SLOT
Jy kan moedig wees
1. Wat kan ons nog oor moed sê?
IN HIERDIE boek het ons baie voorbeelde bespreek van mense wat moedig was en hoe ons hulle kan navolg. Maar daar is nog baie meer wat ons uit die Bybel oor moed kan leer. Byvoorbeeld, die Bybel noem baie ander mense wat moedig was wat ons nie in hierdie boek bespreek het nie. Daar is ook iets wat ons nodig het om moedig te wees wat ons in hierdie hoofstuk sal bespreek.
2. Wie is party van God se ander getroue knegte wat moedig was?
2 Kan jy aan ander in die Bybel dink wat moedig was behalwe dié wat ons bespreek het? Dalk dink jy aan party uitstekende profete in die Hebreeuse Geskrifte soos Jesaja, Jeremia, Esegiël, Jona of Maleagi. Hulle het dalk party van die dinge deurgemaak wat Paulus beskryf het toe hy gesê het dat party “gely [het] omdat hulle bespot en met ’n gésel geslaan is, en selfs omdat hulle geboei en gevange gehou is”. Hy het geskryf dat ander “gebrek gely het, swaargekry het en sleg behandel is”. Party was selfs doodgemaak (Heb. 11:36, 37). Maar ten spyte van hierdie uitdagings, het hulle aangehou om Jehovah God moedig te dien.
3-4. Hoe het twee vroue wie se name nie genoem word nie, gehelp om koning Dawid gedurende ’n gevaarlike tyd te red?
3 Daar is baie moedige mense wie se name nie in die Bybel genoem word nie. Dink aan twee vroue in die dae van koning Dawid. Hulle het Dawid gehelp toe sy eie seun Absalom hom probeer doodmaak het. Absalom was ’n trotse en slegte man en wou koning word. Daarom moes Dawid uit Jerusalem vlug. Dawid het Sadok, ’n moedige priester, gevra om terug na die stad te gaan om inligting te kry oor Absalom se volgende aanval. Toe Sadok uitvind wat Absalom gaan doen, het hy “’n diensmeisie” gestuur om Dawid daarvan te vertel. Alhoewel sy doodgemaak kon word, het sy vir Dawid se twee getroue knegte gesê wat Sadok haar vertel het. Toe het die twee manne na Dawid gegaan om vir hom die boodskap te gee, maar ’n jong man het hulle gesien en Absalom daarvan vertel. Die twee boodskappers was wys en het in ’n put weggekruip. ’n Ander vrou, wie se man die eienaar van die put was, het vinnig ’n doek en graan oor die put gegooi. Toe Absalom se manne die twee boodskappers kom soek, het sy vir hulle gesê dat hulle iewers anders was. Daardie twee moedige vroue het gehelp om die koning wat Jehovah gekies het, te beskerm! – 2 Sam. 15:23-37; 17:8-22.
Die moedige diensmeisie en die dapper vrou wat Jehovah se mense gehelp het
4 Die Bybel is vol voorbeelde van moed. Party se name word genoem en ander word nie. Party was ryk en ander was arm. Party het groot verantwoordelikhede gehad en ander was gewone mense. Maar hulle was almal moedig en het geloof in Jehovah gewys. Hulle stories kan ons vandag help.
Die belangrikheid van gebed
5-7. Waar het Paulus die moed gekry wat hy nodig gehad het tydens baie moelike tye?
5 Hoe kan ons die moed van manne en vroue in die Bybel navolg? Ons moet besef dat hulle almal nie van nature moedig was nie. Het hulle Jehovah suksesvol gedien as gevolg van hulle eie krag? Nee, daar was iets anders wat hulle nodig gehad het om moedig te wees. Wat was dit?
6 Dink aan die apostel Paulus. In Filippi was hy en Silas aangeval deur ’n groep woedende manne, hulle klere was van hulle afgeskeur, hulle was met stokke geslaan en toe in ’n donker tronk gegooi waar hulle voete in ’n blok vasgemaak was (Hand. 16:12, 19-24). Nadat hulle vrygelaat was, was Paulus bang om aan te hou preek? Dit sou net natuurlik wees. Maar Paulus het ’n toewysing van Jehovah gehad. Hy moes vir die mense in Tessalonika gaan preek. Waar het hy die krag en moed gekry wat hy nodig gehad het?
7 Hy het later geskryf: “Soos julle weet, het ons in Filippi gely en is ons verneder, maar met die hulp van ons God het ons die moed bymekaargeskraap om julle die goeie nuus van God te vertel, al het ons groot teenstand ondervind” (1 Tess. 2:2). Paulus het geweet dat hy moed nodig gehad het om te doen wat God hom gevra het. Wat het hom gehelp om moedig te wees? Het hy diep in homself ’n spesiale bron van moed gehad? Nee, hy het daardie moed bymekaargeskraap “met die hulp van ons God”. Hy het Jehovah nederig gevra om hom die moed te gee wat hy nodig gehad het. En Jehovah het hom geantwoord.
8. Soos Paulus, wat kan ons doen wanneer ons moed nodig het?
8 Jy kan doen wat Paulus gedoen het. Moenie bekommerd wees en dink dat jy diep in jouself moet soek vir ’n spesiale bron van moed nie. Gaan eerder na Jahovah God in gebed en smeek hom om jou die moed te gee wat jy nodig het. – Hand. 4:29.
9. Hoekom sal dit wys wees om ons Vader vir meer geloof te vra?
9 Jy kan ook jou Vader vra vir ’n eienskap wat baie na aan moed is: geloof. Geloof is deel van die vrug van God se heilige gees (Gal. 5:22, 23). Dit is ook deel van die geestelike wapenrusting wat elke Christen nodig het (Ef. 6:16). Christelike geloof is so sterk dat die Bybel sê dat dit “die wêreld oorwin het” (1 Joh. 5:4). Geloof in Jehovah is die beste grondslag vir moed. Wanneer jy ten volle vertrou dat Jehovah jou sal help wanneer jy deur moeilike tye gaan, sal jy sien dat jou moed net sterker en sterker word. So elke Christen het goeie rede om te vra wat Jesus se apostels gevra het: “Gee ons meer geloof.” – Luk. 17:5.
“Moenie bang wees nie!”
10-11. Hoekom het Paulus die belangrikheid van moed beklemtoom toe hy aan die Hebreeuse Christene geskryf het?
10 Toe Paulus aan die Hebreeuse Christene in en rondom Jerusalem geskryf het, het hy geweet dat hulle binnekort donker tye sou ondervind. Jesus het die verskriklike vernietiging van die stad voorspel, en daardie tyd was nou vinnig op pad (Luk. 19:41-44; 21:20-24). Hoe het Paulus hulle herinner aan die belangrikheid van moed? Kom ons kyk weer na sy woorde wat ons in die Inleiding van hierdie boek aangehaal het. Hy het na Jehovah se liefdevolle belofte verwys: “Ek sal jou nooit verlaat nie en jou nooit in die steek laat nie.” Hoe sou daardie belofte hulle help? Paulus het bygevoeg: “Daarom kan ons goeie moed hou en sê: ‘Jehovah is my helper. Ek sal nie bang wees nie. Wat kan ’n mens aan my doen?’” – Heb. 13:5, 6.
11 Alhoewel die Bybel nie enige details gee oor die vernietiging van Jerusalem in 70 HJ nie, kan ons hiervan seker wees: Die getroue Christene in daardie stad het Paulus se geïnspireerde raad gevolg. Hulle het die moed bymekaargeskraap om Jesus se instruksie te gehoorsaam en op die regte tyd “na die berge [te] begin vlug”. – Luk. 21:20, 21.
12. (a) Hoe kan jy moedig wees wanneer jy deur moeilike tye gaan? (b) Hoe het party in hierdie laaste dae uitsonderlike moed gewys, en wat is jy vasbeslote om te doen? (Sien die venster “Volg hulle moed na”.)
12 Dieselfde kan met jou gebeur as jy vandag en in die toekoms moeilike tye deurmaak (Eseg. 38:1, 2, 10-12; Matt. 24:21). Onthou altyd dat Jehovah self belowe het om ons te beskerm (Eseg. 38:19-23; 2 Tess. 3:3). Hy sal nooit dié verlaat wat hom liefhet en hulle geloof in hom stel nie. Wat Jehovah vir Josua gesê het, is ook op jou van toepassing. Jy kan “moedig en baie sterk” wees! (Jos. 1:7, 9, 18). Onthou altyd wat Jesus vir sy volgelinge gesê het: “Moenie bang wees nie!” Hy sal altyd by sy belofte bly om vir jou Jehovah se heilige gees te gee om jou moediger te maak sodat jy enige en elke uitdaging kan hanteer (Joh. 14:26; 15:26, 27; 16:33). Jy kan werklik moedig wees!
Maak nie saak wat ons omstandighede is nie, Jehovah belowe om sy heilige gees te gebruik om ons moediger te maak sodat ons enige en alle uitdagings kan hanteer
13. Wat help jou om vandag moedig te wees?
13 Dink aan die tyd wanneer hierdie hele aarde in vrede sal wees en ons dié terugverwelkom wat veilig in Jehovah se geheue was. Ons sal die moedige manne en vroue ontmoet wat ons in hierdie boek bespreek het – en nog baie meer! Dink jy dat enige een van hulle spyt sal wees dat hulle gekies het om Jehovah te dien in Satan se ou wêreld, al het party dalk met hulle lewe betaal? Natuurlik nie! En wat van jou? Terwyl jy saam met hulle werk om hierdie aarde in ’n paradys te verander, sal jy ooit spyt wees dat jy gekies het om Jehovah te dien gedurende hierdie laaste dae? Natuurlik nie! Wees dan vasbeslote om reg tot die einde toe moedig te wees. Jy sal vir ewig bly wees dat jy dit gedoen het!