41 SAGARIA EN ELISABET
“Regverdig voor God”
’N GROOT dag het vir Sagaria voorgelê. Hy sou ’n spesiale voorreg geniet, een wat dalk net eenkeer in sy leeftyd sou kom. Hy was een van die baie priesters wat nakomelinge van Aäron was, en vandag was dit sy beurt om reukwerk op die goue altaar in die tempelheiligdom te offer. Hy en sy geliefde vrou, Elisabet, het hierdie dag sekerlik as baie belangrik beskou.
Sagaria en Elisabet was al vir baie jare getroud en hulle het ’n verskeidenheid seëninge geniet, maar daar was nog steeds iets wat hulle baie graag wou hê. Hulle wou kinders hê. Dit was iets baie belangriks vir God se mense van daardie tyd. Sagaria en Elisabet was albei nou al oud. Maar die Bybel beskryf hulle as “regverdig voor God”. So hulle het aangehou om tot hulle God te bid met die vertroue dat hy hulle sou hoor, selfs al het hulle situasie hopeloos gelyk.
Sagaria het in die heiligdom ingegaan terwyl ’n groot groep mense buite gebid het. Daar, in die stilte van daardie groot vertrek, het ’n figuur skielik voor hom by die reukwerkaltaar verskyn – ’n engel van Jehovah! Hy het vir Sagaria gesê dat God sy gebede gehoor het en dat Elisabet swanger sou raak en geboorte aan ’n seun sou gee. Die kind moes Johannes genoem word. Hy sou “Elia se gees en krag” hê. Hy sou die belangrike werk hê om mense te help om na Jehovah terug te keer.
Sagaria se twyfelgedagtes het hom oorweldig, en daarom het hy vir ’n teken gevra om seker te maak of hierdie dinge wel sou gebeur. Die engel het hom met hierdie woorde reggehelp: “Ek is Gabriël, wat in die teenwoordigheid van God staan.” Daar was geen rede om in hierdie magtige kneg van Jehovah te twyfel nie. Gabriël het verder gesê dat Sagaria nie sou kon praat totdat God se beloftes waar geword het nie. So toe Sagaria uit die heiligdom kom, kon hy net gebare gebruik om te verduidelik wat met hom gebeur het.
’n Ou, kinderlose paartjie kry ’n boodskap uit die hemel wat hulle lewens verander het
Sagaria het die een of ander manier gevind om vir Elisabet te verduidelik wat gebeur het. En toe, “’n paar dae later”, het sy swanger geword. Sy het haarself vir vyf maande afgesonder, maar in die sesde maand, het ’n familielid by haar kom kuier – Maria, die dogter van Heli, van Nasaret. Die oomblik toe Maria in die huis instap, het die babatjie in Elisabet se baarmoeder met vreugde gespring. Gevul met heilige gees, was Elisabet geïnspireer om Maria “die ma van my Here” te noem. Sy het geweet dat Maria swanger was met die kind wat die Messias sou word. In plaas daarvan om jaloers te wees, het Elisabet die geleentheid gebruik om die jong vrou te versterk vir die toewysing wat vir haar voorgelê het.
Toe Elisabet uiteindelik geboorte gee, het haar familielede en bure by haar kom kuier. Hulle wou haar probeer kry om die babaseuntjie na sy pa te vernoem. Maar Elisabet het geweet wat Gabriël vir haar man gesê het: “Jy moet hom Johannes noem.” En daarom het sy geweier en vir hulle gesê: “Nee! Hy sal Johannes genoem word.” Maar hulle wou nie na haar luister nie en het toe vir Sagaria gevra. Hy kon nog steeds nie praat nie, en daarom het hy op ’n skryfbordjie geskryf: “Johannes is sy naam.” Onmiddellik kon hy weer praat.
Sagaria was toe gevul met heilige gees en het begin profeteer. Hy was geïnspireer om ’n boodskap van hoop, redding en genade te verkondig. Hy het voorspel dat sy seun, Johannes, “voor Jehovah [sou] uit gaan om sy weg voor te berei”. En dit was so. Johannes die Doper het die voorloper van die Messias geword en mense gehelp om Jesus se boodskap oor God se Koninkryk te aanvaar.
Die Messias het groot veranderinge gebring. Hy het God se mense geleer hoe om ongelowiges en teenstanders te behandel. In vroeër jare het baie van God se knegte gewys dat hulle moedig is deur oorlog te voer teen Jehovah se vyande. Maar ’n nuwe era het nou aangebreek, en Jehovah wou nie meer hê dat sy knegte in oorloë moes veg nie. Maar hulle sou nog steeds moed nodig hê. Dié wat die Messias aanvaar het, sou hulle kosbare geskenk van spraak moes gebruik, soos Sagaria en Elisabet gedoen het, om Jehovah te verheerlik en die goeie nuus van Jesus Christus met ander te deel.
Lees die Bybelverslag:
Om te bespreek:
Hoe het Sagaria en Elisabet gewys dat hulle moedig is?
Soek dieper
1. Alhoewel Sagaria en Elisabet onvolmaak was, hoekom beskryf die Bybel hulle as “regverdig”? (Luk. 1:6; w02 6/1 16 ¶14)
2. Wat sê die Bybel oor Gabriël? (it “Gabriël” ¶2-3-wcgr) A
Prent A
Prent A
3. Gabriël het vir Sagaria gesê om sy seun Johannes te noem. Wat beteken die naam Johannes? (it “Johannes” ¶1-wcgr)
4. Het Sagaria stom en doof geword? (w08 3/15 30 ¶6)
Dink aan die lesse
Joodse rabbi’s in Sagaria se dag het ’n man toegelaat om van sy vrou te skei as sy nie kinders kon hê nie. Wat kan mans by Sagaria leer oor lojaliteit aan hulle vrouens? B
Prent B
Elisabet het haar man se leiding lojaal ondersteun, al het haar bure en familielede druk op haar geplaas (Luk. 1:58-61). Wat kan vrouens by haar leer?
Hoe kan jy Sagaria en Elisabet se moed navolg?
Dink na oor die groter prentjie
Wat leer hierdie verslag my oor Jehovah?
Hoe hou hierdie verslag verband met Jehovah se wil?
As Sagaria en Elisabet op die aarde opgewek gaan word, wat sou ek hulle graag wou vra?a
Leer meer
Kyk hoe Sagaria sy spraak terugkry en daardie spraak gebruik om God te loof.
Hoe het Maria krag van Jehovah gekry toe sy Elisabet besoek het, en wat kan ons daaruit leer?
a As Sagaria en Elisabet voor Pinkster 33 HJ gesterf het, sal hulle op die aarde opgewek word.