gesels. Die dinge wat hulle sê en die gees wat hulle aan die dag lê, sal jou dalk so aanspoor dat jy sal dink: ‘As hulle dit kan doen, kan ek dit ook doen!’
Jy sal vind dat hoewel jy in ’n aantal opsigte veranderinge sal moet aanbring, dit hoofsaaklik GELOOF is wat nodig is. Jy het moontlik al blyke hiervan gesien wanneer jy ander waargeneem het, of jy het miskien self al ondervindinge gehad wat duidelik toelig dat wat Jesus gesê het werklik waar is: “Soek eers die koninkryk van God en sy [God se] geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word.”—Matt. 6:24-33.
Diegene wat al hulle kragte inspan om so ’n groot deel moontlik te hê aan die spesiale werk wat Jehovah God en Jesus Christus op hierdie tyd aan Christene gegee het, smaak genoegdoening en geluk in die lewe. Dit is wat Jehovah vir sy knegte voorgehad het. Is dit jou lot in die lewe? Indien nie, dan kan weldeurdagte en goed beplande aanpassings dit dalk moontlik maak.
Dit verskaf geluk as ’n mens gee. Die wete dat jy jou tyd en energie ten volle gebruik het in die spesiale werk wat Christene gekry het om gedurende hierdie tyd van die einde te doen, verskaf genoegdoening en tevredenheid. Ja, dit is deur in die voetspore van die Meester te loop dat ons die grootste geluk sal smaak en Jehovah die grootste eer sal aandoen.—Matt. 22:37-39; Hand. 20:35.