Hoofstuk 31
Hoe kan ek musiek op sy plek hou?
Hoe belangrik is musiek vir jou?
□ Ek kan daarsonder klaarkom.
□ Ek sou doodgaan daarsonder.
Wanneer luister jy na musiek?
□ Wanneer ek êrens heen op pad is
□ Wanneer ek skoolwerk doen
□ Die hele tyd
Van watter soort musiek hou jy die meeste, en waarom? ․․․․․
DIT lyk of ons almal gemaak is met die vermoë om melodie en harmonie te geniet. En vir baie jongmense is musiek absoluut noodsaaklik. “Ek kan nie daarsonder lewe nie”, sê die 21-jarige Amber. “My musiek speel omtrent die hele tyd—selfs wanneer ek skoonmaak, kook, winkels toe gaan of leer.”
Ritme is moontlik op eenvoudige wiskunde gebaseer, maar musiek gaan verder as blote logika en raak ons diepste emosies. “Hoe goed is ’n woord op die regte tyd tog!” en ’n lied op die regte tyd kan net so vertroostend wees! (Spreuke 15:23). “Soms dink jy dat niemand jou gevoelens verstaan nie”, sê die 16-jarige Jessica. “Maar wanneer ek na my gunstelingmusiekgroep luister, weet ek dat ek nie die enigste een is wat depressief raak nie.”
Iets om oor rusie te maak of om saam te geniet?
Al hou jý ongetwyfeld baie van jou musiek, voel jou ouers dalk nie dieselfde daaroor nie. “My pa sê: ‘Sit af daai geraas! Dit maak my ore seer!’” sê een tienerseun. Jy word dalk moeg vir die alewige gekla en dink dat jou ouers oorreageer. “Wat van toe hulle jonk was?” sê een tienermeisie. “Het hulle ouers nie gedink dat hulle musiek sleg was nie?” Ingred, 16, kla: “Dis asof volwassenes in die verlede vassit. Dit sou wonderlik wees as hulle erken het dat ons geslag ook darem ’n bietjie musieksmaak het!”
Ingred het ’n punt. Soos jy dalk weet, het die ouer en die jonger geslag nog altyd gebots oor sake van persoonlike smaak. Maar sulke verskille beteken nie dat ’n gesprek oor musiek altyd op ’n rusie moet uitloop nie. Die sleutel is om te kyk of jy iets kan kry wat jy saam met jou ouers kan geniet. As jou ouers respek het vir die Bybel, het jy ’n groot voordeel. Waarom? Omdat God se Woord vir jou sowel as jou ouers kan help om te onderskei wat beslis onaanvaarbaar is en waar daar ruimte is vir persoonlike smaak. Om dit te doen, moet jy twee sleutelfaktore ontleed: (1) die boodskap van die musiek waarna jy luister en (2) die hoeveelheid musiek waarna jy luister. Kom ons kyk eers na die vraag . . .
Wat is die boodskap van my musiek?
Musiek is soos kos. Die regte hoeveelheid van die regte soort is goed vir jou. Enige hoeveelheid van die verkeerde soort is sleg. Wanneer dit by musiek kom, is dit ongelukkig die goed wat sleg is, wat die grootste aantrekkingskrag het. “Waarom hou hulle al die mooiste deuntjies vir die ergste woorde?” kla ’n jong man met die naam Steve.
Maak die boodskap regtig saak as jy van die wysie hou? Om jou te help om hierdie vraag te beantwoord, vra jou af: ‘As iemand vir my gif wou ingee, hoe sou hulle my oorreed om dit te sluk? Sou hulle dit in asyn of in sjokolade doop?’ Die getroue man Job het gevra: “Toets die oor nie woorde soos die verhemelte voedsel proe nie?” (Job 12:11). ‘Toets dan die woorde’ deur die titel en woorde van die liedjie te ondersoek eerder as om ’n liedjie net “in te sluk” omdat jy van die ritme of melodie—as ’t ware die sjokolade—hou. Waarom? Omdat die woorde van die liedjies jou gedagtes en gesindheid sal beïnvloed.
Ongelukkig het baie van vandag se treffendste musiek woorde wat seks, geweld en dwelmmisbruik bevorder. As jy dink dat dit geen invloed op jou het om na sulke woorde te luister nie, het die “gif” jou al klaar begin aantas.
Dink vir jouself
Jou maats oefen dalk groot druk op jou uit om na verderflike musiek te luister. Daar is ook druk van die musiekbedryf. Deur middel van die radio, die Internet en televisie het musiek ’n magtige multimiljoenrandbedryf geword. Invloedryke bemarkingsdeskundiges word betaal om jou musieksmaak te vorm en te beheer.
Maar wanneer jy toelaat dat jou maats of die media vir jou voorskryf waarna jy moet luister, verloor jy jou vryheid om te kies. Jy word ’n slaaf wat nie vir homself dink nie (Romeine 6:16). Die Bybel spoor jou aan om die wêreld se invloed in sulke sake te weerstaan (Romeine 12:2). Dit sal dus goed wees as jy jou “waarnemingsvermoëns [oefen] om te onderskei wat reg sowel as verkeerd is” (Hebreërs 5:14). Hoe kan jy jou waarnemingsvermoëns gebruik wanneer jy musiek kies? Oorweeg die volgende wenke:
Kyk na die verpakking. Jy hoef dikwels net te kyk na die verpakking of die advertensies daarvoor om vas te stel wat die inhoud is. Prente met ’n gewelddadige, seksueel eksplisiete of okkulte tema moet vir jou ’n waarskuwing wees. Die musiek is waarskynlik ook onaanvaarbaar.
Ondersoek die woorde. Wat sê dit eintlik? Wil jy regtig oor en oor na daardie idees luister of dit herhaal? Is hierdie gedagtes in ooreenstemming met jou waardes en met Christelike beginsels?—Efesiërs 5:3-5.
Let op die uitwerking. “Ek het gevind dat baie van die musiek waarna ek geluister het en die woorde daarvan, my depressief gemaak het”, sê ’n jong man met die naam Philip. Toegegee, musiek het moontlik verskillende uitwerkings op verskillende mense. Maar hoe laat jou musiek jou voel? Vra jou af: ‘Vind ek dat ek aan verkeerde dinge bly dink nadat ek na die musiek of die woorde daarvan geluister het? Begin slenguitdrukkings wat in die musiek gebruik word, in my gesprekke insluip?’—1 Korintiërs 15:33.
Neem ander in ag. Hoe voel jou ouers oor jou musiek? Vra hulle wat hulle dink. Dink ook hoe mede-Christene dalk daaroor voel. Sal jou musiek party dalk kwel? Die vermoë om jou gedrag aan te pas uit respek vir die gevoelens van ander, is ’n teken van volwassenheid.—Romeine 15:1, 2.
Deur jou die vrae hierbo af te vra, sal jy in ’n posisie wees om musiek te kies wat jou gees ontroer, maar nie jou geestelikheid vernietig nie. Maar daar is nog ’n faktor wat jy in gedagte moet hou.
Hoeveel is te veel?
Goeie musiek, soos goeie kos, kan heilsaam wees. Maar ’n wyse spreuk waarsku: “Het jy heuning gevind? Eet tot jy genoeg het, sodat jy nie te veel daarvan neem en dit moet uitbraak nie” (Spreuke 25:16). Dit is bekend dat heuning genesende eienskappe het. Maar te veel van selfs ’n goeie ding kan sleg vir jou wees. Wat is die punt? Goeie dinge moet in matigheid geniet word.
Maar party jongmense laat toe dat musiek hulle lewe oorheers. Jessica, wat vroeër aangehaal is, erken byvoorbeeld: “Ek luister die hele tyd na musiek—selfs wanneer ek die Bybel bestudeer. Ek sê vir my ouers dat dit my help om te konsentreer. Maar hulle glo my nie.” Klink Jessica se woorde bekend?
Hoe kan jy bepaal hoeveel musiek te veel is? Vra jou die volgende vrae af:
Hoe lank luister ek elke dag na musiek? ․․․․․
Hoeveel geld bestee ek elke maand aan musiek? ․․․․․
Meng my musiek met my gesinsverhoudings in? Indien wel, skryf hieronder neer hoe jy die situasie kan verbeter. ․․․․․
Verander jou luistergewoontes
As musiek te veel van jou persoonlike tyd opneem, sal dit goed wees as jy perke stel en meer gebalanseerd word in jou luistergewoontes. Byvoorbeeld, jy moet dalk die gewoonte afleer om die hele dag lank met oorfone rond te loop of om die musiek aan te sit die oomblik as jy in die huis instap.
Trouens, leer gerus om tye van stilte te geniet. Dit sal jou moontlik help wanneer jy jou skoolwerk doen. “Jy sal baie meer daaruit kry as die musiek nie speel nie”, sê Steve, wat vroeër aangehaal is. Probeer om sonder musiek te leer en kyk of jy beter kan konsentreer.
Jy wil seker ook tyd maak om die Bybel en Bybelpublikasies te lees en te bestudeer. Jesus Christus het soms ’n stil plek gesoek om te bid en te peins (Markus 1:35). Is die plek waar jy studeer, ook stil en rustig? Indien nie, kan dit jou geestelike groei belemmer.
Maak die regte keuse
Musiek is werklik ’n gawe van God, maar jy moet versigtig wees om dit nie te misbruik nie. Moenie soos die meisie met die naam Marlene wees nie, wat erken: “Ek het musiek wat ek weet ek eintlik moet uitgooi. Maar dis so mooi.” Dink aan die skade wat sy aan haar verstand en hart doen deur te luister na wat sleg is! Vermy daardie strik. Moenie toelaat dat musiek jou verderf of jou lewe oorheers nie. Hou by hoë Christelike standaarde wanneer jy jou musiek kies. Bid vir God se leiding en hulp. Maak vriende met mense wat dieselfde oortuigings as jy het.
Musiek kan jou help om te ontspan. Dit kan help om die leemte te vul wanneer jy eensaam is. Maar wanneer die musiek eindig, is jou probleme nog altyd daar. En liedjies kan nie die plek inneem van ware vriende nie. Moet dus nie toelaat dat musiek die belangrikste ding in jou lewe word nie. Geniet dit, maar hou dit op sy plek.
Jy moet elke nou en dan ontspan. Hoe kan Bybelbeginsels jou help om die goeie tye werklik te geniet?
SLEUTELTEKSTE
“Toets die oor nie woorde soos die verhemelte voedsel proe nie?”—Job 12:11.
WENK
As jy wil hê dat jou ouers moet verstaan waarom jy van ’n sekere liedjie of musiekgroep hou, probeer verstaan waarom hulle hou van die musiek wat hulle geniet.
HET JY GEWEET . . . ?
As jy huiwerig is om jou ouers na jou gunstelingmusiek te laat luister, kan dit ’n teken wees dat daar iets fout is met jou musieksmaak.
AKSIEPLAN!
Ek kan my musiek onder beheer hou as ek ․․․․․
As my maats druk op my uitoefen om na onaanvaarbare musiek te luister, sal ek sê ․․․․․
Wat ek graag vir my ouer(s) hieroor wil vra ․․․․․
WAT DINK JY?
● Waarom is jou keuse van musiek so belangrik?
● Hoe kan jy besluit of ’n liedjie aanvaarbaar is of nie?
● Wat kan jy doen om jou musieksmaak uit te brei?
[Lokteks op bladsy 259]
Soms betrap ek myself dat ek na ’n liedjie luister wat ek weet nie goed is vir my nie. Ek sit dit onmiddellik af. As ek dit nie doen nie, begin ek gewoonlik verskonings vind om daarna te luister.’’—Cameron
[Venster/Prente op bladsy 258]
Brei jou musieksmaak uit
Hou jy nou van meer soorte kos as toe jy vyf jaar oud was? Indien wel, is dit omdat jy geleer het om nuwe geure te geniet. Dis dieselfde met musiek. Moenie jou tot net een styl beperk nie. Probeer jou musieksmaak uitbrei.
Een manier om dit te doen, is om ’n instrument te leer speel. Dis nie net ’n uitdaging en iets wat bevrediging verskaf nie, maar dit kan jou aan ander soorte musiek blootstel as die gewone kommersiële musiek wat jy elke dag hoor. Waar kan jy die tyd kry om te leer? Jy kan tyd uitkoop van TV of elektroniese speletjies. Kyk wat sê hierdie jongmense.
“Dis baie lekker om ’n musiekinstrument te speel en kan ’n goeie manier wees om uiting te gee aan jou gevoelens. Deur nuwe liedjies te leer speel, het ek van ’n groot verskeidenheid musiekstyle begin hou.”—Brian, 18, speel ghitaar, tromme en klavier.
“Jy moet oefen as jy ’n instrument goed wil leer speel. En dis nie altyd lekker om te oefen nie. Maar wanneer jy ’n musiekstuk goed kan speel, gee dit jou ’n aangename gevoel, ’n gevoel dat jy iets bereik het.”—Jade, 13, speel die altviool.
“Wanneer ek ’n moeilike dag het of depressief voel, help dit my om te ontspan as ek my ghitaar speel. Dit voel so goed om mooi, strelende musiek te maak.”—Vanessa, 20, speel ghitaar, klavier en klarinet.
“Ek het altyd gedink: ‘Ek sal nooit so goed soos dié of daardie persoon wees nie.’ Maar ek het aangehou met my lesse, en nou voel ek baie goed wanneer ek ’n stuk musiek goed speel. Ek het ook meer waardering vir die vaardigheid van ander musikante.”—Jacob, 20, speel ghitaar.
[Prent op bladsy 255]
Musiek is soos kos. Die regte hoeveelheid van die regte soort is goed vir jou. Enige hoeveelheid van die verkeerde soort is sleg