30 DIE WEDUWEE VAN SARFAT
Sy was moedig in ’n baie moeilike tyd
SY WAS nie onsigbaar nie – maar sy het dalk so gevoel. Het enige iemand gesien hoe sy swaarkry? Het enige iemand omgegee? Sy was ’n weduwee en ’n ma. In Israel kon weduwees vertroosting vind in God se liefdevolle wette wat weduwees en vaderlose kinders beskerm het. Maar sy was nie ’n Israeliet nie. Sy het in Sarfat gebly, ’n dorpie wat aan Sidon behoort het. Die Sidoniese koning Etbaäl was blykbaar ’n priester van die godin Astoret. Die aanbidding van Astoret het allerhande slegte gedrag bevorder. In ’n land vol wreedheid en waar mense gesukkel het om ’n droogte en hongersnood te oorleef, watter hoop het ’n arm weduwee gehad om enige hulp te kry?
Sy het hard probeer om enige bietjie kos bymekaar te skraap wat sy kon vind om haar en haar seuntjie aan die lewe te hou. Maar dinge het net erger en erger geword, en nou het dit gelyk asof die bitter einde in sig was.
Maar iets omtrent hierdie weduwee het uitgestaan en was kosbaar. Amper 1 000 jaar later het Jesus Christus gesê dat sy vir Jehovah anders was as die ongelowige mense in Israel. Dit lyk asof sy op die een of ander manier oor Jehovah, die God van Israel geleer het. Dalk was sy geraak deur die manier hoe hy sy mense behandel het. Sy het in hom geglo. Maar wat sou Jehovah vir hierdie vrou in ’n vreemde, heidense land doen? Hy het vir haar ’n spesiale geskenk gestuur.
Jehovah het vir sy profeet Elia gesê om na die noorde te gaan om hierdie weduwee te vind en by haar te bly gedurende die droogte. Toe die profeet in Sarfat aankom, het hy gesien hoe ’n vrou besig is om hout vir ’n vuur bymekaar te maak. Hy het vriendelik met haar gepraat en vir iets baie eenvoudigs gevra: “Bring asseblief vir my ’n bietjie water om te drink.” Alhoewel sy Elia nie geken het nie, het sy vir hom water gebring. Dalk was dit sy stemtoon, sy vriendelike woorde of sy eenvoudige klere as ’n profeet wat vir haar die idee gegee het dat hierdie man ’n kneg van Jehovah was. Elia het dalk gewonder of dit die vrou is na wie Jehovah hom gestuur het? Elia het vir nog iets gevra – ’n stukkie brood.
Nou het die weduwee haar hart oopgemaak. Sy het begin deur te sê: “So waar as wat Jehovah u God lewe.” Dit het gewys dat sy geloof gehad het in die ware God, “die lewende God” (Jer. 10:10). Toe het sy vir Elia gesê dat sy nie brood het nie; sy het net ’n hand vol meel in ’n groot houer en ’n bietjie olie in ’n klein houer. Sy was op pad om ’n vuur te maak sodat sy vir haar en haar seun ’n laaste ete kon voorberei. Sy het gesê: “Nadat ons geëet het, sal ons sterf.”
Sy en haar seun het amper niks oorgehad om te eet nie, maar Jehovah se profeet het haar gevra om haar laaste bietjie kos vir hom te gee
Elia se volgende woorde het haar sekerlik geskok. “Moenie bang wees nie.” Hoe kon Elia vir haar sê om nie bang te wees nie terwyl sy kon sien dat sy en haar seun binnekort sou sterf? Maar sy het nog steeds geluister. Elia het toe vir haar gesê wat Jehovah belowe het om vir haar te doen. As sy vir die profeet eers ’n klein ronde brood maak, sou Jehovah haar beloon. Hy sou seker maak dat haar twee houers, die een vir meel en die een vir olie, nie leeg word nie. Hulle sou altyd iets hê om te eet totdat die droogte tot ’n einde kom.
Nou word die weduwee se geloof getoets. Sou sy haar laaste bietjie kos vir Jehovah se profeet gee? Sy het heel moontlik geweet dat Jehovah al baie groter dinge vir sy mense gedoen het as om vir een weduwee en haar seun kos te gee. Maar sou sy die moed hê om gehoorsaam te wees? Ons lees: “Sy het dus gegaan en gedoen wat Elia gesê het.”
Jehovah het daardie vrou ryklik geseën. Hy het seker gemaak dat daar altyd genoeg meel en olie in haar houers was sodat Elia en haar huishouding genoeg kos tot die einde van die droogte sou hê. En Jehovah het iets selfs wonderliker vir haar gedoen. Ongelukkig het haar seun skielik siek geword en gesterf. Maar Jehovah het Elia gebruik om haar seun weer lewend te maak! Dit was die eerste opstanding wat in die Bybel genoem word. Hierdie wonderwerk het die weduwee sekerlik baie moed gegee. Van daardie tyd af het daardie wonderwerk en haar voorbeeld al miljoene gehelp om ook moedig te wees.
Lees die Bybelverslag:
Om te bespreek:
Hoe het die weduwee van Sarfat gewys dat sy moedig is?
Soek dieper
1. Beskryf die godsdiens van Sidon. Hoe het hierdie godsdiens die Israeliete beïnvloed? (it “Sidon” ¶6-wcgr) A
Penta Springs Limited/Alamy Stock Photo
Prent A: ’n Beeld van Astoret uit omtrent 1500 VHJ
2. Wat was Etbaäl se verhouding met koning Agab van Israel? (it “Etbaäl”-wcgr)
3. Die Fenisiese mense het die godin Astoret aanbid. Watter dinge wat met hulle godsdiens verband hou, bestaan nog vandag? (g93 11/22 13 ¶2-5)
4. Toe die weduwee se seun gesterf het, hoekom het sy dalk vir Elia gevra: “Het u gekom om my te herinner aan my sondes en om my seun dood te maak?” (1 Kon. 17:18 w14 2/15 15 ¶4-5) B
Prent B
Dink aan die lesse
Jehovah het die weduwee raakgesien, al het sy in ’n dorp gebly waar hulle Baäl aanbid het. Wat leer dit jou oor Jehovah en oor hoe ons mense in ons gebied moet beskou? (Hand. 10:35)
Wat kan Christene wat finansieel sukkel by die weduwee van Sarfat se geloof en moed leer? C
Prent C
Op watter ander maniere kan jy die weduwee van Sarfat se moed navolg?
Dink na oor die groter prentjie
Wat leer hierdie verslag my oor Jehovah?
Hoe hou hierdie verslag verband met Jehovah se wil?
Wat sou ek die weduwee van Sarfat graag wou vra nadat Jehovah haar opgewek het?
Leer meer
Hoe kan ons, soos die weduwee van Sarfat, wys dat ons verhouding met Jehovah belangriker is as materiële dinge?
“Die verkryging van God se goedkeuring lei tot die ewige lewe” (w11 2/15 13-17)
Kyk na bewyse dat Jehovah belangstel in alles wat jy doen om te wys dat jy geloof in hom het – selfs die klein dingetjies.