Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w80 3/1 bl. 25
  • ‘Jehovah het groot dinge gedoen’

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • ‘Jehovah het groot dinge gedoen’
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1980
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1980
w80 3/1 bl. 25

‘Jehovah het groot dinge gedoen’

“HOE verkwikkend is “’n goeie tyding uit ’n ver land” tog! (Spr. 25:25). Dit was voorwaar aangenaam om ’n brief gedateer 1 Oktober 1979 uit Bangui, Sentraal-Afrikaanse Republiek, te ontvang wat geskryf is op papier met die briefhoof van Jehovah se Getuies, wat in daardie land amptelik bekendstaan as “Association Les Témoins de Jéhovah” (Franse naam). Die brief het soos volg begin:

“ls julle verbaas om hierdie briefhoof van die vereniging te sien? Wel, ons hier is net so verbaas soos julle. Trouens, sedert sesuur op Donderdagaand, 27 September, lewe al Jehovah se Getuies hier in die Sentraal-Afrikaanse Republiek in ’n droomwêreld, gevul met dieselfde onuitspreeklike vreugde wat in Psalm 126 beskryf word. Daar is toe amptelik oor die staatsradio hier in Bangui aangekondig dat die verbod van 19 Augustus 1976 op Jehovah se Getuies opgehef is en dat ons weer eens gemagtig is om vryelik in die hele gebied van die Sentraal-Afrikaanse Republiek te preek.”

Hierdie goeie nuus is vergesel deur ’n afskrif van die regeringsbevel wat deur die president van die republiek, mnr. David Dacko, onderteken is, iets wat die opheffing van die verbod amptelik gemaak het. Mnr. Dacko het keiser Bokassa op 20 September as regeringshoof vervang, en hy moet geluk gewens word met sy vinnige optrede om vryheid van godsdiens en van spraak aan verdrukte Getuies van Jehovah terug te gee.

Hoe het die Getuies op hierdie verligte optrede van die regering gereageer? Die verslag uit Bangui sê voorts:

“Die vriende hier het dadelik weer ywerig begin werk. Die afgelope naweek het ’n groot aantal reeds weer die huis-tot-huiswerk geniet. Die gemeentes wat toegang tot hulle Koninkryksale gehad het, was reeds daarin terug vir hulle openbare toespraak en Wagtoring-studie wat op Sondae gehou word. Net drie gemeentes hier in die stad, met ’n totaal van 150 [Getuies], het gister ’n opkoms van 612 persone gehad. Selfs baie mense wat nie Jehovah se Getuies is nie, het hulle vreugde uitgespreek oor die opheffing van die verbod. [Party] vra . . . waarom al die ander kerke hegte bande met die [vorige regering] gesmee het, terwyl slegs Jehovah se Getuies heeltemal neutraal gebly het.”

Die neutraliteit van Jehovah se Getuies ten opsigte van politieke rewolusies en konflikte wat nou in verskeie dele van Afrika woed, het die respek van baie mense, asook van party heersers, afgedwing. In teenstelling met die Christendom se kerke, wat witvoetjie soek by die bewindhebbende heerser, hetsy hy tiranniek of liberaal is, bewandel Jehovah se Getuies deurgaans die enigste weg vir ware Christene—hulle is naamlik “nie van die wêreld nie”. As gevolg hiervan word hulle in baie lande vervolg. Maar hulle aanvaar dit gewillig, net soos hulle Meester, Jesus Christus, wat alle dinge verduur het “vir die vreugde wat Hom voorgehou is”.—Joh. 15:18-21; Hebr. 12:2.

Dit was een van die owerstes van Jerusalem, Gamaliël, wat die volgende wyse raad aangaande eerste-eeuse Christene gegee het: “Bly af van hierdie manne en laat hulle staan” (Hand. 5:38). As president van die Sentraal-Afrikaanse Republiek het mnr. David Dacko dieselfde edele weg ten opsigte van die Christengetuies van Jehovah ingeslaan. Liefhebbers van vryheid dwarsoor die wêreld sal hom hiervoor prys. En ons hoop dat die heersers van ander Afrikalande waar Jehovah se Getuies nog steeds verbied is, op hierdie goeie voorbeeld ag sal slaan en aan hierdie onskadelike Christene die vryheid sal gun om Jehovah God te aanbid op die wyse wat hy hulle in die bladsye van sy Woord, die Bybel, beveel.

Jehovah se Getuies in die Sentraal-Afrikaanse Republiek is voorwaar verheug dat hulle hulself kan uitdruk met die woorde van Psalm 126:2, 3: “Toe is ons mond gevul met gelag en ons tong met gejubel; toe het hulle onder die heidene gesê: Die HERE het groot dinge aan hierdie mense gedoen. Die HERE het groot dinge aan ons gedoen: ons was bly!”

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel