Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • od hfst. 12 bl. 125-131
  • Ondersteuning van die Koninkrykswerk – Plaaslik en wêreldwyd

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Ondersteuning van die Koninkrykswerk – Plaaslik en wêreldwyd
  • Georganiseer om Jehovah se wil te doen
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • HOE DAAR WÊRELDWYD NA KONINKRYKSBELANGE OMGESIEN WORD
  • HOE ELKE GEMEENTE IN SY BEHOEFTES VOORSIEN
  • DIE HANTERING VAN BYDRAES
  • KRINGBYEENKOMSUITGAWES
  • HULP AAN DIE ARMES
  • LEKTUURVERSPREIDING
  • Hoe Koninkryksbedrywighede gefinansier word
    God se Koninkryk regeer!
  • Hoe word dit alles gefinansier?
    Jehovah se Getuies—Verkondigers van God se Koninkryk
  • Finansieel ondersteun deur vrywillige bydraes
    Jehovah se Getuies—Verenig in die uitvoering van God se wil wêreldwyd
  • Vereenvoudiging— help ons om ons ’van die belangriker dinge te vergewis’
    Ons Koninkryksbediening—1987
Sien nog
Georganiseer om Jehovah se wil te doen
od hfst. 12 bl. 125-131

HOOFSTUK 12

Ondersteuning van die Koninkrykswerk – Plaaslik en wêreldwyd

IN DIE vervulling van Jesus se profesie oor die laaste dae het Jehovah se Getuies die goeie nuus “tot in die mees afgeleë deel van die aarde” verkondig (Hand. 1:8; Matt. 24:14). Hulle het dit gedoen deur vryelik van hulle tyd en energie te gee om ander oor geestelike dinge te leer. Omdat hulle op Jehovah vertrou om vir sy medewerkers te sorg, stel hulle altyd God se Koninkryk eerste in hulle lewe (Matt. 6:25-34; 1 Kor. 3:5-9). Die resultate is ’n duidelike bewys van Jehovah se goedkeuring en seën.

HOE DAAR WÊRELDWYD NA KONINKRYKSBELANGE OMGESIEN WORD

2 Wanneer mense sien hoe ons predikingswerk gedoen word en besef dat ons Bybels en Bybellektuur kosteloos aan die publiek versprei, vra party: “Hoe is dit moontlik?” Dit kos natuurlik geld om Bybels en Bybellektuur te vervaardig. Dit kos ook geld om Bethelhuise te bou en in stand te hou vir bedienaars wat drukwerk doen, oor die predikingswerk toesig hou en die goeie nuus op ander maniere help bevorder. Verder ontvang kringopsieners, veldsendelinge, spesiale pioniers en ander in die spesiale voltydse diens materiële bystand om hulle te help om met die werk voort te gaan. Dit is duidelik dat baie geld nodig is om die goeie nuus in ons dag te verkondig, plaaslik of wêreldwyd. Waar kom die geld vandaan?

3 Baie mense wat die Bybelonderrigtingswerk van Jehovah se Getuies waardeer, gee met graagte donasies vir die wêreldwye werk. Maar ons werk word hoofsaaklik ondersteun deur die Getuies self, en party van hulle stuur vrywillige bydraes na die plaaslike takkantoor van Jehovah se Getuies. Hulle wys ’n gewillige gees soos dié van God se knegte van die ou tyd wat vrygewig bygedra het tot die bou van Jehovah se plek van aanbidding (Eks. 35:20-29; 1 Kron. 29:9). Party skenkings word deur middel van ’n testament gemaak, terwyl ander bydraes wat deur individue, gemeentes en kringe gegee word, gewoonlik uit klein bedrae bestaan. Al hierdie bydraes voorsien die fondse om die bediening aan die gang te hou.

Vir Jehovah se Getuies is dit ’n voorreg om hulle geld en ander middele te gebruik om die predikingswerk te bevorder

4 Vir Jehovah se Getuies is dit ’n voorreg om hulle geld en ander middele te gebruik om die predikingswerk te bevorder. Jesus en sy dissipels het ’n geldkissie gehad waaruit geld geneem is om uitgawes te dek (Joh. 13:29). Die Bybel vertel ons van vroue wat Jesus en sy dissipels bedien het (Mark. 15:40, 41; Luk. 8:3). Die apostel Paulus was dankbaar vir die liefdevolle materiële bystand wat hy ontvang het van diegene wat die goeie nuus wou bevorder en hom in sy bediening wou ondersteun (Fil. 4:14-16; 1 Tess. 2:9). Jehovah se Getuies volg nog steeds hierdie eertydse voorbeelde van ywerige diens en vrygewigheid. Daarom is dit moontlik om ‘die water van die lewe verniet’ vir opregtes van hart oral in die wêreld aan te bied. – Op. 22:17.

HOE ELKE GEMEENTE IN SY BEHOEFTES VOORSIEN

5 Die uitgawes van die plaaslike gemeente word ook deur vrywillige bydraes gedek. Geen kollektes word opgeneem nie, en daar is ook nie vasgestelde bydraes of versoeke vir geld nie. Daar is bydraebussies by vergaderplekke sodat elkeen kan gee “net soos hy in sy hart besluit het”. – 2 Kor. 9:​7.

6 Bydraes word eers gebruik om die bedryfskoste sowel as die instandhoudingskoste van die Koninkryksaal te dek. Die liggaam van ouermanne kan besluit om van die geld na die plaaslike takkantoor van Jehovah se Getuies te stuur om die wêreldwye werk te bevorder. In so ’n geval word ’n resolusie deur die gemeente aangeneem. So gee baie gemeentes gereeld bydraes vir die wêreldwye werk. Wanneer almal bewus is van plaaslike behoeftes wat van tyd tot tyd ontstaan, behoort dit nie nodig te wees om dikwels aankondigings oor bydraes te maak nie.

DIE HANTERING VAN BYDRAES

7 Ná elke vergadering haal twee broers die geld uit die bydraebussies en maak hulle ’n aantekening daarvan (2 Kon. 12:9, 10; 2 Kor. 8:20). Die liggaam van ouermanne sal gepaste reëlings tref om hierdie geld veilig te hou totdat dit aan die takkantoor oorbetaal of vir gemeentelike behoeftes gebruik word. Die broer wat die gemeentelike rekeninge hanteer, stel ’n maandelikse staat op om die gemeente op hoogte te hou. Elke drie maande reël die koördineerder van die liggaam van ouermanne dat die rekeninge geouditeer word.

KRINGBYEENKOMSUITGAWES

8 Die koste van kringbyeenkomste, sowel as ander kringuitgawes, word deur bydraes van die Getuies in die kring gedek. Bydraebussies word by byeenkomsfasiliteite voorsien sodat vrywillige bydraes vir die kring gegee kan word. Gemeentes kan ook op ander tye bydraes gee vir deurlopende uitgawes.

9 Kringe moet verkieslik enige nodige uitgawes dek en enige bydraes wat oorbly, moet aan die wêreldwye werk geskenk word. As daar nie genoeg geld in die kring se rekening is om die uitgawes van die laaste byeenkoms of die aanvanklike uitgawes van die volgende byeenkoms te dek nie, soos ’n deposito vir die gebruik van ’n byeenkomsfasiliteit, kan die kringopsiener sê dat die gemeentes herinner moet word aan die voorreg om by te dra. Elke liggaam van ouermanne sal die saak bespreek en bepaal hoeveel hulle gemeente tot die kring se fonds kan bydra. Hulle sal hierdie bydrae dan deur middel van ’n resolusie hanteer.

10 Wanneer daar finansiële sake is wat bespreek moet word, moet ’n vergadering met die ouermanne in die kring op die dag van ’n kringbyeenkoms gehou word. Die ouermanne moet resolusies aanneem vir alle finansiële besluite behalwe dié in verband met sekere kringuitgawes. Hierdie resolusies moet vir presiese bedrae wees en elke keer vir goedkeuring voorgelê word as geld van die kring uitbetaal word.

11 Reëlings moet gemaak word dat die kring se rekeninge van tyd tot tyd geouditeer word.

HULP AAN DIE ARMES

12 Een rede waarom Jesus en sy dissipels ’n geldkissie gehou het, was om die armes te help (Mark. 14:3-5; Joh. 13:29). Hierdie Christelike verantwoordelikheid bestaan nog steeds, want Jesus het gesê: “Julle het altyd die armes by julle” (Mark. 14:7). Wat doen Jehovah se Getuies vandag om hierdie verantwoordelikheid na te kom?

13 Soms het getroue broers en susters in die gemeente moontlik materiële hulp nodig as gevolg van gevorderde ouderdom, siekte of die een of ander probleem buite hulle beheer. Familielede en ander wat bewus word van so ’n behoefte, wil hulle dalk help. Dit is ook wat die apostel Johannes ons aangemoedig het om te doen toe hy gesê het: “As iemand genoeg materiële besittings het om van te lewe en sien dat sy broer gebrek ly en tog weier om medelye aan hom te betoon, hoe kan die liefde vir God dan in hom bly? Kindertjies, ons moet liefhê, nie met woorde of met die tong nie, maar met dade en in waarheid” (1 Joh. 3:17, 18; 2 Tess. 3:6-12). Ware aanbidding sluit in dat ons materiële hulp gee aan getroue persone wat dit nodig het. – Jak. 1:27; 2:14-17.

14 In sy eerste brief aan Timoteus het die apostel Paulus verduidelik hoe materiële hulp aan mense wat dit nodig het, gegee kan word. Jy kan sy raad in 1 Timoteus 5:3-21 lees. Dit is hoofsaaklik die verantwoordelikheid van elke Christen om in die behoeftes van sy eie huisgesin te voorsien. Bejaardes of siekes moet deur hulle kinders, kleinkinders of ander familie gehelp word. As materiële hulp deur middel van regerings- of maatskaplike programme beskikbaar is, kan familielede of ander die behoeftige help om vir hierdie soort hulp aansoek te doen. ’n Situasie kan ontstaan waar die gemeente as ’n geheel dit moet oorweeg om die een of ander vorm van hulp aan sekere arm broers en susters met ’n lang geskiedenis van getroue diens te gee. As daar geen familielede is om sulke persone te help en daar nie genoeg hulp van die regering is nie, kan die liggaam van ouermanne gepaste aanbevelings maak om hulle te help. Christene beskou dit as ’n voorreg om hulle materiële besittings met mense wat dit nodig het, te deel.

15 Baie broers en susters het dalk hulp nodig as gevolg van vervolging, oorloë, aardbewings, oorstromings, hongersnode of ander rampe wat algemeen is in hierdie moeilike tye (Matt. 24:7-9). Plaaslike gemeentes het moontlik niks om met mekaar te deel nie, en daarom koördineer die Bestuursliggaam die pogings van broers op ander plekke om die nodige hulp te voorsien. Dit is wat gebeur het toe Christene in Klein-Asië gedurende ’n hongersnood kos aan die broers in Judea voorsien het (1 Kor. 16:1-4; 2 Kor. 9:1-5). Deur hulle voorbeeld te volg, wys ons dat ons lief is vir ons broers en dat ons ware dissipels van Jesus Christus is. – Joh. 13:35.

LEKTUURVERSPREIDING

16 Bybels en Bybellektuur speel ’n belangrike rol in die verkondiging van die Koninkryksboodskap. Die liggaam van ouermanne wys gewoonlik een bedieningskneg aan om na die gemeente se lektuur om te sien. Hierdie broers neem hulle verantwoordelikheid ernstig op. Hulle hou ’n deeglike rekord om te sorg dat die gemeente genoeg voorraad het.

17 As toegewyde Christene besef ons dat ons tyd, verstandelike en fisiese vermoëns, talente, materiële besittings en selfs ons lewe gawes van God is wat in sy diens gebruik moet word (Luk. 17:10; 1 Kor. 4:7). Deur al ons middele reg te gebruik, bewys ons die diepte van ons liefde vir Jehovah. Ons wil Jehovah met ons waardevolle dinge eer, want ons weet dat hy bly is oor enige gawe wat ons gee omdat ons heelhartig aan hom toegewy is (Spr. 3:9; Mark. 14:3-9; Luk. 21:1-4; Kol. 3:23, 24). Jesus het gesê: “Julle het verniet ontvang, verniet moet julle gee” (Matt. 10:8). As ons van onsself en ons middele in Jehovah se diens gee, maak dit ons werklik gelukkig. – Hand. 20:35.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel