Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • od hfst. 13 bl. 132-142
  • “Doen alles tot eer van God”

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • “Doen alles tot eer van God”
  • Georganiseer om Jehovah se wil te doen
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • GEESTELIKE EN SEDELIKE REINHEID
  • FISIESE REINHEID
  • GOEIE ONTSPANNING EN VERMAAK
  • SKOOLBEDRYWIGHEDE
  • SEKULÊRE WERK EN MEDEWERKERS
  • WOON IN CHRISTELIKE EENHEID SAAM
  • God is lief vir rein mense
    ‘Hou julle in God se liefde’
  • Heilsame ontspanning wat verkwik
    ie Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2006
  • Is jou ontspanning voordelig?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2011
  • Wees rein van verstand en liggaam
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1989
Sien nog
Georganiseer om Jehovah se wil te doen
od hfst. 13 bl. 132-142

HOOFSTUK 13

“Doen alles tot eer van God”

AS God se toegewyde knegte is ons verplig om Jehovah te eer in alles wat ons sê en doen. Die apostel Paulus het vir ons ’n riglyn hieroor gegee toe hy geskryf het: “Of julle dan nou eet of drink of enigiets anders doen, doen alles tot eer van God” (1 Kor. 10:31). Dit beteken dat ons bly by Jehovah se regverdige standaarde, wat sy volmaakte persoonlikheid weerspieël (Kol. 3:10). Ons moet navolgers van God word, as ’n heilige volk. – Ef. 5:1, 2.

2 Die apostel Petrus het hierdie gedagte onder Christene se aandag gebring toe hy geskryf het: “As gehoorsame kinders moet julle nie langer gevorm word deur die begeertes wat julle voorheen gehad het toe julle nie van beter geweet het nie. Maar word ook heilig in al julle gedrag, soos die Heilige wat julle geroep het, want daar is geskryf: ‘Julle moet heilig wees, want ek is heilig’” (1 Pet. 1:14-16). Soos in die geval van eertydse Israel, word daar van almal in die Christengemeente verwag om altyd heilig te wees. Dit beteken dat hulle vlekkeloos moet bly, rein van besmetting deur sonde en wêreldse invloede. Só word hulle vir heilige diens afgesonder. – Eks. 20:5.

3 Ons kan heilig bly deur gehoorsaam te wees aan Jehovah se wette en beginsels, wat duidelik in die Heilige Skrif uiteengesit word (2 Tim. 3:16). Deur ’n studie van die Bybel het ons van Jehovah en sy weë geleer en nader aan hom gekom. Ons studie het ons oortuig dat ons eers God se Koninkryk moet soek en Jehovah se wil eerste in ons lewe moet stel (Matt. 6:33; Rom. 12:2). Dit het beteken dat ons die nuwe persoonlikheid moet aantrek. – Ef. 4:22-24.

GEESTELIKE EN SEDELIKE REINHEID

4 Dit is nie altyd maklik om by Jehovah se regverdige standaarde te bly nie. Ons teenstander, Satan die Duiwel, probeer ons kry om teen die waarheid te draai. Hierdie wêreld se slegte invloede en ons eie sondige neigings maak dinge soms moeilik. Om ons toewyding uit te leef, vereis dat ons ’n geestelike stryd voer. Die Skrif sê dat ons nie verbaas moet wees wanneer ons voor teenstand te staan kom of deur moeilike tye gaan nie. Ons sal ter wille van regverdigheid moet ly (2 Tim. 3:12). Ons kan gelukkig wees wanneer ons deur moeilike tye gaan, want ons weet dat dit ’n bewys is dat ons God se wil doen. – 1 Pet. 3:14-16; 4:12, 14-16.

5 Hoewel Jesus volmaak was, het hy gehoorsaamheid geleer uit die dinge wat hy gely het. Hy het nooit ingegee vir Satan se versoekings of wêreldse ambisies ontwikkel nie (Matt. 4:1-11; Joh. 6:15). Jesus het dit nooit eers oorweeg om Jehovah se beginsels prys te gee nie. Hoewel die wêreld hom gehaat het as gevolg van sy getroue voorbeeld, het hy altyd by Jehovah se regverdige standaarde gebly. Kort voor sy dood het Jesus sy dissipels gewaarsku dat die wêreld hulle ook sou haat. Van toe af het Jesus se volgelinge moeilike tye deurgemaak, maar hulle was nie bang nie, want hulle het geweet dat die Seun van God die wêreld oorwin het. – Joh. 15:19; 16:33; 17:16.

6 As ons geen deel van die wêreld wil wees nie, moet ons vashou aan Jehovah se regverdige standaarde, net soos ons Meester gedoen het. Ons moenie betrokke raak by die wêreld se politieke en maatskaplike sake nie, maar ons moet ook die wêreld se slegte sedelike toestande weerstaan. Ons neem die raad in Jakobus 1:21 ernstig op: “Raak . . . ontslae van alle vuilheid en elke bietjie slegtheid, en aanvaar met sagmoedigheid die woord wat in julle geplant word en wat julle kan red.” Deur middel van studie en vergaderingbywoning kan “die woord” van waarheid in ons verstand en hart “geplant word”, en dan sal ons nie eers ’n begeerte hê na wat die wêreld aanbied nie. Die dissipel Jakobus het geskryf: “Weet julle nie dat vriendskap met die wêreld vyandskap met God is nie? Elkeen wat ’n vriend van die wêreld wil wees, maak homself ’n vyand van God” (Jak. 4:4). Daarom waarsku die Bybel ons om vas te hou aan Jehovah se regverdige standaarde en om afgeskeie te bly van die wêreld.

7 God se Woord waarsku dat ons ons nie aan skandelike en onsedelike gedrag moet skuldig maak nie. Dit sê vir ons: “Laat seksuele onsedelikheid en elke soort onreinheid of gierigheid nie eers onder julle genoem word nie, net soos dit vir heilige mense gepas is” (Ef. 5:3). Ons moet dus weier om oor dinge te dink wat vuil, skandelik of sleg is, en ons moet beslis nie toelaat dat sulke dinge geleidelik deel van ons gesprekke word nie. Só wys ons dat ons by Jehovah se rein en regverdige standaarde van sedelikheid wil bly.

FISIESE REINHEID

8 Behalwe geestelike en sedelike reinheid besef Christene ook hoe belangrik dit is om fisies skoon te wees. In eertydse Israel het die God van heiligheid vereis dat die kamp skoon gehou moes word. Ons moet ook rein wees sodat Jehovah ‘niks afstootliks by ons sien nie’. – Deut. 23:14.

9 In die Bybel is daar ’n nou verband tussen heiligheid en fisiese reinheid. Paulus het byvoorbeeld geskryf: “Geliefdes, laat ons ons reinig van alles wat liggaam en gees besoedel en daarna streef om met vrees vir God volmaakte heiligheid te bereik” (2 Kor. 7:1). Christenmans en -vroue moet dus probeer om hulle liggaam skoon te hou deur gereeld te bad en hulle klere te was. Hoewel toestande van land tot land verskil, kan ons gewoonlik genoeg seep en water in die hande kry om ons liggaam skoon te hou en seker te maak dat ons kinders skoon is.

10 As gevolg van ons getuieniswerk ken die gemeenskap waarin ons woon, ons gewoonlik goed. ’n Huis wat binne en buite netjies, skoon en ordelik is, is ’n getuienis vir die bure. Dit is iets waarmee die hele gesin kan help. Dit is belangrik dat broers seker maak dat hulle huis en erf netjies en skoon is, want ons weet dat dit ’n goeie indruk op ander maak. As gesinshoofde dit doen sowel as die leiding neem in geestelike sake, wys hulle dat hulle goeie leiding aan hulle huisgesin gee (1 Tim. 3:4, 12). Susters het ook sekere verantwoordelikhede, veral in die huis (Tit. 2:4, 5). Goed opgeleide kinders dra hulle deel by deur hulleself sowel as hulle kamer netjies en skoon te hou. So werk die gesin saam om ’n patroon van reinheid te ontwikkel wat in die nuwe wêreld onder God se Koninkryk sal inpas.

11 Vandag gebruik baie van Jehovah se knegte ’n motor om na die vergaderinge te gaan. In party gebiede kan ’n mens amper nie sonder ’n motor in die bediening klaarkom nie. Die motor moet skoon wees en goed in stand gehou word. Ons huise en motors moet wys dat ons deel van Jehovah se rein en heilige volk is. Dieselfde beginsel geld vir ons velddienssak en Bybel.

12 Ons kleredrag en persoonsversorging moet wys dat ons goddelike beginsels respekteer. Ons sal nie eers daaraan dink om voor ’n belangrike persoon te verskyn as ons klere slordig of te informeel is nie. Daarom is dit nog belangriker wanneer ons Jehovah in die veldbediening of op die verhoog verteenwoordig! Ons persoonsversorging en kleredrag kan ’n invloed hê op hoe ander die aanbidding van Jehovah beskou. Dit sal beslis nie gepas wees om onbeskeie aan te trek of onbedagsaam teenoor ander te wees nie (Miga 6:8; 1 Kor. 10:31-33; 1 Tim. 2:9, 10). Wanneer ons gereedmaak om in die velddiens uit te gaan of om gemeentelike vergaderinge, kringbyeenkomste of streekbyeenkomste by te woon, moet ons dus in gedagte hou wat die Bybel sê oor fisiese reinheid en ’n beskeie voorkoms. Ons wil Jehovah altyd eer en verheerlik.

As God se toegewyde knegte is ons verplig om Jehovah te eer in alles wat ons sê en doen

13 Dieselfde geld wanneer ons die wêreldhoofkwartier of ’n takkantoor van Jehovah se Getuies besoek. Onthou, die naam Bethel beteken “Huis van God”. Ons kleredrag en gedrag moet dus dieselfde wees as wanneer ons vergaderinge by die Koninkryksaal bywoon.

14 Selfs wanneer ons ontspan, wil ons aandag skenk aan ons kleredrag en persoonsversorging. Ons kan ons afvra: ‘Sal ek te skaam wees om informeel te getuig as gevolg van die manier waarop ek aangetrek is?’

GOEIE ONTSPANNING EN VERMAAK

15 Rus en ontspanning is nodig om gebalanseerd en gesond te bly. Jesus het eenkeer sy dissipels genooi om saam met hom na ’n afgeleë plek te gaan om ‘’n bietjie te rus’ (Mark. 6:31). Rus en goeie ontspanning of vermaak is lekker. Dit kan ons nuwe krag gee sodat ons met ons normale bedrywighede kan aangaan.

16 Omdat daar vandag soveel vorme van ontspanning is, moet Christene selektief wees en goddelike wysheid hê. Hoewel ontspanning sy plek het, is dit nie die belangrikste ding in die lewe nie. Ons word gewaarsku dat mense in ‘die laaste dae eerder vir plesier as vir God lief’ sal wees (2 Tim. 3:1, 4). Baie van vandag se ontspanning en vermaak is onaanvaarbaar vir mense wat by Jehovah se regverdige standaarde wil bly.

17 Die vroeë Christene moes die skadelike invloed weerstaan van ’n wêreld wat net vir plesier gelewe het. By die Romeinse sirkus is mense vermaak deur die lyding van ander. Tonele van geweld, bloedvergieting en seksuele onsedelikheid het die bevolking vermaak, maar die vroeë Christene het sulke dinge vermy. Vandag bevat baie van die wêreld se vermaak soortgelyke elemente en bevredig dit skandelike menslike begeertes. Ons moet ‘noukeurig let op hoe ons ons gedra’ en slegte vermaak verwerp (Ef. 5:15, 16; Ps. 11:5). En al is daar niks fout met die vermaak self nie, is die algemene atmosfeer dalk onaanvaarbaar. – 1 Pet. 4:1-4.

18 Daar is goeie vorme van ontspanning en vermaak wat Christene kan geniet. Baie is al gehelp deur die skriftuurlike raad en gebalanseerde wenke in ons publikasies.

19 Soms word party gesinne na iemand se huis genooi vir Christelike assosiasie. Of broers en susters word genooi na ’n huweliksonthaal of ’n soortgelyke sosiale geleentheid (Joh. 2:2). Die mense wat hierdie geleenthede gereël het, moet persoonlik verantwoordelik voel vir wat daar gebeur. Dit is duidelik dat ’n mens versigtig moet wees wanneer groot groepe bymekaarkom. Die ontspanne atmosfeer by sulke geleenthede het al soms daartoe gelei dat party hulle gedra het op ’n manier wat nie vir Christene gepas is nie. Party het te veel geëet en gedrink en hulle selfs aan ander ernstige oortredings skuldig gemaak. Daarom besef verstandige Christene dat dit wys is om nie te veel mense na sulke gesellighede te nooi of toe te laat dat dit te lank aanhou nie. As alkohol bedien word, moet dit matig gebruik word (Fil. 4:5). As alles gedoen word om seker te maak dat gesellighede geestelik opbouend is, sal kos en drank nie die belangrikste oorweging wees nie.

20 Dit is goed om gasvry te wees (1 Pet. 4:9). Wanneer ons ander Christene vir ’n ete, verversings, ontspanning en assosiasie na ons huis nooi, moet ons die minderbevoorregtes in gedagte hou (Luk. 14:12-14). As ons gaste by sulke geleenthede is, moet ons ons in ooreenstemming met die raad in Markus 12:31 gedra. Dit is altyd goed om waardering te wys vir die goedhartigheid van ander.

21 Christene is baie bly oor God se oorvloedige gawes en omdat hulle kan ‘eet en drink en al hulle harde werk kan geniet’ (Pred. 3:12, 13). Wanneer ons “alles tot eer van God” doen, sal almal goeie herinneringe aan gesellighede hê omdat hulle geestelik opgebou is.

SKOOLBEDRYWIGHEDE

22 Dit is goed as kinders van Jehovah se Getuies ’n basiese sekulêre opvoeding kry. Terwyl hulle op skool is, stel hulle daarin belang om goed te leer lees en skryf. Ander vakke wat op skool geleer word, kan jongmense help om hulle geestelike doelwitte te bereik. Gedurende hulle skooljare moet hulle alles in hulle vermoë doen om ‘aan hulle Groot Skepper te dink’ deur geestelike dinge eerste te stel. – Pred. 12:1.

23 As jy ’n Christen is wat nog op skool is, moet jy versigtig wees om nie onnodig met wêreldse jongmense te assosieer nie (2 Tim. 3:1, 2). Jehovah leer jou hoe om jouself teen wêreldse invloede te beskerm (Ps. 23:4; 91:1, 2). Gebruik Jehovah se voorsienings om jou te beskerm. – Ps. 23:5.

24 Die meeste jong Getuies besluit om nie aan buitemuurse aktiwiteite op skool deel te neem nie omdat hulle nie deel van die wêreld wil wees nie. Dit kan moeilik wees vir klasmaats en onderwysers om dit te verstaan. Maar wat belangrik is, is om God bly te maak. Dit beteken dat jy jou Bybelopgeleide gewete moet gebruik en vasbeslote moet wees om nie by die wêreldse gees van kompetisie of nasionalisme betrokke te raak nie (Gal. 5:19, 26). Jongmense, julle kan by Jehovah se regverdige standaarde bly as julle luister na die Bybel se raad wat julle godvresende ouers vir julle gee. Julle sal ook gehelp word as julle met die gemeente assosieer.

SEKULÊRE WERK EN MEDEWERKERS

25 Gesinshoofde het ’n skriftuurlike verpligting om vir hulle huisgesin te sorg (1 Tim. 5:8). Maar as bedienaars besef hulle dat hulle sekulêre werk minder belangrik is as om Koninkryksbelange eerste te stel (Matt. 6:33; Rom. 11:13). Deur toegewy te wees aan God en tevrede te wees met kos en klere, vermy hulle die sorge en strikke van ’n materialistiese lewenswyse. – 1 Tim. 6:6-10.

26 Alle toegewyde Christene wat sekulêr werk, moet skriftuurlike beginsels in gedagte hou. Om op ’n eerlike manier vir onsself te sorg, beteken dat ons weier om dinge te doen wat God se wet of die landswet oortree (Rom. 13:1, 2; 1 Kor. 6:9, 10). Ons is ook altyd bewus van die gevare van slegte assosiasie. As soldate van Christus vermy ons sakebedrywighede wat teen goddelike standaarde is en wat ons Christelike neutraliteit of ons geestelikheid in gevaar stel (Jes. 2:4; 2 Tim. 2:4). Ons het ook niks te doen met God se godsdiensvyand, “Babilon die Grote”, nie. – Op. 18:2, 4; 2 Kor. 6:14-17.

27 As ons gehoorsaam is aan God se regverdige standaarde, sal ons nie ons assosiasie met ons broers en susters gebruik om persoonlike of sakebelange te bevorder nie. Die doel van ons assosiasie met ander by Christelike vergaderinge en kring- en streekbyeenkomste is uitsluitlik om Jehovah te aanbid. Ons voed ons aan sy geestelike tafel en ‘moedig mekaar aan’ (Rom. 1:11, 12; Heb. 10:24, 25). Sulke assosiasie moet op ’n geestelike vlak gehou word.

WOON IN CHRISTELIKE EENHEID SAAM

28 Jehovah se regverdige standaarde vereis ook dat sy volk “die eenheid van die gees in die verenigende band van vrede . . . bewaar” (Ef. 4:1-3). Probeer altyd doen wat goed is teenoor mekaar eerder as om net aan jou eie belange te dink (1 Tess. 5:15). Dit is ongetwyfeld die gees wat in jou gemeente is. Ons word almal deur dieselfde regverdige standaarde gelei, maak nie saak wat ons ras, nasionaliteit, sosiale stand, finansiële posisie of geleerdheid is nie. Selfs mense buite die gemeente het al hierdie uitsonderlike kenmerk van Jehovah se volk raakgesien. – 1 Pet. 2:12.

29 Die apostel Paulus het verder beklemtoon wat die grondslag vir eenheid is toe hy geskryf het: “Daar is een liggaam en een gees, net soos julle geroep is in die een hoop van julle roeping, een Here, een geloof, een doop, een God en Vader van almal, wat oor almal en deur almal en in almal is” (Ef. 4:4-6). Dit vereis dat ons verenig moet wees in ons begrip van basiese Bybelleerstellings sowel as meer gevorderde Bybelleringe, waardeur ons Jehovah se soewereiniteit erken. Ja, Jehovah het sy volk die suiwer taal van die waarheid gegee, wat hulle help om skouer aan skouer te dien. – Sef. 3:9.

30 Die eenheid en vrede van die Christengemeente is iets wat almal wat Jehovah aanbid, nuwe krag gee. Ons het die vervulling van Jehovah se belofte ondervind: “Ek sal hulle verenig soos skape in ’n kraal” (Miga 2:12). Ons wil hierdie vreedsame eenheid behou deur by Jehovah se regverdige standaarde te bly.

31 Gelukkig is diegene wat in die rein gemeente van Jehovah aanvaar is! Om Jehovah se naam te dra, is enige opoffering werd. Terwyl ons ons kosbare verhouding met Jehovah beskerm, sal ons ywerig wees en hard werk om by sy regverdige standaarde te bly en om dit by ander aan te beveel. – 2 Kor. 3:18.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel