Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w80 2/1 bl. 4-8
  • Byeenkomsgangers met “Lewende Hoop”

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Byeenkomsgangers met “Lewende Hoop”
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1980
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • HOOP NIE MISPLAAS NIE
  • DEUR HOOP ONDERSKRAAG
  • HULLE HET ’N HOOP VERKRY
  • HULLE HET TYD DAARAAN AFGESTAAN OM HULLE HOOP TE VERKONDIG
  • Byeenkomste—bewys van ons broederskap
    Jehovah se Getuies—Verkondigers van God se Koninkryk
  • Die “God se weg”-internasionale en streekbyeenkomste vir 1998
    Ons Koninkryksbediening—1998
  • “Vertrou op Jehovah”-Streekbyeenkoms vir 1987
    Ons Koninkryksbediening—1987
  • “Goddelike vrede”—Streekbyeenkoms vir 1986
    Ons Koninkryksbediening—1986
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1980
w80 2/1 bl. 4-8

Byeenkomsgangers met “Lewende Hoop”

DIT is aangenaam om weer byeen te wees, om by Jehovah se tafel fees te vier, om ons te verheug in die heerlikste omgang en om bemoedig te word om “met hartlike voorneme aan die Here getrou te bly”’ (Hand. 11:23). Die byeenkomsgangers was dit ten voile eens met hierdie woorde van die voorsitter se openingsrede by die “Lewende Hoop”-byeenkomste. Hulle blote teenwoordigheid het dit getoon.

Toe baie van die byeenkomste gehou is, was dit ’n probleem om in die Verenigde State te reis, want brandstof was nie geredelik beskikbaar nie. Een Getuie het gesê: “Ek het my tenk etlike dae voor die byeenkoms volgemaak toe ek ’n oop vulstasie gevind het. Toe het ek my motor geparkeer en geloop totdat dit tyd was om na die byeenkoms te vertrek.” Ander het soortgelyke reëlings getref om te verseker dat hulle genoeg brandstof sou hê om by die byeenkomsstad van hulle keuse te kom.

lets wat nie oor die hoof gesien moet word nie, is die prysenswaardige pogings van moeders om met hulle babas en klein kindertjies teenwoordig te wees. Hoe bemoedigend was dit om te sien dat hulle hulle kleingoed teer versorg terwyl hulle probeer om by die byeenkomsprogram baat te vind! Die teenwoordigheid van gesinsgroepe het ook ’n goeie getuienis aan waarnemers gelewer en bewys dat hoop ’n heilsame uitwerking op mense se lewens het. Een vrou in die middestad van Portland, Maine, het gesê: “Ek dink dit is wonderlik dat julle julle kinders saambring—selfs kleintjies met hulle naamkaartjies aan hulle vasgesteek. Ek hou julle elke oggend dop wanneer julle na die byeenkoms kom—dit is ’n pragtige gesig.” ’n Posbode van dieselfde stad het ’n Getuie en sy vrou voorgekeer om vir hulle te sê: “Ek bewonder julle werklik. Julle is almal so netjies aangetrek, selfs die kleintjies.”

HOOP NIE MISPLAAS NIE

Party byeenkomsgangers se blote teenwoordigheid aldaar was ’n bewys dat hulle hoop in God op ’n vaste grondslag berus. Beskou die geval van Robin en haar twee dogters Kim en Kari. Toe haar man, wat nie ’n Getuie is nie, hoor dat hulle beplan om die “Lewende Hoop”-byeenkoms by te woon, het hy gesê: “Ek kan nie bekostig dat julle vier dae lank op my onkoste gaan vakansie hou nie.” Robin vertel wat toe gebeur het:

“Ons het gewonder en gebid. Kon ons genoeg aarbeie in ons klein bedding kweek en verkoop om genoeg geld te verdien om vir ons verblyf in die byeenkomsstad te betaal? Ons buurman het ons nie juis veel moed gegee nie. Vergeleke met ons s’n het sy plante so sterk en gesond gelyk. . . .

“Ons aarbeie het egter so goed gedra dat ons genoeg geld verdien het vir onsself en ook in staat was om twee ander Getuies te help om die byeenkoms by te woon. Trouens, mense het van heinde en verre gekom om te kom kyk na die aarbeiplante wat so goed dra. En die hele tyd wat ons aarbeie gepluk het, het ons met die kopers gesels oor die byeenkoms en die bemoediging wat ons daar gaan ontvang. Ons buurman kon eenvoudig nie begryp hoe ons klein plantjies soveel meer as syne kon dra nie.

“Maar dit het slegs een van ons probleme opgelos. Ons het nog steeds geen vervoer na die byeenkoms gehad nie. Mettertyd is ons gebede weer verhoor. My dogter Kari het vanjaar gematrikuleer. Eendag het haar oom wat op die platteland woon hier opgedaag met ’n geskenk omdat sy geslaag het—’n motor.

“Alle hindernisse is dus uit die weg geruim en ons kon die byeenkoms bywoon, waar ek en my dogter Kim ons toewyding deur doop gesimboliseer het.”

DEUR HOOP ONDERSKRAAG

Die feit dat hoop ontsaglike krag het, was veral te sien onder die gestremdes wat die byeenkomste bygewoon het. Daar was persone in rolstoele, ander wat so te sê hulpeloos was en die doofblindes wat deur tolke met die aanraakmetode gehelp is om by die program baat te vind.

Vyf-en-vyftigjarige Marvin het byvoorbeeld oor die jare heen baie byeenkomste bygewoon. Vol waardering het hy gesê: “Die enigste rede waarom ek die byeenkoms kan bywoon, is omdat my moeder my gereedmaak en ’n vriendelike, dierbare, betroubare mede-Getuie die uitputtende werk verrig om my in en uit die rolstoel te tel. As ’n slagoffer van serebrale verlamming is ek die afgelope nege jaar in die rolstoel. Gedurende my 32 jaar as ’n getuie van Jehovah het ek die voorreg en genot gehad om baie byeenkomste by te woon—internasionale, streek- en kringbyeenkomste. Ek het iets nuuts en anders by elkeen geleer. Weens die goeie voorligting en raad wat daar gegee word, word ’n persoon ’n beter kneg van Jehovah. ’n Mens moet natuurlik nie vergeet van die vreugde en genot om dierbare, ou vriende te sien en nuwes te ontmoet nie. Ek sien uit na die dag wanneer ‘die lamme sal spring soos ’n takbok en die tong van die stomme sal jubel’.”—Jes. 35:6.

Wayne, nog ’n Getuie, is al sedert geboorte verlam. Maar hy het ook een van die “Lewende Hoop”-byeenkomste bygewoon. Die gesin besit ’n woonbus wat bedraad is vir klank. Dit maak dit vir hom moontlik om die byeenkomsprogram in sy bed te hoor. Sy moeder het vertel hoedat haar seun ’n Godgegewe hoop verkry het:

“My seun Wayne is deur instrumente beseer tydens sy geboorte. Dit het meegebring dat hy aan starverlamming ly. Toe hy groter geword het, is ek meegedeel dat hy geleer kon word, maar dat baie herhaling nodig sou wees.

“Ek het Wayne saam met my geneem wanneer ek Bybelwaarheid van huis tot huis verkondig het en hom jare lank in my arms gedra totdat hy te swaar geword het. Van kleins af was hy lief vir die waarheid en dit het gelyk of die dinge wat hy geleer het, sy hart bereik het. Hy het so ’n dors na kennis gehad dat hy woorde vir my gespel het en dan gevra het hoe ’n mens hulle uitspreek. Dikwels sou hy my ’n woord etlike kere laat herhaal totdat hy dit kon onthou en verstaan. In 1960 is Wayne gedoop toe hy 19 was.

“Hy kan nie vergaderinge by die Koninkryksaal bywoon nie, want hy is bedlêend. Maar ons het geslotebaan-televisie, en hy kan sien wat by die saal gebeur. Ons het ook ’n direkte verbinding sodat hy gereeld aan die vergaderinge kan deelneem. Wayne dien al meer as twee jaar lank uit sy bed as ’n ouere man in die gemeente. Hy hou op die oomblik vyf Bybelstudies met mense wat na sy woonbus kom, en het al tot 11 studies op ’n slag gehad.”

Wayne self het gesê: ‘Ek is daarvan oortuig dat indien jy kennis kan inneem, Jehovah vir jou ’n weg sal open om dit aan ander mee te deel en om hom te dien. Selfs al kan jy nie praat of hoor nie, kan jou geluk, geloof en volharding ander mense help, en dit sal op ’n getuienis uitloop.’

Al die spelers in ’n Bybeldrama het Wayne tydens die byeenkoms in volle mondering besoek. Hulle is baie bemoedig daar weg nadat hulle so ’n merkwaardige voorbeeld van geloof en hoop gesien het.

HULLE HET ’N HOOP VERKRY

Baie persone wat die “Lewende Hoop”-byeenkomste bygewoon het, het besef in watter treurige toestand hulle verkeer het voordat hulle ’n juiste kennis van die waarheid verkry het. In party gevalle het hulle ’n dors na die waarheid gehad wat eers geles is toe hulle bejaard was.

Daar is 77-jarige Chris, wat by die byeenkoms in Billings, Montana, gedoop is. “In 1934”, het hy gesê, “het ek die Katolieke Kerk verlaat en na die waarheid begin soek.” Toe het hy van kerk na kerk gegaan en duisende dollar bestee om na talle plekke in die Verenigde State te reis. Verskeie kere het hy gemeen dat hy die waarheid gevind het. Maar dan het dit altyd gelyk asof dit ‘nie heeltemal genoeg was nie’, en dus het die soektog na waarheid voortgegaan. “Eindelik”, sê hy, “het ek aangesluit by ’n ‘TV-geloof’ en groot bedrae aan hulle gestuur en op kruistogte na verskeie dele van die wêreld gegaan. Nadat ek ’n brief van een van die ‘TV-predikers’ ontvang het, waarin ek meegedeel is dat my ledegeld verhoog is tot $295 [R256] per maand, het ek besef dat dit nie die waarheid kon wees nie; dit was skaamtelose roof. Ek het besluit: ‘Laat my met rus’, maar kon nie van hom ontslae raak nie. Briewe het gereeld gekom waarin hy probeer het om my guns en my geld te kry.

“Weens my ouderdom het ek besluit om op te hou om na die waarheid te soek en op van een van die plaas te bly. Toe het een van Jehovah se Getuies huisbesoek in ons afgesonderde gebied gedoen en met my skoonseun begin praat wat ook op my plaas woon en werk. Hy het nie belanggestel nie. Maar wat die Getuie oor die Koninkryk gesê het, het vir my sin gehad. Ek het hom dus versoek om na my toe terug te kom.”

Wat was die gevolg? ’n Bybelstudie is begin. Chris sluit af: “Die waarheid in die Bybel het my ’n ware hoop vir die toekoms gegee.”

’n Dowe Getuie, wat ook wetlik blind is, het dit baie duidelik gestel hoedat die Bybel se boodskap hom hoop en ’n ware doel in die lewe gegee het. Hy het gesê:

“My hele lewe lank was ek vasbeslote om nie toe te laat dat my gebrek my verhinder om ’n vol en gelukkige lewe te lei nie. Op hoërskool was ek lid van die atletiekspan, het ek eerste plek in die kegelklub vir blindes beklee en eindelik ’n toekenning ontvang vir buitengewone prestasie as ’n gestremde persoon. Hierdie dinge het my met trots en selfvertroue gevul, maar nie met geluk nie. Ek was die eerste gestremde persoon wat deur Polaroid in diens geneem is en het ’n verantwoordelike posisie beklee. Om vroue te lok, het ek ’n groot huis en ’n boot gekoop. Maar nòg materiële besittings nòg onsedelikheid het my genoegdoening verskaf. Ek het geen doelwitte in die lewe, geen toekoms gehad nie. As ’n Katoliek het ek probeer om in die hemel te kom deur ritusse nougeset na te kom. Maar daar is nooit vir my verduidelik wat die verband tussen God se wette en my lewenswyse was nie. Hierdie teleurstellings het van my ’n skeptikus gemaak.

“Een van Jehovah se Getuies het my in hierdie toestand aangetref. Hy het die volgende week teruggekeer met ’n Getuie wat gebaretaal geken het. Deur haar hand vas te hou terwyl sy die tekens gemaak het, kon ek kommunikeer. My reaksie op so te sê elke sin was: ‘Waar is die bewys?’ Daar is altyd ’n Skriftuurlike antwoord verstrek.

“Ek het aanvanklik nie in die Bybel belanggestel nie, maar wou net Jehovah se Getuies op die proef stel omdat ek verwag het dat hulle soos die lidmate van ander gelowe was. Ek het gewag vir die dag dat ek ’n rekening vir die Bybelles sou kry, maar daardie dag het nooit aangebreek nie. Ek het hulle gevra om werkies vir my te doen, nie omdat ek dit nie self kon doen nie, maar omdat ek wou sien of hulle bereid was om meer te doen as net die Bybel saam met my te bestudeer. Wanneer ek vergaderinge van Jehovah se Getuies bygewoon het, het ek na die aanwesiges gegaan en hulle asems geruik om te bepaal of daar enige spoor van alkohol of tabak was. Ek het die dowe Getuie vir ’n opelugmaaltyd in my agterplaas genooi en daarna nagegaan om vas te stel of iets uit my huis geneem is. Eindelik het ek besef dat hierdie mense anders is en dat hulle boodskap die waarheid is.

“Hoe dankbaar is ek Jehovah tog dat hy my tyd gegee het om ’n goeie hart te verkry en my ’n ware hoop vir die toekoms gegee het! Dit verskaf my vreugde om gereeld die ‘goeie nuus’ aan ander te verkondig, nie net aan die dowe mense in ons omgewing nie, maar ook van huis tot huis. Ek sien uit na die tyd wanneer ek sal kan hoor en sien. Ek het volle vertroue in die beloftes van die God wat nie kan lieg nie.”—Hebr. 6:17, 18.

HULLE HET TYD DAARAAN AFGESTAAN OM HULLE HOOP TE VERKONDIG

Op Vrydagoggend van die byeenkoms het talle Getuies van die geleentheid gebruik gemaak om hulle hoop te verkondig aan die bewoners van die byeenkomsstede. Die nuusmedia het baie in hierdie openbare getuieniswerk belanggestel. ’n Aantal koerantverslaggewers het selfs die Getuies as waarnemers in hierdie werk vergesel.

In Providence, Rhode Island, het ’n koerantverslaggewer gehoor hoe ’n 72-jarige vrou vir ’n Getuie sê: “Ek was vanoggend so briesend dat ek na Washington wou gaan en dit opblaas.” Nadat die Getuie haar aandag op die Bybel se oplossing vir die wêreld se probleme gevestig het, het sy gesê: “Jy het seker reg. Jy het moontlik die regte gesindheid—’n mens moet positief dink. Weet jy wat? Ek voel al klaar beter. Ek is nie eens meer lus om Washington op te blaas nie.”

Die reeks “Lewende Hoop”-byeenkomste was voorwaar ’n seën vir almal wat dit bygewoon het asook vir baie ander persone in die byeenkomsstede wat met die Bybel se boodskap bereik is. Indien jy onder diegene is wat na ’n helder hoop vir die toekoms soek, nooi ons jou om met Jehovah se Getuies te praat wanneer hulle weer by jou deur aanklop. Vind gerus uit wat ’n sterk krag ’n Godgegewe hoop in jou lewe kan wees.

“Ek was bly toe hulle vir my gesê het: Laat ons na die huis van die HERE gaan!”—Ps. 122:1.

[Prent op bladsy 5]

Wayne Patrick, wat van geboorte af verlam is en nou ’n Christelike ouere man is, het in sy bed na die “Lewende Hoop”-program geluister

[Prent op bladsy 6]

Vyf geslagte van hierdie familie het die byeenkoms in San Antonio, Texas, bygewoon

[Prent op bladsy 7]

John C. Booth, van die Brooklyn-Bethel, kyk saam met drie jong Getuies na ’n byeenkomsvrystelling

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel