HOOFSTUK 1
Georganiseer om Jehovah se wil te doen
DAAR is wêreldwyd baie godsdiens-, politieke, kommersiële en maatskaplike organisasies met verskillende kenmerke, doelwitte, beskouings en filosofieë. Maar daar is een organisasie wat baie anders is as die res. God se Woord identifiseer hierdie organisasie duidelik as Jehovah se Getuies.
2 Dit is goed dat jy met Jehovah se organisasie begin assosieer het. Jy het seker gemaak van wat God se wil is, en nou doen jy dit (Ps. 143:10; Rom. 12:2). Jy is ’n bedrywige bedienaar wat saam met ’n liefdevolle, wêreldwye gemeenskap van broers dien (2 Kor. 6:4; 1 Pet. 2:17; 5:9). Soos God se Woord belowe het, bring dit vir jou ryk seëninge en maak dit jou baie gelukkig (Spr. 10:22; Mark. 10:30). Deur nou getrou Jehovah se wil te doen, word jy vir ’n ewige, wonderlike toekoms voorberei. – 1 Tim. 6:18, 19; 1 Joh. 2:17.
3 Ons Groot Skepper het ’n unieke wêreldwye organisasie wat teokraties gerig word. Dit beteken dat dit deur Jehovah gelei word, en hy is Hoof oor almal. Ons het volle vertroue in hom. Hy is ons Regter, ons Wetgewer en ons Koning (Jes. 33:22). Omdat hy ’n God van orde is, het hy reëlings gemaak sodat ons saam met hom kan werk in die uitvoering van sy voorneme. – 2 Kor. 6:1, 2.
4 Terwyl die einde van die wêreldstelsel al hoe nader kom, gaan ons voort onder die leierskap van die aangestelde Koning, Christus Jesus (Jes. 55:4; Op. 6:2; 11:15). Jesus self het voorspel dat sy volgelinge groter werke sou doen as dié wat hy gedurende sy aardse bediening verrig het (Joh. 14:12). Dit sou die geval wees omdat Jesus se volgelinge oor ’n langer tydperk sou preek, daar al hoe meer van hulle sou wees en hulle ’n groter gebied sou dek. Hulle sou die goeie nuus van die Koninkryk tot aan die eindes van die aarde verkondig. – Matt. 24:14; 28:19, 20; Hand. 1:8.
5 Dít het reeds ’n werklikheid geword. Maar soos Jesus duidelik gesê het, sal die werk om die goeie nuus te verkondig op Jehovah se vasgestelde tyd eindig. Alles in God se profetiese Woord wys dat Jehovah se groot en ontsagwekkende dag naby gekom het. – Joël 2:31; Sef. 1:14-18; 2:2, 3; 1 Pet. 4:7.
Ons moet ons selfs meer inspan om te doen wat God vereis. Dit beteken dat ons goed vertroud moet raak met die manier waarop God se organisasie werk
6 Omdat ons verstaan wat Jehovah se wil op hierdie laat stadium is, moet ons ons selfs meer inspan om te doen wat God vereis. Dit beteken dat ons goed vertroud moet raak met die manier waarop God se organisasie werk en ten volle daarmee moet saamwerk. Die werking van die organisasie is gegrond op skriftuurlike beginsels, sowel as op die gebooie, wette, bevele, voorskrifte en leringe in God se geïnspireerde Woord. – Ps. 19:7-9.
7 Wanneer Jehovah se knegte by sulke Bybelse riglyne bly, woon en werk hulle in vrede en eenheid saam (Ps. 133:1; Jes. 60:17; Rom. 14:19). Wat versterk die bande tussen ons broers oral in die wêreld? Liefde. Dit is wat ons motiveer en wat ons aan almal betoon (Joh. 13:34, 35; Kol. 3:14). Op hierdie goddelik goedgekeurde manier hou ons tred met die hemelse deel van Jehovah se organisasie.
DIE HEMELSE DEEL VAN JEHOVAH SE ORGANISASIE
8 Die profete Jesaja, Esegiël en Daniël het visioene van die hemelse deel van Jehovah se organisasie gesien (Jes., hfst. 6; Eseg., hfst. 1; Dan. 7:9, 10). Die apostel Johannes het ook ’n visioen van hierdie hemelse reëling gehad en het in die boek Openbaring beskryf wat hy gesien het. Hy het Jehovah op ’n glorieryke troon gesien, omring deur engeleskepsele, wat uitroep: “Heilig, heilig, heilig is Jehovah God, die Almagtige, wat was en wat is en wat kom” (Op. 4:8). Johannes het ook “in die middel van die troon . . . ’n lam sien staan”, die Lam van God, Jesus Christus. – Op. 5:6, 13, 14; Joh. 1:29.
9 Hierdie visioen van Jehovah op sy troon wys dat hy die Hoof van hierdie organisasie is. Eerste Kronieke 29:11, 12 sê van hom en sy verhewe posisie: “O Jehovah, u is groot, magtig, indrukwekkend en vol prag en majesteit. Alles in die hemel en op die aarde behoort aan u. Aan u behoort die koninkryk, o Jehovah. U is die hoof oor alles. Rykdom en heerlikheid kom van u af, en u regeer oor alles, en in u hand is daar krag en mag. U hand kan enigiemand verhoog en aan almal krag gee.”
10 As Jehovah se medewerker het Jesus Christus ’n verhewe posisie in die hemel, en groot gesag is aan hom gegee. God het “alles onder sy voete geplaas en hom hoof oor alles gemaak in verband met die gemeente” (Ef. 1:22). Die apostel Paulus het van Jesus gesê: “God [het] hom ook ’n hoër posisie gegee en hom uit sy goedheid die naam gegee wat bo elke ander naam is, sodat elke knie in die naam van Jesus sal buig – dié in die hemel en dié op die aarde en dié onder die grond – en sodat elke tong openlik sal erken dat Jesus Christus Here is tot die eer van God, die Vader” (Fil. 2:9-11). Daarom kan ons volle vertroue in die regverdige leierskap van Jesus Christus hê.
11 Die profeet Daniël het in ’n visioen die Oue van Dae op Sy hemelse troon gesien, en “’n duisend maal duisend het hom bly dien, en tienduisend maal tienduisend het voor hom gestaan” (Dan. 7:10). Die Bybel verwys na hierdie menigte engele as “geeste vir heilige diens, wat uitgestuur word om dié te dien wat redding gaan ontvang” (Heb. 1:14). Al hierdie geesskepsele is georganiseer in ‘trone, heerskappye, regerings en owerhede’. – Kol. 1:16.
12 Wanneer ons tyd neem om oor hierdie kenmerke van die hemelse deel van Jehovah se organisasie na te dink, kan ons Jesaja se reaksie op die visioen verstaan waarin hy “Jehovah op ’n hoë en verhewe troon sien sit” het met ‘serafs wat bokant hom staan’. Jesaja het gesê: “Dit is verby met my! Ek is so goed as dood, want ek is ’n man met onrein lippe, en ek woon onder ’n volk met onrein lippe. En nou het ek die Koning, Jehovah van die leërmagte, met my eie oë gesien!” Ja, Jesaja was verstom en het klein gevoel toe hy die omvang van Jehovah se organisasie besef het. Hierdie ondervinding het Jesaja diep getref. Toe ’n uitnodiging uit die hemel kom in verband met ’n spesiale werk om Jehovah se oordele te verkondig, het hy geantwoord: “Hier is ek! Stuur my.” – Jes. 6:1-5, 8.
13 Kennis van Jehovah se organisasie en waardering daarvoor motiveer sy volk op ’n soortgelyke manier. Terwyl die organisasie vooruitgaan, probeer ons om daarmee by te bly. Ons wil wys dat ons Jehovah se hedendaagse organisasie vertrou.
JEHOVAH SE ORGANISASIE GAAN VOORUIT
14 In hoofstuk 1 van Esegiël se profesie word Jehovah uitgebeeld waar hy op ’n ontsaglike hemelse strydwa ry. Hierdie indrukwekkende voertuig beeld die onsigbare deel van Jehovah se organisasie uit. Hy ry op hierdie strydwa in die sin dat hy dit op ’n liefdevolle manier rig en dit in ooreenstemming met sy voorneme gebruik. – Ps. 103:20.
15 Elke wiel van hierdie strydwa het ’n wiel binne-in hom – een met dieselfde deursnee wat dwars in die ander wiel pas. Dit stel die wiele in staat om “in enige van die vier rigtings [te] gaan” (Eseg. 1:17). Die wiele kan in ’n oogwink van rigting verander. Maar hierdie strydwa is nie sonder beheer of intelligente toesig nie. Jehovah laat sy organisasie nie net gaan waar dit ook al wil nie. Esegiël 1:20 sê: “Hulle het gegaan waar die gees hulle laat gaan het.” Dit is dus Jehovah wat sy organisasie laat beweeg waarheen sy gees dit ook al laat gaan. Die vraag wat ons ons moet afvra, is: ‘Hou ek tred daarmee?’
16 Om met Jehovah se organisasie by te bly, behels meer as om net vergaderinge by te woon en aan die veldbediening deel te neem. Om by te bly, het meestal te doen met vooruitgang en geestelike groei. Dit behels dat ons “seker . . . maak van die belangriker dinge” en bybly by die geestelike voedingsprogram (Fil. 1:10; 4:8, 9; Joh. 17:3). Ons moet ook onthou dat organisering goeie koördinasie en samewerking insluit. Daarom moet ons besef hoe belangrik dit is om die geestelike en materiële dinge wat Jehovah aan ons gegee het, ten volle te gebruik. Dit help ons om sy werk te doen. Terwyl ons tred hou met Jehovah se hemelse strydwa, stem ons lewe ooreen met die boodskap wat ons verkondig.
17 Met die hulp van Jehovah se organisasie hou ons aan om God se wil te doen. Onthou, Jehovah is die Een wat hierdie hemelse strydwa rig. As ons dus bybly met sy strydwa, wys dit dat ons respek vir Jehovah het en vertroue in ons Rots het (Ps. 18:31). Die Bybel belowe: “Jehovah sal vir sy volk krag gee. Jehovah sal sy volk met vrede seën” (Ps. 29:11). Omdat ons deel van Jehovah se organisasie vandag is, ontvang ons ook die krag wat hy gee en geniet ons die vrede waarmee hy sy georganiseerde volk seën. Ja, Jehovah sal beslis aanhou om ons ryklik te seën as ons sy wil nou en tot in alle ewigheid doen.