Hoop—’n kosbare besitting
HOOP het geweldige onderskragingskrag. Omdat hulle gemeen het dat hulle moeilike lot uiteindelik sou verbeter, het talle persone onreg, verdrukking en berowing verduur. Soms het hospitaalpasiënte vir wie geneeshere geen hoop meer gehad het nie, op verbasende wyse herstel. Waarom? Omdat hulle nooit moed verloor het nie. Persone met die beste kanse om gesond te word het andersyds gesterf wanneer hulle aan vrees en wanhoop toegegee het.
Geneeshere en ander het die afgelope jare al hoe meer besef hoe waardevol hoop is. Maar slegs ons Skepper, Jehovah God, weet ten volle hoe belangrik dit is. In sy groot liefde vir die mensdom het hy ’n gewisse hoop voorsien op ’n tyd toe daar oënskynlik geen rooskleurige vooruitsigte was nie. Die Allerhoogste het ’n vonnis gevel wat hoop gewek het. Oor wie is hierdie vonnis gevel, en waarom het dit na ’n beter toekoms vir die afstammelinge van ons eerste ouers, Adam en Eva, gewys?
Uit die Bybelboek Genesis leer ons dat ’n eenvoudige slang gebruik is om Eva te mislei. Satan die Duiwel, ’n onsigbare geespersoon, word elders in die Skrif geïdentifiseer as die een wat vir die bedrog verantwoordelik is en wat klaarblyklik die slang gebruik het baie soos ’n buikspreker ’n pop gebruik. Hierdie geespersoon het doelbewus teen God in opstand gekom en hom gelaster. Hy het homself aldus Satan gemaak, wat “Teenstander” beteken, en Duiwel, wat “Lasteraar” beteken. Weens die Teenstander se gebruik van die slang, noem die Bybel hom die “ou slang”.—Gen. 3:1-6; Joh. 8:44; Openb. 12:9.
Die volgende oordeel is gevolglik oor hierdie “ou slang” uitgespreek: “Ek sal vyandskap stel tussen jou en die vrou, en tussen jou saad en haar saad. Hý sal jou die kop vermorsel, en jý sal hom in die hakskeen byt.”—Gen. 3:15.
Hierdie vonnis wat oor die ou slang uitgespreek is, het geopenbaar dat hy vernietig sou word. Jesus Christus word duidelik in die Skrif geïdentifiseer as die een wat die slang sal verbrysel en al die skade wat hy aangerig het, ongedaan sal maak. In 1 Johannes 3:8 lees ons: “Vir hierdie doel het die Seun van God verskyn, om die werke van die duiwel te verbreek.” Toe hy op aarde was, het Jesus natuurlik ’n ‘hakskeenwond’ opgedoen toe hy aan ’n paal tereggestel is. Maar aangesien hy tot onsterflike hemelse lewe opgewek is, kan hy die Duiwel se kop vermorsel.
Die verwydering van Satan en sy giftige invloed en die verbreking van al sy bose werke sal wonderlike seëninge vir die mensdom meebring. Dan sal hierdie vertroostende woorde vervul word: “God sal al die trane van hulle oë afvee, en daar sal geen dood meer wees nie; ook droefheid en geween en moeite sal daar nie meer wees nie.”—Openb. 21:4.
In hierdie 20ste eeu is honderdduisende persone vertroos deur hierdie wonderlike hoop wat in die Skrif uiteengesit word. ’n Merkwaardige blyk hiervan was te sien by die reeks “Lewende Hoop”-Streekbyeenkomste van Jehovah se Getuies wat sedert Junie 1979 gehou is. In die Verenigde State is 93 byeenkomste deur 982 585 persone bygewoon, en 8 630 is gedoop. Soortgelyke byeenkomste is in ander dele van die noordelike halfrond en later ook in die suidelike halfrond gehou. Hoe het hierdie byeenkomsgangers getoon dat hulle deur hoop onderskraag word?